Op die toneel. Dana Snyman

Op die toneel - Dana Snyman


Скачать книгу
“Kyk wie’s hier,” sê tant Breggie. “Kan julle dit glo? Nou die dag was hy nog so ’n klein ou dingetjie. Haai, jitte, ma.”

      Tant Martie kom eerste nader. Pa noem haar Mevrou Salusa 45, want sy gebruik glo Salusa 45. Sy sit ’n hand op elkeen van my wange. “Hallo, jongman.”

      “Hallo, Tannie. Hoe gaan dit?”

      “Nee, uitgespaar deur die genade, dankie.”

      Langs die yskas, onder die kerkalmanak, kom tant Babs regop. Ek weet nie hoe om dit mooi te stel nie, maar, wel, op tant Babs se bolip is fyn haartjies wat as ’n snorretjie beskryf kan word. Ek buig my knieë en probeer haar laag op die lippe soen.

      Dan is tannie Anna voor my. Sy is skaars sestig, maar haar hare is silwergrys. Pa-hulle sê sy het oornag grys geword toe haar Engelse man op ’n dag vyf jaar gelede die pad gevat het.

      Tant Anna, het ek al uit ondervinding geleer, is een van daardie vroue wat haar lippe styf teen mekaar pers wanneer sy jou soengroet.

      “Hallo, Tannie,” sê ek vir haar, en vou my lippe ook maar binnetoe en leun vorentoe.

      Sy kyk verskrik na my, draai haar kop en druk eers haar regterwang teen myne, toe die linker.

      Ek stap terug die huis in, tot in die gang. ’n Paar oomblikke is alles stil. Jy hoor die getik-tak van die staanhorlosie in die sitkamer. Ek stap na Ouma se kamerdeur toe.

      Ek is hier om haar te kom groet.

      Mooikloof

      Louis en twee jong ontwikkelaars sit op die braaistoep van sy huis in die Mooikloof Estate in die ooste van Pretoria. Die sterre hang flou bokant die Woodhill-inkopiesentrum in die verte.

      Hulle het pas na ’n rugbywedstryd tussen die Bulls en die Crusaders oor Louis se plasmaskerm-TV gekyk. Die Bulls het gewen en hulle drink Johnnie Walker Black uit Ravenscroft-kristalglase. In die agterplaas blaf Dixie en Neo, Louis se twee opregte Siberiese huskies, vir die maan. Maar Louis maak hulle gou stil.

      Eers gesels hy en die twee ontwikkelaars oor rugby, maar later, onafwendbaar, begin hulle oor die ekonomie en landsake praat: oor Zuma en Malema, oor inflasiebeheer en misdaad en die JSE, Wall Street en die Nasdaq.

      Tussendeur maak Louis vuur in die Jetmaster-braaier wat heuphoogte bokant die terracottateëls geïnstalleer is. Hy braai vanaand ingevoerde Japannese Kobe-biefstuk – die kaviaar van beesvleis wat Susca, sy vrou, vir hulle by Corsini’s in Brooklyn koop.

      Die gesprek raak al driftiger.

      “Luister julle manne nou mooi na my,” sê Louis en vat-vat aan die Tag Heuer om sy pols. “Luister nou mooi.”

      Die twee jong ontwikkelaars kyk grootoog na hom. Hulle bewonder Louis. Louis is hulle Warren Buffett en hulle Donald Trump.

      Louis was hoofseun van die Hoërskool Menlopark. In 1982 was hy derde in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se wiskunde-olimpiade en hy het sy BCom Rek-graad by Tukkies ge-cum.

      Louis het Marthinus van Schalkwyk se foonnommer op sy selfoon.

      Louis het al Tokyo Sexwale, Johann Rupert en Maria Ramos vlugtig ontmoet, en teen die muur van sy kroegie hang foto’s van hom saam met Joost, Naas, Kallie Knoetze, Brümilda van Rensburg, en Ricky Roberts, Ernie Els se caddy. Die meeste van die foto’s is op gholfdae geneem, want gholf is een van Louis se passies. Hy het op al Suid-Afrika se Top Tien-bane gespeel – en het die telkaarte gehou en laat raam as bewys daarvan. Hy beplan reeds weer vroeg in April ’n trippie af George toe om op Oubaai – Ernie het die baan ontwerp – te gaan speel. Miskien sal hy George toe vlieg. Of dalk besluit hy om Susca en die twee seuns saam te neem en die quad bikes op die waentjie te laai en sommer met die Hummer af te ry. Maar hy vermoed Susca-hulle wil eerder na die strandhuis op Ballito gaan. Hulle het ook ’n huis by die Vaaldam.

