DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts


Скачать книгу
om te gaan slaap voordat hy ’n wiskundesom opgelos het. Meer as ’n halfeeu later het Malan dié staaltjie steeds vertel as ’n voorbeeld van merkwaardige deursettingsvermoë.[26]

      Die jong Malan het Smuts egter nie blindelings bewonder nie. Hy was minder beïndruk toe die ouer seun, wat soms vir die jonger kinders Sondagskool gegee het, vir hulle van koning Arthur en sy ridders vertel het. Smuts het aan die jongelinge verduidelik ’n ridder word ’n “sir” genoem en koningin Victoria kan steeds ridders aanwys. Hy het na homself gewys en gesê: “Wanneer ek eendag groot is, sal sy my sir Jan maak.”[27] Wanneer hy dié storie vertel het, het Malan die wyse waarop Smuts glo op sy bors geslaan het spottend nageaap. In sy oë was Smuts se spoggery arrogant weens sowel sy kulturele sienswyse as sy sosiale ambisie.[28]

      Jare later het hul skoolmeester, Theunis Stoffberg, die verskil tussen die twee eerste ministers vir wie hy skoolgehou het só beskryf: “Smuts was soos ’n Maxim-geweer en Malan soos ’n Long Tom.”[29]

      Dieselfde onderwyser het Malan die bynaam “Tant Regina” gegee – ’n goedige gespot met sy tydsaamheid. Want Malan was draaierig: sonder haas in sy bewegings en stadig met woorde, maar terselfdertyd deeglik. Terwyl Smuts altyd eerste gereed was met ’n antwoord, het Malan eers swygend oor syne nagedink totdat sy argument waterdig was. Hul klaskamergeaardhede is later in hul parlementêre styl weerspieël: Smuts was vlug en kon blitsig ’n slag slaan en Malan het voortgestoom soos ’n lokomotief terwyl hy die een argument op die ander bou, ongesteurd deur die ander parlementslede se tussenwerpsels.[30]

      Skoolmeester Stoffberg het ’n blywende indruk op die jong Malan gemaak. Later jare het hy meer van die onderwyser gepraat as van sy pa.[31] Stoffberg was kwalik agtien toe hy in Riebeek-Wes aangekom het om skool te hou. Hy het aanvanklik by die Malans geloseer en is later met D.F. Malan sr. se halfsuster getroud. Die jong onderwyser was deeglik in sy werk en het die kinders onder sy sorg met menslikheid behandel. Pouses het hy saam met hulle op die speelgrond gebaljaar, maar tog het hy in die klaskamer dissipline gehandhaaf en hul beste werk van hulle vereis.[32] Om te druip was om die skool in die steek te laat. Malan het dit ter harte geneem en met onderskeiding geslaag. Stoffberg het by sy klas ’n leuse ingeboesem: “Enigiets wat die moeite werd is om te doen, is die moeite werd om góéd te doen.”[33] Dié woorde het Malan vir die res van sy lewe bygebly en hy het dit ook aan sy kinders geleer.

      Soos enige ander normale jong seun het Malan kattekwaad aangevang, en sy broer Fanie was sy vernaamste medepligtige. Die twee het op ’n keer tabak gesteel, maar die skelm rokery was só sleg dat dit Malan vir die res van sy lewe van enige begeerte daarna genees het. Hy het graag saam met die ander kinders poetse op niksvermoedende dorpsmense gebak[34] en ure deurgebring in die veld, waar hy skilpaaie en koekemakrankas bymekaargemaak het.[35]

      Politiek was ’n belangrike deel van die Malan-huishouding. Die Swartlandse boere was een van die eerste groepe in die Kaapkolonie wat hulle polities georganiseer het om hul ekonomiese belange te beskerm.[36] Onze Jan Hofmeyr het in 1878 die Boeren Beschermings Vereeniging (BBV) gestig om beswaar aan te teken teen aksynsbelasting op sterk drank, wat die Kaapse wynboere regstreeks geraak het. Die party is aanvanklik deur die boere se korttermynbelange voortgestu en nie deur ’n bepaalde politieke ideologie nie.[37]

      Die wyn- en koringboere het hulself as die ruggraat van die kolonie beskou, en tydens die laaste kwart van die 19de eeu polities begin organiseer in reaksie op wisselende ekonomiese toestande en hul geskille met handelaars. Hulle het hul voortdurend op die Kaapse regering beroep om hul belange te beskerm deur middel van maatreëls soos invoerbelasting en subsidies. Hulle was ook baie wantrouig teenoor die kolonie se swart stemgeregtigdes, wat hulle geglo het die Engelssprekende handelaars se posisie teenoor hulle s’n versterk het.[38] Binne dié verband is ’n Afrikaner beskryf as “a person of Dutch extraction, who believed in the advancement of the brandy market, protection to the corn farmer, and the repression of the native”.[39] Die stigting van die BBV, wat later in die Afrikaner Bond opgeneem is, het ’n verskuiwing binne die Kaapse politiek aangedui: vanaf ’n stramheid tussen die oostelike en westelike streke van die kolonie na ’n nuwe era van Boer-Brit-vyandigheid.[40]

