In stede van die liefde. Etienne van Heerden
het toe hulle klaar was met die wiskundesillabus. ’n Storie oor ’n meisie wat soggens die as uit die vorige aande se vure moes skoonskrop.
Poestertjie, het die mense haar genoem, onthou Snaartjie. Ek is die prinses wat uit die as gaan verrys, dink sy.
Poestertjie van die Groot Karoo.
God sy dank, en ’n fooitjie vir die Rooikruis. Om Freddie aan te haal.
*
Bewend kom Miss Edelweiss op Hochschule aan.
Ek het die blik in hul oë gesien.
Ek is nie bestand nie.
Al wat nou troos, is haar versameling. Sy stoot die deur na die kamer met die uitstaltafels oop. Uitgesprei, in netjiese rye, lê wat die Matjiesfonteiners haar goetertjies noem, uitgestal. Daar is die bewyse van die verblyf op die kale vlakte van jong Britse seuns: die Coldstream Guards, die Seventeenth Lancers, die Middlesex Regiment en die Highland Brigade van generaal-majoor Andy Wauchope, die man wat sy dood by Magersfontein tegemoet gegaan het. Sy tel ’n baadjieknoop van die Ierse Fifth Royal op en draai dit in haar hand. Langsaan lê ’n La Crisse-kopergespe van ’n lank reeds verrotte gordel. Dit het sy maar ’n week terug ontdek, in ’n donga heel ver van waar die kamp glo gestaan het.
Dit voel of sy ’n ander jongman se uniform aanraak; of sy agter die knoop en die gespe die warm lyf van ’n lewende kan voel. Sy wil haar teen hom aandruk en oor haar verlange praat; ander reuke kom by haar op, ’n ander uniform. Kon dit so lank terug wees, en so ver van hier; en kan dit nog so digby voel asof dit net gister was?
5
Hoofweg
Nadat hy op ’n Sondagaand of Maandagoggend vir Christine en Siebert gegroet het voor sy werksweek in Johannesburg, ry Christian dikwels op die N2 verby Kaapstad Internasionaal se afdraai. Hy ry Kaapstad toe, waar hy sonder Christine se wete ’n woonstel in Seepunt aanhou. Hy skakel sy handelaar so gou hy daar is, kry binne veertig minute wat hy wil hê, sluit die deur agter die man met die vinnige, onrustige hande, die Adidasse waarin hy voortdurend sy wysvinger druk om die waai van jeukende voete te krap. Agterna begin Christian in ’n staat van hoë opwinding op en af in sy woonstel loop.
Hy kom nie net hierheen om homself te verruk en sy lyf te troos nie. Dis ook hier waar hy in glashelder kokaïenoomblikke lang briewe aan Christine sit en skryf. Briewe van spyt en beskuldiging; van bieg en argumenteer. Briewe wat hy nooit pos nie, maar noukeurig in ’n leergebonde lêer versamel.
Dalk is dit nie briewe nie, dink hy een somersaand voor die balkondeur wat na die bedrywighede van Hoofweg, Seepunt, oopmaak, en waardeur hy neerkyk op remligte, die wisselinge van robotte, die roesemoes van laataandrestaurant- en klubgangers. Honderd meter weg begin die stuk straat waar die Nigeriërs met hul goue kettings om die nek patrolleer, op die straathoek, voor die escort agency en die drankwinkel en hotel met die 24-uur-kamers waar meisies van so jonk as Siebert se ouderdom en vroue te huur is. Onrustig op en neer, elke motor aan die deurkyk. Die voetsoldate wat hier die voorste linies van die Kaap se groot dwelmempire bewaak.
Uit die straat onder die balkon, as ’n damp wat opslaan, styg die stomende geure van kerrie uit die Indiese restaurant, die reuk van pasta en water van die Italianer. Ou urine, aangeslaan teen hoeke en op sypaadjies uitgeplas; teer en uitlaatgasse. Dis ’n geur wat hy diep inasem. Dis die Kaapstad wat hy liefhet. Dalk meer liefhet as die geure van dommelende Stellenbosch. Hier in Seepunt, met sy geheue van Joodsheid, sy kosmopolitiese leefwyse, hier waar skakelhuise uitkruip teen Leeukop en deur ou gesinne, studente, kunstenaars en kafee-eienaars bewoon word en die see saans plat en blink agter die stringe gekleurde liggies teen Kusweg af lê, hier is die Kaapstad wat vir hom ’n stad van moontlikhede en verglyding is; ’n stad teen die skuinste (baie beweer: op die afdraand), besig om sy woelige gemeente die see in te tiep. Hier is die gevoel dat sintuie ontmoet, verskillende verledes saamvloei. Dat dinge wars is; dat musiek hier hoort, dawerend en jazzerig en uitlokkend. Dat ’n breekspul wag.
