DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts


Скачать книгу
gelê het, soveel makliker kon gemaak het. In stede daarvan het hy ’n ompad geneem. Sy tydsame vordering tot en met sy uiteindelike verkiesing tot premier het ongunstig met die politieke loopbaan van sy voorganger, Smuts, vergelyk. Smuts het regte gestudeer en, trou aan sy aard, blitsig in die politiek gevorder.[113]

      Daarenteen het Malan hom aan sy voorbereiding vir ’n lewe in die kerk gewy. Hy en sy medestudente was baie bekommerd oor die teoretiese aard van hul teologiekursus, wat hulle nie voorberei het op die praktiese uitdagings om ’n gemeente te lei nie. Hul oplossing was om praktiese ervaring op te doen deur soveel “sendingwerk” as moontlik te doen. Malan het dus met een van die plaaslike boere gereël om vir sy bruin werkers te preek. Vir dié doel het die boer hom elke Sondag met sy perdekar in die dorp kom oplaai en só kon Malan broodnodige preekervaring opdoen.[114]

      Namate hy sy retoriese vaardighede geslyp het, het hy opgang in die Unie Debatsvereniging gemaak. In 1895 is Malan as die sekretaris aangewys[115] en teen 1897 was hy die voorsitter.[116] In daardie jaar het hy ook die redakteur van die vereniging se publikasie, Stellenbosch Students’ Annual, geword. Onder sy leiding was die publikasie só ’n sukses dat dit kwartaalliks uitgegee is.[117] Hy het nou ’n posisie beklee wat hom in staat gestel het om tot sy medestudente te spreek, en hy het sy bes gedoen om hulle tot hoër hoogtes aan te spoor deur die volgende beginsels aan hulle voor te hou:

      Be in the first place a member of the society with a distinct object in view. The aimless man never attains to eminence of any kind … aim high. Let your ideals be lofty, let your aspirations be high … they will allure you, will haunt you, will form the driving power of your life … resolve to reach your ideal at any cost. Difficulties, many and great, will come in the way … but the man who thinks dares to speak, and struggles, invariably makes progress, and will triumph at last.[118]

      Nog ’n paar jaar het verloop voordat Malan sy eie doelwitte kon formuleer, maar die noodsaaklikheid daarvan was altyd in sy gedagtes teenwoordig.

      Nadat betrekkinge tussen Milner en Kruger finaal in duie gestort het, is oorlog in Oktober 1899 verklaar en Malan moes afskeid neem van sy Vrystaatse en Transvaalse vriende wat Stellenbosch verlaat het om in die Anglo-Boereoorlog te gaan veg.[119] Jare later het sy politieke opponente probeer munt slaan uit die feit dat Malan nie aan die oorlog deelgeneem het nie. Was hy ’n lafaard? Het hy na Nederland gevlug? Daar was ook die Kaapse Rebelle – waarom het hy nie by hulle aangesluit nie?

      Die Kaapse Rebelle was afkomstig uit die noordelike distrikte van die Kaapkolonie wat aan die Vrystaat gegrens het. Daar was geen georganiseerde Afrikaneropstand in die Kaap nie en in die algemeen het die Kaapse Rebelle slegs by die Boeremagte aangesluit nadat Boerekommando’s hul distrikte binnegeval het. In die distrikte wat nie ingeneem is nie, was daar sterk ondersteuning vir die Boere, maar dié steun het nie aansluiting genoop nie.[120]

      Die Kaapkolonie is op 12 Oktober 1899 binnegeval, die dag nadat oorlog verklaar is. Teen middel 1900 het dié aanslag egter stoom verloor. Een van die inval se belangrikste doelwitte was om krygers onder die Kaapse Afrikaners te werf. Die Boerekommando’s het ’n dorp beset, dit tot Vrystaatse gebied verklaar en Republikeinse magistrate aangestel. Hulle het dan geëis dat die plaaslike bevolking by hulle aansluit – of hul eiendom sou gekonfiskeer en hulle sou uit die gebied verban word. In sommige distrikte is die inwoners met hoë boetes gedreig as hulle nie by die Boere aansluit nie. Diegene wat die geld gehad het, het in die algemeen die boete betaal, maar armes het geen ander keuse gehad as om hul lot by die kommando’s in te werp nie. Grondbesitters het as ’n reël nie by die Republikeinse magte aangesluit nie.[121]

      Die vraag wat dus eerder gestel moet word is of dit vir ’n jong, opgevoede Kaapse Afrikaner soos Malan vanselfsprekend sou wees om aan die oorlog deel te neem. Die jong man in Stellenbosch en sy grondbesittergesin in Riebeek-Wes was ver verwyder van die noordelike streke, waar hierdie gebeure afgespeel het. Die gemeenskappe waaraan hulle behoort het, het hul steun vir die Boeresaak eerder deur lojale verset aangedui. Pleks daarvan om die wapen op te neem, het hulle vergaderings gereël en mosies opgetrek in die hoop om die openbare mening in Brittanje te beïnvloed. In Riebeek-Wes was D.F. Malan sr. die voorsitter van ’n vergadering wat die volgende mosie gesteun het:

