Op die toneel. Dana Snyman

Op die toneel - Dana Snyman


Скачать книгу
punt om haar wysvinger; styf draai sy dit om haar vinger terwyl sy na die skerm kyk.

      Linda se gesig kom nader aan die skerm. “Ma moet kom kuier,” sê sy.

      “Ek weet tog nie hoe sal ek op ’n vliegtuig kom nie, kind.”

      “Nee wat, ons kry vir Ma ’n rolstoel. Tjoef-tjaf en Ma is hier.” Linda draai na Japie toe. “Kan ek jou ’n guns vra, Japie?”

      “Enige tyd, Skoonsus. Vra.”

      “Kan jy vir my na Wetherlys toe gaan – die meubelwinkel daar by julle? Ons is ’n paar Suid-Afrikaanse vroue hier wat ’n container van hul meubels wil invoer. Jy kry nie ordentlike goed hier nie. Kan jy vir my uitvind wat ons moet doen? Asseblief.”

      “Ek maak so, Skoonsus.”

      Die kind lê nou met sy kop op Linda se skoot. Kallie se een been wip die hele tyd senuagtig op en af. Tant Tillie vroetel in haar naaldwerksak.

      “En verder?” vra Japie.

      “Nee wat,” antwoord Kallie. “Soos ek sê: ons kap aan. Die ekonomie maak ons net seer.” Hy kyk op sy horlosie. “Miskien moet ons eers weer koebaai sê, Broer. Dan praat ons weer volgende Sondag dieselfde tyd, nè?”

      “Reg so,” antwoord Japie. “Ek sal weer vir Mammie gaan haal.” Japie sit sy hand vlugtig op tant Tillie se skouer en beduie na die rekenaar se skerm. “Mammie moet nou vir Boeta-hulle groet, ons sal volgende Sondag weer praat.”

      Tant Tillie kyk na die skerm en draai en draai weer die sakdoekie se punt om haar vinger. “Tattatjies, kinders.” Die sakdoekie raak stil in haar hand, dan bring sy dit na haar gesig toe.

      “Mooi bly, Mammie,” sê Kallie. “Dit was lekker om met Mammie te praat.”

      “Ma moet nou kom kuier, hoor,” voeg Linda by.

      Die kind het op Linda se skoot aan die slaap geraak. Linda wikkel onder hom uit en staan op. Kallie strek homself uit. Linda neem seker aan die rekenaar is reeds afgeskakel, want die volgende oomblik sien ons, ek en Japie en tant Tillie, hoe Linda om hul rusbank in Toronto, Kanada, stap, en die “Onse Vader” langs die skildery van die muur haal.

      Wat is die naam van daardie sprokie nou weer?

      Eendag lank gelede was dit só en nou is dit anders: Waldorf se kafee is nog hier, maar in Waldorf se plek is nou ’n Kongolees wat Engels met ’n Franse aksent praat. En Voortrekkerstraat is nou Thabo Mbeki Drive. En die hotel is ’n lodge, met ’n sportkroeg. En oom Koos Prinsloo se haarkappery is ’n China shop.

      Naby Volkskas, wat nou Absa is, parkeer hy die bakkie en klim uit.

      Eintlik moet hy terugklim en verder ry, dink hy – dieper die bos van sy herinneringe in.

      Hy herken nie een van die gesigte wat hy sien nie.

      Doer oorkant op die sypaadjie voor die Spar, skuins oorkant oom Dafel se apteek, het sy ma-hulle sommige Saterdagoggende môremark gehou. Hulle het pannekoek en jaffels op primusstofies gebak en sjokoladekoeke en fudge en klapperys verkoop.

      Soms was daar flop pannekoeke, dan het sy ma dit vir hom gegee.

      Hy stap oor die straat, in die Spar se rigting.

      “Van sit en staan, kom niks gedaan,” hoor hy sy ma roep. “Kom, kom maak jouself handig.”

      Waar sy ma-hulle se môremarktafels gestaan het, het ’n ouerige vrou ’n paar tamaties en lemoene en pakkies grondboontjies uitgepak op ’n stuk plank wat op twee omgekeerde koeldrankkissies rus.

      Stavast Mansuitrusters is nou Joe’s Chicken.

      Oom Dudu Stavast het jou altyd by die deur ingewag en om sy nek het ’n maatband gehang waarmee hy eers jou middel gemeet het voor hy vir jou ’n plat boks met ’n langbroek in van die rak gehaal het.

      Hoër op in die straat, teen die NG kerk se muur, hang ’n teken: Scorpion Security Sevices, 24 Hour protection. Beware.

