Brouhaha. Eben Venter
het nie welkom gevoel nie – Vân was te trots, hy het niks gesê nie.
’n Jaar of wat daarna het ek gehoor hy was MIV-positief. Daaraan is hy ook dood. Ek sou hom weer wou sien, want ek het gevoel ek het hom tog geken. Hy het dit geweet en hy wou hom teen daardie intieme kennis beskerm.
*
Die indringendste blik wat ek ooit op sy lewe gehad het, was op daardie veerboot tussen Manley en die hoofkaai van Sydney. Dit was die gevolg van die oopseebranders, die op- en afduik van die boot se neus, die skuimbolle wat teen die romp opgegooi is. Onwillekeurig het die onderdrukte geheue van daardie dae en nagte op die vlugtelingeboot teruggekeer.
Vân het aan my geklou. In sy mooi Engels met Vietnamees gekleurde vokale het hy stukke en brokke uitgekry. Ná drie dae op die oopsee het die bootenjin opgepak. Hulle het stuurloos gedrywe, die vars water het opgeraak, mense het begin yl. Ná twee dae se gesmeek het sy ma ’n bekertjie water afgestaan aan ’n vrou, ’n aktrise. Toe gebruik sy die helfte daarvan om haar gesig te was. Onder in die buik sing sy ouma slampamperliedjies vir Boetie, vasgedruk tussen ander op ’n walgmat van urine en braaksel en mensestank. Sy ma se hand aanhoudend voor haar mond, wit hale oor haar bruin vingers waar haar ringe gepryk het. Sy het geweet Boetie sou dit nie maak nie. Toe die lykie agtertoe oorboord gegooi is, het sy pa hulle in ’n wye omhelsing vorentoe gevat, wegkyk, wegkyk. As die plonsie gehoor word, is dit ’n kwessie van minute voordat die eerste haaie aangeswem kom.
Soggens as hulle uit gekwelde slaap wakker word, moes hulle hoor dat daar intussen nog soveel dood en oorboord gegooi is. Ouma ook. Dit kon sy ma of pa nie voorspel het nie. En Ouma wou nie eens saamkom nie. Dié tragiek het sy ma selfs meer geraak as die dood van Boetie.
Teen die tyd dat die Sydney-hawebrug en die wit suile van die Operahuis in sig kom, was Vân leeg. Drie maal opgebring en skaam, skaam oor die blootstelling in my teenwoordigheid. Hy het aanhoudend van my af weggedraai. By die hoofkaai het hy darem my arm gevat toe ons oor die loopplank na vaste aarde aanstap. Is dit die eerste keer dat alles weer so terugkom? wou ek weet. Hy het nie geantwoord nie. Tussen die skare mense op pad uit merk ek hoe bleek, geskend, sy gesig is.
*
Die laaste brief
Dis verby met briefskryf. Croxley-skryfblokke, vulpenne, die adres netjies op die koevert gedrukskrif, die spesiale seël vir ’n oorsese brief van die blou kraanvoël of Nelson Mandela – verby. Die seëning van ’n brief in jou posbus tussen al die afstootlike rekeninge en die lekkerte om eers te gaan tee maak en dan terug te sit in die winterson en daai koevert oop te skeur en te begin lees – alles verby.
Met Facebook kan jy binne dae tot 250 vriende wen. Ek is nie anti-Facebook nie, want dis vinnig en onmiddellik en kan ook gebruik word om goed te bemark. Etienne van Heerden het nuus oor sy nuutste roman op Facebook versprei. Ná die tsoenami in Indonesië is ’n soortgelyke kennisgewingbord (Lonely Planet s’n) met groot welslae gebruik om mense op te spoor.
Maar die egtheid van ’n outydse handgeskrewe brief gaan jy nie daar kry nie.
“Beste” of “Liewe” of selfs “Geagte” – met ’n brief moes jy altyd kies. Jou ouers kry sonder dat jy twee keer hoef te dink “Liewe”, selfs al voel jy nie altyd so nie. As jy “Beste Ma en Pa” skryf, het jou ma dit onmiddellik raakgesien en gebel: “Wat skort? Is daar fout by jou?” Jou nuwe kêrel of meisie kry eers “Beste”, dan “Liewe” en dan weer “Beste”. As jy om ’n werk aansoek doen, is dit altyd “Geagte”. (Deesdae kry ’n mens e-posse wat sommer begin met jou naam en van en net dit. Ongeskik verby.)
Daar is baie aspekte van briewe wat lieflik was. ’n Mooi brief kan jy om die dood nie weggooi nie. In ’n skoenboks of ’n boek steek jy hom weg sodat jy dit jare later kan herlees: trane, gewaarborg!
