Bitter heuning. Hermione Suttner

Bitter heuning - Hermione Suttner


Скачать книгу
groente plant.

      “Waar gaan ons bly?” vra sy bedug.

      “Daar’s die kleihuis kortby die plaashuis. Ek het dit nog self gebou,” sê hy. “Ek het mos dourie tyd ’n ruk daar gebly.”

      Toe lag hy spottend. Minagtend.

      Weer moet Bavaria oppak. Sy groet haar familie en hulle vertrek. Met die klap van Jakob se karwats laat ruk die donkies die kar vorentoe.

      Hulle ry verby die pleintjie met die bloekomboom en die kerk. Hul besittings skommel en kletter hard oor die plaaspad en dis vir Bavaria of die hele Oufontein hulle hoor. Weer op die trekpad, voel dit.

      “Daar’s De Heuwel al, en daar’s die huis wat ons s’n gaan wees,” beduie Jakob.

      Huis? Dis meer van ’n pondok as ’n huis. Twee leë vensters staar na Bavaria. Haar bene is onwillig toe sy moet afklim. Daar is ’n kombuis met ’n kamer wat daaraan vas is. Die vloer is van modder, en oor die rietplafon skarrel rysmiere heen en weer.

      Hulp daag gou op. ’n Op en wakker jong man met die naam Boesman Jagers kom help Jakob die katel van die kar aftel en indra. Hulle moet dit op die sy kantel deur die smal deur, en in die slaapkamer staan dit byna die hele vertrek vol.

      “Ons is nou eenmaal getroud, maak die beste daarvan,” sê Jakob stuurs toe hy die verslaentheid op Bavaria se gesig sien.

      Sy draai om sonder om iets te sê.

      In die dae daarop skrop sy die plafon skoon met paraffien. Sy wit die mure af met geelklei uit die rivieroewer. Sy skuur die houtstoof af met ’n stuk seespons en as, en in haar groei die stilte weer. Soos met Stil Sannie, haar ma, jare terug toe dié weduvrou was.

      4. Tussen soutbosse en sonkwasriet

vier.jpg

      4

      Tussen soutbosse en sonkwasriet

      Jakob se pa, John Foster Brandt, het hom permissie gegee om ’n paar stuks skaap aan te hou, en ’n koei wat hy kan laat wei. Al is Jakob in g’n posisie om te kies nie, beskou hy die kleihuisie as ’n belediging.

      Nie ver van hulle af nie is die matjieshuise van die Nama-plaaswerkers. Saans luister Bavaria graag in die kleihuisie na die klanke van ’n ramkie en konsertina uit outa Piet en ai’ Bloutjie Dirkse se kookskerm. En sy dink aan haar eie Oufonteinse huis waar daar altyd musiek en gelag in die aande is. En aan die donker vrouestemme in die Namakwalandse nag saam met die klank van die mandolien uit die groen smouswa. As iets net deur die stilte van die kleihuis se rowwe mure wou breek . . .

      Outa Piet en ai’ Bloutjie was kennelik bly om Bavaria te sien. Hulle is al baie jare op die plaas, en in die stilligheid het hulle gehoop dat sy die humeur sou kalmeer van die seun wat die groot skeur in die Brandt-familie veroorsaak het. Hulle ken Jakob. Sy wederstrewigheid. Sy vinnige vlamvat. Sy moertrekkery.

      Omdat John Brandt nie outa Piet of een van die ander werkers kan spaar nie, moet Jakob en Bavaria alles self doen. Dwarsdeur die dag werk hulle om die pampoene en aartappels wat hulle geplant het nat te maak. Voor sonuit en weer in die namiddaghitte dra hulle emmers water aan van hoër op in die rivier waar dit vars is, buite bereik van die sout seegety.

      Hoewel Bavaria tree vir tree langs haar man werk, is sy rol dié van baas en hare dié van klaas. Tog is dit sy wat die veelgeroemde bonevelde van die Sandveld begin met die groot, glimmende heerbone. Sy beplan die plant van die boontjies uit die skaapwagterkaia fyn – vir haarself. Sy vra haar skoonpa vooruit of sy haar eie boontjieakker kan aanlê op ’n ongebruikte deel van die plaas. Hy het niks daarteen nie.

      Die bone plant sy toe Jakob veld toe gaan met die skape om bietjie weiding te soek. Elke dag rol sy die vat met water van die rivier af oor die sandstrook, heeltemal op haar eie. Dan maak sy haar bone nat terwyl sy bid dat hulle tog sal groei. Eers toe hulle opgekom het, vertel sy vir Jakob. Hy snork minagtend oor die handjievol bone waaruit sy ’n oes verwag, maar hy gaan haar nie teë nie.