      Nog hoër op in die straat is nou Toskaanse huise by die gholfbaan. Al Debbo het eenkeer lank gelede daar gholf gespeel, en toe slaan hy glo sy bal per ongeluk diep die bos in. Ná ’n lang, vrugtelose gesoek skreeu Al Debbo toe glo vir die joggie wat sy gholfsak gedra het: “Caddy, los die bal! Kom soek die baas!”

      Eens op ’n tyd was daar vaste waarhede, weet hy, maar hy onthou net brokstukke daarvan: Kerkkore tydens Kerssangdienste, en Zoom-roomyse, en sterretjies op meisies se borste in die Scope, en ’n piepiepot wat sjoeing-sjoeing maak laat in die nag in sy ouma se donker huis.

      Hy wil met die ou vrou gesels wat die tamaties en die lemoene en die grondboontjies verkoop. Maar hy weet nie wat om vir haar te sê nie. Daarom sê hy maar net: “Is alles sharp hier, Mamma?” En daarom antwoord sy maar net: “Alles is sharp hier, Meneer.”

      Op die hoek, naby die poskantoor, druk ’n ander vrou ’n strooibiljet in sy hand. “Sheik Kassim,” staan daarop geskryf. “He is an astrologer, a herbalist healer and a researcher.”

      Sheik Kassim beweer hy kan onder meer die volgende doen.

      1. “Read and tell all your problems before you mention them to him.”

      2. “Bring you to see your enemies and make demands on them using a mirror.”

      3. “Guarantee that you are loved and trusted by your colleagues, husband, wife, in-laws, friends, etc.”

      Sy pa en ma het minstens een keer per jaar in die kar geklim en dan het hulle die homeopaat Dokter Gertjies iewers in die Wes-Transvaal gaan besoek en teruggekom met allerhande botteltjies wat hulle drie keer per dag in ’n glas water gedrup en gedrink het.

      Tuiskeur, waar die vrouens gebak en handwerk verkoop het, is nou ’n winkel waar jy selfone en goedkoop Chinese TV-stelle, CD-spelers en radio’s kan koop.

      Harde musiek borrel by ’n luidspreker op die sypaadjie uit: Die ritmes laat hom dink aan swart gepolitoerde kannibale in ’n Jamie Uys-fliek in die skoolsaal.

      Hy stap by Tuiskeur in wat nie meer Tuiskeur is nie. Sy ma was ook lid van Tuiskeur. Sy was nommer 42, want elke lid het ’n nommer gehad. Net die nommer het verskyn op die kaartjie wat op elke item was.

      Nommer 42 se lemoenkoek was die beste in die dorp, en dit het betaal vir rugbytoks, ’n Hammond-huisorrel en uitstappies na die Randse Paasskou en Rondalia se Die Oog-vakansieoord.

      Waar gaan stories heen wanneer hulle sterf? wonder hy soms.

      Die man agter die toonbank in Tuiskeur wat nie meer Tuiskeur is nie, lyk na ’n Pakistani. Dan sien hy ’n gesig wat bekend lyk agter in die winkel. Hy stap nader, stadig stap hy deur die skemer winkel nader, tussen rakke deur waarop TV-stelle en ander elektroniese goed uitgestal is. Iewers word met kerrie gekook, ruik hy, en die ritmes van die musiek op die sypaadjie neem hom na ’n plek in homself waarvoor hy bang is.

      Eers wanneer hy amper by die persoon agter in die winkel is, sien hy sy eie refleksie voor hom in die spieël staan.

      Vorderingsverslag

      Ons oupas en oumas is op plase of op die platteland gebore. Baie van ons pa’s en ma’s ook; en soggens, só vertel hulle graag, het hulle kaalvoet deur die ryp skool toe gestap.

      Ons sterte is as jong bobbejaantjies afgekap en ons is elke Woensdagmiddag kinderkrans toe gestuur. Iewers het ons ook nog foto’tjies wat geneem is die dag toe ons in die ou klipkerk aangeneem en voorgestel is: Daar staan ons saam met Dominee in ons Veka-pakke en ons crimplene-rokkies, met ons Edworks-skoene aan, witter as sneeu en sonder hare op ons hande.

      Ons het gedoen wat van ons verwag is, want anders is ons getugtig deur diegene wat ons liefhet. Ons was die jong boompies wat reg gebuig is, die jongelinge wie se pad suiwer gehou moes word.

      Ons moes ouer mense “oom” en “tannie” noem, en kinders word gesien en nie gehoor nie; toe-toe, wat sit julle hier en tande tel, gaan speel!

      Elke


Скачать книгу