Brand Pretorius - aan die stuur. Brand Pretorius
en myns insiens goed toegerus om ’n senior bestuursrol in Toyota te vervul. Nadat ek heelwat oortuigingswerk moes doen, veral met sy vrou, Santie, wat bekommerd was oor die moontlike impak op hul gesinslewe, het hy in 1993 by ons aangesluit. Dit was ongetwyfeld my beste aanstelling ooit, in ag genome dat hy vandag die president en uitvoerende hoof van die groep is, met verantwoordelikheid vir Afrika suid van die Sahara. Hy dien ook in die hoofraad van die Toyota Motorkorporasie van Japan, wat ’n besonderse prestasie vir ’n buitelander is. Trouens, hy is een van enkele nie-Japanners vir wie so ’n eer al te beurt geval het.
In 1993 het Toyota Japan ons vereer met sy “best of the best”-toekenning – ’n onderskeiding wat daardie jaar net drie van die 161 verspreiders wêreldwyd te beurt geval het. Ons is beoordeel op die grondslag van algehele prestasie, maar met die klem op markaandeel en klanttevredenheid. Dit was uit die aard van die saak ’n spesiale mylpaal.
’n Belangrike storie wat ek nie kan nalaat om te vertel nie, is die middagete wat ek en Bert Wessels ’n paar maande voor die demokratiese verkiesing in 1994 saam met Nelson Mandela by Toyota se hoofkantoor in Sandton geniet het. Vanaf Colin Adcock se aftrede in 1986 het ek aan Bert gerapporteer. Tydens die ete het Mandela ons meegedeel dat ons een van tien groot Suid-Afrikaanse maatskappye was wat hy besluit het om te nader vir ’n bydrae van R1 miljoen tot die ANC se verkiesingsfonds. Die ANC was destyds hoofsaaklik ’n bevrydingsbeweging en ’n gesonde verkiesingsfonds was ’n voorvereiste vir ’n regverdige verkiesing.
Ná baie kopkrap oor Madiba se versoek het ons toe, ná konsultasie met ons mededirekteure, besluit om R500 000 aan die ANC te skenk, en ’n bykomende R500 000 onder die ander partye in die politieke hoofstroom te verdeel. Ons het dit as ’n billiker en minder omstrede toewysing gesien. Die verrassende uitkoms was dat hy ons tjek vir ons teruggestuur het. In sy brief het hy gesê dat hy vir R1 miljoen gevra het, om goeie redes. Ons skenking van die helfte van die bedrag was vir hom ’n duidelike bewys dat ons nie die meriete van sy versoek ten volle ondersteun nie, derhalwe sy besluit om die geld terug te stuur. Hierdie eerstehandse les oor beginselvaste leierskap wat voortvloei uit ’n hoë vlak van morele intelligensie het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Dit was een van talle lesse wat ek deur die jare by Madiba geleer het. ’n Laaste opmerking – hy het nooit weer na die teruggestuurde tjek verwys nie en Toyota is steeds bevoorreg om ’n uitstekende verhouding met hom te hê, tot vandag toe.
Ten spyte van die feit dat Bert ’n meganiese ingenieur was en ek ’n bemarker, het ons uitsonderlik goed oor die weg gekom. Nie net het ons mekaar as kollegas gerespekteer nie, maar ons het ook baie goeie vriende geword. Bert was bekwaam, reguit en ongekunsteld. Sy entoesiasme vir die lewe was inspirerend en sy humorsin aansteeklik. Ek het ’n skatkis vol staaltjies en herinneringe aan daardie jare waarin ek die voorreg en plesier gehad het om saam met hom te werk. Hy het inderdaad ’n positiewe rol gespeel in my leierskaps- en bestuursontwikkeling, en my lewe verryk. Dit bly vir my tragies en ’n persoonlike verlies dat hy in die betreklike jong ouderdom van 58 jaar op 2 Desember 2002 skielik oorlede is. ’n Herinnering wat my met weemoed en dankbaarheid vul, is die oproepe wat sowel ek as Tillie ’n paar uur voor sy afsterwe van hom gekry het om ons te bemoedig gedurende die moeilike RAG-episode (Retail Apparel Group). Ek was toe reeds geruime tyd nie meer aan Toyota verbonde nie.
In die derde kwartaal van 1994 het ek ’n telefoonoproep ontvang van Terry Rosenberg, destyds die uitvoerende hoof van McCarthy Retail Bpk. Die uitvoerende voorsitter van hul motorafdeling, Theo Swart, sou einde Februarie 1995 aftree en Terry wou weet of ek in die pos belangstel. Omdat ek reeds ’n moontlike loopbaanverandering oorweeg het, het ek positief gereageer. Ons het kort daarna in Durban ontmoet en dit is gevolg deur ’n aandete in die restaurant Linger Longer in Sandton. By hierdie geleentheid het Terry ’n uitstekende aanbieding op ’n mini-blaaibord gedoen. Hy was sjarmant en oortuigend, met die gevolg dat ek die moontlikheid om by McCarthy aan te sluit, ernstig oorweeg het. Ek wou hierdie uiters belangrike saak deeglik deurdink en het Terry gevra om my tot einde Desember kans te gee om te besluit.
