Krokodil aan my skouer. Christiaan Bakkes
word deur pointerhonde vasgepen. Op bevel van sy baas laat die hond die voël opvlieg. Die jagter moet dan die voël met ’n haelgeweer uit die lug skiet. Dis ’n jag wat dissipline verg; die skieters moet streng reëls en kodes nakom.
Ons kamp teen die voet van ’n beboste koppie. Saans om die vuur word daar jagstories vertel. Ek word meegevoer na verre jagvelde in die wildernisse van Afrika. Oom Jim Cameron praat oor die jagvelde van sy jeug op die vloedvlaktes van Zambië. Oom Johan Botha vertel van toe hy en sy seun Frik buffels gejag het in Rhodesië.
Die laaste aand kan ek nie slaap nie. Die manne is moeg; hulle wikkel hulle vroeg in slaapsakke toe. Dit word ’n koue nag. Daar is ’n groot hoop hout. Heelnag sit ek by die vuur en voer dit stomp na stomp. Ek wil nie hê die nag moet einde kry nie. Ek verlustig my in die stilte. Die vlamme weerkaats dansend teen die bome en rotse. Ek droom van wilde plekke en wilde diere. Daardie nag het ek geweet ek moet ’n lewe in die veld maak.
Ek wou nie teruggaan skool toe nie. Die rompslomp en verveling het eenvoudig voortgeduur.
My skool was een van Pretoria se topskole. My pa het daar skoolgegaan en was ’n prefek. My oudste broer was ook prefek daar. My tweede broer was nie gelukkig daar nie; hy het gerebelleer.
Ek was anders as hulle. Ek het geen belangstelling getoon nie. Ek het eenvoudig in myself teruggetrek. In daardie skool was jy niemand as jy nie in akademie of sport uitgeblink het nie. Ek is beskou as ’n onderpresteerder en buitestander.
Dit het my min gepla. Ek het voortgegaan om waterpolo in myndorpe te speel, met Sandy Viljoen te vry en in die veld te loop. Ek was doodgemaklik met my eie geselskap.
2
In my standerd 9-jaar gebeur ’n paar dinge. My lyf begin ontwikkel. Dit was vir my ’n verleentheid dat my tydgenote voor my ontwikkel het. Ek was die laaste ou in die waterpolospan sonder balhare. Nou begin ek bo almal uitrank. My stem breek. Liggaamshare stoot uit. Ek vind dat boelies wat my voorheen rondgestamp het my nou vermy. Sommige raak selfs vriendelik. Dit blyk ook dat Sandy Viljoen nie meer die enigste meisie is wat my raaksien nie.
My ouers bly bekommerd oor my gebrek aan akademiese prestasie. Hulle gryp na strooihalms. Kuns is die enigste vak waarin ek belofte toon. Miskien is kuns my toekoms. Hulle skryf my in by Pro Arte, Pretoria se kuns-, musiek- en balletskool. Weer gaan ’n nuwe wêreld vir my oop.
Die kunsskool is ’n ontspanne plek. Daar word nie alewig in rye gestaan en haarinspeksies gehou nie. Daar word nie slae uitgedeel nie. Seuns en meisies meng vrylik. Beter nog – daar is vyf meisies vir elke seun.
Die kunsskool is ’n oopkopplek. Ek word blootgestel aan nuwe invloede. Ek leer van andersdenkendes, van ouens soos Paul Gauguin en Vincent van Gogh. Ouens wat alles prysgegee het vir hulle kuns. Mense soos Modigliani, Edvard Munch, Franz Marc en Salvador Dalí raak vir my bekend. Hulle was verbeeldingryk en dapper. Hulle het die grense oorskry en die onbekende verken. Hulle het die reëls herskryf.
Die kunsskool bevorder debat. Dis die vroeë 1980’s en daar is onrus in Suid-Afrika. In my vorige skool is daar gepraat van die Totale Aanslag en die Rooi Gevaar. Ons is grootgemaak om vrye denke te onderdruk. Hier word openlik gepraat oor wat verkeerd is in die land.
Dis ’n tyd van onluste in die swart woongebiede. Daar is oorlog in Angola en nasionale diensplig vir wit mans. Soldate sterf op die grens. Ons inligting daaroor is beperk tot SAUK-TV. Dis ’n eensydige beeld. Ons lewe veilig in ons wit voorstedelike kokon. Op kunsskool tel ek die eerste druising van bevraagtekening op.
Ek geniet die ontspanne atmosfeer. Oor naweke word daar gereeld partytjies gehou. Daar is baie eksentrieke meisies, veral onder die dansers. Almal trek uitspattig aan; ek verkyk my. Drank is volop en daar word skelm dagga gerook.
Op hierdie stadium van my lewe het ek nog nie eintlik aan die toekoms gedink nie. Behalwe ’n vae idee van ’n avontuurlike lewe in die buitelug het ek nie rêrig geweet wat ek wil doen nie. Daar was nie veel vooruitsigte nie. Enige beroep wat met syfers, getalle of state te doen het, was buite die kwessie. ’n Wetenskaplike rigting ook. Al wat ek gehad het, was ’n bogemiddelde kunstalent, ’n liefde vir die veld en ’n ontwakende avontuurlus.
Die groot rede hoekom ek nog nie aan ’n toekoms gedink het nie, was omdat dit nog nie nodig was nie. Soos elke ander wit man in Suid-Afrika moes ek verpligte militêre diens doen. ’n Mens kon besluit om eers te gaan studeer of jy kon direk ná skool gaan. Net die ouens wat presies geweet het wat hulle met hulle lewe wou doen, het eers gaan studeer. Die res is ná matriek weermag toe vir twee jaar. As kanonvoer is hulle in infanterie-eenhede opgeneem. Dit was my plan ook. Gaan weermag toe. Kry dit verby. Besluit daarna wat jy wil doen.
Aan die begin van my matriekjaar gebeur ’n ding wat my planne deurmekaarkrap. Op ’n middag sien ek ’n meisie van die kunsskool aan die oorkant van ’n besige straat. Ek het haar nie goed geken nie – sy was een van die eksentrieke meisies, en boonop Engels – maar sy het my aandag getrek.
Sonder om links of regs te kyk loop ek oor die straat agter haar aan. Ek word raakgery deur ’n afleweringsmotorfiets en my been breek in ’n oop fraktuur. Ek lê in die straat met my voet teen ’n 90 grade-hoek en ’n tibia en fibula wat deur my vel steek. Sheryll, die meisie, verdwyn straataf, onbewus van haar gevalle bewonderaar.
Ek moet vir twee weke in die hospitaal bly. My been is erg vergruis; dit gaan lank neem om te heg. Baie meisies uit die kunsskool kom besoek my. Ek geniet die aandag. Sheryll kom te hore dat ek as gevolg van haar omgery is. Sy voel gevlei. ’n Vlugtige romanse ontwikkel tussen ons. Met besoektye vroetel sy aan my onder die lakens.
Ek moet vir ses weke gips dra; ek loop op krukke. Vir almal wat nie weet nie, vertel ek dat ek in ’n motorfietsongeluk was. Dit klink meer indrukwekkend, en dit verhoog my aansien.
My besering veroorsaak egter probleme. Dit beteken dat ek vir ’n seisoen nie sal kan waterpolo speel nie. As jy vir ’n seisoen uitsit en onfiks raak, is dit bykans onmoontlik om jou spanmaats weer in te haal. Die groter probleem is egter dat my been nie sterk genoeg sal wees om die volgende jaar weermag toe te gaan nie.
Ek het nooit enige militêre aspirasies gehad nie. My pa was ’n soldaat, en ek wou nie in sy voetspore volg nie. Maar ek het tog so bietjie uitgesien na die avontuur van die weermag. Ek wou ten minste in ’n aktiewe eenheid dien, iets wat my in die veld sou bring en iets sou leer. As ek met ’n swak been weermag toe sou gaan, sou ek ’n klerk of ’n stoorman word. Ek wou nie vir twee jaar in ’n kantoor op Voortrekkerhoogte sit nie.
Terwyl ek nog gehoop het dat my been betyds sou herstel, het almal anders geweet dit sou nie die geval wees nie. My ouers het gesê ek moet solank aan iets dink om die volgende jaar te gaan studeer.
Die ses weke op krukke – ek was selfs veld toe met my krukke – doen my bolyf goed. My skouer- en rugspiere begin ontwikkel. Ek kom agter dat daar meer as een meisie is wat onderlangs na my loer.
Toe die dokter die gips verwyder, waarsku hy my om dit kalm te vat. My been moet kans kry om stewig te heg en ek moet steeds op krukke loop. Ek ignoreer hom. Die eerste aand sonder gips kap ek dit uit op die dansvloer by ’n partytjie. Daarna loop ek oral rond sonder krukke. My been bly seer. Ek ignoreer dit.
In dié tyd ontwikkel een van my waterpolospanmaats ’n probleem met my. Ek weet tot vandag toe nie hoekom nie. Miskien het ek maar net ’n kom-moer-my-gesig.
Hierdie ou was fris gebou en een van die beste waterpolospelers. Hy was aantreklik, met deurdringende blou oë, en die meisies was mal oor hom. Daar was net een ding wat teen hom getel het: hy was baie kort.
Meer en meer het hy aangedring dat hy met my wil baklei. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek het geen probleem met hom gehad nie. Tydens waterpolo het ek hom as ’n vriend en spanmaat beskou.
“Ons kan dit doen,” het ek gesê. “Gee net kans dat my been regkom.”
“Jou been is reg. Die gips is mos af. Dis jý wat nie reg is nie. Jy’s bang vir my.” Op skool was ek glad nie ’n bakleier nie. Ek was seker in net vier of vyf vuisgevegte betrokke. Daar was een of twee oorwinnings, die res was loesings of gelykop.