      En dan is daar nog ’n huis in Woodhill, een in Silver Lakes, en twee woonstelle in Groenpunt. Maar dis bloot vir beleggingsdoeleindes. Dit verhuur hy.

      Louis en die twee jong ontwikkelaars is tans besig met ’n ontwikkeling oos van Pretoria. Die muur rondom die ontwikkeling is klaar gebou en elke dag sit twee van hul agente in die Woodhill-sentrum. Meer as die helfte van die eenhede is reeds verkoop, hoofsaaklik aan eiendomspekulante. Dinge lyk uitstekend. Hulle soek net nog grond om te ontwikkel, daarom het hulle oral in die ooste van Pretoria borde opgesit wat lui: “We’re cleaning up, contact us.”

      Een keer per jaar, in Junie, laai Louis vir Dixie en Neo en ’n slee in die Hummer en ry Swaziland toe om te gaan deelneem aan The South African Federation of Sleddog Sports se kampioenskap.

      Louis het 3 500 RMB-aandele in sy portefeulje. Hy kom gereeld in die NG gemeente Moreletapark se kerk. Hy dra Diesel-denims, rook by geleentheid Cohiba-sigare, skiet elke jaar drie koedoes en ’n blouwildebees op ’n wildplaas naby Alldays en gaan vang gereeld forel op Dullstroom.

      Louis staan op sy braaistoep en kyk oor sy glas Johnnie Walker Black na die twee jong ontwikkelaars voor hom. “Luister mooi na my,” sê hy.

      Die twee laat sak hul glase en kyk stip na Louis.

      “Kom ek sê julle een ding,” sê Louis. “Let’s not kid ourselves. Let’s face it: Hierdie land is moer toe, totally moer toe.”

      Geestelike voorbereiding

      ’n Kort mannetjie in ’n moeë grys pak klere stap by tant Nellie se kroeg op Ventersdorp in. Hy kan veertig wees. Of dalk net ’n vernielde dertig. Op sy voorkop is ’n rooi letsel en om sy een hand is ’n verband. In die ander hand hou hy ’n lêer vas. “Is Antie-hulle oop?” vra hy vir tant Nellie.

      “Hoe lyk dit vir jou?” antwoord tant Nellie op haar stoeltjie by die geldkas agter die toonbank. Dit is ’n Dinsdagoggend en die Boeing is nog nie oor nie.

      Ek is die enigste ander een by die toonbank. Ek eet een van tant Nellie se toasted cheese-broodjies en drink koffie.

      Uit die asbakkie voor tant Nellie lek ’n Courtleigh Satin Leaf Mild ’n strepie rook die lug in.

      Die mannetjie gaan staan voor tant Nellie. Dit lyk of dit ’n Veka-pak kan wees wat hy aanhet – die kerkpak van die tag-tigerjare. Die baadjie se moue wurg aan sy voorarms. Hy kyk na die ry bottels wat kop onderstebo van die rak af hang, asof dit vriende van hom is wat hy jare laas gesien het. “Ek moet myself op-psyche,” sê hy. “Maak dit maar ’n vodka, my antie – ’n double vodka. Met water.”

      “Ek’s nie jou antie nie,” sê tant Nellie. “Oukei?”

      “Sorry, Antie,” sê hy en sit die lêer op die toonbank neer. Hy sukkel ’n pakkie Winston uit die baadjie se binnesak en laat val dit langs die lêer.

      “Ys?” vra tant Nellie.

      “Nee dankie, Antie. ’Seblief nie. ’Seblief nie.” Die mannetjie kyk na my. Die letsel op sy voorkop is taamlik vars. Dit lyk of bloed enige oomblik daaruit kan syfer. “Ys maak my tande seer,” sê hy, dan hys hy hom tot op ’n kroegstoeltjie. Onder sy arms grynslag die baadjie se nate.

      Hy het lanklaas das gedra. ’n Mens kan dit sommer sien aan die losserige manier waarop die bont das met ’n Mickey Mouse op, geknoop is.

      Tant Nellie sit die glas vodka en water voor hom neer. Hy vat een, twee diep slukke, en laat sak die glas. “Niemand kan mos ruik as jy vodka gedrink het nie, nè?”

      “Dis waar,” sê tant Nellie. “Jy ruik hom nie.”

      Hy lig die glas en sluk die res van die vodka af, sit die glas neer, en blaai die lêer oop. Dit lyk of dit sy CV daarbinne is, en nog dokumente en briewe.

      Ek en tant Nellie hou hom stil dop terwyl hy lees-lees daardeur blaai.

      Hy skud later sy kop, mompel iets, en stoot die leë glas oor die toonbank, verby die Opel se sleutels en die pakkie Winston, in tant Nellie se rigting. “Maybe moet Antie maar vir my nog enetjie gooi,” sê hy.

      Die


Скачать книгу