Schalkie van Wyk Keur 8. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
probeer help het, het sy gedreig om my te onterf. Sy kan dit doen, Marné. Ek hoop om eendag Flaminke-eiland te erf en voltyds te boer, maar as ek onterf word … Ek het nie eens my eie bankrekening nie. Ek is volkome finansieel afhanklik van my ouma. Wat doen ek as sy my van die eiland af verdryf? Ek kan nie ’n plaas bekostig nie.” Hy lag selfveragtend. “Ek kan nie eens ’n liter melk bekostig as my ouma nie die nodige geld in my hand stop nie.”

      “As jy ’n landbougraad of -diploma gehad het, kon jy elders werk gekry het,” sê Marné. Sy voel intens jammer vir hom.

      “Ek is nie ’n genie nie, maar ek glo as ek ’n studierigting van my eie keuse kon gevolg het, sou ek ’n sukses daarvan gemaak het. Ek lees graag boeke oor suiwelboerdery en ek ondervind geen moeite om te onthou wat ek lees nie. Maar my ouma het volstrek geweier dat ek ’n graad in die landbou kry.” Hy gaan staan en kyk haar in die oë. “Ek kon harder gewerk het toe ek op universiteit was, maar ek het geen belangstelling in my studies gehad nie. Ek het heimlik gehoop dat my ouma my tog sou toelaat om in die landbou te studeer as ek ’n mislukking van my studies maak.”

      “Ek is jammer, Vincent,” sê Marné simpatiek.

      Hy verkleur merkbaar. “Dis ek wat jammer is. My ouma het jou in die pad gesteek, maar ek verwag dat jy na my klagtes moet luister.”

      “Soms is dit nodig om jou hart uit te praat, want …” Marné hou op met praat toe Mathilda vinnig in die gang aangestap kom. “En nou, tannie? Wat lyk tannie so onstuimig?”

      “Daardie lastige ou siel gee my die stuipe! Ek is veronderstel om smiddae ’n bietjie te rus, maar Haar Hoogheid het my na haar troonsaal ontbied,” blaas Mathilda boosaardig. Dan versag haar gesigsuitdrukking. “Sal jy by Nicolette gaan sit, hartjie? Sy slaap nog, maar wanneer sy wakker skrik, raak sy dalk ontsteld omdat niemand by haar is nie.”

      “Goed, tannie. Ek sal wag tot tannie terugkom.”

      “Dankie, my kind.”

      Vincent wag totdat Mathilda buite hoorafstand is en vra ongelowig: “Gaan jy Nicolette versorg selfs nadat my ouma jou omtrent weggejaag het, Marné?”

      “Moet ’n onskuldige kind ly as gevolg van jou diktatoriale ouma?” Marné glimlag deernisvol. “Nicolette is so ’n kosbare mensie. Ek gaan haar mis.”

      “Sy is ’n idioot!” bars hy uit, ’n diep blos van verleentheid op sy gelaat.

      Sy kyk hom streng aan. “Weet jy dit vir seker, of glo jy dit omdat ander dit gesê het?”

      Hy lyk ongemaklik. “My ouma en my ma sê dis beter dat ek vergeet dat Nicolette my suster is. Gelukkig was ek al elf en in ’n privaat skool toe sy gebore is. Ek ken haar nie.”

      “Dis duidelik, want jou oordeel is uit onkunde gebore. Nicolette is ’n immerkind, maar sy is veel meer: sy is ’n mengsel van onskuld en lag en liefde. En sy is beeldskoon. Sy soek liefde en sy gee liefde. Dis tog jammer dat jy nooit deel van haar liefde was nie.”

      Hy staar haar ongelowig aan. “Is jy ernstig, Marné?”

      “Ek het nie rede om te jok nie. Ek is seker tant Mathilda het jou al vertel watter liewe kind jou sustertjie is.”

      “Mathilda is net die huishoudster,” sê hy hooghartig. Hy bloos toe hy sien hoe sy na hom kyk. “Jammer, ek het dit nie bedoel nie.”

      “Ek weet, want jy praat jou ouma en jou ma na. Jy is nie ’n willose marionet nie, Vincent. Kom saam met my en besluit self,” nooi sy.

      “Wel … waarom nie?” vra hy skouerophalend en loop saam met haar na die speelkamer toe.

      Hulle gaan die ruim vertrek binne en gaan staan om na die slapende Nicolette voor die kaggelvuur te kyk. “Sien jy nou? Sy het die skoonheid van ’n blom. Erik noem haar sy vlinderkind en tant Kobie sê sy is ’n sonstraaltjie. Dis haar onskuld wat haar skoonheid so besonders maak,” sê Marné gedemp, loop nader en kniel voor die slapende Nicolette. Sy vryf met sagte vingers ’n krul van Nicolette se natgeswete voorkop af en Nicolette se oë flikker oop. “Hallo, my poplap. Het jy lekker geslaap?”

