Bitter heuning. Hermione Suttner

Bitter heuning - Hermione Suttner


Скачать книгу
teen die bors dra. Skielik vertrek haar gesiggie, die bondeltjie are gly uit haar arms en sy val op die grond neer.

      Jakob gooi sy sekel neer en is eerste by die kind, wat haar borsie vasgryp. Toe hy die knope van haar hempie oopmaak, sien hy wat hy gevrees het: spinnekopbyt. ’n Knopiesgat moet nesgemaak het tussen die koring.

      Die Namavrouens skree nog van watter bossie hulle sal gaan pluk, maar Jakob hardloop met Elna na die sinkhuis toe, Bavaria op sy hakke. Die kind begin hyg, uit haar keel kom ’n fluitende geworstel na lug. Jakob voel die liggaampie slap word. Nog voor hy die huis haal, sterf Elna in sy arms.

      Daarna verlaat die wil om te lewe vir Bavaria. Sy bly lê op die bed en staar na die sinkdak en praat nie ’n woord nie.

      Poutjie en Nakkie kom troos haar wanneer Jakob veld toe gaan. Hulle kook bossiestee en dra dit vir haar aan in ’n kalbas, skink dit in haar beker en hou dit voor haar mond. “Sluk, Iganma, sluk tog bietjietjie net.”

      Hulle kry ’n vars weglê-eier van een van Piet Droëdap se henne onder ’n bos en kook dit vir haar. Hulle bring gharrabessies, geel met ’n rooierigheidjie, ’n hele doek vol, die soetstes wat hulle kon kry. Hulle vryf die doppies af en week dit oornag in melk en die volgende oggend is daar geurige dikmelk.

      Geleidelik bring hulle Bavaria terug na die lewe.

      Maar toe Jakob hulle eendag in die huis kry, sê hy bars: “Ek wil die vuil hotnos nie weer hier by jou sien nie.”

      Op ’n dag toe Jakob op die lande is, kom haal die Namavrouens weer vir Bavaria om, soos Poutjie sê, die donkerte weg te vat wat nesmaak in haar hart. Hulle loop in die kloof op om kruie te soek. Hulle breek stukkies af van die kamiemie, die slymstok. Dit sal haar hart stilmaak, sê Poutjie terwyl hulle in die skaduwee van ’n rots aan die soetsuur stammetjies sit en kou.

      Later klim hulle hoër en hoër op, tot hulle die ruwe rotsformasie bereik wat die kroon van die Kamiesberg vorm. Toe sê Nakkie: “Kom, ons gaat jou iets wys wat jou sal verwonner.”

      Half omring deur rotse staan daar ’n plaat dieprooi tjienkerientjees. Die donkerrooi kleur is byna swart, so lyk dit vir Bavaria in die laatmiddaglig. Sy staan verstom. Sy ken tjienkerientjees, maar net die wittes. Die blomme is so onaards mooi, hulle maak haar byna bang.

      “Ons grou vir jou bolle uit om in die grond te sit daar waar jou se kjinners slaap. As die saadjies ryp is, kom Nakkie-goed saam, dan kom oes ons hulle en ons sit hulle ook in die grond. Met die tyd saam maak ons ’n begraaftuintjie vir jou,” sê Poutjie.

      Die Namavrouens het lankal klippe op die grafte gepak, en elke keer as hulle verbyloop, sit hulle nog ’n klip neer. Dis al wat die hopies grond merk. G’n steentjie. G’n naam. Nie eens ’n kruisie van hout nie. Maar die volgende jaar sou die dieprooi tjienkerientjees welig op die grafte groei.

      Bavaria en Jakob praat nooit oor die dood van hulle kinders nie. Jakob het dit verbied sonder om dit ooit te sê. Hoe graag sy ook vir hom van haar droefheid wil vertel, haar mond bly gesnoer. As sy maar net vir haar ma kon skryf. Sy kan Piet van Niekerk weer vra vir ’n seël en ’n koevert en om die brief in Kamieskroon vir haar te pos . . .

      Ek skryf vir Ma in ’n donker tyd in my lewe. As ek nou maar my kop in Ma se skoot kon druk en Ma se hand styf kon vashou, sal ek dan miskien genoeg moed hê dat ek nie breek nie? Ek het nou twee kinders verloor, ’n seun en ’n dogter. Ek het die dood gesien soos Ma toe Elna dood is. En noudat ek van binne ook doodgaan, verstaan ek wat Ma altoos gesê het. ’n Ma sal liewerster self haar kinders se laste vir hulle wil dra. Ek het ’n diep verlange in my om my stukkende hart, die leegte in my, met Ma te deel. Dis te veel vir my om alleen te dra. Pa Knud was altyd soos ’n eie vader vir my, en ’n getroue man vir Ma, maar my huwelik met Jakob is bitter eensaam. Dit was ’n groot fout.

