Kopwond. Anthony Feinstein
Ek word skielik bewus daarvan hoe warm dit in die kamer sonder vensters is. Sowat 15 minute gaan verby en dit lyk of Jacques insluimer. Skielik beweeg die kolonel vorentoe en tik Jacques liggies aan die arm.
“Moenie aan die slaap raak nie, hoor,” sê hy saggies. “Ons moet praat.”
Jacques reageer nie. Die kolonel lyk ongestoord. Hy tik Jacques weer aan die arm, maar dié keer harder. Jacques slaap verder.
“Miskien het te veel van die goed ingeloop,” fluister die kolonel terwyl hy my beskuldigend aankyk.
Ek weet nie eintlik wat om te sê nie. Ek is seker ek het Nothnagel se vrou-verdowende formule gevolg. Maar Jacques is nie ’n vrou nie en ’n kortstondige oomblik kom die gedagte by my op dat ons Wêreldkenner dalk die verkeerde geslagspesifieke inligting vir my gegee het.
My vrese word besweer toe Jacques skielik tekens van lewe begin toon. Hy maak een oog oop. Hy neem ’n tydjie om te fokus voordat hy met een oog na sy kolonel staar. Die mees idiotiese glimlag vou oor sy gesig. “Hallo, Willie, dis goed om jou te sien,” sê Jacques en lig sy duim in die lug vir sy kolonel.
Vermeulen lyk nie geamuseerd nie. Sulke familiariteit is totaal ongehoord. Maar terwyl die infanterie-kolonel ontsteld is, lyk dit of ons psigiatrie-kolonel deur die onverwagte wending bemoedig word.
“Die medikasie werk goed,” fluister hy vir niemand in besonder nie, maar voordat hy enige ander insigte aan ons kan oordra, word hy deur Jacques onderbreek. Sy skaapagtige glimlag het steeds nie verdwyn nie. “Luister, ek het ’n probleem vir jou om op te los.”
Jacques wuif vrolik vir sy bevelvoerder asof hy te kenne wil gee dat dit sy plig is om met die oplossing vorendag te kom. Vermeulen gluur hom net aan. Jacques, salig onbewus van die kwaai kyk, is ongestoord. “Haai, Willie,” roep hy, “wat is die verskil tussen die weermag en die sirkus?”
’n Geskokte stilte daal neer. Selfs De Jager is bewus daarvan dat ten spyte van die mediese omstandighede, daar nou op tone getrap kan word. Al een wat salig onbewus is van die gemors wat aan die ontwikkel is, is die pasiënt self, wat sy eie vraag beantwoord terwyl hy skater van die lag.
“Die weermag het meer tente!”
Ek wil lag, maar is verstandig genoeg om dit nie te doen nie. Maar Jacques, wat meer as 30 milligram ontspannende Valium in sy are het, vind sy grap skreeusnaaks.
“Vang jy dit, hè? Vang jy dit?” sê hy en slaan so hard op sy dybeen dat hy amper die binneaarse buis uittrek wat ek so sorgvuldig ingesteek het. “Die fokken weermag het meer tente!”
Niemand is seker wat om te doen nie. Jacques rol van die lag. Ons kyk na De Jager vir leiding, maar hy lyk effens paniekbevange.
“Gee hom nog van die goed,” beveel hy.
Ek breek nog ’n buisie oop, maar dit maak dinge net erger. Nou het Jacques glad geen inhibisies meer nie en ek kan hom nie stil kry nie. Hy het aanbeweeg van sy grappe oor die weermag en die sirkus na ’n lys vroue met wie hy geslaap het en hul onderskeie sterk en swak punte. Dit is interessant, en ’n mens kan nie help om beïndruk te wees deur sy sukses én sy uiteenlopende smaak nie.
Jacques is nou eers goed aan die gang. Sy ander oog is oop en hy tel sy prestasies een vir een af, waaronder ’n baie vroeë ervaring toe hy skaars uit puberteit was. Ek het al baie stories gehoor, sommige daarvan erg twyfelagtig, oor die seksuele oorwinnings van sportmanne. Maar danksy Nothnagel se formule word die waarheid nou blootgelê.
“Skakel dit af!” sis Vermeuelen. “Skakel daai fokken bandopnemer af.”
Die seks-eskapades is die laaste strooi. Vermeulen leun oor na my toe. “Gee vir my die kasset.” Hy steek die onwelvoeglike materiaal in sy sak, staan op en sonder om “totsiens” of “dankie” te sê, storm hy uit met sy onderdane flink op sy hakke. De Jager skarrel agter hom aan, terwyl ek en ’n salig gelukkige Jacques alleen agterbly.
Ek staak die binneaarse toediening en wag vir sy herinneringe om op te droog. Geen liggaam vir lank teen soveel Valium baklei nie. Kort voor lank slaap Jacques. Die simpel grynslag verander in ’n tevrede glimlag. Gelukkig sal hy nie veel onthou van wat so pas gebeur het nie. Een van Valium se etlike voordele is dat dit geneig is om ’n mens te laat vergeet wat gebeur het terwyl jy onder die invloed daarvan was.
