Brouhaha. Eben Venter
se mal ryery. En seker maar van verbystering ook.
Ek moet uitstap en met daardie man op die wit plastiekstoel gaan praat. Jy weet mos hoe alle vooroordele verdwyn as jy begin praat, as jy ’n kykie in ’n mens se lewe kry.
Daar sit hy in sy wit hemp en driekwart-chinobroek, dié-kant sy wasgoed op ’n tou. Agter sy kop staan op die sinkplaatbedekte venster geskrywe: Happy people till we die.
Maar ons bestuurder sal nie stop nie, ek sal nie uitklim nie.
In die middestad ry ons verby die ou Barbican-woonstel-blok, half Deco-, half Art Nouveau-styl. In enige ander stad sou dit die kroon van woonstelblokke wees; nou is die hele onderste vloer rou toegepleister. Toegang verbode.
Ek leun uit en neem ’n grou, oorbeligte foto van die Ou Poskantoor, sy bekende horlosie uitgegrawe, plastieklinte al wat wapper om sy hoogtoring. (Hoe die hel steel jy so ’n groot horlosie?)
My twee vriende vertel hoe hulle eenkeer na ’n woonstelblok kom kyk het met die oog op belegging. Hand voor die mond en neus moes hulle die trappe klim, teen die oorweldigende reuk van ontlasting.
In die middel van die gebou is al die vullis gestort. Daar was ’n soort rooster waarvolgens dié of daardie woonstelbewoner dit om die week sou uitskraap om weggevat te word. ’n Twee-slaapkamerwoonstel is verdeel in sewe kleiner wooneenhede, die elektrisiteit- en watervoorsiening het lankal gevou.
Hulle het besluit om nie te koop nie.
Terug in die noordelike voorstede, agter ’n baie hoë muur, drink ons droë sjampanje met niks om te vier behalwe lewensbehoud nie.
“Uitasem” is die woord wat by my opkom. Daardie outjie in sy rooi polohemp in Abelstraat, Hillbrow, het gedink ons is wit voyeurs en hy’s reg.
Die Angolees gebore skrywer Simão Kikamba het eenkeer, toe hy die eerste keer uit Sentraal-Afrika in Johannesburg aangekom het, in ’n onderhoud gesê hy was verstom dat so ’n stad in Afrika kan bestaan.
Die blink stad met sy manjifieke lughawe, waar al die verkeersligte werk, waar die lug vergeleke met dié van Kinshasa en Luanda suiwer is, waar die huise soos poskaarte uit Spanje en Nederland lyk, waar ’n rooi kolletjie op ’n kraan lopende, warm water beteken.
(Ek vermoed Kikamba het van die warmwaterkrane by die O.R. Tambo- internasionale lughawe gepraat.)
Doodeerlik, deur my oë is dit moeilik om verby die volslae verval van die Johannesburgse middestad te kyk. Die onomkeerbaarheid daarvan. Ek weet ook nie hoe dit moet wees om daar te leef asof dit beter is as waar jy vandaan kom nie.
Ek dink ook nie Simão Kikamba weet regtig of dit beter is nie. Anders sou hy nie die volgende motto voor in sy roman geplaas het nie. Dit kom van die groot Afrika-skrywer Chinua Achebe, en dit lui so: Agter op ’n trok sit ’n man. Op pad. Hy kyk agtertoe, verkeerde kant toe. Hy kan sien waarvandaan hy kom, maar hy’t g’n idee waarheen hy gaan nie.
*
Die tweede keer begelei Jonas Maphalla my deur die stad. Onnodig positief is hy hoegenaamd nie. Ook nie negatief nie.
Jonas wérk die stad en daarom werk die stad vir hom. Hy ken die groter stad van Johannesburg soos sy agterplaas.
Van Woolworths in Parktown-Noord (waar hy soms vars koljander vir ’n kliënt gaan haal) tot Diepkloof in Soweto; van Rosettenville, Benoni en Brakpan en terug na die hart van die middestad toe: Selby, Rissik, Loveday, Webber; of verder wes na die Bismallah-restaurant in Fordsburg waar hy vir ’n ander kliënt ’n breyani-wegneemete moet gaan haal.
Dieper as net die plekke en paaie ken hy die stad. Jonas laat my Johannesburg deur sy oë en hart sien. En dit lyk glad nie sleg nie.
Ons is op pad na die 2010 Soccer City-stadion aan die rand van Soweto. ’n Vaartbelynde kalbas vir 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi. Johannesburg gesuit en getie.
Jonas bestuur rats en waaksaam. Hy weet waar elke spoed-kamera is én watter nog aktief is. Hy wys vir my die een op Jan Smutslaan wat flenters geskiet en intussen weer geïnstalleer is.