      Die brief kom nooit geskryf nie. Bavaria sien nie kans om weer vir Piet geld vir ’n posseël te vra nie.

      Uiteindelik skryf sy met talmende hand op die velletjie papier: Hulle het hier gesterf.

      Sy staar lank na die woorde, toe gaan brand sy die velletjie papier in die veld uit. Sy kyk hoe ’n windstootjie die swart flardetjies as in die lug wegwarrel.

      3. Nakkie kerf ’n houtbeeldjie

drie.jpg

      3

      Nakkie kerf ’n houtbeeldjie

      “Die reën bly uit,” sê Jakob een aand toe hy huis toe kom. “Van Niekerk sal straks wil hê ons moet weer die Boesmanland in. Daar is al van sy skaap vrek van die droogte.”

      Maar die volgende dag sê Piet: “Dit gaan taai. Ek het al met die ander boere in die omte gepraat, die Boesmanland het vanjaar ook nie reën gekry nie. Die droogte maak my klaar. Verder maai die jakkalse onder die lammers. Graan kan ek nie saai nie, en net toe die gras mooi staan, kom stroop die sprinkane nog daardie bietjie groen ook. Ek weet nie herwaarts of derwaarts nie.”

      Eers het hy sy trop kleiner gemaak en soveel skaap verkoop as wat hy kon. Jakob het net sy kop geskud oor die maer skape en gewonder hoeveel hy vir hulle sou kry.

      Binne ’n week laat roep Piet Droëdap vir Jakob na sy huis toe.

      “Die skaap wat oor is, is net vel en been. Ek gaan niks kry vir hulle nie, maar hoe anders? Die ander boere verkoop ook. Hulle kry vaderweet ook niks nie oor die goed in so ’n sleg kondisie is.”

      “Is daar nie nog ’n stukkie ver-veld waar ons kan laat wei nie?” vra Jakob.

      “Man, ek het al die ou Boesman van Bovlei hier gehad met sy willedaggastok om water te soek. Gereken ek kan straks darem so ’n troppie behou. Maar wat! Hy’t dwarsoor al hierdie plekke gehiernatoe en gesountoe – daar’s dooi niks. Die stok roer nie eers nie. Die boorgate is kurkdroog, soos jy weet. Ons kan nie eers lusern saai nie. Jakob . . . ek sal jou nie kan hou nie. Vaderweet, ek kan self skaars liggaam en siel aanmekaarhou.”

      Toe Jakob daardie aand die onderdeur oopstoot, kan Bavaria die moedeloosheid op sy gesig sien.

      “Ons sal moet geepad,” sê hy. “Ek wil noord gaan, tussen die plase rond sal ons werk kry. Al is dit net vir kosresoen. Net tot ons by die kopermyne uitkom.”

      Bavaria se hart krimp. Sy verlang so na haar ma, haar broers en susters, die musiek en die gelag, die vlei en alles waarmee sy grootgeword het. Sy het gereken . . .

      Maar Jakob wil niks daarvan hoor nie. Hy sal nie ’n tweede keer leëhand teruggaan na die Sandveld nie. Piet van Niekerk het hom permissie gegee om ’n skaaptroppie aan te hou, en hy het gedroom dat sy trop sou groei en hom ’n bietjie geld in die hand sou bring. Hy sou dan ’n span osse koop en teruggaan na die myne waar hy voorheen sy fortuin probeer maak het . . .

      Die span osse kan hy nog nie koop nie, maar hy staan tog nou ’n beter kans. Hy is ouer nou, en hy het al die ondervinding van die eerste keer op die myne.

      “Daar’s nie ander uitkoms as die myne nie. Ons moet vort van Droëdap.”

      “Ja, Jakob.”

      Die enkele briewe van die huis af het g’n goeie nuus gebring nie. Ook die Sandveld ly onder die swaarste droogte in menseheugenis. Die koeie vrek. Jakob se mense loop blootvoet. Geld vir voetgoed is daar nie.

      Al hoe meer mense gaan uit op die see en los die boerdery. Die water in die vlei het kwaai gesak, die vis vrek. En die begraafplaas op Velddrif is vol klein graffies soos ’n maselepidemie deur die streek getrek het. Dit alles dwing Jakob se kop net meer noorde toe.

      Bavaria moet self insien dat dit nutteloos sou wees om terug te trek Oufontein toe, en toe Jakob haar aansê om te begin pak vir die tog na die myne, gehoorsaam sy sonder ’n woord.

      Laatmiddag gaan staan sy lank by die twee hopies grond met klippe toegepak.

      Piet van Niekerk probeer help: “Vat ’n kar en donkies, Jakob. Ek is jammer, dis al wat ek jou kan gee. Eendag kan jy weer jou wa kom haal. Jy sal vinniger vorder


Скачать книгу