Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux

Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux


Скачать книгу

      

      Getuie

      Christine Barkhuizen-le Roux

      Human & Rousseau

      All games have morals; and the game of Snakes and Ladders captures, as no other activity can hope to do, the eternal truth that for every ladder you hope to climb, a snake is waiting just around the corner; and for every snake, a ladder will compensate. But it’s more than that; no mere carrot-and-stick affair; because implicit in the game is the unchanging twoness of things, the duality of up against down, good against evil; the solid rationality of ladders balances the occult sinuosities of the serpent; in the opposition of staircase and cobra we can see, metaphorically, all conceivable oppositions, Alpha against Omega, father against mother.

      Salman Rushdie, Midnight’s Children

      Vir Kobie

      HOOFSTUK

      1

      “My ma het my lewe vernietig. Nee – opgefok. Sy, en haar obsessie met haar tweetong-godsdiens.”

      Die woord uit Mignon se mond is ’n klip wat oor die water skiet en ’n paar spronge oor die oppervlak maak voor dit sink. Om hulle sprei ’n stilte wat al wyer kring. Langsaan en oorkant draai ’n paar vroegoggend-koffiedrinkers die koppe skuins om te kyk waar die skel klank vandaan kom.

      Die vrou met die geelbruin oë, die breë mond, die manier waarop sy haar hande beweeg, is die maatjie wat Maggie onthou van soveel jare gelede, maar dit wat soms so kru ontsnap uit Mignon se mond vang Maggie steeds op ’n verkeerde voet. Selfs haar eie pa, McKairn, wat die Getuies nie kon verdra nie, was nie so hatig op hulle soos die Mignon wat sy ná meer as dertig jaar weer teëgekom het nie.

      Die kras woorde klop ook nie met die verlore trek wat soms oor haar gesig skuif nie. Partykeer, in die middel van ’n gesprek, is dit of sy wegdryf na ’n plek wat alles en almal uitsluit; na daar waarheen niemand haar kan volg nie.

      Maggie kyk na die kruis op die gedrukte blaadjie. Haar duim vee oor die twee datums. Geboorte. Sterfte. Hoe kon sy weet dat die aand dat Mignon by haar weg is haar laaste sou wees?

      “Dis glad nie reg nie, julle teken dit verkeerd – die Here het nie aan ’n paal geswaai nie, Hy was aan ’n kruis vasgespyker deur sy hande en sy voete.” Tussendeur die opname van die orrelspel hoor sy haar eiegeregtige kinderwoorde van daardie lankgelede middag in Mignon se huis.

      Sy het gewys na die boek wat op die tafeltjie by Mignon-hulle se voordeur lê. Die prent op die voorblad het Liewe Jesus gewys waar hy opgehang is, maar nie soos sy dit in die Kinderbybel gesien het nie. Die paal op die boekie het nie ’n dwarsbalk gehad nie.

      Die vraag van die afgelope dae bly in haar maal: waarom het sy nie raakgesien dat Mignon op ’n pad was waarvandaan sy nooit weer kon terugkom nie? En wat is die betekenis van die boodskap wat sy in daardie voorlaaste minuut vir Maggie agtergelaat het?

      Waar Maggie in die tweede ry van agter in die kapel sit, vou sy die papier met die paar sinne in kwarte, en dan nog kleiner, asof sy dit wat daarop staan só kan uitwis. Mignon se boodskap; die opdrag. Maar hoe graag sy dit ook al wil ignoreer, dis iets wat haar nie gaan los nie: … gaan soek vir Bea.

      In die vorige week se koerant het sy ’n doodsberig laat plaas met die besonderhede van die diens en die verassing daarby. Haar eie telefoonnommer ook, sodat familie of vriende van Mignon haar kon bel as hulle wou, maar die enigste mense wat opgedaag het, is Stuart Venter, Mignon se vennoot wat sy ’n keer ontmoet het, en twee vrouens ’n paar sitplekke voor hom. Die een in ’n donkerblou pakkie, die ander in ’n beenwit langbroek en kraagbloese. Sekretaressedrag. Ewe goed vir die kantoor as vir die dood.

      Deur die venster val ’n streep son oor die banke. Die glimmende hout is die kleur van Mignon se hare.

      Maggie dwing haar oë weg. Mignon het teruggekom op ’n tyd dat sy gedink het sy gaan van haar kop af raak nadat Frans dood is. Die verlange het ná twee jaar eerder meer geword as minder. Toe sy Mignon weer ontmoet, het die lewe in haar begin terugkom; het die bloed in haar are weer begin pomp omdat sy wou leef, nie net omdat sy nog bestaan nie.