Onthou maar: Eers as jy die kennisgewing van jou onbetaalde verkeersboete by jou huis afgelewer kry en jy teken op die stippellyn, dán kan hulle jou hof toe vat.
Sulke goed weet Jonas Maphalla, ’n Noord-Sotho van Polokwane. Hy is ’n groot man en sy gebare en welluidende stem vul die dubbelkajuit van sy brandweerrooi bakkie. “Taxi-bestuurders?!” Hy lag kliphard: “Hulle dink hulle kan bestuur, maar hulle is vrot bestuurders!”
Nog ’n vol lag. Nie afwysend nie, net ’n kennisname: So ry daai ouens en daarom weet hy hoe om tussen hulle te ry.
Ons draai van Empireweg af op die M2. Vir hom is dit nie net ’n oprit om jou op die snelweg na Soweto te kry nie. Wanneer Jonas hier ry, dink hy aan ’n been. In dieselfde draai het ’n lorrie vol verfblikke nou die dag omgeslaan. Daar sit die blertse rooi verf nog op die teer. Die bestuurder het beheer verloor en sy been is in die ongeluk afgeskeur. Omdat die ongelukstoneel oortrek was met blikke en rooi verf en wrakstukke, het hulle die been eers ’n week later gekry. “Poor man.”
En Jan Smuts, vra ek oor die naam van die straat waarvandaan ons gekom het. O nee, daardie was ’n goeie man; hulle het nie al die straatname uitgegooi nie. Weer lag Jonas lekker en hy vat so gemoedelik aan my knie net om sy punt te staaf.
Ek begin die stad geniet. Jonas is op sy tuisveld. Die man het ’n plesier aan die lewe, tasbaar, en Johannesburg met al sy wonde en wonders is deel van daardie plesier.
Nes ek het ook hy in die vroeë jare tagtig hier aangekom. Maar niks van ’n Saterdagaandse loslopery in Hillbrow vir hom nie. Hy het van die noorde af gekom vir net een ding en dit is werk. Net jammer hy het nie die regte tjap in sy dompas gehad nie.
10A in jou pas het beteken jy’s van Johannesburg, jy mag hier werk. 10B het beteken jy’s van elders, maar jy het ’n tjap en jy mag ook hier werk. Jonas het nie 10A óf 10B in sy pas gehad nie, net ’n R10 tussen die bladsytjies weggesteek. Maar al was dit geld, sou dit daardie dae net met party polisiemanne werk.
Hy wys terug oostekant toe met sy duim, na Norwood. Grant Avenue met sy restaurante en kroeë en modewinkels vir sommige; vir Jonas is Norwood ’n nag in ’n polisiesel. Toe hy die oggend daar uitgelaat word, was hy smeulend.
Nou dít moet hy van Nelson Mandela sê, sê hy en wys na Houghton, waar hy presies weet waar Madiba agter hoë veiligheidsmure woon: Toe daardie man ná 27 jaar uit die gevangenis stap, het hy nie ’n greintjie bitterheid of haat oorgehou nie. Daardie grootmoedigheid het hy van hom geleer, ’n liefdesles gepas vir ons land.
Ons kom in Soweto en ek is nou in die ding. Daar langs Jonas met sy blik, al is dit dan net vir die duur van die toer, kan ek onmoontlik meer ’n voyeur met net witmens-oë wees. Op die sitplek tussen ons en bo-op my kamera wat ek voorlopig eers eenkant toe skuif, lê vandag se Daily Sun. Jonas lees daardie koerant van voor tot agter, elke dag.
Eers wil hy my die splinternuwe mall gaan wys.
Ons kom op ’n nuwe deurpad wat, net soos die indrukwekkende Bara-taxistaanplek, deel is van Soweto se opgeknapte infrastruktuur.
“Hierdie pad het verlede jaar sy naam verloor,” lag Jonas al weer sy groot lag. “Dis nie meer die Ou Potchefstroompad nie, dis nou Chris Hani-weg.”
En hier op regterkant een van die talle Rea Vaya-bushaltes, die op- en afklimplekke wat die roetes van die nuwe snel-busvervoer met mekaar skakel.
“Rea Vaya? Is dit ’n Portugese woord?” Nou skater Jonas. Hy het die sleutel: Rea is ’n Sothowoord en dit beteken “ons is”, en Vaya is Tsotsitaal wat beteken “op pad alle kante toe”.
Jonas is ingenome daar langs my soos hy vetgee en los en vaardig tussen honderde wit taxi’s vleg. En ek voel veiliger as wat ek ooit agter ’n driemanshoë laserbeveiligde muur in Parktown kan voel. Dis oor Jonas se groot, uitgestalde lewensvreugde.
En oor die stad waarvoor hy al die sleutels het. Ek is bevoorreg om dit ’n slag só te ervaar.
Onder