Ná die rotmotorinsident sou hy skryf:
*
Seepunt –
My liewe Christine
Toe die rotmotor langs my inskuif en ek die rooi bandana sien, was my eerste gedagte dat jy hierdie briewe sou vind.
’n Stuk koerant wat dans in die wind, dis ek, Christine.
Ek weet nie waar om my lê te kry nie. Onder die wiele van die minibusse wat daar onder verbyjaag? Of by die deur van die pizzawinkel? Daar by die robot, waar die man met die goue horlosie huiwer?
Die rotmotor se straal het als oopgeboor. Van my werkslewe tot by my lyf tot by jou. Africart.com se besluiteloosheid en die ewige gestryery om die ronde tafel. Moet ons ons fokus op ernstige kuns laat vaar en die kuriomark binnevaar? Moet ons ons oorgee aan die vervlakking en Amerikanismes wat die land se kulturele lewe die glans van Afrika-kitsch gee?
Daardie geeks op my betaalstaat se tegnowêreld gee nie ’n snars om vir die idealisme waarmee ek africart.com begin het nie. Vir hulle is ek die ou man met sy kop diep gebêre in koffietafelboeke. Vir hulle is die lewe een groot digitale supermark. ’n Rave. Maar nou het ons tot ’n vergelyk gekom: dis die jaar van beslissing. Ek sal met die komende besoeke aan New York en ander stede finaal moet besluit of daar nog ’n niche vir ons in die internasionale kunshandel is. Terselfdertyd het ek die geeks verseker (met net ’n halwe hart) dat ek my oë sal oophou vir afsetgebiede vir Suid-Afrikaanse kurio’s.
Eintlik speel ek net vir tyd. Die spel is klaar verloor. Die wêreld skuif immers van erns en aandagtigheid na videobeeld en interaktiwiteit. Die laaste palet en kwas is dalk al iewers in iemand se hand. Wat voorlê, is ’n lewe agter glas, digitaal en onophoudelik, met CNN in jou handpalm, altyd en oral.
Die details van my werkstres bring ek nie huis toe nie; dit het my pa my geleer. ’n Man moet dit vat en nie jou gesin belas nie. Sy woorde.
Wat my lyf betref, is hierdie woonstel (via ’n vriend gehuur; laat hy maar naamloos bly) die hart van die wagkamer.
’n Ingryp in die hart is nie soos enige ander operasie nie. Hulle kan jou rugstring – glo ’n baie pynliker operasie – blootlê. Of jou lewer oorplant. Hulle kan in jou ingewande vroetel waar hulle wil. Maar die hart is die bloedvuis waar die siel skuil. In die varksnoet.
En ek bevind my, ná daardie ses ure onder narkose, met my lyf, my brein en organe afgekoel tot ’n kilte wat ek nou nog in my gebeente voel, ek bevind my van toe af in ’n wagkamer.
Dis ’n wagkamer wat jy en ander net vermoed. Mense leef weg daarvan, dink dit weg. Bedwelm hulself met godsdiens of werk of ander verslawings om nie hier te wees waar ek is nie. In my staat van afwagting sit ek hier. Ek het die laaste trein se roet geruik.
Christine; vergewe my hierdie woonstel, hierdie verrukking.
Immers vergewe ek jou.
Dalk sal jy ná my dood lees, en my beter begryp: die woelige sypaadjies en ongeduldige straatverkeer van my gedagtes. Jy vermoed en jy vermy, ek weet. Dit is ’n gemoed wat te veel is vir een mens om met grasie te dra.
Ek neem jou kwalik. Natuurlik. Die geheim van hierdie woonstel is my protes. My verrukking wanneer ek myself bederf, is ’n aanklag. Dit was asof die man met die rooi bandana jou agent was. Toe die rewolwer in sy hand blink, het ek geweet: jy’t hom gestuur.
Maar nes dit die geval met hierdie briewe is, het jy, my liewe Christine, van niks geweet nie. Onthou jy die briewe wat ek destyds uit Paul Roos se koshuis aan jou geskryf het? Hoe het ek nie gebars om aan jou allerhande dinge te sê nie, maar ek had nie die woordeskat vir my begeerte en my gevoelens oor jou nie. Fatsoen het my gesensor. Ek het maar gehou by die dinge wat voor die hand liggend was: skoolbedrywighede, popmusiek, atletiek, my ding oor die sterrekunde wat ek toe gehad het, die ding oor die ópkyk, onthou jy? Antropos, het meneer Van Rooyen ons geleer; die mens is die dier wat opkyk.
Opkyk na God, het hy bedoel. Maar ek wou opkyk na die Melkweg, deur die skool se teleskoop; ek wou sterrekundige word. Dit was voor die groot konstellasies