Kopwond. Anthony Feinstein

Kopwond - Anthony Feinstein


Скачать книгу
Daar sal die volgende drie maande geen geleentheid daarvoor wees nie, dus gee ek my vurig daaraan oor. Wanneer ek nie pak nie, het ek seks. ’n Neurotiese libido het van my besit geneem en seks is ’n wonderlike afleiding. ’n Lekker stukkie kan jou alles laat vergeet en daar is geen gebrek aan gewilliges nie. Oorlog is ’n kragtige stimulant, of miskien is dit die naderende skeiding wat ons aandryf. Wat ook al die rede, ek gaan nie tyd mors met ontledings nie. Ek aanvaar bloot dat die geluksgodin in ’n moeilike tyd aan my kant is.

      Op die dag van ons vertrek is ek uitgeput. Ek staan op die vliegveld op ’n triestige, koue dag. Dit reën. Voor my doem die agterstewe van ’n monsteragtige Hercules-vliegtuig op. Die helling wat reeds laat sak is, ontbloot ’n enorme anus. Saam met honderde ander rekrute betree ek die spelonkagtige binnekant. Ek voel soos Jona in die maag van die walvis. Ons is gou in die lug.

      Niemand sê veel nie, want ons is almal te gespanne. Ek verwyl die tyd deur te kyk na foto’s wat van my mees onlangse meisies vir my gegee het. Van die foto’s het boodskappe by. Sommige is kripties en verwys indirek na weke van wilde passie. Dit laat my glimlag. Dit voel reeds so lank gelede.

      ’n Paar uur later land ons net suid van die oorlogsone en klouter in die verblindende son uit. Vragmotors wag om ons te vervoer na ’n kamp waar ons die nag gaan slaap. Ons kry elkeen ’n blikkie bully beef vir aandete. Die plek lyk soos ’n tronk en is omring deur doringdraad. Ons sit in die sand en wag. Die atmosfeer bly gedemp. Toe dit aand word, word ons saamgehok in ’n groot, leë vertrek sonder elektrisiteit.

      Ek maak my blikkie aandete oop. Dit ruik vrot. Ek lig met my flitslig op die inhoud. Dit lyk soos droë braaksel en ek gooi dit weg. Al wat oorbly, is om te wag dat die dag breek. Ons gaan lê op die sementvloer. Dis ’n koue nag. ’n Paar van die hongerder en dommer mans het die geblikte gemors geëet en hul krampe begin in die vroeë oggendure. Soldate met loopmae strompel al bulkend en kreunend in die donker rond terwyl hulle soos masjiengewere poep. ’n Gestoei ontstaan toe ’n vlaag braaksel oor een van hulle spuit.

      Dis nie ’n goeie begin nie.

      Die oggend breek vars en helder aan. Nie eens die strafkamp-omgewing kan die prag van die sonsopkoms demp nie. Deur die draad sien ek hoe die horison pienk verkleur. ’n Ligte briesie waai die stank van die nag weg. Die toneel sal selfs nog aanlokliker gewees het as ek nie so honger was nie, maar daar is niks om te eet nie. ’n Paar van ons glip weg en gaan soek kos. Ons vind ’n soort kroegrestaurant nie ver van die kamp af nie. Ons verslind die ontbyt en loop in stilte terug.

      Die ledige ure gaan verby terwyl dit al hoe warmer word. Teen die middag verskyn ’n stofwolk in die verte. Ons konvooi het aangekom. Met ’n woeste vaart begelei ’n Jeep die vragmotors by die kamp in.

      Korporaals skreeu: “Maak gou, maak gou!” Hulle is hoogs geïrriteerd. Hoekom nou die skielike haas, ná die gedraal tot dusver? Sommige van die mans wat die vrot kos geëet het, beweeg baie stadig. Hulle kan skaars hul sakke oplig en hulle is glad nie lus vir sulke opdragte nie. Hulle antwoord terug, aangevuur deur hul getraumatiseerde ingewande. Dis ’n chaotiese toneel. Tussen die pandemonium deur bulk ’n bulderende stem: “Sjaddup! Sjaddup! Julle dose, sjaddup!”

      Ons word verwelkom deur ’n slordige, bleek majoor, wat ek binnekort baie beter sal leer ken. Hy klim uit sy Jeep en swaai ’n knyperbord en ’n klomp papiere rond. Hy laat nie op hom wag om ons in te lig oor die gevare wat voorlê nie. Sy taalgebruik is deurspek met oorlogstaal – rooi sones, hinderlae, ammu, terrs, klieks, victor yankees – ’n haas onverstaanbare taal. Onder sy papiere is ’n lys met soldate se name, ingedeel volgens ons plasing. Ek is een van ses manne wat Oshakati toe moet gaan. Ons kry elkeen ’n enkele toebroodjie en ’n magasyn met skerp ammunisie.

En route to Oshakati.jpg

      Bene rek iewers langs die pad na Oshakati.