      Nicolette glimlag bly. “Ek het gedroom Erik koop vir my ’n pop wat kan loop en praat, nes ’n regte dogtertjie. Dink jy hy sal vir my so ’n pop koop as ek elke dag al die eiers vir tant Kobie bymekaar maak en nie een laat val nie, Marné?”

      “So ’n pop sal baie geld kos, maar ek en tant Kobie en oom Lukas en Erik sal almal help en vir jou die pop koop as jy fluks met die hoenders help,” beloof Marné en help haar om orent te sit.

      “Sal jy regtig?” Nicolette klap haar hande van plesier, haar oë vonkelend van vreugde. “O, lekker, lekker! Ek gaan nou dadelik na …” Sy kyk na die deur, sien Vincent daar staan en haar woorde word ’n gesmoorde roggeling in haar keel. Haar gesig vertrek van vrees, ’n byna tasbare angs verskyn in haar oë. “Gaan weg! Gaan weg! Slegte man! Slegte man, gaan weg!” krys sy en beduie wild met haar arms.

      “Nicolette wag! Vincent is jou broer en –”

      “Sleg … sleg,” herhaal Nicolette, dan skarrel sy na die verste hoek van die slaapkamer en krul haar in ’n klein bondeltjie op. Sy klem haar arms styf oor haar bors, haar kop op haar knieë, en wieg ritmies heen en weer.

      Marné staar haar hulpeloos aan, kom orent en loop na Vincent toe. “Ek is jammer, Vincent. Ek het haar nog nooit so sien optree nie. Is dit gewoonlik haar reaksie wanneer sy jou sien?”

      Hy lyk verward. “Ek kom nooit naby haar suite nie en jy weet self sy eet nie saam met ons aan tafel nie. Dis maklik om iemand in ’n groot plek soos Flaminke-huis te vermy.” Hy swyg, ’n uitdrukking van onbegrip in sy oë. “Ek het nie besef sy vrees my nie. Ek het haar nog nooit enige leed aangedoen nie. Glo my, Marné.”

      “Nie fisieke leed nie, maar die feit dat jy haar bestaan ignoreer … Miskien kan sy aanvoel dat sy vir jou ’n verleentheid is,” sê Marné met ’n ondertoon van verwyt in haar stem.

      “As jy kan agterkom waarom sy bang is vir my … My ouma sal nie vir altyd leef nie; my ma ook nie. Ek veronderstel Nicolette sal eendag my verantwoordelikheid wees. Ek sal haar moet leer ken.”

      “Ken én liefhê?” vra sy nadruklik.

      “Ek kan probeer. Ek veronderstel ek is gebreinspoel deur my ouma-hulle, want tot dusver was ek altyd skaam om haar as my suster te erken. Maar as jý haar kan liefhê …” Sy oë soek na Nicolette. “Ek sal nou gaan. My teenwoordigheid ontstel haar net.”

      “Praat met tant Mathilda, Vincent, want ek sal jou nie kan help nie. Het jy vergeet ek het my pos verloor?”

      “Maar jy gaan nie weg nie? As ek vir jou verblyf op Twiswaters kry en …” begin hy pleitend, maar hy swyg toe sy haar kop skud en die deur begin toestoot.

      “Ek het nog niks besluit nie, maar ons sal weer praat voordat ek vertrek,” beloof sy en maak die deur toe.

      Vincent Brandenberg is toe nie die trotse, jong landheer van Flaminke-eiland nie, dink Marné terwyl sy ’n oomblik lank teen die toe deur leun. Hy is ’n verwarde jongman met geen eie identiteit nie, behalwe dié wat hy van tant Renate kry. Maar ná vandag … Sy het ’n voorgevoel dat hy nie langer sy ouma so slaafs sal gehoorsaam nie.

      Sy loop na Nicolette toe en gaan sit langs haar. Sy raak nie dadelik aan haar nie. “Ek gaan net wag totdat Erik vanaand huis toe kom, dan gaan ek hom vertel van daardie mooi pop wat ons vir jou gaan koop. Ek wonder watter kleur oë die pop moet hê. Bruin oë? Ek hou meer van blou oë … of dalk groen oë,” praat sy rustig met haar. Sy merk dat Nicolette stadiger wieg en hou aan om oor die pop te gesels. Die leë uitdrukking wyk uit Nicolette se oë en sy sit regop en kyk opgewonde na Marné.

      “Blou oë en blonde hare, nes joune, Marné,” sê Nicolette. “My nuwe pop moet net so mooi wees soos jy.”

      Marné lag en gee Nicolette ’n spontane drukkie. “Dankie, my asjas. Dis ’n kompliment,” sê sy, verlig dat Nicolette nie langer vasgevang is in haar eie wêreldjie waarheen


Скачать книгу