Krokodil aan my skouer. Christiaan Bakkes

Krokodil aan my skouer - Christiaan Bakkes


Скачать книгу
Losbandige, aggressiewe jong rampokkers is besig om die ou waardes en norme aan te val en af te takel. Hy praat van die Sex Pistols en The Clash.

      Rodney Seale het vir my ’n nuwe wêreld ontsluit. Middae na skool het ek op my fiets na Universitas in Sunnyside gery. Daar was hokkies met draaitafels en oorfone en jy kon verniet na die plate luister. Ek het na al hierdie musiek geluister en gevind dat dit goed was. Ek luister vandag nog na AC/DC, Jethro Tull en The Clash. Rodney Seale het my geleer om oopkop te wees, om nuwe idees en alternatiewe denke uit te luister.

      ’n Ander ligpunt in daardie donker tye was Sandy Viljoen. Sy was ’n Engelse Viljoen. Ons het by die spykertafel in Panos se kafee in Colbyn ontmoet.

      Die meisies van die Afrikaanse meisieskool oorkant die straat van ons seunskool het my geïgnoreer. Hulle was baie statusbewus. Hulle het die sporthelde en uitblinkers verkies. Hulle het uit bevoorregte huise gekom en was materialisties. Ek het nie ’n kans gestaan nie.

      Sandy Viljoen was in Clapham High in Queenswood. Haar skoolbus het haar op dieselfde tyd as myne afgelaai op die hoek by die Colbyn-kafee.

      Dit was my gewoonte om eers ’n paar spelle pinball te speel voor ek huis toe stap. Eendag is Sandy voor my by die spykertafel. Ek wag dat sy klaarmaak. Sy vra toe of ek wil saamspeel.

      So kom dit dat ek en Sandy Viljoen middag vir middag saam pinball speel. Sy was in standerd 6, ek in standerd 8. ’n Maer meisie met vlasblonde hare en deurdringende groen oë.

      Kort voor lank begin ek saam met haar huis toe stap. Sy het nie ver van my af gebly nie. Toe nooi sy my in vir koeldrank. Haar pa en ma het albei gewerk. Ons was alleen.

      Daardie middag het ons begin om mekaar se liggame te verken. Die Clapham-meisies het ’n reputasie gehad – hulle was maklike meisies. Daar was geen Christelik-nasionale beperkinge by hulle nie. Daar was ook geen snobisme nie. Die Waterkloof-meisies het Hatfield en Colbyn as die onderdorp beskou. Queenswood was nog ’n ent ondertoe. Dit het my nie gepla nie.

      Vir my en Sandy was dit ’n opwindende spel. Dit was ons albei se eerste ervaring. Eers op die rusbank in die voorkamer, toe op die bed in haar slaapkamer. Ons was lomp en onbeholpe. My hart het wild in my bors gehamer. Ons het die momente uitgerek. Dit was heerlik, dit moes vir ewig aanhou. Dit was ’n ontdekkingsreis. Nie liefde of verliefdheid nie, maar ’n onkeerbare nuuskierigheid. Vinnig het dit gegroei tot verwondering en fassinasie.

      Soms het my gewete gepla. Ons was besig om alles te doen waarteen my opvoeding gepreek het. Vir Sandy was dit glad nie ’n probleem nie. Ek kon en wou nie ophou nadat ons eers begin het nie.

      Middag vir middag het ons die ontdekkingsreis voortgesit. Snags as ek laat van ’n waterpolowedstryd terugkom, het haar kamerlig oor die sokkerveld gebrand. Ek het my fiets teen die heining gelos en by haar venster ingeglip. Later in my hoërskooljare, toe ek al ander meisies uitgeneem het, sou ek en Sandy steeds ontmoet.

      Nog ’n ding wat my help oorleef het, was my pa se plasie. Dit was nie groot nie, net vyftig hektaar van sandsteenrante. Dit het vyfhonderd meter van die Elandsrivier ingesluit, en daar was sandveld en beboste klofies. Boekenhout, wildesering, raasblaar en horingpeultjiebome het daar gegroei. Die stamvrugte was heerlik soet.

      As mens self klein is, is ’n klein plasie groot. Vir my was dit ’n hele wêreld. Daar was duikers, steenbokke en jakkalse. Een oggend vroeg het ek ’n troppie van drie rooiribbokke by die rivier gesien. Ek het eers nie geweet wat dit was nie, ek moes gaan naslaan. Soms het daar ook koedoes deurgetrek.

      Die plaas se naam was De Wagensdrif. Hier het ek elke tweede naweek deurgebring. Met Tonka, ons labradorteef, en ’n windbuks het ek deur die veld geloop. Sy was nie baie slim nie, maar sy was baie lojaal. Met die windbuks het ek kransduiwe geskiet, wat ek self in die lang gras of tussen die rotsskeure moes gaan optel terwyl Tonka liefderyk toekyk. Sy was veral lief om in die rivier te swem.

      Tonka is dood aan ’n gebroke hart toe ek later weermag toe is. Ek het toe nie besef hoe geheg ’n hond aan ’n mens raak nie, nou pla dit my.