      Ons konvooi vertrek. Ons sit stil in rye weerskante in die vragmotor, die seilflappe is toe en styf vasgemaak. Die lug kan nie sirkuleer nie. Sommige van die mans wat ons begelei, het hul hemde uitgetrek. Die bolywe blink in die sauna-agtige toestande. Die man oorkant my het ingesluimer. Die voertuig ruk. Sy kop ruk agtertoe en dan weer vorentoe. Hy kap sy neus teen die loop van sy geweer dat die bloed spuit. Ons is almal te futloos om te beweeg. Selfs die bloeier, wat intussen wakker geword het, kyk lusteloos na die helderrooi druppels wat op die vloer spat waar hulle vinnig stol, donkerrooi verkleur en uiteindelik ’n dowwe bruin word.

      Ons kom laat die middag op Oshakati aan. Die basis glim onder ’n blakende son. Duisende dienspligtiges wat veel eerder eerder êrens anders sou wou wees. Hulle woon in ’n stofgat, met sand so ver as wat die oog kan sien, en hul lywe toe onder lae sweet en ghries. Ek sit my goed neer en gaan stort. Die stof en vullis verdwyn onder die kragtige straal koue water en daarmee saam die geur van die een of ander eksotiese parfuum, ’n finale herinnering aan ’n donkerkop-skoonheid van Ciprus.

      Die drange van honger en uitputting, nie van die libido nie, ding nou om my aandag mee. Ek spoor ’n bed op, hoewel dit nog nie donker is nie. Ek klim onder die muskietnet in met die plan om voor aandete gou ’n uiltjie te knip. My laaste herinnering is van mans wat sing, lag en dans. Tonele van ongebreidelde vreugde te midde van ’n vagevuur? Kan dit wees? Maar dit blyk later ek het reg onthou. Terwyl ek in droomland was, is daar deurnag jolig gerinkink. Die mediese groep wat klaargemaak het en die volgende dag sou vertrek, het ’n groot afskeidspartytjie gehou en almal het smoordronk geword.

      Ek kry ’n kantoor in die siekeboeg. Hier sal ek vir die emosioneel gewondes se terapie verantwoordelik wees. Dis ’n troostelose vertrek. Teen een muur staan ’n metaallessenaar waarvan een laai weg is. Die ander een is gesluit en daar is geen sleutel om sy geheime mee oop te sluit nie. Die blad is oral bekrap – meestal met uitvoerige fallusse en vroulike skaamdele. Dit is die lessenaar wat hulle vir die weermag se psigiater gegee het – ’n Rosetta-steen van obsene boodskappe, gefrustreerde begeerte en perverse verlange. Tussen pasiënte deur verkyk ek my aan die detail en word ek stomgeslaan deur die ongebreidelde wellus wat nie deur ’n enkele skoon gedagte besmet word nie.

      Twee stoele, wat lyk of hulle by ’n bordeel geleen is, staan by die lessenaar. Hulle is ook van metaal, met blink rooi plastieksitplekke. En dis al. Daar is geen boekrak, bank of liasseerkabinet nie en daar hang niks teen die mure nie. Net ’n afskuwelike lessenaar en twee smetterige stoele. Dis die terneerdrukkendste vertrek wat ek al ooit gesien het. Tien minute daar sal genoeg wees om jou te laat besluit om die loop van jou R1 in jou mond te druk en jou brein teen die muur agter jou te laat spat. Die teenvoeter vir geluk en vrolikheid, dís my kantoor – die psigiater se saal van melancholie.

      Gelukkig is ek in my eerste week nie juis besig nie. Psigopatologie is met vakansie en daar is genoeg tyd om my lessenaar te lees en te wonder oor die arme sotte, soos ek, wat net ’n verrinneweerde meubelstuk vir geselskap gehad het. My bestudering van die lessenaar word onderbreek deur ’n versoek: Sal ek my asseblief by my kollegas in die siekeboeg gaan aansluit? Daar is baie pasiënte wat ondersoek moet word en as die psigiater nie besig is nie, kan hy dalk vir ’n rukkie ’n internis word? Ek skeur my teensinning weg van ’n verhaal oor bestialiteit om my deel in die siekeboeg te gaan doen.

      In die apartheidsweermag bepaal die wet dat swart en wit nie met mekaar mag meng nie, behalwe in die siekeboeg. Tot my verbasing is baie van my pasiënte swart, en dit is my eerste blootstelling aan dié soldate wat aan apartheid se “wit” kant veg. Die meeste is lid van 32 Bataljon en praat glad nie Engels nie - hoogstens ’n klein bietjie Afrikaans; dus is kommunikasie meestal onmoontlik. Afsonderlike ontwikkeling, selfs hier in die heel verste uithoek van apartheid se domein, verseker dat ons totaal afsonderlike lewens lei.

      In navolging van die politiek, verdeel siekte mense ook volgens ras. Sover ek kan vasstel, het die maatskaplike orde in dié gemeenskap heeltemal in duie gestort. Hoe anders moet ’n mens die feit verklaar dat feitlik al die soldate geslagsiektes onder lede het? Die mediese korps het elke dag te make met lieste vol etter – die gonokokkus het hier in Ovamboland skynbaar ’n tuiste gevind. Die chaos van oorlog verskaf die perfekte omgewing daarvoor. Dit is ’n vrot spul. Die soldate loop en die meer gevorderde gevalle strompel by ons in. Om ’n mediese geskiedenis te probeer saamstel, is onnodig. Die


Скачать книгу