Weer eens het ’n redelik algemene mediese prosedure – gemeet aan Nothnagel se standaarde – weens die unieke omstandighede van ’n militêre omgewing in ’n klug ontaard. Ek het nog jare daarna baie myle uit daardie sirkus-grap gekry. Maar wat van Jacques? Hy het ontwaak en is binne ’n dag na sy eenheid teruggestuur waar hy buite sig in die pakhuise bokse gaan pak het. Die glorieryke dae op die rugbyveld was iets van die verlede. Die held het hard aarde toe gekom.
Ons kon nooit vasstel wat sy probleem was nie.
3
’n Veraf oorlog
Wat gebeur aan die oorlogsfront? Terwyl ek my aan die voet van die heuwel afsloof in ’n versameling ou baksteengeboue, opslaanhutte en waens, buite sig van die glinsterende nuwe bousel daarbo, voel dit of die oorlog baie ver weg is. ’n Mens vergeet egter nooit heeltemal daarvan nie. Dit hang soos ’n vae bedreiging oor jou, ’n bron van onderbewuste ongerustheid.
Elke nou en dan word jy met die werklikheid gekonfronteer wanneer ons ’n soldaat opneem wat van die voorste linies af kom. Hulle lyk almal dieselfde: sonverbrand, verbleikte hare, maer, gespanne en oorweldig om weer by die huis te wees, klere en uitrusting met fyn sand bedek. Hul verwaarloosde voorkoms steek af teen ons netjies gestrykte hemde, broeke met perfekte voue en stewels wat so blink dat ’n mens tot binne-in jou neus kan sien as jy na jou tone kyk. Psigotiese dienspligtiges word vinnig ontslaan – hul ouers kom haal hulle, of hulle word met ’n eenrigtingkaartjie in ’n trein gelaai. Stuur iemand saam as stemme vir die seun sê dat hy die maan moet volg. Maar diegene wat deur die oorlog getraumatiseer is, bly. Ons is, per slot van sake, ’n militêre eenheid.
Posttraumatiese stres, gevegstamheid, bomskok, noem dit wat jy wil – dit is ons gebied van kundigheid. In dié gevalle mik ons na genesing, maar dis nie maklik nie. Die verhale wat ons by dié mans hoor, maak die pyn van ’n veraf oorlog baie werklik. Hul emosionele wonde sny diep. Een voorbeeld is Jan, ’n seiner wat ’n maand lank operasionele diens gedoen het.
Een oggend het ’n patrollie van Ondjiva, ’n Suid-Afrikaanse basis in Angola, vertrek. ’n Klompie pantservoertuie beskerm vragmotors wat voorraad vervoer en Jan is in die voorste voertuig. Dit is ’n gevaarlike pad en ná ’n paar kilometer ry sy voertuig oor ’n landmyn. Die aarde dreun en sy voertuig se voorkant steier soos ’n wilde perd. Mans word deur die lug geslinger en val in die mynveld. Dieselfde gebeur met die tweede pantservoertuig en ’n vragmotor.
Twee mans beland bo-op landmyne. Een is op slag dood, die ander is baie swaar gewond. Hy lê ’n paar meter van Jan af, wie se wind uit is. Jan het ook ’n harde singgeluid in sy kop, maar tot sy verligting kom hy agter dat hy relatief lig daarvan af gekom het. ’n Paar snye en kneusplekke, dis al. Eers wil hy hardloop na waar dit veilig is, maar net toe hy wil opspring, besef hy dat hy in ’n mynveld lê. Daar is geen myngrawers in die klein konvooi nie en niemand kan dit waag om te beweeg totdat hulle opdaag om die landmyne onskadelik te stel nie. Jan moet dus wag.
Die deuntjie in sy kop word sagter. Nou kan hy die man langs hom hoor kreun. Hy loer deur die rook om beter te kan sien. Liewe hemel, wat ’n gemors. Die man se ingewande is uitgeruk. Sy derms peul soos stringe wors uit. Een van sy bene is gebreek, die been steek deur die vel, ’n wit skerf in ’n see van bloed en ingewande. Jan se eerste instink is om na hom te kruip en te probeer help. Maar hy durf nie beweeg nie. Sê nou hy kruip oor ’n landmyn? Hy kyk weer na die gemors langs hom en besef dis die lot wat op hom wag as hy hom misreken.
Dit is meer as wat hy kan verdra. Hy maak sy oë toe. Hy wens hy kan sy ore ook toedruk, enigiets sodat hy die gewonde man se gekreun nie kan hoor nie.
Die agterste deel van die konvooi het rondom die vernietigde voertuie stelling ingeneem. ’n Landmynontploffing word dikwels deur ’n aanval opgevolg. Is dit wat