      My pa was ’n man vir die veld, hy wou sy kinders na aan die natuur grootmaak. Op De Wagensdrif het ek ’n liefde vir die natuur ontwikkel. Aan die een hoek van die plaas het die rivier teen die sandsteenrante gelê, met ’n lae krans wat uitkyk oor ’n stroomversnelling. Dit was half verskuil deur ruigtes en ek was lief daarvoor om daar te kamp. Dit was vir my lekker om onder die sterre te slaap met die geluid van kabbelende water onder my. Die nonnetjiesuile het deur die nag geskree en rooijakkalse het oor die veld geroep. Met my hond en die windbuks aan my sy het ek veilig gevoel.

      Die knetterende vuurtjie het altyd my gedagtes aan die gang gekry. Ek het my verbeel ek is ’n pionier uit vervloë dae. Soms was ek ’n Boerejagter in Angola se Dorsland, ander kere die Mountain Man van die Amerikaanse Rockies in die Jeremiah Johnson-fliek wat ek gesien het.

      Een aand rig ek soos gewoonlik my lêplek in. Teen sononder pak die wolke saam. Ek braai wors oor die kole. Die weerkaatsing van die sakkende son teen die dreigende wolke is skilderagtig mooi. Ná donker begin die bliksemstrale in die hemel dans. Ek maak my gemaklik teen ’n klip. Ek sit vasgenael. Dis skouspelagtig. Ek bly so sit totdat groot druppels om my begin plof.

      Toe maak die hemele oop. Binne oomblikke is my slaapsak en rugsak deurweek. My nat klere kleef aan my lyf. Tonka kom skuil teen my. Die nag is gitswart. Ek kan my hand nie voor my sien nie.

      Dit hou aan reën en ek besluit om terug te stap na die skuur aan die ander kant van die plaas; dit is die enigste onderdak. Ek vat die windbuks en begin met die hond aanstryk. Ek het nie ’n flits nie en dit gaan moeilik deur die sandsteenrante. Ek struikel gereeld. Ek praat met Tonka, sy bly aan my sy. Dit voel asof ek blind is. Ek kan niks behalwe die reën en die donder hoor nie en is totaal rigtingloos.

      Elke nou en dan verlig ’n bliksemstraal die veld. In daardie oogwink kyk ek uit vir ’n herkenbare boom of rots. Só sukkel ek aan. Na vele struikelinge en ’n paar verkeerde afdraaie bereik ek die skuur.

      Ek stroop die nat klere van my lyf af en die hond kruip saam met my onder droë komberse in. Ons lê en luister hoe die reën teen die sinkdak hamer. Toe sluimer ons in.

      Die volgende dag breek helder. Die veld is drenknat. Die dag is sonnig. Ek en Tonka stap terug rivier toe om die kampgoed te gaan haal. Die Elandsrivier is ’n kolkende bruin watermassa.

      Dit is ’n ervaring wat ek nooit vergeet het nie. Dit het ’n diep indruk op my gemaak. As jong seun was dit my eerste blootstelling aan die rou mag van die natuur. Dit het my lewendig laat voel. Ek moes kragte meet teen iets groter en sterker as ek. Ek het gevoel ek het die storm oorleef, ’n persoonlike oorwinning teen die natuur behaal.

      Hoofsaaklik het ek besef ek het die ervaring geniet. Hiermee het my hunkering na ’n lewe in die wildernis ontwaak.

      My pa het my gereeld saamgeneem na die jagveld. Hy het geglo dis goed vir ’n seun om te jag. My eerste jagtog was by Chrissiesmeer op die Hoëveld. Op die eerste dag val die bakkie in die vlei vas. My pa en die spoorsnyer stap terug om die trekker by die opstal te gaan haal. Ek bly agter om die bakkie en die gewere op te pas.

      Skemer daal oor die veld. Dit word koud. ’n Vleiuil stryk in die lang gras neer en styg op met ’n muis in sy kloue. ’n Troppie blesbokke kom water toe. Ek dink nie eers daaraan om aan te lê nie. Ek verlustig my in die toneel, drink die natuur om my in. Die volgende dag skiet ek ’n jong blesbokram.

      Daarna is ons elke winter Bosveld toe om rooibokke te gaan jag. Van swem in die Elandsrivier kry ek vir die eerste keer bilharzia.

      ’n Vriend van my pa het ’n wildplaas by Warmbad en ’n beesplaas by Rysmierbult gehad. Hy het my ontwakende belangstelling gemerk en my plaas toe genooi. Op die wildplaas het ek vry rondgeloop tussen elande, koedoes en kameelperde. Ek het hulle spore by die watergat probeer eien. Op die beesplaas is ek te perd saam met die Tswana-beeswagters uit om beeste te gaan aandryf. Ek het vinnig geleer. Dit was lekker om deur die veld te ry met die reuk van perd en bees en veld swaar in die lug. Ek kon gewoond raak aan ’n lewe in die veld.

      My pa se vriend het ’n ouer seun gehad wat ’n kranige jagter was. Hy het my geduldig verdra.


Скачать книгу