DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts


Скачать книгу

      DIE SKAAM JONG MAN

      Danie Malan was ’n bysiende seuntjie. Hy het van agter ’n dik paar lense na die wêreld getuur en eenkant bly staan wanneer die ander kinders rowwe speletjies begin speel het. Sy skouertjies was ook krom – so erg dat sy ouers hom ’n harnas laat dra het om sy postuur te verbeter.[1]

      Die Malans se plaas, Allesverloren, was net buite Riebeek-Wes aan die hange van Kasteelberg. Vanaf die plaas het die jong Malan ’n panoramiese uitsig oor die Swartland se valleie gehad, wat op hul beurt deur groot berge in die verte omsoom is: die Elandskloofberge, die Groot Winterhoekberge en die Koue Bokkeveldberge. Die droë somers se ondraaglike hitte en stof het die inwoners immer na skadukolle laat skarrel. Herfs het die wingerde laat drup van die rooi. Winter het reën gebring, en heldergroen koringlande wat tot aan die voet van die sneeubedekte berge gestrek het. Die lente het vir welkome warmte gesorg, en sonskyn wat die hele landskap, nog groen ná die winterreëns, opgehelder het. Die Swartland is ru; sy landskap verdwerg die mens en laat hom nietig voel, en daar heers ’n stilte wat ’n mens dwing om te luister. Jare later was dit die einste ruheid van die Swartland waarna Malan, toe ’n student in die bedeesde Nederland, die meeste verlang.[2]

      Die Swartland se wit inwoners was Kaapse Afrikaners wat, in teenstelling met hul taalgenote in die twee Boererepublieke en die nouliks getemde buitewyke van die Kaapkolonie, ’n gevestigde klas grondbesitters was. Hulle was nie noodwendig ’n klein elite binne die breër Afrikaanse samelewing nie, maar kon bestempel word as ’n groep gemiddelde maar vooruitstrewende boere.[3] Hierdie klas Afrikaners het ook ’n aantal professioneles in sy geledere gehad – meestal predikante, prokureurs en mediese dokters. Die Afrikaners van die suidwestelike Kaapkolonie was ook meer betrokke by die handel en plaaslike regering as die Afrikaners op die grense van die kolonie.

      Deur die loop van die 19de eeu het die Kaapse Afrikaners stelselmatig verengels en ’n gematigde houding teenoor hul Britse landgenote ingeneem. Om goeie Engels te kon praat was ’n teken van ’n goeie opvoeding, wat op sy beurt toegang tot meer gegoede kringe gebied het. Dit was altans die toedrag van sake tot in die 1860’s.

      Die 1870’s en die ontdekking van diamante, en daarna goud, het ’n keerpunt gebring.[4] Dié gebeure het ’n merk op die Kaapse Afrikaners gelaat. Dit het die samelewing onherroeplik omvorm, nié net vanweë die groeiende Kaapse ekonomie nie, maar ook op grond van vooruitgang op vervoer- en kommunikasiegebied. ’n Nuwe bewuswording het onder die Kaapse Afrikaners posgevat: oor hul bande met die Voortrekkers en dié se ewige stryd teen die Britse Ryk, en die mate waarin hul eie kultuur en tradisies verdring is. Die streek se nuutgevonde rykdom het boonop klasseverdeeldheid binne die Kaapse Afrikanergemeenskap geskep. Die nood van ’n klas armblanke bywoners, wie se versinking tot volslae armoede bykans onomkeerbaar was, het nou pynlik by die gegoede grondbesitters afgesteek.[5]

      Daniël Francois Malan is op 22 Mei 1874 as die seun van so ’n gegoede grondbesitter gebore. Hy was sy ouers se tweede oorlewende kind – hul eerste drie is vroeg oorlede. Malan se ouer suster, Cinie, was ’n briljante en uiters godsdienstige kind.[6] Die broer net jonger as hy, Fanie, het ’n aanleg vir boerdery getoon. Die jong Malan, sy neus alewig in ’n boek, het sy bes probeer om plaaswerk te vermy – hoewel hy nie altyd daarin kon slaag nie.[7] Sy legendariese verstrooidheid het al tydens sy kinderdae kop uitgesteek. Sy moeder het ’n slag op hom afgekom waar hy ewe afgetrokke ’n derde vuil hemp probeer aantrek het bo-oor die twee wat hy reeds aangehad het.[8] Hy het dikwels gestrompel of in slote beland omdat hy óf in die stap probeer lees het óf net te ingedagte was om te kyk waar hy loop.[9]

      Sy pa, by wie hy sy doopname gekry het, was ’n imponerende man, ’n kerkraadslid en ’n vooraanstaande lid van die plaaslike gemeenskap. Daniël Francois sr. was ook ’n suksesvolle boer wat sowel koring as druiwe verbou het. Hy het aan Jan Hendrik Hofmeyr (“Onze Jan”) se politieke party, die Afrikaner Bond, behoort. Hy het soveel ontsag by sy oudste seun en naamgenoot ingeboesem dat dit moontlik tot ’n minderwaardigheidsgevoel gelei het.[10]

      Danie Malan was ’n ernstige, teruggetrokke kind wat sy mond selde oopgemaak het, in so ’n mate dat sy pa hom “Eenwoord” genoem het weens sy stomp antwoorde op enige vrae wat aan hom gestel is.[11] Hy was moontlik te verbouereerd om langer antwoorde te gee.