      Desnieteenstaande was die Kaapse Afrikaners lojale Britse onderdane – of altans, hulle het koningin Victoria bewonder en ywerig aan haar jaarlikse verjaarsdagvieringe deelgeneem.[41] Die Kaapse samelewing is deur Victoriaanse maniere en denke beïnvloed, wat die Sosiaal-Darwinistiese gedagte ingesluit het. Die Victoriaanse samelewing het Charles Darwin se teorie vir hulle toege­eien om hul hiërargiese siening van die wêreld en sy rasse – met hulself boaan die leer – te regverdig. Die wetenskap van die dag is ingespan om ’n biologiese rassisme te skep wat die onderworpe rasse se vermeende minderwaardigheid bevestig het op grond van hul “gebrek” aan kultuur. Vir die Britte was hul eie “beskawing” ’n bewys van hul meerderwaardigheid.[42] Malan se opvoeding was deur en deur Victoriaans en hy het die Victoriaanse maniere en sienswyse in so ’n mate aangeneem dat sy seun hom later as ’n “Victorian gentleman” beskryf het.[43]

      Omdat Riebeek-Wes se skooltjie nie matriek aangebied het nie, moes Malan sy ouerhuis verlaat en sy sekondêre onderrig aan die Stellenbosch Gimnasium voltooi. Hy het in 1891 op Stellenbosch se stasie aangekom, waar hy onder andere deur Jan Smuts ingewag is.[44]

      In Stellenbosch het hy in die studentelosieshuis Tertia op die suidelike oewer van die Eersterivier geloseer. Stellenbosse studente het Tertia as die huis van “Giants, Pigmies, Cavaliers, Round-heads and Bondsmen” bestempel.[45] Malan het beslis aan laasgenoemde kategorie behoort. In Tertia kon hy deel in die kameraadskap wat eie aan die koshuiservaring is: bad in die Eersterivier, sy pogings om sy naghemp op te spoor deur een vir een te ruik aan die hoop hemde wat daardie oggend deur hul eienaars op die vloer neergesmyt is, en die alewige goue stroop, wat hom sommer van binne en buite taai laat voel het.[46]

      In 1893, twee jaar ná Malan se aankoms in Stellenbosch, is sy moeder oorlede.[47] Sy pa is alleen op Allesverloren agtergelaat met die drie jonger kinders, Fanie, Mimie en Koos. Cinie was toe in Wellington, waar sy haar studie aan die Hugenote-kollege met groot sukses voltooi het. Sy het sedert haar kinderjare daarvan gedroom om eendag ’n sendeling te word en het daarvoor ondervinding opgedoen deur vir die plaasarbeiders se kinders Sondagskool te hou. Nadat sy as onderwyseres gekwalifiseer het, het sy gewerk as die private sekretaresse van mej. A.P. Ferguson, die prinsipale, en ook wiskunde en Latyn gegee. Terselfdertyd het sy eerwaarde J.C. Pauw, een van die dryfkragte agter die stigting van die Sendingkerk,[48] met sy werk onder Wellington se bruin gemeenskap bygestaan.[49]

      ’n Jong man het in haar belanggestel: die 29-jarige sendeling A.A. (Andrew) Louw van die Morgenster-sendingstasie in die destydse Masjonaland, wat vandag in Zimbabwe val. Louw was op soek na ’n metgesel, hopelik ’n huweliksmaat, wat hom met sy sendingwerk kon bystaan. Met dié gedagte het hy aan sy broers wat in Stellenbosch teologie gestudeer het, geskryf om te vra of hulle iemand ken met wie hy kon korrespondeer. Hulle het Cinie Malan aanbeveel. Sy was “mooi en slim, en iemand wat net so maklik ’n skaap uitmekaar kan sny as ’n meetkundeprobleem oplos”.[50]

      Andrew Louw het laat in 1892 aan Cinie geskryf en toestemming gevra om met haar te korrespondeer. Sy het ingestem, maar het dit duidelik gestel hy mag haar toegewing nie as aanmoediging beskou nie.[51] Ná haar ma se dood die volgende jaar moes sy na Allesverloren terugkeer om na haar pa en die jonger kinders om te sien. Malan sr. het egter gou besef dit kon net ’n tydelike reëling wees. Sy oplossing was om weer te trou, sodat sy kinders weer ’n ma kon hê. Vriende het Esther Fourie van Beaufort-Wes “aanbeveel”. Sy was die dogter van ’n vooraanstaande veeboer – en 21 jaar jonger as hy.[52]

      In Januarie 1894, ná dertien maande se korrespondensie, het Andrew Louw Allesverloren besoek om Cinie te ontmoet. Die twee het dadelik besluit om te trou.[53] Malan sr. het Esther Fourie in dieselfde maand om haar hand gevra. Hulle is in Maart 1894 getroud.[54] ’n Maand later het Cinie en Andrew voor die kansel gestaan. Cinie is saam met haar man na Morgenster, waar sy tot haar dood in 1935 saam met hom gearbei het.[55]

      Esther Fourie het goed by die Malan-gesin ingepas. Sy het haar man se kinders soos haar eie behandel en het kort ná hul huwelik geboorte geskenk aan ’n dogter, Essie, gevolg deur Annie en Stinie. Daar is ook ’n seuntjie gebore, maar hy is vroeg dood. Wanneer groepfoto’s by familiebyeenkomste geneem is, het Esther daarop


Скачать книгу