Asbesmiddag. Etienne van Heerden
mentor word nou simbolies vermoor. Dis ’n fassinerende moord, gekenmerk deur teenstrydige emosies aan die kant van die pupil: bewondering en afsku, jaloesie en vrygewigheid, instemming en dwingende verset. Die pupil keer nie die rug op die mentor nie –dit sou onmoontlik wees – maar retireer van hom af weg.
Die mentor is verstom. Is dit nie hý wat deure oopgemaak het, klippe uit die pad gerol het, geduldig en subtiel leiding gegee het sonder dat die pupil dit eens agtergekom het nie?
Die pupil is vies. Hy voel vasgedruk. Hy moet ontsnap. Hy weet hy kan beter as die mentor, verrassender. Hy is immers die nóú. En tog sukkel hy om dit reg te kry. Die sluwe ou mentor se ervaring en geslypte vermoëns is in die tweestryd nie te onderskat nie.
Uiteindelik is daar ’n beleefde wapenstilstand; iedereen kies sy eie koers. Die pupil vergaan stadig van die lewe en word ál meer soos sy mentor: begaan oor posisie, status, prestasie. Hy begin homself herhaal. Hy kyk rond vir opvolgers: jong kwiksilwertalente.
Die mentor word ál meer soos die ou mentor van wie hy hom destyds weggekeer het: oud, tot in der dagen sat, skepties tot in die murg toe. Was dit alles die moeite werd? vra hy. Want die wêreld wat hy geken het, is helaas nie meer nie.
Die koning is dood; lank leef die koning.
Sou dié geesdriftige jongelinge enigiets van sy planne begryp waar hy vanmiddag in sy Volvo by ’n robot sit op ’n stil pad wat na die noordelike wyk van die dorp lei? Wat sou hulle dink van dit waarmee hy besig is?
So dikwels dink hy dat hy net een raad vir hulle het: soek die geselskap van die armoedigste siele op; gaan vind hulle waar hulle in die marges sit; beweeg sélf op die rand. Behou jou vryheid. Jy is komeet – as jy gelukkig is – en geen son nie, nie eens ’n planeet nie. Planete wentel, maar jy verskiet. Skryf versigtig neer wat jy sien en hoor. Lewe is daar om geneem te word. Wees selfsugtig, moenie gekaap word deur sisteme nie. Bly gefokus.
Ons, sal hy aan hulle wil sê, word aangedryf deur die werkwoord; ons word in ons spore gestol deur die punt; ons dobber in die winde van verkeerde keuses en omstandighede. Ons – die plotters, die fabuleerders, die kakpraters.
Onthou altyd wat John Fowles gesê het: “If you want to be true to life, start lying about the reality of it.” Laat jou verhale hul eie loop neem. Hulle sal hul eie waarhede skep, wat eg sal wees, al is hulle nie waar nie. Hulle skep hul eie etiek – die wrede etiek van storie. Ons begeer immers die slot soos ’n mens ’n geliefde begeer. Die einde van die storie. Die klimaks. Die opklaring.
Elke slot ’n gevolgtrekking wat ons bereik oor niemand anders as onsself nie.
Dis ’n klein huisie, donker, met ’n lae dak, ’n versameling geroeste tenks, stukkende geute, vensters met verlepte, dowwe gordyne, ’n hond, ’n wasgoedlyn met klere.
Die hond soek desperaat na skadu, maar word beperk deur ’n ketting van slegs drie meter. Hy’t vir hom ’n gat van omtrent ’n meter diep gegrou, waar hy deels kan skuil teen die versengende son. Hy lê en hyg met ’n leë waterbak (’n ou wieldop) langs sy gat. Hy grom vanuit sy put, maar maak geen aanstaltes om op te staan nie.
Dis nie vir die skrywer nodig om aan te klop nie. Hy is raakgesien terwyl hy teen die skuinste afgery het na hierdie deel van die buurt waar die huise saamgedrom sit teen ’n droë rivierbedding wat gevul is met stukkende bottels, blikke, ou buitebande en ander vullis.
Sy wag op die stoep, ’n kind op die heup, iets tussen afwagting en vrees in albei se oë. Hoenders skrop in die stof; verkeersgeluide kom vanaf die snelweg aangedryf; ’n kraai is onder in die rivierbedding doenig, hoppend op ’n ou matras.
