Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux

Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux


Скачать книгу
klavierspeel. Eenkantkinders. Amper ewe.

      Maggie weet nie wat om te maak met die losgeskeurde stuk in haar maag nie – wat sê ’n mens vir jou maatjie wat weggaan wanneer jy elf jaar oud is? Hoe maak jy as jy weet sy was die enigste kind in ’n hele groot skool wat saam met jou kon stories opmaak soos dié wat Helena Lochner geskryf het? Mignon se woorde was lego-blokkies waarmee ’n mens vreemde diere en kastele kon bou.

      “Eendag gaan ek jou weer sien,” sê sy. “Jy sal dit sien, Maggie. Ek belowe jou.”

      Toe draai sy om en loop straataf. Een keer kyk sy terug, waai na Maggie wat nog op die paadjie voor die skool staan. Dan hardloop sy met haar stowwerige bene in die rigting van die laan waar die huis met die regop stoele staan. Om haar bene flap die skoolrok, ’n rok baie langer as die vyf-sentimeter-bokant-die-knie wat die ander meisies dra.

      Maggie staan en kyk hoe sy ver weg in die straat verdwyn, wegraak om die hoek.

      “Ek moet Antoinette wat in my klas is gaan help met haar somme, Mamma, ek sal later my kos eet,” sê sy toe sy by die huis kom.

      Haar ma kyk na haar of sy ’n vraag wil vra, maar sy knik waar sy voor die wasbak staan en die pan was. “Sorg net dat jy terug is wanneer jou pa vanmiddag ná die vergadering by die huis kom.”

      Sy loop vinnig verby Antoinette se huis. Antoinette se ma bak brood wat snaaks smaak en partymaal gee sy pouses vir die ander meisies ook daarvan. Één keer het sy vir haar en Mignon ook gehou: “Hier’s ’n aalmoes vir ou Rooikop en Getuie!”

      Sy het dit onder Maggie se neus gedruk, amper binne-in haar mond.

      “Is jy bang die regte kerk gaan jou vang?” het Antoinette aangehou en met die brood na Mignon se kant toe geswaai.

      Mignon het haar kop geskud. Maggie het die brood gegryp en ’n hap gegee. As hulle Mignon net wil uitlos; sy sal nooit saam met die ander kinders pouse hou nie, en sy wil nie van hulle kos eet nie.

      Die brood was sleg. Bitter.

      “Jou gelukkige duiwel,” het sy toe hulle wegstap vir Mignon gesê, “dis oor jy ’n Getuie is dat jy nie die brood hoef te geëet het nie!” Dit het gevoel of al die bloed uit haar lyf na haar voete toe loop toe sy haarself hoor. “Ekskuus – ek wou nie sê jy is ’n …”

      “Die Getuies is nie bang vir die duiwel nie, man.” Mignon het vorentoe gebuig en haar maag vasgehou soos sy lag. “Eendag gaan ons almal saam op die nuwe aarde lewe.”

      Anderkant Antoinette se huis draai Maggie regs, sy hardloop so vinnig as wat sy kan na die einde van die laan. Op die hoek bly sy staan.

      Mans in oorpakke het klaar die stoele en beddens uit die huis gedra. Bokse en bokse vol goed. Tafels en matrasse. Die blou geverfde kassie wat in Mignon en Fedélis en Alexa, die laatlammetjie, se kamer gestaan het. Die kassie waarin Mignon se skoene en skoolklere was. Op die deur was ’n Goofy-sticker geplak, maar van hier waar Maggie op die hoek staan en kyk, lyk dit of dit afgetrek is. Net ’n geskeurde wit papier sit teen die kas.

      Mignon se broers kom uit. Ruben en José. Hulle help dra aan ’n groot kombuiskas; haar ma staan langsaan en kyk. Maggie sien Mignon nêrens. Fedélis en Alexa help van die kartondose buitentoe dra. Mignon se oudste susters, Desireé en Gabriella, is nie daar nie; hulle is al uit die skool en werk in ’n meubelwinkel in die Kaap, het Mignon gesê.

      Maggie was verbaas toe sy die eerste keer hoor dat Mignon so baie broers en susters het. “Ek het nog net een keer gehoor van mense wat so baie kinders het – dis my niggie-hulle, en hulle is net vyf.”

      “Jehova stuur ’n mens se kinders, sê die ouderlinge,” het Mignon gesê, “dis nie vir mense om te besluit nie.”

      Maggie het nie verder gevra nie. Sy, en sy was seker Mignon ook, het geweet waar babas vandaan kom, maar dit het hulle nie naastenby so geïnteresseer soos die stories wat hulle uitgedink en in die swart hardebandboek geskryf het nie.

