Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux

Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux


Скачать книгу
ontsnap aan die nuus wat die polisieman gebring het, het gedink: hierdie stuk is te swaar, te gevorderd vir Leon. Hoekom dryf hy homself so?

      “Ons het dié op die toneel gekry,” het die man in die uniform gesê. “Dis aan u gerig. Ons het die oorledene se kantoor gekontak, en kon u so opspoor.”

      Toe die man uiteindelik omdraai, het sy Leon ook huis toe gestuur. Sy het die swaar houtdeur wat Frans uit Kaïro laat aanstuur het, toegemaak. Sy wou nie die polisieman se gesig onthou nie; die uitdrukking rondom sy mond en in sy oë. Grave. Dis wat die Engelse dit noem. Gepas, vir die uiteinde van Mignon.

      Onder haar hande kon sy die diep reliëf voel van Horus, die Egiptiese valkkopgod. En onder hom, die ankhs, die simbool van die lewe, langsaan Anubis. Sy was op die oomblik kwaad. Nie Horus of enige god kon haar beskerm teen die wegraping van hulle wat sy die liefste gehad het nie.

      Die papier in haar hand was verkreukel van die vogtigheid in Mignon se badkamer. Sy wou nie kyk nie; sy was bang vir Mignon se woorde.

      Die letters was in drukskrif. Asof dit die boodskap wou beklemtoon:

      Op hierdie dag het ek besluit, Maggie, lankal eintlik, maar vanaand finaal. Ek wil nie verder nie. Vat die blou kassie in my kamer en wat daarin is vir jou. En gaan soek vir Bea van wie ons in die koerant gelees het. Ek is dit aan haar verskuldig. Asseblief.

      En Al –

      Die laaste woord is doodgetrek asof Mignon haar bedink het.

      Die berig oor Bea Mostert was in die Sondagblad ’n paar maande voor Mignon se dood. Hulle het op die dek gesit en deur die stukke van die koerant geblaai. Daar het ’n kreet uit Mignon se keel gekom toe sy die voorblad omblaai, iets soos die veraf kerm van ’n dier wat pyn ly. Vir ’n lang ruk het sy met haar kop en skouers geboë gesit; die koerant het afgegly en op die dek geskuif.

      Maggie het die foto gesien; die naam in die kop van die berig. Die foto was een van sowat vyftien jaar gelede toe die vrou tot dertig jaar tronkstraf gevonnis is. Nou was sy sewentig. Sou sy parool kry? was die vraag van die joernalis. Het sy berou?

      Die hofsaak en vonnis van Bea Mostert het die wêreld destyds om twee redes aan die brand gehad. Wat sy gedoen het, was ’n vergryp teen die mensdom. En: Bea was ’n Getuie.

      “Dis presies soos dit is,” het Mignon gesê nadat sy weer regop gekom het, haar gesig styf en ontoegeeflik. “Die wêreld wou haar kruisig. Maar later, jy weet nie meer wat jy doen nie.

      “Hierdie vrou is my ma se jongste suster. Sy was twee-en-twintig toe ek gebore is, die jongste van die klomp broers en susters. Sy het gesukkel om kinders te hê; voor haar eerste kind gebore is, was ek soos ’n eie kind vir haar.

      “Wat sy gedoen het, is die ergste wat ’n mens kan, ja, maar niemand ken haar geskiedenis nie. Die familie het altyd agteraf oor haar gepraat; as klein dogtertjie kon ek nie verstaan waarom almal so gemeen was teenoor haar nie. Vir my het sy meer liefde gegee as my eie ma. Maar sy was ’n klad op die naam van die Getuies, het my oom Donald gesê – sommer so voor haar in ’n geselskap.

      “Ek het probeer … ek wou na haar … ek het nie kans gesien om alles van destyds … ek het omgedraai voor die deur met die tralies …”

      Mignon het toegeklap. Abrup. Daar was ’n wit streep rondom haar mond.

      Die elektroniese hek lol toe Maggie by die huis wil indraai. Sy weet sy moet laat kyk na die handkontrole, maar die enigste tyd wanneer sy daaraan dink, is wanneer sy buite die hek staan en sukkel om in te kom.

      Haar hele lyf was styf toe sy die oggend wakker geword het; sy moes haarself dwing om regop te kom. Sy het die hittereguleerder in die stort twee grade boontoe gestel, maar die water het oor haar geloop sonder dat sy die warmte gevoel het. Die sjampoe se skuim het haar oë gebrand. Soos die looppoppe van haar kindertyd het sy deur die kamer en badkamer beweeg. Stokkerig, afgemeet, al stadiger.

      Die battery in haar binnekant was aan die afloop.

