Asbesmiddag. Etienne van Heerden
Pamuk, die Nobelpryswenner, se roman Sneeu word Stendhal aangehaal: Wanneer politiek ’n roman binnetree, is dit soos ’n pistoolskoot wat in ’n konsertsaal afgaan.
We are about to speak of very ugly matters.
Politiek, weet die skrywer, maak van alles oppervlak. Onmiddellik word die middag ’n arena waarin geen mens kan wen nie. Hy word opnuut herinner aan ’n opmerking wat hy gehoor het: “Deesdae is die beste vorm van aanval om hard en duidelik jou eie seerkry te verkondig.” Dit het gekom van ’n mede-akademikus, ’n vrou (’n bekende feminis).
Hy merk op hoedat die uitstal van eie seerkry ’n strydbyl geword het ná bevryding; elkeen kry seer, elkeen skreeu dit uit, dis ’n kakofonie van gewondes. Jong wit mense kry nie werk nie en alle studiebeurse gaan aan jong swartes, boere word uitgemoor op hul plase, gays word beledig, tale word ontken, vroue word verkrag, swart mans word as kwota-aanstellings afgemaak. Rassisme, chauvinisme, swart nasionalisme, elke moontlike -isme knaag aan die nuwe republiek, en elkeen loop mank van die seerkry.
Hy het dit oorweeg, by wyse van ’n taktiese skuif, om self dié wapenrusting aan te trek. Dis tog die vlag wat oor die land wapper – hierdie nasie van klaagliederesangers. Vir hom was dit egter nie natuurlik nie. Om jou lot te bekla, is nie elegant nie, en bowenal: ’n vernedering.
Dis die strategie van die verloorder.
En tog is dit duidelik dat hierdie nuwe kliënt met groot selfvertroue seerkry as sy wapen swaai.
“Hoe durf jy sê dat jy nie swart hare kan sny nie?”
“Maar ek kán nie.” Giuseppe, nog duiselig van indut in sy hoek, het sy hande hulpeloos voor hom, ’n oer-Italiaanse gebaar.
“Jóú hare is swart,” sê die voornemende kliënt.
Giuseppe is aan ’t pleit, hy streel oor sy eie kop asof dit ’n verskoning is. “Maar dis ánderste hare.”
Hy weet net so goed soos die skrywer van die kommersiële risiko. Om die hoek, twee blokke verder, digby die kostuumwinkel, sit die swart haarsalon. Dié proklameer op ’n uitstalbord op die sypaadjie sy dienste met ingewikkelde illustrasies van haarsnitte en knoopvlegsels. Dis geleë in ’n gebou wat om die beurt ’n Joodse sinagoge en ’n Vrymesselaarsaal was. Nou dien dit as een van die min sosiale bymekaarkomplekke vir swartes in hierdie deel van die dorp, wat onder die ou regime slegs vir wit sakebedrywighede beskikbaar was. In die Black Panther Saloon begin die kuiery en geklets reeds vroegoggend wanneer die skrywer uitry na die N2. Gedurende die dag raak dit al hoe bedrywiger, en wanneer hy laatmiddag terugkom, is dit ’n dobbelsalon, ’n eetplek, ’n skinderfabriek en ’n toevlug vir die moeës.
Die risiko vir Giuseppe is eenvoudig, as jy maar net hierdie dorp ken. Selde indien ooit stap ’n swart student Tux Dudes binne om something smooth te huur. Die enigste swart persoon wat ooit die arkade se winkels versier, is die vrou wat elke oggend melk inbring van oorkant die straat. Word Weer Gebore beloof ’n lelieblank Christus aan leliewit minnaars van die Kruis.
Die dobbelsteen is teen Giuseppe. As hy sou ingee, wie sou nie almal dalk die swart kliënt in sy salon sien nie? Dis nie dat mense summier aan die praat sal gaan nie, glad nie. Dis nie meer soos hierdie dinge werk nie. Nee, dit sal ongesê bly, niemand sal selfs ’n tweede keer daaroor nadink nie. Dit sal net gebeur: mense dryf ingedagte weg, sommer net ’n gier. Een aanraking van die spinnekopweb is genoeg. Subtiele skuiwe volg.
“Regtig, ek kan daardie snit nie sny nie.”
“Dan is dit tyd dat jy leer. Dis Afrika, my vriend.”
“Maar ek is van Sisilië!”
Giuseppe se uitroep gaan egter verlore, want die astrante kêrel het reeds op sy hak gedraai. ’n Besoekende akademikus, dink die skrywer. Juis hierheen gekom omdat hy ongemaklik sal voel in daardie leliewit studio’s in die toeristebuurt.
Maria snork en draai na Sylvia. “Kan jy nou meer!”
“Nou wat sal hý hier soek?” roep Sylvia.
Die klem op “hy” dui aan dat Sylvia haar gevoelens met haar op loop laat gaan. Sy, wat van donkerder tint as die res van hulle is, is die verontwaardigste van die drie.