      Die pa se misnoeë met sy oudste seun het jare later ’n hoogtepunt bereik toe hy vir hom ’n nuwe perd gekoop het, maar ’n dag of wat later tot sy ontsteltenis uitgevind het die kind is steeds nie na die stalle teenaan die huis om na sy geskenk te gaan kyk nie. “Nee, man, vir ’n boer sal jy nie deug nie,” het sy pa gebrom.[12] In stede daarvan om as die oudste seun van ’n Afrikanergesin die plaas te erf, het Malan die geleentheid gekry om verder te studeer.

      Daar is weinig oor Malan se ma, Anna Malan (née du Toit), bekend. Sy was soos haar man van Hugenote-afkoms. Malan het selde van haar gepraat en die enigste beskrywing wat van haar oorgebly het, is dié van ’n familielid wat haar heel terloops as ’n “liewe nederige siel” bestempel het.[13] Dieselfde familielid het die kinders se uitsonderlike intelligensie aan hul pa se gene toegeskryf. Anna is in die geskiedenis as besadigd en nougeset opgeteken, met ’n “egalige temperament”, en alombekend as ’n “minsame, hartlike boerevrou”.[14]

      Buiten vir Cinie en Fanie het Malan ’n jonger suster, Mimie, en nog twee jonger broers, Pieter en Koos, gehad. Pieter is jonk dood. Op ’n dag toe die Malan-kinders teen Kasteelberg gaan piekniek hou het, het ’n groot rots teen die berg afgerol en hom getref. Vir sy gesin was die dood van die tienjarige seuntjie, wat altyd gesê het hy wil eendag ’n sendeling word, ’n groot terugslag.

      Soos die meeste Afrikanergesinne van daardie tyd en in die daaropvolgende eeu is die kinders nie net deur hul ouers grootgemaak nie, maar ook deur bruin huishulpe, wat altyd net op hul voorname genoem is. ’n Ou bruin vrou, Galatie, het die jong Danie op haar rug rondgedra, en ’n ander, genaamd Nanna, was ’n onlosmaaklike deel van sy kinderjare.[15]

      Daar was ook ’n ouer paartjie, Tom en Lena, wat as slawe gebore is en in ’n netjiese huisie op Allesverloren gewoon het. Malan is dikwels vir tee ingenooi en het graag van die aanbod gebruik gemaak. Tydens hierdie vroeë jare op die plaas, met sy ouers se werkers as lede van ’n uitgebreide dog paternalistiese familie, het Malan geglo al verskil tussen wit en bruin is hul opvoedingspeil. Hy het eers jare later die standpunt gehuldig dat rasseverskille inherent is.[16]

      Godsdiens het ’n belangrike rol in die Malan-huishouding gespeel. Die gesin was, soos die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk in daardie jare, Evangelies-gereformeerd en baie trots op hul Hugenote-herkoms.[17] Hul kosbaarste boeke was die Bybel en John Bunyan se The Pilgrim’s Progress. Dit was tipies van die tye. Tydens die laat 19de eeu is die suidwestelike Kaapkolonie deur ’n paar evangeliese herlewings opgesweep.[18] Andrew Murray jr. was die vernaamste figuur tydens hierdie herlewings, wat gekenmerk is deur hoogs emosionele bidure. Daar was ’n obsessie om siele van ondergang te red en die individu se persoonlike verhouding met God is beklemtoon.[19]

      Die Groot Herlewing het in die 1870’s deur Riebeek-Wes getrek en Murray het die dorp besoek om herlewingsdienste te lei. Dit was ’n groot sukses, waarna die plaaslike predikant, A.J. (Adriaan) Louw, in 1885 en 1886 nog herlewingsbyeenkomste gereël het.[20] ’n Aantal skoolkinders het hul lewens tydens hierdie byeenkomste aan Christus gewy. Onder hulle was die jong Jan Smuts.[21] Ook klein Cinie Malan het reeds op sewejarige ouderdom besluit om die Here te dien.[22]

      Malan was ook diep godsdienstig, maar het nooit van ’n bepaalde oomblik van bekering gepraat nie. Hy het sy gevoelens meestal vir homself gehou. Tog het hy van kleins af ’n bepaalde roepingsbewustheid ervaar. Wat hierdie roeping behels het, het hy egter nie geweet nie.[23] Toe hy die moontlikheid opper om regte te studeer, het sy diep godsdienstige ouers geweier. Prokureurs, het hulle geglo, word betaal om leuens te vertel.[24]

      Malan was ’n skrander leerling, maar hy is oorskadu deur sy suster, Cinie, en haar geniale klasmaat, Jan Smuts, met wie sy om die eerste plek meegeding het.[25] Jannie Smuts was presies vier jaar ouer as Danie Malan, en het die jonger seun tegelykertyd geïmponeer en geïrriteer. Sy eerste indruk is gevorm


Скачать книгу