Asbesmiddag. Etienne van Heerden
tuxwinkel moet ook in berekening gebring word. Dit het ’n opeenvolging van assistente, almal aan diens vir skofte van maar ’n paar uur per dag, en hulle tree as informele nuusagentskap op. Deur hulle versprei die woord uit die arkade, en van buite kom berigte weer die gleuf binne.
Die skrywer weet dat sy aankoms altyd versigtig gemonitor word, dat die duur van sy besoeke aangeteken word, en dat Sylvia en Maria terstond nadergeroep word vir ’n verslag sodra hy vertrek.
Sy geklets met die skoonmaker sal verdag lyk – ’n wit professor soos hy, in gesprek met iemand wat ’n besem en emmer by haar het. Hy is oortuig daarvan dat kleur in hierdie land nog altyd vererotiseer was. Nog ’n jaar of wat gelede het hy ’n wit man deur die dorp sien bestuur met, soos die gewoonte in die ou dae was, die swart huishulp op die motor se agtersitplek – om die suggestie van erotika oor die kleurgrens te vermy. As dit die tuinier was, ’n man, sou hy voor kon sit, langs die wit bestuurder.
Dit huiwer nog steeds op hierdie dorp met sy mooi eike, sy Kaaps-Hollandse gewels, sy gesellige restaurantbuurt waar die kerse someraande op terrasse flikker en boekwinkels tot laataand hul deure oopgooi na die sypaadjies. Dis in die blikke wat hom nou stuurs dophou.
“As enigiemand vra: ek het met jou gepraat oor ’n stukkende toilet,” sê hy met verwysing na die toilette wat agterin die arkade geleë is. “Ek wil nie hê dat enigiemand van die planne vir Sylvia se verrassing moet weet nie.”
Hy het sy aanwysings gekry, en met ’n tintelende, ontspanne kopvel ry hy nou uit na die werkersbuurt in die noorde van die dorp.
Dis met tye soos hierdie dat hy aan sy skryfstudente dink – die arme geeste wat die tou vir rekenaarprogrammeurs misgeloop het, die tou vir aktuarisse, ingenieurs en argitekte. Hulle dra die teken van die duiwel; hulle is deur die noodlot gebrandmerk om vir hulle ’n loopbaan in storie uit te kerf.
Om te waag waar niemand voorheen was nie.
Dikwels voel hy dat hy min het om aan hulle te bied.
“Waarom gaan die literatuur altyd oor swakkelinge?” vra ’n student aan hom in die meesterklas vir fiksieskryf. Die man is ’n oud-atleet, effe ouer as die ander studente. “Al die karakters in die boeke wat ons bespreek, is pap en, verskoon my, Professor, maar ek glo die woord is opgefok.”
“Die literatuur gaan oor weerloosheid. Die oudste Middelnederlandse gediggie, ‘Hebban olla vogala nestas hagunnan’, gaan oor die verlange na iemand wat weg is. Die weerloosheid van die mens is die groot tema van die kuns; dit was nog altyd so,” antwoord hy.
“Ek vind dit absurd dat ons as ’n gegewe aanvaar dat ons moet skryf oor buitestanders en opgeneukte mense met deurmekaar siele. Dit het sinoniem met letterkunde geword!”
Dit was warm in die saal. “Alle dissiplines wat na my mening die moeite werd is,” het die skrywer geantwoord, “ondersoek die weerloosheid van die mens. Die literatuurstudie. Die sielkunde. Selfs die geskiedenis is ’n illustrasie van die mensdom se herhaling van sy eie foute. Die medisyne, wat gemoeid is met die liggaam wat siek is. Die teologie, wat probeer om die dier wat boontoe kyk, antropos, te bestudeer.”
Hy het diep asemgehaal. Soms het hy sy studente so lief, maak hulle hom so opgewonde. Ander kere is hulle soos blokke aan sy been, trek die swaar gewig van hul manuskripte hom die diepsee in.
“Mag ek aan julle voorlees uit die ‘Harper’s Essay’ van die jong Amerikaanse skrywer Jonathan Franzen.” Hy beklemtoon die woord “jong” uitdruklik, al is Franzen helaas nie meer so jonk nie. “Hy is die kêrel wat ’n uitnodiging van die hand gewys het om op Oprah te verskyn – iets wat tot verkope van honderdduisende sou gelei het. Julle weet mos?”
Daar is geen aanduiding dat hulle daarvan kennis geneem het nie. Hy marsjeer egter voort. “Luister: ‘The point of calling serious fiction tragic is to highlight its distance from the rhetoric of optimism that so pervades our culture. The necessary lie of every successful regime, including the upbeat techno-corporation under which we now live, is that the regime has made the world a better place.’