      Die diensdoende pastoor wat sy kon kry om ’n paar woorde te sê, sprei ’n rygseltjie vroom geluide oor die kateder uit sodat die klanke plat en stomp uitkom en op die mat voor hom beland. Dit dra nie eens ’n entjie in die dik, somber lug nie.

      Nie dat sy hom kwalik neem nie. Hy het Mignon nie geken nie, en sý was nie bereid om met hom in gesprek te tree oor die gestorwene nie. Ten minste sou sy haar behoed van onwaardige uitsprake wat ’n kennis van die oorledene wil voorgee. Maar sy kon Mignon ook nie net oorlaat aan ’n begrafnisondernemer wat met ’n skyndroewe uitdrukking iets prewel nie; toelaat dat hulle haar sonder ’n woord wegvat en in die oond wegdruk nie.

      “Is daar iets wat u wil laat sing?” Die pastoor kyk met ’n wiebelende kop na die skamele opkoms. “’n Gunstelinglied dalk?”

      “Nee.”

      Maggie se tong sukkel om die een lettergreep te vorm. Die vrou met die donkerblou uitrusting kyk om, knik. Iemand wat iets van Mignon begryp het, dink sy dankbaar. Die godsman se amen bly ’n paar tellings in die atmosfeer hang.

      Sy skuif uit die bank tot in die gangetjie toe die musiek begin speel. Tol & Tol se Viënna (Two Worlds Meet). ’n Juiglied die een deel, en dan die meesleurende verdriet van die viole. Dis ’n stuk wat meer van Mignon sê as enige van die gesange waaraan Maggie kon dink.

      Die pastoor loop saam tot by die deur waaragter die oond is. “Ek kan ongelukkig nie bly nie,” sê hy verskonend toe hy omdraai en sy hand na haar toe uithou. “Oor ’n uur het ek nog ’n diens.”

      Sy is meer verlig as wat die man sou kon dink. Dis nie die prosedure wat saak maak nie, dis die hart van iemand wat regtig omgee. Beter dat die dooies hul eie dooies begrawe as dat iemand pligshalwe met ’n swart pak daar kom staan.

      Die drie ander begrafnisgangers staan reeds voor die verassingslokaal.

      “Stap gerus binne, alles is reg, ons gaan die lyk nou instoot.” Die ondernemer maak die deur oop, beduie met die bleek binnekant van sy hand na die vertrek.

      Maggie draai weg. Sy kan nie, wil nie, getuie wees van wat aan die gebeur is nie. Dis Mignon, haar speelmaatjie van destyds. Eers Frans, nou sy.

      Sy hoor hoe die man haar agternaroep, maar sy hou aan met loop, af in die gruispaadjie tussen die serke deur. Lyk, het die man gesê. Lyk.

      Haar bene begin vinniger loop, dan hardloop, weg van waar hulle die kis in die heloond skuif. Waar Mignon sal opkrul en skroei, waar haar vel sal bars en die vog onder die vel begin uitsyfer. Sis, wanneer dit eindelik saam met die hout deur die vlamme verteer word.

      Sy het haar kans verspeel. Waar Mignon nou is, sal sy haar nooit weer kan gaan haal nie. Haar tande klap op mekaar toe sy die kar se deur sluit, maar dis nie van die koue nie.

      Die Polo ry met haar in Voortrekkerweg af, verby Sanlam se hoofkantoor in Bellville, verby Stikland en die fabriekswinkels op linkerhand. Kuilsrivier toe.

      Sy verbeel haar sy ruik vleis wat brand.

      Moenie laf wees nie, praat sy hardop met haarself in die bedompige ruimte van die kar – dis die Spur waar jy nou net verbygery het, dis die fillets en rumpsteaks wat die sakemanne oor die middaguur sit en verslind.

      By die Netcare Kuilsrivier Hospitaal, waar die bord Sarepta staan, draai sy regs, rivier se kant toe. Na daar waar sy en Mignon vissies probeer vang het in weglooptyd; ’n speeltyd wat hulle nie gegun is nie. Twee dogtertjies teen die wal met hul selfgemaakte visstokke, ’n klip vir ’n sinker, ’n hoek, ’n bolletjie brood en vis.

      Die papiertjie met Mignon se laaste woorde wat sy saamgeneem het na die kapel, het afgeval. Maggie buk skuins na onder om dit van die matjie voor die passasiersitplek op te tel. Die stuurwiel ruk toe sy die randsteentjie raak; die bestuurder van ’n wit Mercedes wat van voor af kom, toet en flikker sy ligte vir haar.

      Die polisieman het die nog klammerige papier na haar toe uitgehou toe hy haar klaar ondervra het die middag. Binne by die klavier het Leon, haar


Скачать книгу