Schalkie van Wyk Keur 8. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
vertel Kobie.

      “Waarom is hulle vyande?”

      Kobie haal haar skouers op. “Dié wat weet, praat nie. Ons bly uit mekaar se pad. Daarom is daar nooit onenigheid tussen ons nie. Moenie toelaat dat Renate jou hiet en gebied nie, Marné. Nicky se geluk is op die spel, en die kind kry juis so min aandag van haar eie mense.”

      “Wat sal Nicolette doen as sy teengegaan word, tannie? Ek weet so min van haar. Sy … sy word nie dalk aggressief nie?”

      “Ek ken haar net as ’n vrolike kind, maar daar was ’n tyd …” Kobie frons en maak ’n afwerende handgebaar. “Dis nie belangrik nie. Mathilda het my vertel Nicky krul haar in ’n bondeltjie op en wieg heen en weer wanneer iemand met haar raas – gewoonlik Rentia. Sy is die kind se ma, maar sy is net oor Vincent begaan.”

      “Volgens wat Erik my vertel het, is Vincent net ’n marionet in sy ouma se hande. Solank tant Rentia nie van my verwag om na haar pype te dans nie, sal ons klaarkom. Ek is hier om Nicolette op te pas en gelukkig te maak. Ek gaan nie toegee aan haar onregverdige eise nie,” sê Marné beslis.

      Kobie huiwer. “En as sy jou in die pad steek, liefie? Erik het my van julle mooi huis vertel en ek kan aan jou klere sien jy is nie behoeftig nie, maar as jy die werk nodig het …”

      “Ek hét werk nodig, enige werk. As dit moet, sal ek vloere skrop. Ek wil nie vir altyd afhanklik wees van my tant Annie nie. Sal dit moeilik wees om op die dorp werk te kry, tant Kobie?”

      “Ek glo nie dit sal maklik wees nie, maar as dit moet, sal Erik jou help. Oor ’n blyplekkie hoef jy jou nie te kwel nie, want meneer Sebastiaan sal nie omgee as jy hier by ons intrek nie.”

      “Tannie bedoel dit?” vra Marné.

      “Hoe anders, my kind? Jy sit in die vreemde sonder eie vervoer en Erik vertel my jou tante is met vakansie. Selfs al was dit nie die geval nie, het ek ’n kleinseun, maar ek het nooit ’n dogter of ’n kleindogter gehad nie.” Kobie glimlag ondeund. “Wie weet, dalk betaal ek jou uit die geld wat ek vir die eiers kry sodat jy hier by my kom bly net om my geselskap te hou.”

      “Dankie, tant Kobie. Ek voel skielik skatryk … en glad nie meer so bang om tant Renate oor Nicolette te konfronteer nie. My tant Annie sal …” Sy hou op met praat en snak hoorbaar na haar asem. “Ek het skoon vergeet om tant Annie te laat weet ek het veilig op die eiland aangekom. Sy gaan my vermoor!”

      “Nou gaan bel dan dadelik. Die foon is in die gang. Of ken jy nie die nommer nie?”

      “Ek het dit gememoriseer, maar ek het nie geld by my om vir die oproep te betaal nie, tant Kobie.”

      “Ek dink die eiergeld sal daarvoor kan betaal,” skerts Kobie. “Toe, gaan bel nou, Marné.”

      “Dankie, tannie.”

      Marné stap uit die kombuis, en Kobie vat haar hande op die tafelblad saam, ’n glimlag op haar gesig. Wat ’n liewe, mooi kind, dink sy. As Erik nooit vir Laura Viljoen geken het nie, kon sy gehoop het dat hy Marné sou liefkry. Maar Laura het nog nie ophou spook by haar kleinseun nie, selfs al is hy nou minder stroef as agttien maande gelede. Liefde is nie gedwonge nie, maar sy kan bid. Gebed was nog altyd haar grootste troos.

      Mathilda loer by die speelkamer in. Sy sien Marné op ’n stoel voor die kaggel sit met ’n slapende Nicolette op die mat langs haar, en gaan die vertrek binne. Marné kyk om toe sy die deur hoor toegaan en glimlag vir haar.

      “Wou sy nie bed toe gaan nie, hartjie?” vra Mathilda. Sy neem op ’n stoel skuins teenoor Marné plaas en haal haar breiwerk uit haar breisak.

      “Haar verkoue is beter en ek wou haar nie wakker maak nie. Dis in elk geval geselliger hier in die speelkamer.” Marné frons lig. “Ek kry die indruk sy is bang vir haar slaapkamer. Of verbeel ek my net, tannie?”

      Mathilda maak ’n steek klaar en kyk op. “Nee, Marné, dis nie jou verbeelding nie. Nicolette het altyd soet gaan slaap, maar ’n jaar of twee gelede het haar nagmerries begin. Hoor jy haar nie soms in die nag uitroep nie?”