“Hallo,” sê hy.
Sy kry geglimlag. “Middag, meneer.”
Daar is geen uitnodiging om na binne te gaan nie. Hulle staan mekaar en aankyk totdat die kind op haar heup begin woel en sy buk om haar te laat gaan. Die kind waggel weg.
“Hoe gaan dit met jou oupa?” Hy het sy oog op die kraai wat aan die matras pik. Die voël pluk die binnegoed uit en gooi stukke klapperhaar eenkant.
“Hy’s laas week dood. Ons het hom klaar begrawe.”
Hy voel ’n moedeloosheid oor hom kom. Ruk hom reg. Dan maar, soos daardie kraai, verder torring. “Ek is jammer om dit te hoor.”
Sy haal haar skouers op. “Nee, dis reg,” sê sy.
Sy is gespanne. Dit moet vir haar vreemd wees om hom hier te hê, die man wie se hare sy in die salon moes inseep. Die hond sug in sy put.
“So, hoe gaan dit by die salon?” vra sy.
“O, o. Die salon. Baie dieselfde, ja. Sylvia . . .” Die noem van die naam herinner hom aan die spanning in sy skouers en nek.
“En Maria?” Sy noem nie Giuseppe nie.
“Hulle’s reg.” Haar oë beweeg oor sy skouer na sy motor. Terug na hom; sy wag.
“Ken jy die fortuinverteller?” vra hy.
“Die Indiër?”
“Ja.”
Sy knik. “Hy’t nou ’n kantoor.” Sy sê dit trots; klaarblyklik identifiseer sy met die man. Die onderklas, op pad boontoe.
“Regtig? Waar?”
“Baie na aan die salon. Weet u waar die Chinese shop is?”
Sy beduie deurmekaar. Die gegewens klop nie, maar hy kry ’n rowwe aanduiding.
Sy selfoon lui. Hy kyk na die venstertjie. Dis sy vakgroephoof wat skakel; hy moet antwoord.
“Ekskuus,” sê hy aan die jong vrou. Hy draai weg.
“Hoop nie ek het jou middagslapie versteur nie,” sê sy vakgroephoof. “Jy’t wel die kursusse reg ingevul – hulle is almal hier, ook die getal studente – maar jy’t nagelaat om aan te stip hoeveel ure jy aan voorbereiding bestee.”
Die skrywer kyk oor die rivierbedding uit, waar die kraai steeds op die ou matras hop. Hy pik-pik aan die klapperhaar. Verder weg flits motors op die Koelenhofpad verby. Wat sal die fakulteit se etiese komitee wat waak oor navorsingspraktyke te sê hê oor hierdie besoek van hom? Hy was al ’n keer by een van hulle vergaderings. Wat sou hulle dink van die skrywer as voyeur?
“Sit maar iets in.”
“Maar hoeveel?”
Hy haal sy skouers op. “Ag, iets. Iets by benadering. Vat maar die gemiddeld vir die vakgroep.”
“Berei jy ’n uur voor vir ’n eerstejaarslesing?”
“ ’n Uur? Nee, vader, ek –”
“Ek skryf maar ’n driekwartier in.”
“Enigiets. Ek is tevrede met enige getal.” Hy maak ’n leë gebaar na die bult wat opstyg vanuit die vuil rivierbedding na die swart woongebied, waar plakkershutte so na aan die wingerd opstapel dat dit lyk of hulle oor die druiwe hel.
“En skeppende navorsing? Hoeveel uur per dag bestee jy aan jou skryfwerk – die nadink daaroor, en die skryf?”
Hy draai om om na die sjampoemeisie te kyk. Sy staar hom ondersoekend aan, kyk dan oor sy skouer, waar hy weet sy Volvo blink en uit plek staan.
“My skryfwerk?”
“Ja, ’n getal ure per dag.”
Die vakgroephoof is ’n geduldige man. Die skrywer sug; die arme man moet ook net sy werk doen.
“Vul in: ’n leeftyd.”
“ ’n Wat?”
“ ’n Leeftyd. Wie gaan in ieder geval na daardie simpel stats kyk?”
Die vakgroephoof huiwer; hy is onder druk. Binne die Skool vir Tale waarvan hul vakgroep deel is, is daar sprake van die sluiting van sekere vakgroepe.
Die skrywer besluit om sy