“Einde van aanhaling. Franzen het die essay opgeneem in ’n bundel met die titel How to be alone, en die blakerskrif beskryf dit as ’n antwoord op ‘how to be alone in a noisy and distracting mass culture’.
“Ek sou wou byvoeg: Die outsiderfiguur is die antiheld van die moderne literatuur. Heldedade skep nie letterkunde nie; dis nie interessant nie. Die boeiende een is die vreemdeling, die dissident wat ongemaklike vrae stel vanuit die marge. Die buitestander.”
Hy kyk ongemaklik af. Hy wil byvoeg: miskien moet ons ’n lughawe na die buitestander as figuur noem eerder as na ’n politikus. Besef ineens dat sy stem ’n pleitende toon aangeneem het. Maar hy moet deurdruk. “Die een wat saam met die filosoof glo: ‘Hell is other people.’”
Die student het deur sy blonde hare gevee, en ’n oomblik het hy gelyk soos iemand in wegspringblokke wat oor die honderd meter voor hom uitkyk na die lint. Gedurende besprekings om die lang seminaartafel het die vroue hom dikwels met lang kyke dopgehou. Hy’t die wennersinstink na die seminaartafel gebring. Sy volgende opmerking bevestig dit.
“Ek wil skryf oor mense wat sterk is. Mense wat uitstyg.”
“Dan laat jy maar Dostojefski en Proust en Balzac agter jou; dan slaan jy ’n ander weg in. Ek sien uit daarna.”
Dit was te sterk. Die man het hom hatig aangekyk; die mentor het hom voor die ander pupils verraai – ’n onvergeeflike sonde.
Die skrywer het besef dat hy te ver gegaan het.
Hy is weer daaraan herinner dat die mentor tegelykertyd gelief én gehaat is. Dit weet iedereen wat al ’n klerkskap by ’n ouer prokureur afgelê het, die leergierige handlanger van ’n skrynwerker was, ’n meestersgraad onder leiding van ’n hoogleraar voltooi het, of manuskrip in die hand aan die deur van ’n ervare skrywer geklop het.
Die komplekse verhouding tussen pupil en mentor is ’n magsverhouding, met die leerling wat verrassend meer mag het as wat met die eerste oogopslag blyk. Deur die jare het die skrywer hierdie ontwikkelende verhouding met sy skryfstudente deur verskillende fases sien gaan – fases waarin die ambisie en strewe van sowel mentor as pupil ’n rol speel.
Die pupil, oorbluf deur die sukses van die mentor, die ballas van versamelde prestasies, kom klop senuagtig aan die deur (die skrywer ken al daardie versigtige kloppie van ’n nuwe student). Die mentor, wetende dat alle vlees gras is en dat jou aardse prestasies met die jare al meer soos rietjies in die wind beef, maak oop.
Die jongeling op sy drumpel is meer as ’n talentvolle genie. Hy is ’n belegging in die toekoms, in die vakgebied, die bedryf – alles waaraan die mentor hom deur die jare met drif gewy het. Maar selfs meer: hy is die kers wat sal bly brand wanneer die mentor (reeds gebuk onder ’n sterflikheidsbesef) nie meer daar is nie. Die pupil sal die goeie geveg voortsit, die brandende opstande lei, die grense van die denke verlê. Hy sal stadig, soos die mentor, vergaan van sy eie ego, sy eie kompromieë, en uiteindelik swig voor die argelose wegvee van die groot meester: die dood.
Maar by die eerste oopgaan van die deur staan die pupil daar as waarborg van die mentor se onsterflikheid; as bestendiger van sy arbeid in die aangesig van teenstand; as belofte van môres wat veel verder strek as die lewensdae van die mentor.
Die pupil sien voor hom legende (die fabula het sy werk gedoen), wysheid en verrassende sinisme – maar snap mettertyd dat die meeste huise van roem hul fondamente in sand het.
Die pupil het, as oningewyde in die wêreld waarvan hy nou gretig op die drumpel staan, geen vermoede dat hy aan die mentor waarskynlik meer kan gee as die mentor aan hom nie. Met die krag van die jeug, sy geniale talent, sy ambisie en werkywer sou die leerling waarskynlik self die mas kon opkom. Maar hy weet dit nie. Hy is alleen. Om te skryf is eensaam. Hy het ’n vader nodig, en ander vakleerlinge van sy ouderdom wat, soos hy, die mas nog moet op.
Dan, op ’n dag, in ’n oomblik wat soos kwiksilwer deur sy are skiet, ontdek die pupil dat die mentor se voete klei is. Dat hy van die mentor durf verskil; dat hy anders kan – nee,