      “Nie vandat ek hier is nie, maar dit is maar vandag die vierde dag. Miskien is dit omdat ek elke aand langs haar bed sit totdat sy aan die slaap raak. En ek hou die middeldeur tussen ons slaapkamers oop. Sy weet ek is daar as sy na my toe wil kom.”

      “Dis ook nie reg nie,” sê Mathilda. “Ou Renate het jou nie gehuur om Nicolette vier en twintig uur per dag te versorg nie. Ek het jou reeds gesê: jy is net tot middagete aan diens.”

      “Ek weet dit, tannie, maar dit reën nog aanhoudend. Ek kan nie stap of dorp toe gaan nie, want dis onmoontlik om die laagwaterbrug oor te steek. Boonop het Nicolette my nodig.”

      “Vincent kan jou met sy motorboot oor die spruit neem. Of Erik. Kobie vertel my hy benut die reënweer deur teëls te lê en mure te pleister. Daardie seun het nie ’n lui haar op sy kop nie.”

      “Ek het niks nodig op die dorp nie, tannie. Eintlik verkies ek dit om Nicolette geselskap te hou, want dis opsigtelik dat tant Rentia my nie kan verdra nie en tant Renate is as ’t ware onsigbaar. Hoe lank sal Ilze op die dorp kuier?”

      “Ek glo sy gebruik die oorstroomde laagwaterbrug as ’n verskoning om nie terug te kom huis toe nie, want daar is vir haar niks te doen hier in Flaminke-huis nie. Van Renate gepraat: sy het gevra dat jy drie-uur na haar kamer toe gaan.”

      Marné kyk op haar polshorlosie. “Dis oor ’n rukkie.” Sy hou Mathilda se besige hande ’n rukkie lank dop en vra aarselend: “Wanneer laas was tannie by tant Kobie-hulle?”

      “Gisteraand, toe die reën so ’n bietjie bedaar het. Erik het my met sy bakkie kom haal. Hy wou weet of jy nie sou wou saamkom nie, maar toe vertel ek hom Nicolette het ’n kwaai verkoue en jy laat haar nie ’n oomblik alleen nie. As Ilze eers terug is … Dis darem nie reg dat jy as ’t ware ’n gevangene in Flaminke-huis is nie.”

      “Laat tannie-hulle Nicolette ooit alleen wanneer sy slaap?”

      “Gewoonlik, ja, hartjie. Toe sy jonger was, het sy die gewoonte gehad om snags by die huis uit te sluip en op die eiland rond te loop, maar deesdae het ons nie meer die probleem nie. Maar wanneer sy siek is … Sy is maar soos ’n ou kleintjie wat voortdurend die versekering wil hê dat daar iemand naby is.”

      “As tant Rentia net meer in haar belanggestel het!” kom dit onstuimig van Marné. “Waarom moet Nicolette in ’n huis vol egoïstiese mense grootword? Sy is baie gelukkiger by Erik en sy mense.”

      “A … Erik.” Mathilda glimlag deernisvol. “Wat ’n liewe seun … Hy het ’n sukses van sy lewe gemaak, maar hy het nie sy grootouers vergeet nie. Ook nie alles wat Sebastiaan vir hulle gedoen het nie – nou woon Erik permanent hier op die eiland. Hy is Sebastiaan se regterhand, want hy weet alles van sy fabrieke en sy ander sake. Dis waarom Erik dikwels Johannesburg toe moet gaan, maar hy bly nooit lank weg nie. Hy weet die oumense in Eiland-huis het hom nodig.” Sy betrag Marné oorwegend. “As dit nie vir Laura Viljoen was nie … Jy en Erik sou so ’n mooi paartjie gewees het, hartjie.”

      “Tant Mathilda!” roep Marné onthuts uit en lag teensinnig. “Ek is een en twintig. Ek is beslis nie van plan om nou al te trou nie.”

      “Asof die liefde jou gaan vra hoe oud jy is,” kom dit van Mathilda.

      “Is Laura met ’n ander man getroud?”

      Mathilda staar haar oomblikke lank stom aan. “Maar, kind, het niemand jou nog vertel nie?”

      “Wat vertel, tannie?”

      “Laura … die arme, ongelukkige siel het een nag van die hangbrug afgeval en verdrink.”

      “Dis … dis aaklig! Arme Erik,” sê Marné simpatiek.

      “Die bespiegelinge was nog aakliger,” vertel Mathilda grimmig. “Daar was stories dat Erik en Laura rusie gehad het; dat sy ontrou aan hom was. Aangesien niemand weet wie die ander man was nie, weet ek dis sommer net stories. En tog … een van die bediendes


Скачать книгу