Die wroeging waardeur ek met hierdie besluitnemingsproses gegaan het, was intens. Toyota het my grootgemaak in die sakewêreld, en my geleenthede gebied. Die geloof in die handelsmerk, produkte en kultuur was ’n integrale deel van my samestelling, en die Toyota-mense was diep in my hart. My lojaliteit teenoor die Wessels-familie en my bestuurspan was nog ’n groot oorweging. Terselfdertyd was daar ’n sterk hunkering na ’n nuwe uitdaging en ’n meer gebalanseerde lewe. Die realiteit van my werkspatroon by Toyota was dat ek baie lang ure gewerk het, en heelwat moes reis, binnelands en internasionaal. Uit die aard van my verantwoordelikhede moes ek ook as gasheer optree by talle aandgesellighede en het die bywoon van handelaarsgesellighede en motorsportbyeenkomste baie van my naweektyd in beslag geneem. Omdat ek so lank by die groep was, het ek persoonlike verwantskappe gehad met die meeste van die personeel, verskaffers, handelaars, vlootklante en joernaliste. Die onafwendbare gevolg daarvan was dat ek by al hoe meer en meer kwessies betrek is. Mettertyd het hierdie stortvloed van versoeke vir my aandag en tyd my laat voel soos ’n vliegtuig wat al om die Noordpool sirkel en progressief meer sneeu op sy vlerke versamel. Al manier om die situasie te red, was om in ’n plek van sonskyn te gaan land.
Tydens ons Kersvakansie daardie jaar in ons huis aan die Oos-Kaapse kus het ek kans gehad om die voor- en nadele van ’n skuif na McCarthy goed te deurtrap. Ek kon lank met Tillie en ons seuns, Brand, Jan-Louis en Jaco daaroor praat, en ook opnuut daaroor bid. Hulle menings oor my moontlike verandering van beroep was vir my van groot belang. Brand en Jan-Louis was albei reeds op universiteit en uit die huis, maar Jaco sou van skool moes verander, aangesien McCarthy se hoofkantoor in Durban gesetel was. Op 28 Desember 1994 het ek om 04:00 opgestaan, my op die stoep tuisgemaak en begin skryf aan “a case for change”, gerig aan myself. Toe my gesin ná sonsopkoms by my aansluit, was die besluit geneem dat ek McCarthy se aanbod sou aanvaar.
Deur al die jare is die vraag wat ek loshande die meeste gevra is: “Waarom het jy Toyota vir McCarthy verruil?” My lighartige standaard-antwoord was dat ek elke dag in Toyota se hoofkantoor by ’n rooigeverfde apparaat verbygeloop het wat teen die muur gemonteer was en waarop ’n instruksie gedruk was: “Fire Brand.” Ek was bang hulle sou dit wel doen en het maar proaktief besluit om te bedank!
Die werklike redes was van ’n ernstiger aard. Heel boaan die lys was my sterk behoefte aan ’n beter lewensgehalte saam met Tillie en ons gesin. My “werkslaaf”-gedrag by Toyota het onafwendbaar gelei tot selfverwaarlosing en die afskeep van die mense die naaste aan my. Ek was angstig om ’n nuwe begin te maak en in die proses my gesin en lewensvreugde te herontdek.
In die tweede plek was my loopbaan by Toyota aan die stagneer. Dit was vir my duidelik dat ek ten minste die volgende vyf jaar in my huidige posisie sou bly. Bert was net ’n jaar of twee ouer as ek, en sy familie het ’n beherende belang in Toyota SA besit. As hoof van die beherende maatskappy het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt. Hy was nêrens heen op pad nie. Aan die ander kant was ek opgewonde oor die geleenthede by McCarthy. Ek het ’n lewendige belangstelling in die kleinhandelkant van die motorbedryf gehad, en het uitgesien na ’n stimulerende leerondervinding. Aangesien die McCarthy Groep bykans 20% van alle Toyotas verkoop het, het ek die organisasie en die topbestuur goed geken en gerespekteer. Dit was die voorste motorkleinhandelgroep in die land, met ’n kultuur wat met my waardestelsel ooreengestem het.
Laastens was die McCarthy-aanbod uit ’n finansiële oogpunt baie aantreklik. My persoonlike doelwit was om voor die ouderdom van vyftig finansieel onafhanklik te wees, en die skuif na McCarthy sou my baie nader aan daardie doelwit bring.
Met my hart in my keel en die trane vlak het ek Bert op 2 Januarie 1995 meegedeel dat ek besluit het om Toyota te verlaat en by McCarthy aan te sluit. Op ’n emosionele vlak was dit vir my uiters moeilik om totsiens te sê vir ’n maatskappy en sy mense wat so baie vir my gedoen en beteken het. Uit ’n rasionele oogpunt was ek egter oortuig dat die verandering die regte ding vir my en my gesin sou wees. Ook maar goed ek het nie geweet wat op die McCarthy-horison vir my sou wag nie . . .
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте