Krokodil aan my skouer. Christiaan Bakkes
iewers hoort. Ons skool het nie ’n waterpolospan gehad nie, maar iemand het laat weet dat Hillcrest se swemklub ’n waterpolospan het. Skoliere is welkom. Ek en ’n paar ander gaan sluit aan.
Ek is ook nie ’n goeie waterpolospeler nie. Ek voel egter tuis in die water. Om verskeie redes is waterpolo vir my ’n bevrydende sport.
Om waterpolo te speel moet jy topfiks wees. Ons afrigters was jong studente van die universiteit – een was selfs ’n Springbok-waterpolospeler. Die ouens was cool en vir ons skoolseuns was hulle helde, maar hulle het ons genadeloos gebrei.
Dit was weke voordat ons vir die eerste keer aan ’n waterpolobal raak. Middag na middag moet ons breedte na breedte van Hillcrest se Olimpiese grootte-swembad swem. Ons moet eindeloos water trap met ons hande bo ons kop. My lyf protesteer, maar ek byt vas en voel hoe ek fikser word. Soos ons fikser word, begin die afrigters ons die spel leer.
Die waterpoloklub het net twee spanne gehad – die studente in die A-span en die skoliere in die B-span. Ons was vier of vyf uit my skool en die res was van ander skole. Daar was selfs ’n paar ouens uit Engelse skole.
Iets omtrent die klub het net tot my gespreek. Die studente behandel ons anders as die onderwysers, en op die grasperk om die swembad lê meisies in bikini’s rond. My skool was baie streng en tradisievas. Dit was Calvinisties konserwatief en verknog aan die Afrikanerkultuur. Christelik-nasionale onderwys is in ons skedels ingedreun. Die ander tipe mense en invloede by die klub maak dit vir my ’n ontvlugtingsoord.
Waterpolo is ’n strawwe sport. ’n Wedstryd word opgedeel in tjakkars van agt minute elk. Spelers word geroteer aan die einde van elke tjakkar. Net die fiksste en beste spelers speel al vier tjakkars. Ek het gewoonlik net twee tjakkars per wedstryd gespeel.
Waterpolo is soos sokker in die water. Daar is elf spelers, waarvan een die doelwagter is. Die bal mag net met een hand hanteer word, en dit mag nie onder die water gespeel word nie. Die studente leer ons vuil trieks. Die skeidsregter, wat op die rand van die swembad staan, kan nie sien wat onder die water aangaan nie. Ons word aangesê om ons toonnaels lank te laat groei. Só kan jy jou opponent onder die water krap terwyl julle meeding om die bal. Ons is ook geleer waar die opponent se niere sit. Onder water kan jy hom ongesiens in die niere slaan. Terwyl jy watertrap, kan jy ’n ou ook lekker in die knaters tref met jou knie.
Mettertyd het ons hierdie kunsies vervolmaak. Soms was die water rooi gekleur soos ons ons opponente gegaffel het met ons toonnaels. Ons het ook geleer om twee speedo’s te dra – die kanse was goed dat jy met net een uit die water sou kom.
Volgens die studente was al dié kunsies nodig. Dit sou handig te pas kom wanneer ons in die liga teen die Oos-Rand se mynklubs speel. Daar kon dinge rof raak. Ook wanneer ons teen weermageenhede speel.
Ek was nie ’n vinnige swemmer nie. Daarom het ek verdediging agterlangs naby die doelhok gedoen. Ek het een voordeel gehad: ek was linkshandig. Dit het die opponente ’n ruk geneem om dit agter te kom. Terwyl hulle so vir my regterhand skerm, kon ek die bal wegraap en vir my spanmaats gooi. Soms het dit my selfs in staat gestel om ’n doel te gooi.
Ons wedstryde was gewoonlik op Donderdagaande, en dit was gereeld by ander klubs se swembaddens. Ek kon agterkom dat my ouers nie gelukkig is dat ek op weeksaande uithuisig is nie. Hulle het egter gesien dat waterpolo my goed doen en het my laat gaan.
Ek onthou ons eerste wedstryd goed – ek het amper versuip. Ek en my spanmaats het vroegaand met ons fietse na Hillcrest gery. Daarvandaan is ons in die studente se karre na plekke soos Boksburg, Benoni en Springs om teen die myners van die Oos-Rand te speel. Soms het ons na Voortrekkerhoogte gery om teen die weermageenhede te speel. Ons het ook by die Universiteit van Witwatersrand gaan speel.
Ons eerste wedstryd was teen ERPM se klub aan die Oos-Rand. Dit was nog vroeg in die seisoen en die water was vrek koud, soos net ’n Johannesburgse winter kan wees. Toe ek in die water spring vir die eerste tjakkar, trek my longe al toe. Ons was nog nie heeltemal fiks nie en ek het swaargekry. Die myners was harde manne. Almal was bebaard en hulle baarde het ons jong velle soos staalwol gerasper. Ek was meeste van die tyd onder water. Dit was die langste tjakkar van my lewe; ek het liters water gesluk.
Toe ek ná die eerste tjakkar uitstrompel, klop my knaters pynlik. Die toonnaelhale lê rooi oor my kuite. Dit voel asof my niere in my keelgat vassit – ek het toe nog net een speedo gedra. Ja, ek moes dit op die bodem gaan haal. Dit was die vuurdoop; ons het sleg verloor.
Ná ons het die A-span beter gevaar en naelskraaps gewen. Ons is almal na die klubhuis, waar die myners biere uitgedeel het. Vir hulle het dit nie saak gemaak of ons skoolkinders was nie, ons was opponente. En hulle gaste. Tydens die wedstryd het hulle ons in die niere gemoer, en in die klubhuis het hulle ons bier na bier gevoer. Dit was wonderlik om deur groot mans as ’n gelyke behandel te word.
Ons het verwonderd geluister na die vuil grappe van een besonder groot, bebaarde myner. In die swembad het hy my meedoënloos gekastei. Nou maak hy vir my ’n nuwe wêreld oop met sy vuil bek. Op sy T-hemp staan ERPM Jackhammer Champion.
Hierdie nagtelike waterpolo-ekskursies was vir my ’n welkome ontsnapping. Laatnag sou ek met my fiets huis toe ry deur die stil, donker strate van Pretoria. Vrydagoggende het ek half aan die slaap en belangeloos in die klaskamer gesit. My lyf en my kop was seer. My huiswerk was nie gedoen nie. Die onderwysers het my gemoer. Dit het my min geskeel. Ek speel waterpolo teen myners.
Ná ons nederlaag teen ERPM begin dinge beter gaan. Ons jong lywe reageer goed op die strawwe oefening. Ons begrip van die spel verbeter en elke ou begin sy plek in die span verstaan. Ons slyp ons vaardighede.
In ons tweede seisoen klop ons vir ERPM. Daarna vir Springs Old Boys. Toe vir Old Edwardians. Iets is besig om te gebeur. Die Harlekyne val volgende. Daarna Tukkies B. Hillcrest speel in die eindstryd teen Wits B. Ons is skoolseuns wat teen groot manne wen; in die water is almal ewe groot.
Ons verloor die eindstryd teen Wits.
Waterpolo doen my goed. Ek word fiks en taai. Ek is steeds ’n stadige swemmer en glad nie een van die span se topspelers nie, tog voel ek dat ek iewers hoort.
Die onderwyskollege nader ons. Hulle het pas ’n waterpolospan gestig en hulle soek ’n jong span om ’n vriendskaplike wedstryd teen te speel.
Ons kyk ongelowig na mekaar. Hier is ons kans. Ons kans om wraak te neem. Hierdie jong onderwysertjies gaan afkak. Dis elkeen van ons se droom om ’n onderwyser te moer. Nou kom vra hulle vir ’n pak slae. Ons sal hulle máák betaal. Hulle sal betaal vir elke onreg wat enige onderwyser ons ooit aangedoen het. Elke pak slae, elke strafsessie, elke sarkastiese aanmerking, elke vernedering.
Die wedstryd vind plaas in Tukkies se swembad. Dit word ’n bloedbad. Toonnaels versnipper die kuite en dye van die aspirantonderwysers. Vuiste vind hulle niere en knieë hulle knaters. Hulle is nie opgewasse teen ons nie. Wanhopig en gefrustreerd pleit hulle by die skeidsregter, maar die skeidsregter sien niks nie. Hulle ploeter in die swembad rond, sluk liters water en snak na asem. Ons verslaan hulle beslissend en vernederend. Selfs ek sink ’n paar doele.
Ons hoor nie weer van die onderwyskollege nie.
Nog iets wat die verveligheid van my skooldae verlig het, was rockmusiek. In ons konserwatiewe samelewing is dit beskou as ’n euwel wat die jeug ondermyn. Ek het eers laat daarna begin luister, want my pa was hewig gekant daarteen. My broers was kranige luisteraars van LM Radio – ek was nie doof vir die musiek wat deur die kamermure gesypel het nie. Die bure se ouer seuns was veel rowwer as my broers. Hulle musiek was ook harder; dit het deur die heining gedreun. Ek het dit alles opgeneem in my jong gemoed.
Eenkeer moes my pa vir drie maande Europa toe om te gaan studeer. Die tyd was ryp om onder sy invloed uit te kom. Ek het my blootgestel aan rock en nooit teruggekyk nie.
Maandagoggende het deskundiges van oor die hele land ons skool kom toespreek oor die euwels van rock, seks en dwelms. Een so ’n man was Rodney Seale. Hy vertel ons van die groep AC/DC en verklaar dramaties dat die afkorting staan vir After Christ Devil Comes. Die rockgroep Kiss beteken Kids In Service of Satan. Hy vestig my aandag op die groep Jethro Tull. Op die omslag van hulle plaat Aqualung staan: In the beginning