In stede van die liefde. Etienne van Heerden
is die mooiste luiperds; ten minste eerlik oor hul geldlus. Geld as vleis. Hulle’s almal in op die jag: prokureurs dien lank nie meer die gereg nie. Medici dien lank nie meer medisyne nie. En argitekte is nie meer daar vir die huwelik tussen landskap en bousel nie.
Iedereen is uit op die jag. Dis wat gebeur met ons splinternuwe land; hierdie land wat deur die wêreld as held voorgehou word. Ons reënboognasie.
Eintlik is ons bar en primitief in ons mooiste drange.
Christine, ek sal dit nooit met jou, of met enigiemand anders, kan bespreek nie. Die woord verglyding kom so dikwels by my op. Dis wat hierdie tyd is. ’n Tyd waarin dinge gewoon aan die beweeg gegaan het. Die magma-lae van die geskiedenis, gesmelte lawa onder die oppervlak. Dit prut en stadig skuif die vastrapplek. Later is daar net enkele eilande in die molm. Holtes vir ons voete. Ons vergly. Vir my ’n situasie nie sonder opwinding nie.
Christine, soms dink ek dat jy die lewe buite jou kou nie meer begeer nie.
Noukeurig afgebakende grense; die hoekpale van fatsoenlikheid. Dit sien ek om my in ons dorp. Weet die mense wat op hul drumpel aangaan, in hul bure se huise, in die township anderkant die robotte, daar waar die fietsryers van hul fietse afgestamp en van hul selfone en blink fietsryhelms beroof word?
Soos woedende, gehokte likkewane slaat die brawe Stellenbosse burgers hul sterte teen die wande van hul kou wanneer iets gebeur wat buite orde is.
En bou hulle, soos Mandela, oor en oor die huis van gevangenskap. Ek verwys na die huis wat hy ná sy vrylating op sy geboortedorp laat bou het, ’n presiese replika van sy gevangenishuis op die perseel van Victor Verster, Paarl; die huis waaruit hy vrygelaat is.
En onthou: ek is een van dié Stellenbossers. Ek is die skaam olifant met die voetboei. En dalk, soos die geval was met die kritiek teen sy stad wat ou Freud daar in Wene alewig uitgespreek het, sal ek eendag besef dat my klagtes oor Stellenbosch eintlik ’n liefdesverklaring is.
*
My liewe Christine
Op ons vlug terug na Suid-Afrika ná daardie slordige vakansie kry ek my eerste teken van angina. Dit sou ek eers jare later, daar in Panorama se harteenheid, besef. A-tipiese angina. Ek dag dis ’n spastiese kolon. Geen pyn in die linkerarm, speldesteke in die hand of pyne in die onderkaak nie. Geen drukking op die bors asof ’n olifant daar sit nie.
Nee, ’n sooibrandagtige teenwoordigheid. ’n Soort angstigheid. Die gees wat lank voor die liggaam snuf in die neus kry.
Rys het oor my skoot gestrooi en jy’t dit tydsaam met duim en wysvinger van my hemp afgepik, twee korrels in jou mond gesit en die res netjies op die skinkbordjie op my skoot gepak.
Min het jy geweet wat in die bors van jou man aan die gang was.
Ek sit hier en kyk uit op die straat waar winkeliers en restauranteienaars deur hul rituele gaan. Brode word ingedra, vleis word afgelewer, vensters word afgevee, want die Seepuntse nag het mis en seesproei gebring. Urine en papierfrommels word van die sypaadjies afgespuit met tuinslange. Die minibussies het soggens ’n vrolikheid aan hulle en die getoeter is uitbundiger as die geïrriteerde, aggressiewe geluide van later die dag wanneer die spanning toeneem om genoeg ritte in te palm en die verkeer druk raak en die nag begin toesak.
Die Swazi het netnou op haar balkon verskyn en na my kant toe gekyk waar ek by die venster sit. Sy’t haar vuil ou japon aangehad, met ’n kopdoek oor die kop. Sy kom oor vir koffie, het sy gesê, om tienuur. Ek ken haar al; dit sal nader aan twaalfuur wees.
Nee, ek kan jou nie vra wat jy alles in jou ronddra as vrese of geheime of geheime vrese nie. Miskien sal ek en jy graf toe gaan met ons afsonderlike geheime. Dalk weet jy nie dat ek weet nie, of dalk weet ek nie dat jy weet nie.
Daar is ook die ander moontlikheid: dat ons albei weet maar dink die ander een weet nie dat ons weet nie.