Bleek merk Giuseppe op: “Dis hoekom ek uit Zimbabwe weg is.”
Verras vra die skrywer: “Het jy dan in Zimbabwe gewerk?”
“Ja,” antwoord Giuseppe, “maar daar’s g’n plek vir ’n Italiaanse salon in Zimbabwe nie.”
Te laat besef die skrywer dat sy ballon ná die verskyning van die eksie-perfeksie swart man buite beheer is, dat ander kragte oorgeneem het. Die wind ruk aan die toue en die rietmandjie sidder. Die opstyg teen die kranse uit – wat daar van Nooitgedacht se voorstoep so gerusstellend donkerblou of malsgroen lyk, afhangende van die lig en die tyd van die dag – is skraperig en stampend. Die dwarswinde druk hom teen die kranse aan en hy hoor die ballon teen klip en bosse skuur. Daar spaander ’n trop bobbejane, histeries vlug hulle, so ’n verskynsel het hulle nog nooit gesien nie. Kleintjies hang aan pense, skreeuend, en blaffend vorm mannetjies die agterhoede.
Die ballon haak vas en vir ’n oomblik dink hy dat die mandjie gaan kantel en dat hy die afgrond gaan instort, maar dan ruk iets los en hy gee gas en met ’n magtige brul van die blaasvlam beur die ballon weg. Sy hoed waai af, dit dans op die wind, tref ’n krans en tuimel na benede. Dis hoog, hy het al vergeet hoe hoog dit hier is; as kind is hy hier uit, soveel kere, met die versigtig gekose klimroete, en elke keer, onthou hy nou, was hy verras deur die steilte, die hoogte, die ander klimaat. Die gevoel dat ander reëls hier geld, so ver van die milde stoepe, die luike, die skaduwees en rustigheid van die opstal. Hier is jy bloots, hier is dit bergwêreld waar oorlewing moeilik is, hier het die Boesmans in grotte geskuil teen sy voorvaders, wat hulle soos vee gejag het.
Dan, skrapend, is hy die kop oor. Vlietend dink hy: ek kan nog uitspring, ek kan oor die rand klim en my uitwerp, daar is nog ’n kans. Maar dan is dit te laat en hy’s oor die kop en af tuimel die landskap en verskiet die klowe na die vlaktes van die Kamdeboo. Onverwags stabiliseer die ballon, skielik is dit stil. Net ’n suising. ’n Laaste blaf van ’n bobbejaanmannetjie wat die ballon agternaskel daar van die hoogste kop af.
Maar hy’s weg, hy’s die wind se besit.
Hy soek na die sjampoemeisie volgens aanwysings wat ’n vriendin van Sylvia vir hom gegee het. Tot elke prys, egter, mag Giuseppe-hulle nie weet dat hy haar gaan opsoek nie. Iets waarsku hom; hy weet nie wat dit is nie. Moontlik daardie kyke wat hulle mekaar in die spieël gegee het toe hulle oor die Doktor gepraat het. Iets is aan die uitbroei – iets wat met sy eie plotlyne wedywer.
Dit het ingewikkelde voetwerk gekos om Sylvia se vriendin te nader, maar hy het dit aan haar gestel dat Sylvia se veertigste verjaarsdag voorlê en dat ’n klompie van die salon se regulars ’n verrassing vir haar beplan. Die sjampoemeisie sal instrumenteel wees, daarom is vertroulikheid van die allergrootste belang. Nie Giuseppe of Maria, of veral Sylvia, of enige ander mens mag weet nie.
Sylvia se vriendin werk as skoonmaker in die arkade. Hy keer haar ná sy salonbesoek by die ingang voor, wel wetend dat hy blitsig en sekuur moet optree. Alle oë is sekerlik op hulle; in hierdie stil gleuf ontsnap niks die aandag nie. Die eienaar van die tuisnywerheid sit agter haar toonbank, omring deur gebak van allerlei aard en vorm, verdiep in ’n vrouetydskrif. Sy het ’n goeie uitsig op die arkade se ingang en kan ook die straat dophou.
Die Jesus People hou maar immer ’n oplettende oog op die wêreld van sondaars, en geen teken van eksentrisiteit of afwyking ontsnap hul aandag nie. Hulle deel hul indrukke graag met mekaar en met verbygangers. Dis nog ’n verskynsel van die nuwe republiek wat die skrywer verras: iedereen is voortdurend verontwaardig. Hoe kan dit dan nou? Mag dit? Só kan dit nie aangaan nie!
Dis die houding van ’n burgery wat konstant ingedoen, verontreg, buite beheer en agtergelaat voel, in hierdie dae dat onvoorspelbare kragte losgelaat word en geen spelreël meer duidelik is nie. Dis die nuwe wat halsoorkop by die oue oorneem. Wild spaander oor die vlakte, die bokke heel voor; die groot koedoes hol dwarsdeur ogiesdraad wat breek voor hul magtige