In stede van die liefde. Etienne van Heerden
die giftonge swaai. Hy was oor ’n ander saak bekommerd – oor die Suiderkruisderby, die grote. En Snaartjie was sy troefkaart in die derby; vanjaar sou hy wen, want Snaartjie was die ene agter die Windvogelswerm.
Hoe en wat, sou eers later uitkom; maar nou, eers, is dit die veglustigheid wat hom hande in die sye daar by die kelnerinne en skoonmakers laat staan.
“Afgeskep,” beduie hulle. “West Africans. Die lang manne.”
“Sy’t soos altyd viool teen die pad sit en speel vir die indraaikarre met haar bedelblikkietjie by haar voete, toe gooi hulle haar agterin die lorrie.”
“Die kinders het daar bo gespeel en als gesien, hoe sy geskreeu het soos ’n hoender op slag.”
Piet Windvogel kyk na die seuntjies wat daar rondstaan met hul draadkarre se stuurwiele in hul hande. Hulle lyk verskrik toe hy na hulle omdraai. “Wie’t wat gesien?” bars Piet Windvogel. Die krap voor hom uitgehou.
Benoud kyk hulle rond. “Wie’t wat gesien?”
Hulle kyk hom met groot oë aan en hy swaai vies om en begin oorstryk hotel toe. “Waar’s Mister Fieldhouse?” is sy laaste toesnou na die kelnerinne. Hy tref Eaglejohn en Miss Paai in die Lord Milner se kantoor aan. Eaglejohn het die telefoon teen sy oor en Miss Paai leun oor hom met die hotel se verweerde telefoonboek in haar hand.
“ ’n Lorrie. Ja, ’n vragmotor.” Eaglejohn lig sy oë ten hemele. “Wát?!”
Hy gooi die foon neer. Hy kyk na Miss Paai en Piet. “Vermiste mense moet eers twaalf uur weg wees voordat hulle ’n klag van vermis aanvaar.”
“Maar dis kidnap!” Miss Paai raap weer die foonboek op.
Piet Windvogel kyk na Miss Paai. Staaldraad in sy blik. “Dit het als met die kleinkitaar begin. Hier het julle dit nou.”
*
Snaartjie was sy dan.
En vir haar begin dit toe Miss Paai die dag ernstig met Eaglejohn Fieldhouse gesels oor die viool wat al ’n maand daar op kluis lê. “Mister Raspoetin, luister my uit. Die kind van die Windvogels kom elke dag ’n slag, en naweeksdae tot twee, drie keer, kyk of die ding nog daar lê,” vertel sy.
Eaglejohn laat die kind kom. Snaartjie word deur ’n skoonmaker geroep waar sy besig is om die Windvogelhok se boonste broeihokke skoon te maak. Tussen die wyfies wat met hul koppige, dun koppies op die eiers broei, is Snaartjie besig met die hark en die emmer. Die wurmpies mis wat verdroog en verkrummel, dwarrel soos as; die vars mis klou aan vere en die hark se punte.
Maar Snaartjie sien nie haar vaal voete nie. Sy hoor die simfonie wat sy die vorige middag in kamer veertien gesteel het. Bruckner is die man se naam, en die konsert was sy derde. Quasi Adagio, onthou Snaartjie, maar sy kon nog nie uitwerk wat dit beteken nie. Dis nou die persblou voorvlieger se naam. Laat haar pa-hulle hom maar op sy teelnaam roep – sy noem hom Quasi Adagio. Hy sit met vol krop koggelend daar op die hok se nok; kyk hoe trap-trap hy om die henne te verlei.
En die jonge, daardie mannetjiesduif wat ál op Quasi Adagio se stert sit as hulle Saterdaemiddae uit Sutterland se geweste inswiep, gedra deur die Karoowind en met die oop lug in hul skerp oë, wanneer haar pa hom naderhaas om hulle in te klok, daardie klein prins: ja, sy noem hom nou Allegro Energico.
“Energico,” prewel Snaartjie en toe is die skoonmaker daar: “Mister Eaglejohn soek jou in die dining hall.”
Snaartjie laat die hark val; dis nie oor werk of stoutigheid nie, weet sy.
Die viool!