      Whereas we, the loyal subjects of Her Majesty the Queen are of opinion (i) that this deplorable and unjust war is the demand of a propaganda of misrepresentations by which the people of Great Britain had been guided, and (ii) that the Republicans are only fighting to retain their independence and liberty, and that (iii) should Her Majesty’s Government succeed in conquering the Republicans they could never be subjugated or forced to become loyal subjects. We humbly pray that a speedy stop should be put to the war and upon such a basis that the Republicans retain their independence heretofore.[122]

      In Stellenbosch is ’n soortgelyke vergadering gehou en ’n ooreenstemmende mosie opgestel.[123] Die Stellenbosch Students’ Quarterly van Februarie 1900 was vol verslae oor die Boere se heldedade op die slagveld en ’n uitdagende opstel het verklaar Milner se missie om die Afrikanerdom se rug te breek, sou misluk.[124] Die volgende uitgawe het ’n opstel en ’n gedig gepubliseer wat geen twyfel oor die studente se simpatie met hul stamgenote in die noorde gelaat het nie.[125] Die artikels was só vurig dat Milner se adjudante die Stellenbosch Students’ Quarterly as dislojaal aan die Britse troon bestempel het.[126]

      In hierdie gespanne atmosfeer het Malan sy studie voltooi en moes hy oor sy toekoms besluit. “It is very awkward to be so undecided as to the course to be taken, and so very much may depend on the choice,” het hy teenoor Nettie gekla. “But I firmly believe that in all this God’s hand will guide me aright. In everything He can be trusted.”[127]

      Dit is nie bekend om watter redes Malan verdere studie in Nederland onderneem het nie. Wat wel bekend is, is dat hy en sy jonger broer Koos Suid-Afrika op 19 September 1900 verlaat het.[128] Koos het vir mediese studie aan die Universiteit van Edinburg ingeskryf. Malan was op pad na die Universiteit van Utrecht, die alma mater van sy teologieprofessors.

      ’n Mens sou verwag dat ’n jong man wat op die punt was om hom na ’n nuwe vasteland te begeef opgewonde sou wees. Nie Malan nie. Net soos hy onseker tye as ’n bedreiging vir die Afrikanergemeenskap beskou het, het die gedagte aan die onbekende hom terneergedruk gelaat. “Well, goodbye, don’t forget me so very soon. I hope that one day I’ll see you again,” het hy aan Nettie geskryf.[129]

      * Rassistiese terme is in talle van die oorspronklike dokumentasie gebruik. Hier en elders behou vir historiese akkuraatheid.

       2 (1900-1905)

      Die buitelandse student

      Dit was ’n sonnige Woensdagmiddag in September toe D.F. Malan, sy broer Koos en agt ander jong Afrikaners in die Kaapse hawe aan boord van die Briton gestap het. Hulle was almal onderweg na Europa om te gaan studeer. Die skip het nog ’n uur lank in Tafelbaai vasgemeer bly lê terwyl daar op pos uit Natal gewag is. Toe dit uiteindelik arriveer, het Malan ’n telegram van sy vriende ontvang, met die woorde van Deuteronomium 33:27, “Underneath are the everlasting arms.” Teen halfvyf het die skip die hawe uit gestoom.[1]

      Die teksvers het hom vertroos, en hy het in sy dagboek geskryf: “Vaarwel vriende, almal, Stellenbosch wat altyd vir my dierbaar sal bly en liewe, sonnige Suid-Afrika.”[2] Dit was die enigste dagboek wat hy ooit gehou het, en dit het sy diepe godsdienstigheid geopenbaar.

      Aanvanklik was die vaart aangenaam. Die weer was warm en sonnig, en hoewel hy van sy maag bewus was, was Malan dankbaar dat hy nie seesiek geword het nie. Hy het die meeste tyd op die dek deurgebring, waar hy The Sign of the Cross gelees en besin het oor die ooreenkomste tussen sy eie samelewing en dié van die gevalle Romeinse Ryk. “A new moralising and civilising force … in a living, active Christianity,” was vir hom die oplossing. “May God help us,” het hy in die dagboek geskryf.[3]

      Die optrede van sy mede-Suid-Afrikaners, en veral sy broer, het sy sedige sielevrede egter gou versteur. “For one educated in a pure and Christian home, the language heard and the acts seen on the ship are simply loathsome and sickening. May God preserve


Скачать книгу