Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux

Getuie - Christine Barkhuizen-le Roux


Скачать книгу
rou lewer wat sy hom voer wanneer hy die hondepille verorber het, moet vergoed vir die feit dat sy te min met hom gaan stap, te min met hom praat.

      Die Dogmor-skyfies klink hard teen die geel emaljebak toe sy die punt van die sak vorentoe hou en skud. Jasper gee ’n opgewonde snork. Langsaan hoor die Avenants se foksterriërs hom en antwoord met ’n aanhoudende gekef.

      Sy kyk of sy een van hulle deur die gapings in die Vibracrete-heining kan sien. Maar hulle kom nie te voorskyn nie; êrens toegemaak seker, sodat hulle nie by oom Hans se groentetjies kan kom nie.

      Haar oog vang die hoë naaldeik met die blare wat laag op laag teen die takke sit. Hoog, amper bo in die tronende boom is ’n voëlverskrikker wat aan ’n spyker hang om die pruimboompies net langsaan teen die skerp bekke te beskerm – met groot moeite, en ’n omkoopbotteltjie sterkgoed, het oom Hans ’n lang leer by die munisipaliteit te leen gekry.

      Die ding swaai in die suidoostewind. Somer en winter, elke seisoen hang dit daar, of daar vrugte aan die pruimbome is of nie. Oom Hans is te oud om op en af te klim om dit in die winter af te haal en later weer vas te maak.

      Maggie druk haar hande weerskante van haar kop vas. Hard. Sy maak haar oë toe. Die toneel wat die polisieman aan haar beskryf het, het sy nie self gesien nie. Maar ’n mens se kop maak sy eie foto’s, sy eie skilderye, realisties of abstrak. Surrealisties. Picasso’s en Dali’s.

      Dis ’n vrou van diep in die veertig wat sy sien. Iemand wat sy geken het en ook nie kon ken nie. Mignon van destyds wat grootgeword het, met wie sy ’n stuk lewe gedeel het wat ver oor die jare gespan het. Die kind wie se nood sy nooit begryp het nie. Not waving but drowning.

      Die pruimbome se takke kreun, hulle buig in die wind. Die foksterriërs gee kort, hoë blaffies teen die huis se agterdeur. Hoog bo, effens losgeruk, swaai die verskrikker met sy slap laplyf.

      Die pop in die boom het Mignon se oë.

      HOOFSTUK

      2

      “Mag hulle suffer en mag daar nooit ’n einde aan kom nie. Al glo ek nie in die verdoemenis nie en al weet ek Gehenna is ’n bangmaakwoord wat die Jode gebruik het – êrens moet ’n plek wees waar mense soos hulle kan ly, waar daardie spul in New York sifilis en kanker en aids en melaatsheid kan kry wat verby die ewigheid aanhou.”

      Maggie is spyt sy het gevra. Partymaal kry sy die indruk Mignon wíl praat, al klap sy ander kere weer dig toe. ’n Oester wat die sandkorrel in haar sagte buik stilweg met perlemoer toesmeer.

      “In 1914, so het hulle eers gesê, sou Armageddon gebeur. Die wêreld sou uitgewis word, en net die Getuies sou oorbly. Daar sou ’n duisend jaar verbygaan, waarin die Getuies in vrede sou leef, en daarna sou die duiwel losgelaat word. Die wat verlei word, sou ’n ewige dood sterf, en die wat agterbly sou vir ewig leef en nooit ophou nie. Al die regverdiges wat al gesterf het, sou dan opgewek word en: kyk nou net, almal sou vir ewig gelukkig en tevrede leef. Mooi nè.”

      Mignon kyk in die koppie waarin die donker koffiemoer afgesak het.

      “Dis wat daai eerste selfgemaakte pastoor van die Getuies verkondig het. Maar dit was ’n vergissing. Want toe kom daar maar net ’n armsalige ou Wêreldoorloggie. En hulle verskuif die datum na 1975.” Met elke sin raak Mignon se stem harder, skeller.

      “Russell was ’n liegbek; die hof het hom later uitgevang. Nooit ooit in sy lewe het hy Grieks of Hebreeus geken of bestudeer soos hy voorgegee het nie. Hy het nie eens hoërskool klaargemaak nie. En Rutherford, sy advokaat, wat hom opgevolg het toe hy dood is in 1916, was ’n nog groter skelm; hy het selfs meer mense agter hom aangesleep met die charisma wat hy uitgestraal het. Sy leuens was nog meer voortreflik.

      “En hy,” Mignon hou haar hande met die palms na bo voor haar asof sy self nie kan glo wat sy sê nie, “hý was eintlik van huis uit ’n Baptis.”

      “Maar hoe kon hulle daarmee wegkom? Hoe kon mense sommer net so voor die voet glo wat Russell en hierdie ander man gesê het?” Dis dieselfde vraag wat Maggie oor en oor bly vra.

