Brouhaha. Eben Venter

Brouhaha - Eben Venter


Скачать книгу
is, besluit ek op ’n Fanta.

      Die kafee ruik na daardie minipakkies Surf wat pas uit ’n kartonboks op die rakke gepak is, na bruinbrood en witbrood in dun plastieksakkies en na die drie skywe polonie en een snysel hopeloos te geel cheddarkaas wat ’n man in ’n blou overall vir sy middagete kom koop, en na die roserige deodorant van die jong, tammerige vrou wat jou kleingeld in jou handpalm uitkeer, en na die trossie Calitzdorpse hanepoot in ’n piering wat net daar onder haar hand lê.

      Ek hang so ’n bietjie rond: Daar kom ’n blou polisieman in en ’n gekreukelde antie met drie kinders en nog een op die heup en Duitse rooiwangtoeriste en twee Indiërmans, reisende verkoopsmanne wat Cokes en ’n pakkie Stuyvesant kom koop, en ’n boer met ’n kakiehemp en ’n kollie wat buite op sy bakkie wag en twee seuns wat ’n Will Smith-DVD kom haal en nog baie ander soorte mense wat almal op presies dieselfde manier deur die vrou agter die toonbank gehelp word.

      En oor die luidsprekers ’n liedjie wat ek al lankal wou vergeet: “Ha ha said the clown.”

      Dit maak nie saak of jy al baie gereis het of jou hele lewe lank op dieselfde dorp woon nie: Jy weet sommer dié soort kafee bestaan net in Suid-Afrika. En op haar tydsame, net-net verdraagsame manier het die jong, tammerige vrou haar eie mardi gras geskep in daardie kafee wat heel waarskynlik nie eens aan haar behoort nie.

      Ek gaan staan op die stoep en proe die nagemaakte lemoensmaak van die Fanta en ek bevind my in ’n ander tydlose wêreld as die een waarvandaan ek nou net kom.

      Die kafee met sy kafeereuke en sy kafeebeligting en sy kafeeklanke en -smake en -voorrade – blykbaar het niks daarvan oor die jare verander nie. En so verwelkom die kafee jou en ook weer nie, want oorvriendelik is hy nie, daarvoor is hy te lank in die land.

      Die gruwelland wat Breytenbach ver verby moedeloos maak, die verkragtings en kapings en herhaaldelike huisinbrake en OTM’e wat opgeblaas word – ware stories waarop jou mense en vriende jou trakteer kort nadat jy aangekom het; wel, natuurlik kan dit nie weggepraat of goedgemaak word deur sentimentaliteit oor of idealisering van ’n plattelandse kafee nie.

      Maar ek weet nie watter ander lewensvatbare manier daar bestaan om sonder sinisme in Suid-Afrika voort te lewe nie.

      Dus: Stap Fanta in die hand uit op die stofstoep van die kafee en onthou maar: Oor daardie ruggens van die Swartberge begin die Groot-Karoo, asvaal en gedaan van oudgeid.

      Daar bly mense so lank as ’n mens kan onthou en dit is ook joune, dit maak nie saak wat daar gesê word nie. En daar mag jy gaan áánlewe.

      *

text2.tif image7.tif

      Die Kerstafel

      Liewe Robbie,

      Kom kuier asseblief vir Pa met Kersfeestyd, jong. Ek betaal vir jou kaartjie tot in Bloemfontein. Laat maar net weet hoevil dit sal kos.

      Groete, Pa.

      Ns. Ons bid vir reën.

      Robbie verseg om te gaan, kaartjie ofte nie. Laas jaar was hy daar, in sy pa se aftreehuisie op Reddersburg net agter die Abraham Kriel-kinderhuis.

      Twee van sy pa se vriendinne ook aan tafel. Die een met die oranje oorbelle is dalk ’n girlfriend; hy wou eerder nie weet nie.

      En toe net ’n halwe kalkoen. Van wanneer af kan jy ’n halwe kalkoen koop? Taaierig en die stuffing droog. Niks gesê nie.

      Robbie is dus ook een van ons Kersdagwesies. Kersfees word vanjaar hier by my en Liam in Australië gehou.

      Dis nie ons regte name nie. Ek gebruik nie die regte naam van enige van die mense aan die Kersfeestafel nie. Dis hoe sensitief Kersfeesetes kan raak. Die hele familie skielik saamgegooi nadat hulle mekaar ’n jaar, soms jare, nie gesien het nie.