      Soos die groen sprietjies elke môre sterker staan, stuur sy ’n dankgebedjie op. Haar stryd om te oorleef, haar hele toekoms, so voel dit, hang van die boontjies af. Die natuur sal haar tog nie ook teleurstel nie . . . ?

      Wanneer sy af en toe rus en die vergesig vanaf haar boontjieakker bekyk, verwonder sy haar oor die mooi skadubome voor die groot kliphuis waarin Jakob se mense woon. Om haar kom ’n effense seegeur aangesweef. Bokant haar kop vlieg riviervoëls vry rond. Sy is terug in die Sandveld; sy het weer hoop.

      Ná ’n klompie maande is die bone gereed om geoes te word. Sy besluit om haar oes merendeels te bêre en die volgende jaar weer te plant. Sy verkyk haar aan die blink, gesonde bone wat in die arm, sanderige grond floreer. Boontjies in goeie grond gee welig blare, maar die oes is klein en min. Per geluk het sy die regte plek vir haar boontjies gevind: die baie son en die knaende namiddagwinde hou hulle pesvry. Toe sy die eerste kooksel week en gaarmaak, weet sy haar plan is ’n sukses.

      Selfs Jakob se digte wenkbroue wip van verbasing toe hy die boontjies sien waaroor almal in die familie aan ’t praat is. Sy pa het Bavaria se akker vergroot omdat niemand in elk geval daardie stuk sandgrond benut nie.

      Jakob sou Bavaria egter nie help natlei nie. Sy belangstelling is by sy skaaptrop. Hy het klaar ’n paar verkoop om goeie skaap by te koop.

      Met die tweede boontjie-oes op pad weet Bavaria ook dat sy weer vrugbaar is.

      Toe dit tyd is vir die geboorte, staan tant Tollie haar by in die beknopte kleihuisie. Die vroedvrou is onopgelei, maar het baie jare se ervaring. Sy spog dat sy nog nooit ’n ma met melkkoors gehad het nie. Alles om haar moet silwerskoon wees: Bloutjie moes die kleertjies en handdoeke in die oond “bak”.

      Tant Tollie skrop haar hande met blouseep en boender nuuskierige toeskouers en helpers weg. Sy onthou nog goed hoe Elna, Bavaria se halfsuster, dood is by die geboorte van haar kind.

      Dis ’n seuntjie, en hy kry die naam Hugo. Want Jakob Brandt het geweier om die naam van sy Engelse ouma se Ierse pa – John Foster – te laat voortleef soos die familiegewoonte was.

      Bavaria het genoegsaam melk en alles loop voorspoedig. Jakob neem tant Tollie terug huis toe na Rooiverlorensand ná die geboorte, maar die volgende môre is sy terug met haar treppie en donkie om Bavaria se voorkop te voel en op haar maag te druk om seker te maak daar het nie van die nageboorte agtergebly nie. Ook die res van die week kom sy verby om in die algemeen op alles te let.

      “Jy moet eet, Bavaria. Vleissoppies, dié moet Bloutjie vir jou maak, en sulke goete vir krag. ’n Kooivrou moet eet.”

      Dominee Van Rensburg doop die kind in Velddrif toe hy een maand oud is. Die eerste van my kinders wat gedoop word, dink Bavaria.

      Omtrent die enigste woorde wat Jakob ná die seremonie sê, is: “Hugo gaan ’n boer wees.”

      Jakob was suinig op sy skape; hy het nooit een van hulle geslag nie. Maar soos die ander Sandveldvrouens het Bavaria ’n eie verdienstetjie waaruit sy geld spaar: sy hou hoenders aan. Agter die kleihuis het sy ’n hoenderhok aanmekaargesit. Die vars eiers sal goed wees vir Hugo, en nou en dan kan hulle ’n hoender slag vir ’n vleisigheidjie.

      In die somer gaan sy daagliks rivier toe. Soms om haar bondel wasgoed saam met die ander vrouens in te seep by die deel waar die water vars is. Dit word uitgevryf, gespoel en oor die bosse oopgesprei om te bleik of te droog. Dis ook tye om saam met die ander vrouens te gesels, selfs te lag. Maar dikwels gaan Bavaria net om vis te vang, iets waarmee sy bedrewe is. Sy word die een wat die kosvoorsiening in die huis behartig.

      Van die geld wat sy maak uit haar boontjie-oes sit sy weg in ’n Mazawattee-teeblik wat sy by haar ma gekry het. Boontjiegeld, het sy netjies op die blik uitgekrap. Dis haar afknypgeld, sonder dat Jakob dit weet. Om nuwe klere vir Hugo te koop vir Kersfees, of ietsie vir haar ma, koffie miskien, of ’n koekie seep. “Jy moet knippel,” het Dolly Gold gesê, en sy doen dit.

      Op haar seldsame togte na Velddrif om dinge soos tee of koffie of


Скачать книгу