      Toe die vragwa vertrek, kom ’n lang man uit en trek ’n geel kar uit die motorhuis. Die kinders klim in. Mignon se ma loop weer by die trappies op. Aan haar lyf lyk dit of sy baie kwaad is. ’n Hele ruk bly sy weg. Toe kom sy terug met Mignon aan die hand. Selfs van waar Maggie staan, kan sy sien hoe haar maatjie stywebene maak en nie wil loop nie. Mignon se ma ruk en pluk haar totdat sy by die kar is. Sy druk haar by die oop deur in, forseer haar langs die ander drie kinders op die agterste sitplek in en klap die deur toe. Sy tel Alexa op, toe klim sy voor langs die man in.

      Die motor beweeg agteruit, stadig, tot dit deur die erf se hek is. Dit draai agteruit, ry verder in die straat op tot by die stopstraat.

      Maggie hoop Mignon kyk terug, al weet sy nie eens dat sy hier op die ander hoek staan nie. Die geel Ford ry nog verder; verby die stopstraat, nog verder tot waar die viswinkel is, en gaan links om die hoek. Toe is die kar weg. Dis soos die swaar donkerblou gordyn in die skoolsaal wat toegetrek is – wat daaragter gebeur, kan niemand sien nie.

      Op pad terug van Kuilsrivier af, ná die kapeldiens, het haar ma gebel – McKairn het ’n terugslag gehad. Maggie moes haarself dwing om die motor na die hospitaal te stuur. Sy kon haar ma nie net aan haarself oorlaat nie, maar hier waar sy in die studeerkamer voor die blou kassie staan, wissel die seer oor Mignon en die woede oor haar pa se ongevoeligheid mekaar af. Siek soos hy is, kon hy hom nie daarvan weerhou om sy oordeel uit te spreek toe sy haar ma van Mignon vertel nie.

      Maggie stoot die gerf papiere weg. Toe sy by die huis kom, was Beauty al weg. Die huis is leeg rondom haar. ’n Groot skulp waarin daar eggo’s van stemme ruis.

      Sy gaan sit voor die klavier. “Für Elise”, dis wat die note speel. Haar vingers speel iets anders, haar hart glip van die een noot na die ander oor die balkies op papier en daarvandaan op wit en swart klawers.

      Deur haar smal wit vingers beweeg die eb en die vloed van haar onmag. Sy hoor haar eie twyfel, die verwarring wat in haar binneste draai. Skuld oor Mignon. Verlange na Frans, en na Gerrit, haar seun wat shiraz en cabernet maak in Duitsland. Donkerrooi bloedwyn waaraan sy skemeraande soms sit en teug wanneer die paar skoolkinders vir wie sy musiekles gee weg is en sy alleen agterbly.

      “Praat ek met Maggie McKairn?” het die stem twee jaar vantevore oor die selfoon gevra toe sy in die apteek gestaan en wag het vir medisyne om snags te kan slaap.

      “Dis reg, ja.”

      Van die begin af het Frans ingestem dat sy haar eie van behou. “Die Europeërs doen dit almal en vir my is jy nie net my vrou nie, jy is ’n mens in eie reg; iemand wat ook op haar eie voete moet kan staan. ”

      Dis veral die respek wat hy vir mense gehad het wat haar na hom toe aangetrek het. Vir enige mens, ook vir McKairn wat hom glad nie wou aanvaar nie.

      En nou was al die gesels met hom weg; vir twee jaar reeds was daar niemand meer wat die duet saam met haar kon speel nie. Geen akkoord van ’n tweede hand nie.

      “Is jy nog daar?”

      Die vrou aan die ander kant het die stilte gehoor.

      “Ja, ek is hier. Ek staan in ’n apteek, maar ek loop gou eenkant toe, dan kan ons praat.” Maggie het met haar kop ’n beweging gemaak na die parfuumafdeling waar dit stiller was.

      Toe Mignon haar naam sê, het sy geweet sonder om ’n oomblik te twyfel.

      “Ek het jou naam op die kunsblad gesien, in die stukkie oor Johandi Malan, jy word genoem as haar musiekonderwyseres van vroeër, alles wat haar gemaak het wat sy nou is.”

      Sonder om te dink aan wat sy eintlik daar gaan maak het, het sy uit die apteek geloop toe hulle klaar gepraat het. Die slaappille het op die rakkie agter die toonbank by die apteker bly lê.

      Sy het Mignon se naam en nommer op haar selfoon gebêre. Die stem wat met haar gepraat het, was anders, volwasse, met ’n klank waarin iewers ’n lag geskuil het. Maar op so ’n manier of dit wat snaaks is eintlik niks was om oor te lag nie.

      Maggie bly vooroor by die klavier sit. Die musiekstuk is op ’n einde. Haar rooi hare, reeds aan die grys word, val oor haar


Скачать книгу