Ek en jy het ’n groot vrag gekry om te dra, Christine. ’n Mens se geheue dam stadig in jou op. Jy kry tyd om gewoond te raak daaraan. Om jou daarmee te versoen. Maar toe die trein uit sy tonnel bars daar in Gordonsbaai het ons, in een dag, ’n totaal ander geheue gekry. En nie eens met mekaar daaroor kon praat nie. Jou verhouding met jou terapeut was heilig. Ek durf nie verklap wat ek weet nie.
Alles het verander. Stadig moes ons elke spoor weer naloop, van daardie oggend op Coetzenburg, toe ek jou tong uit jou mond gesteel het. Elke gebaar, elke woord moes ons nagaan. Als het verander. Dit was asof ons ’n tweede lewe gelei het waarvan ons nie geweet het nie. En dit was ons egte lewe. Die ander ene – die een wat ons gedag het ons lewe is – was ’n verweer. ’n Ontkenning.
’n Nuwe geskiedenis; in ’n oomblik herskryf.
En ons het gesteier. Wie sou nie?
Ek het my hart verloor. En jy? Ek weet nie; ek probeer jou nog leer ken, by die eerste woede verby.
Vir die Swazi kan ek niks vertel nie. In hierdie gebied word ook nie vrae gevra nie. As jy niks uithaal oor wie jy is en waaroor dit vir jou gaan nie, word jy nie gevra nie. Hier is te veel mense wat met groot seer en eensaamheid rondloop. Jy kry die gevoel die lywe wat op straat loop, die gesigte agter vensters, die figure in motors of op trappe, is gewoon net die pionne van ’n groot, treurige spel, ’n ander werklikheid agter die uiterlike, ’n drama wat hom afspeel terwyl die pionne deur hul daaglikse lewens gaan.
Dis die groot reservoir van menslike emosie wat lê hier agter die lywe en gesigte, die etes en die motors, die gesprekke en die fluite, die spuug op die sypaadjie en die aai van hande oor die lyf.
Dis ’n gety net so ongerus en aanhoudend soos die getye wat daar onder, ’n straatblok en strook sand ver, teen die land aanbondel.
Suig en inkom, suig en inkom; die twee getye van Seepunt: die Atlantiese Oseaan, en die oseaan van trane.
*
Dit kom nou by my op terwyl ek vir die Swazi tee bedien. Sy noem my Christian, Christen op sy Engels uitgespreek, synde ’n gelowige in Jesus Christus.
“Is jy ’n Christen?” vra sy.
Ek skud my kop.
“Maar jou naam sê jy’s een.”
“Dis maar net ’n naam.”
“Is jy familie van die man wat die hart oorgeplant het? Christiaan Barnard?”
“Nee.”
“Maar jy deel sy naam.”
“Dis toevallig. My van is Lemmer. Christian Lemmer.”
Iewers het sy opgetel dat ek doktor voor my naam skryf. Seker by die opsigter. Nou word ek Doktor Christian. Dit klink soos die held in ’n sepie.
Haar naam is Sheba. Sy het my formeel meegedeel dat dit haar werksnaam is. Dit is die naam wat in die Argus se snuffels verskyn, tesame met al die beloftes wat vroue soos sy maak. Sy het ook drie ander name, het sy geheimsinnig gesê; nee, eintlik vier.
Die tweede naam is haar geboortenaam, haar swart naam. Daar in die dorpie op ’n heuwel in Swaziland was dit die naam wat vir haar gebruik is.
En op skool en in die middae wat sy in ’n kafee in die wit dorp gaan werk het, het sy ’n wit naam gekry. Dit was die derde naam.
Toe sy weggeraap is deur die manne wat jongmeisies na Swaziland se casino’s gelok het in die dae toe dobbel, swart vroue, pornografie, John Lennon se “Imagine”, die skryfwerk van Joe Slovo en die algemene stemreg nog in Suid-Afrika verbied was (ek moes glimlag by haar inryg van verbode items), het sy ’n vierde naam gekry.
En dan was daar die vyfde naam, wat die man wat die vader van haar dogtertjie is, haar gegee het. Hy is vort, die blonde man, terug na Duitsland; hy het aan ’n waterskema gewerk en sou haar agterna saamneem na Hamburg, vir ’n beter lewe.
Hy’t haar leer kokaïen eet, vertel sy. En daar het sy seks leer gee in ruil vir soetgoed. En sy rits die name op ’n ry af, in volgorde van aanmelding tydens haar lewe: Thandi Masuku, Beauty (in die kafee, waar sy meestal die swart toonbank