      Ná die derde glas wyn begin die gal uitkom. Onwillekeurig. Dis nie asof jy van wie weet waar af gekom en vooraf besluit het aan die Kersfeestafel gaan jy uitpak nie. Dis net toe jou broer daai slag sê die ys is op en hy kyk dwingend na jou, na kleinboetie. En toe besef jy die rolle wat elkeen binne die familie vertolk het, het niks verander nie, al is almal nou grootmense. En dit sal ook nooit nie. En toe kry jy ’n bevlieging. En spyt, spýt, tot lank ná die tyd toe almal ’n bietjie gaan skuinslê het van die swaar warm kos.

      Christa en Paul, haar nuwe Aussie-man, vlieg van Londen af. ’n Maand voor die tyd skryf Christa sy’t vreeslik begin uitslaan. G’n twyfel dat dit oor die weersien van die familie is nie.

      Daar gaan ten minste een Groot Baklei wees; sy’t klaar haar Seredyn ingepak. Julle Van Wyks, sê sy.

      Ek is onmiddellik op my perdjie toe ek haar e-pos lees: Waarvan praat sy? Watter Van Wyks? Sy’s dan self een. Maar ek skryf net terug van hoe lekker dit gaan wees. Ek skryf: Moenie kommer nie, Christa. Ek gaan sorg dat almal kalm bly.

      Wat natuurlik twak is.

      Ons het besluit ons gaan nie dié jaar ’n kalkoen maak nie. Liam weier botweg. Te veel van ’n beslommernis. Nieu-Seelandse groengarnale op die rooster en oondgebakte gevogeltes (spatchcocks) met rissie en koljander en lemmetjie.

      So skryf ek om die vrede te bewaar – ek is immers ’n Weegskaal. As ons net koelkop deur die ete kan kom en buite onder die skadu van die skubliesroos kan afblaas, dink ek.

      Maar ek weet presies waarvan Christa praat. Die Van Wyks het ’n bakleigeen in hulle.

      Dis hulle petrol en hulle hóú daarvan om daarop te trap. Laas jaar toe Pa nog geleef het, was die Groot Baklei oor die ding dat hy nog steeds vir Christa Lammetjie dit en Lammetjie dat. Pa het geen idee wat haar werk in Londen van haar verg nie.

      Die verantwoordelikheid, die stres. Vir hom is sy Kleinlam-kom-sit-hier-op-Pa-se-skoot. En: Jong, jy moenie dat daai wolf jou kom vang nie, fluister hy in haar oorskulp.

      Christa het daardie slag begin huil van woede. En so haar pa se Lammetjie-stereotipering van haar gevoed. Omdat sy vertroud is met die sielkunde, het sy geweet wat besig was om te gebeur en dit het haar verder laat kook. En sy kon nie daaruit kom nie.

      Die tafel voor ons daardie jaar: kalkoen en ’n gebraaide varkboud (daar moet crackling wees, anders is hy nie reg nie) en warm Krismispoeding wat vlammend in die brandewyn tafel toe gedra word. Is daar tiekies in? skree ek sommer. Niks het verander nie.

      En almal begin toe maar lag. Lammetjie ook, uitslag dwars oor haar blaaie. Sy’t ná die tyd haar swart Pradarok laat sak sodat ek kon sien.

      Met die twee skoenveter-skouerbandjies het die rok vir my meer na ’n onderrok gelyk. So ’n regte slippie. Natuurlik het ek niks gesê nie.

      Jy hoef nie wys te wees om te weet hoe die masjinerie binne die familie werk nie. Dis asof elke lid van die familie geëien word asof sy of hy aan jou behoort. En in ’n mate is dit waar.

      Sien jy nou ’n rokkie wat te eina lyk of ’n vreemde kol op iemand se voorarm, dan rek jy jou mond daaroor. Jy matig jou dit aan. Jy maak asof jy en die familie almal saam ’n kollektiewe moreel en ’n gesamentlike gesondheid deel.

      Een se fout of vlek is almal s’n. Ook dit is twak, maar niemand steur hulle daaraan in die atmosfeer van lyflike nabyheid aan die Kerstafel nie.

      Daardie jaar was daar ook droë vonkelwyn wat kwaai gewerk het met Pa se brekfismaag, en hy’t sommer losgetrek met “Wat maak oom Kallie daar”. Almal was so verbaas dat hulle hom maar laat begaan het.

      Of praat ek nou van die vorige jaar toe ons op Jeffreysbaai bymekaargekom het? Kersfeeste vloei naderhand deurmekaar sodat jy uiteindelik net so ’n argetipiese gedoente onthou met die boom in die hoek, die geur van die heuningmarinade op die gebraaide varkvel as die oonddeur oopgaan, die Groot Baklei wat wag om te gebeur.

      Ek onthou net die jaar in Jeffreys was die kalkoen iets besonders. Liam het gesê: Oukei, ek sal die stuffing maak.


Скачать книгу