In ’n brief het jy byna altyd met die weer begin, ’n maklike en veilige wegspringplek. My pa was ’n boer en ek dink vir hom het ’n verslag oor weerstoestande iets vertel van jou fisieke en geestelike toestand. Op ons Oos-Kaapse plaas was daar soms sewe jaar lank droogte. Dit sou vir my pa ondenkbaar wees om ná ’n reënbui nié heel eerste daaroor te skryf nie. Hy het nie so getrou geskryf soos my ma nie, en as ek ’n brief van hom ontvang het, het ek dit waardeer. Ná skool, tot ek min of meer my voete gevind het, was my pa se briewe vol raad (lees: betigtings) en Bybelverse. Hy verstaan my nie, het ek altyd gedink, en die brief terug in sy koevert gesteek en dit nooit weer gelees nie.
Later jare het my pa net lekker geselsbriewe geskryf. Eenkeer het hy geskryf hy dink hy het “graweel” – sy oupa het dit ook gehad, dis ’n Venter-kwaal. Ek moes in die woordeboek gaan kyk: ’n gruiserige materiaal wat niersteen kan vorm. Dit kom van die Engelse gravel. Dit was duidelik dat my pa stil en diep oor homself begin nadink het, oor die mans en vroue waaruit hy gestam het, oor die naderende einde van sy lewe.
Om ’n brief te skryf het jy ’n nadenkende ingesteldheid nodig. Onthou, jy skryf met ’n pen – ’n vulpen of ’n Bic, dit maak nie saak nie – en voordat jy daardie sin uitskryf, moet jy hom eers in jou kop klaar geformuleer hê. Jy het nie die uitveefunksie soos by e-pos nie.
’n Unieke aspek van die handgeskrewe brief is die handskrif. In sy laaste versbundel skryf Breyten:
Hand my hond
Ons kom al so lank saam.
Hy skryf oor sy ouerwordende digtershand; ek het dit oor die koevert wat anders voel en lyk as jou rekeninge en altyd waardevol is, of dit nou slegte of goeie nuus dra. Soms is daar merke op die koevert of skryfpapier: ’n kat se poot, of ’n inksmeersel, waaroor my netjiese pa vies sou wees. Sulke mensgemaakte merke is so aandoenlik soos die snorkery van die boerboel op die mat in die sonkamer; dis so verskriklik menslik.
Daardie sterk, eweredige handskrif wat na regs leun, dit het so baie van my pa gesê. Sy gedrewenheid en sy uitgesprokenheid, die orde wat hy aan sy lewe gegee het, altyd eerlik, al het ek nie altyd saamgestem nie. En daar staan my naam en adres in sy handskrif op die koevert – dis asof jou eie bestaan as sy seun daarmee bevestig word. Of dit nou ontstellende of gerusstellende nuus bevat het, so ’n brief was nooit neutraal nie en sy inhoud het nooit vinnig “verbygegaan” nie. Daarom moes jy altyd eers gaan tee maak. As jy die ergste verwag, sit jy daai brief op ’n eenkantplek en lees hom saam met ’n dop vanaand. Maar daar was nooit sprake van Delete nie. Selfs al het jy daai brief opgeskeur – die blote handeling van opskeur was al klaar erg – het hy nie weggegaan nie.
Van daardie tyd dat hy met die graweelding gekom het, het my pa se handskrif verander. Nooit bewerig soos ’n baie ou mens s’n nie, maar so ’n effense swik in die opwaartse hale. Jy sien, jy moes die briefskrywer se handskrif ken om dit te kon raaksien. Nuus oor reën of droogte en die skaappryse en so ’n bietjie, maar nie verstikkend baie nie, oor mense van die distrik. Dis asof die nuus tweede begin staan het terwyl dit daardie effense swik was wat jou woord vir woord vasgehou het.
Jy sit daar met die klaargeleesde brief in jou hande – drie, hoogstens vier bladsye – en jy’s volslae oorweldig deur die besef dat die persoon uit wie se bloed en beendere jy stam, besig is om tot niet te gaan. Onmoontlik om so ’n brief weg te gooi, want dit help jou om nog ’n bietjie vas te hou aan die mens wat jou pa was.
*
In die letterkunde is daar voorbeelde van briefwisselings tussen skrywers, dikwels tussen die skrywer en iemand wat nie ’n skrywer is nie. Dit lê die hart en vlees van die betrokke skrywer bloot soos sy of haar boeke dit nie kan doen nie.
Ek kan my nie voorstel dat daardie dinamika deur ’n klomp e-posse in ’n elektroniese argief dieselfde insiggewende funksie kan hê nie. Jy gebruik ’n ander taal in ’n e-pos, killer en meer formuleagtig, getrou aan die simbole wat aan jou verskaf word. Vergelyk “My liewe seun” met die glimlagsimbooltjie en erken: daardie smiley is hol, dit beteken net mooi niks nie.
Die eerste volume van Samuel Beckett se briewe het onlangs verskyn. Ook hy skryf oor die weer, aangrypend: “My dear Tom, delighted to get your letter.