      Sy het die langste pad gekies toe sy wegry na Woltemade, maar die afstand was steeds te kort. Sy wou nie afskeid neem nie. Nie by die hek inry tussen die grys grafte met hul gevleuelde engele en kammakranse nie. Repos ailleurs. Hier sou Mignon nie rus vind nie. Nie haar liggaam nie. En nie haar siel nie.

      Die man by die hek het haar toegelaat om in te ry, verder op, na waar die kapel en die oond wag.

      Niks wou Mignon aan die toeval oorlaat nie. Veras, het haar testament gesê. Alles wat sy het, moes na ’n kinderhuis gaan. Van haarself sou nie ’n stukkie skelet oorbly wanneer die opstanding kom nie. Ás.

      As is verbrande hout, het hulle as kinders gesê.

      Maggie trek die motor in, maak seker dat die ratslot aan is. By die agterdeur lek Jasper, die labrador, aan haar bene. Sy stoot hom weg en loop na die vertrek waar die klavier staan. Dis te helder, te lig van die fel son wat nog deur die rame inskyn. Met ’n vinnige ruk trek sy die middelste pante van die gordyne na mekaar toe. Onder die vensterbank loop ’n bars waar die fondament onder die huis gesak het.

      Haar kop soek die koelte en die middagskadu van die studeerkamer. By die blou kassie gaan sy staan. Haar hand streel oor die meubeltjie wat die polisie verseël by haar kom aflewer het. Sy kon haarself nog nie sover bring om regtig in die lêer in die laai te kyk nie; met ’n dooie Mignon wou sy nie praat nie. Die vlugtige kyk na die stapel papiere het haar, toe sy die eerste keer daarmee in die hand staan, so beangs gemaak dat sy buitentoe moes loop om meer asem te kry.

      Mignon se woorde was ’n uitroep wat sy moes kon hoor toe daar nog tyd was om iets te doen.

      Maar nou, hier waar sy voor die kassie staan, weet sy: hierdie stukkies lewe op papier sal vir altyd deel van haar wees. In haar oë, haar ore, haar vingers teen die swart ink wat een met die papier geword het. Dis ’n oomblik waarin haar brein met ’n koplamp oopgeskyn word – dat sy besef: dit wat jy weet, word jou verantwoordelikheid. En jou gewete.

      Haar onthou loop terug na daardie middag jare gelede toe Mignon haar saamgenooi het na haar ouerhuis.

      “Ek het jou gesê jy bring nie daai heidense meisiekind huis toe nie. Ek gaan vir Ma sê, en die ouderlinge gaan jou velle aftrek!” Mignon se ouer suster, Fedélis, het na Maggie gegluur toe sy haar verwonder het aan die vreemde paal waaraan die Here hang.

      “Ag, wat weet jy?” het Mignon teruggekap.

      Maggie se kop het snaaks gevoel. Hoekom mag sy nie by Mignon speel nie? Haar onderwyser-pa kon die Getuies nie verdra nie. Maar dit kon Mignon tog nie weet nie, ook nie haar ma of Fedélis nie.

      In Mignon se huis is dit anders as enige plek waar sy al was. Dis nie dat hulle armer of ryker is as die McKairns nie, maar oor alles lê ’n donkerte, ’n soort skemerte. So asof jy met kerse oor die weg kom al is daar elektrisiteit. Die gordyne is almal toegetrek, behalwe dié in die kombuis. Mignon se een broer staan en roosterbrood maak en op die kassie staan ’n blikkie baked beans wat Fedélis met ’n hak-en-tak bliksnyer oopgesny het.

      Iets ruik skerp en bitter, soos die amandelessens wanneer Maggie se ma die kersfeesvrugtekoek met wit plakke marsepein versier. Die stoele in die sitkamer is regop sonder kussings, eettafel-houtstoele en geel geverfde kombuisstoele in ’n kring gerangskik. ’n Swart blompot met rooi plastiekrose staan op die klein tafeltjie by die venster. Aan een van die blaartjies blink ’n nagemaakte doudruppel van gom.

      Mignon sien hoe Maggie kyk. “Vir die ouderlinge,” sê sy. Sy trek ’n skewebek. “En die broers en susters. Dis boekstudie vanaand.”

      Fedélis loop uit die sitkamer, maar sy laat die deur oopstaan. Maggie sien hoe sy terugkyk na Mignon, ’n ouer-suster-kyk wat dinge beteken waarvan sy niks verstaan nie. Meteens is sy nie meer lus om te bly nie, al was sy so in haar skik toe Mignon haar na skool saam huis toe gevra het. ’n Kans om weg te kom van haar pa wat gedurigdeur luister of sy die note op die klavier reg speel: nie vinnig genoeg nie, stadig genoeg nie, met te min gevoel, nie vloeiend en glad nie.

      “My ma is stad toe met die bus,” het Mignon by die skoolhek gesê, “kom saam, dan gaan wys ek jou wat ek gisteraand geskryf het


Скачать книгу