      “As jy magsbehep is, en ’n opportunis, kan jy enigiemand om jou vinger draai.” Mignon kyk haar stip in die oë sodat sy nie kan wegdraai nie.

      “Neem maar baie van die groot volksleiers in die wêreld-geskiedenis. Ook hulle het mense bedrieg vir eie gewin en mag. Rutherford was nou wel nie ’n politikus of moordenaar nie, maar manipulasie neem vele vorme aan. En glo my, verskuilde opswepery is nog gevaarliker as dit wat aan die groot klok hang.

      “In San Diego het hy ’n ontsaglike paleis laat bou, Beth Sarim. Dis waar Abraham, Isak en Jakob kwansuis ná 1925 sou bly wanneer hulle spesiaal opgewek en verheerlik word. Maar intussen het hy self in die paleis gebly, blink karre en al; besittings wat hy vir homself gebruik het. En dan was hy glo maar net die bewaarder en opsigter, die aartsvaders se adjudant.”

      “En daarna? Wat het gebeur toe hý dood is?” Dis die stukkies wat Mignon terughou wat Maggie laat aanhou vra.

      “Nathan Knorr het hom in 1942 opgevolg. Maar hy het anders gewerk. Vir hom was die streng godsdienstige reëls van die Wagtoring nie so belangrik nie; hy het hom toegespits op aanvalle op die Christendom se kerke. Aan die begin het die Getuies hulleself ook Christene genoem, maar later het daar ’n beweging begin wat hulself nie meer onder daardie naam wou laat ken nie. Vandag, ek weet nie, ek dink nou is dit weer aanvaarbaar vir hulle om Christene genoem te word. Maar dis ’n gelaaide term – dalk oral.”

      Mignon tel die koppie met die swarterige droesem wat onderin bly lê het op, gooi die moer in die piering. “Dalk sou ek beter geaard het in ’n clan van sigeuners en fortuinvertellers,” sê sy. “Dan het ek miskien meer beheer gehad oor wat met my gebeur.”

      Die foksterriërs en die immerveranderende voorspellings van die Getuies het Maggie die hele nag uit die slaap gehou.

      Sesuur, toe die wekker van haar selfoon afgaan, lê sy nog na die plafon en staar. Dit voel of haar gedagtes soos die migrerende dieretroppe van die Serengeti deur haar harsings gestorm het. Sy kan die stamp van die pote en skud van die aarde nog in haar hoor en voel.

      Sy gooi die laken af; die vloer is glad onder haar voete. Sy trek die wit gordyne oop en dit haak aan die een kant vas. Met ’n ergernis wat in haar opspring, ruk sy die stuk materiaal dat die gordynstok tril. Dit glip uit die haak, die gordyne sak teen die muur af en vou in ’n vormlose hopie op die vloer inmekaar.

      “Blikskottel.” Sy skop die materiaal weg dat sy by die vensterbank kan kom.

      Die son is op; ’n strepie lawa wat die grys wolke aan die bokant raam. Ontwaak! Wekroep van die Getuies.

      In haar drome baklei sy met Mignon. Saam met die onbegrip en pyn oor Mignon wat weg is, is daar ’n wrewel in haar binneste. ’n Kwaad omdat Mignon haar wat Maggie is alleen agtergelaat het; opgesaal het met ’n mens wat sy nie ken of wil ken nie. En die wete dat as sy haar rug na Bea draai, sy altyd met ’n skuldgevoel sal bly voortleef.

      Wanneer sy wakker word in die oggend wonder sy: hoe is dit om op te staan uit ’n tronkbed; wat kry Bea vir ontbyt? Eet ’n mens alleen, of sit jy soos koshuiskinders saam om ’n tafel? Dink die vrou nog elke dag aan die hekke wat agter haar toegegaan het en die sleutel wat in die slot geknars het om haar haar vryheid te ontneem?

      Die lepel kap teen die randjie toe sy die koffie in die beker wil gooi. Die korreltjies Nescafé spat oor die marmeroppervlak en ’n klompie beland op die teëls.“Deksels!”

      Sy buk, vee die gemorste koffie met ’n klam kombuislap op; voel Beauty se beskuldigende oë op haar omdat sy kortpad vat en nie ’n regte vloerlap gaan haal nie. Sy hou dit onder die kraan, gee ’n paar vrywe dat die bruin sop kan wegloop. Die dag, soos die voriges, het nie goed begin nie.

      Mignon was ’n aanhanger van Murphy se wet: as iets verkeerd kan loop, dan sal dit noodwendig. Altyd spottend. Tog was dit of sy regtig ernstig was oor dié soort fatalisme.

      “Jy glo tog nie in die noodlot nie, man,” het Maggie meer as een keer geantwoord op Mignon se aweregse sinisme.


Скачать книгу