Miss Paai het mos belowe sy sal met Mister Eaglejohn praat.
Sy gaan aan die bewe en vergeet byna om die hok se deur agter haar toe te maak en die yale te sluit. Binne die huis sit sy ’n strik in haar hare en gaps ’n veegseltjie lipstiffie uit haar ma se bedlaai. Sy vergeet om in die spieël te kyk voor sy loop, maar as sy dit wel gedoen het, sou sy gemerk het dat die rooi stif te aangedik is en boonop skeef smeer neus se kant toe. En as sy die kas se sleutel gehad het en kon oopsluit om na die vollyfspieël wat aan die kas se binnedeur geskroef is, te kyk, sou sy gesien het dat haar ma reg is, dat sy komieklik lyk in haar ma se kerkskoene met die hakke, wat sy nou ondanks al die vermaninge aanhet.
Sy slof met die slingerpaadjie hotel se kant toe, agter die skoonmaker met die wit kappie en voorskoot en verestoffer in die hand aan. Tussen die bottelstukke en verroeste blikkies en karoobos waaraan plastieksakkies wapper deur – na die Lord Milner wat, hoe jy hom ook al hier van Platdakkies af bekyk, altyd soos ’n bruidskoek daar uitsien.
Die skoonmaker, ’n inkommer van Beaufort-Wes wat met ’n Matjiesfonteiner getrou het, kyk haar meewarig aan. Snaartjie sien die glimlag, en die blik wat oor haar gesig en af na haar voete vee.
Jaloesie, dink sy. Mister Eaglejohn, haar baas, het mý geroep.
Sy word aangepor: “Haas jou, toe-toe, Mister Eaglejohn moet nog Laingsburg toe vir voorraad; netnou ry hy voor jy daar is!”
Sy gaan staan eers by die fontein voor die hotel. Sy sit haar vingerpunt in die water. Uncle Freddie Portier met die wit handskoene staan daar by die eetsaal, binne, en kyk ongeduldig na buite. “Kom,” beduie hy aan haar. Sy haal diep asem, en steek die stuk plaveisel oor na die hotel se voordeur.
Toe sy die eetsaal instap, ruik sy Mister Eaglejohn se aftershave en tweed. Wanneer haar ma, Matjiesfontein se naaister, soms saans die Mister se klere sit en regmaak (knope aan die onderbaadjies, die geelwit onderbroeke se wasgate toestop), hang daardie geur in die Windvogels se voorkamer, en word daar gespot oor die ou Rus wat hom nou so Ingils hou met die tweed en aftershave.
Maar bang vir hom is sy. Die Mister sit by ’n tafel in die hoek, daar waar hy altyd sit wanneer hy die personeel inroep, een-een, om die hotel se sake te bespreek; wanneer hy raas (dikwels) of aanprys (baie min). Miss Paai sit ook by hom, en Freddie Gladdebek, Snaartjie se ma se neef, staan nou tussen die tafel en die venster, sy handskoenhande onskuldig voor hom gevou.
Vandat hy daardie dag die viool onder die mouterwiele uit gaan red het, soos hy graag sê, is hy baie eiendomlik oor die instrument.
Miss Paai sit kiertsregop, want al is sy die Mister se voorste werker (ontvangsdame, boekhouer, biegskouer vir die jong kelnerinne en, in Freddie se woorde, “prinsipaal van die voorportaal”), vat Mister Eaglejohn nie nonsens nie en handel hy dinge gou af. Logistiek, sê hy altyd, het hy in die oorlog geleer. En in die Russiese revolusie. Hoe om jou oog koersvas op jou bestemming te hou, het oorlogsduiwe hom geleer; daardie brawe voëls van Europa se seinregimente wat deur bomme en masjiengeweervuur en die onweerswolke oor Europa deur die linies heen geblits het met vertroulike inligting in klein silindertjies aan hul bene; hoeveel van hulle het nie gewond en skeef gefladder tot by hul base nie?
Iets geks het die wedvlugduif in hom, sê Eaglejohn soms, maar niemand verstaan wat hy bedoel nie. Sy, Snaartjie, wél. En Miss Edelweiss sê ook: iets mals moet jy in jou hê vir die viool.
Nou sit Mister Eaglejohn daar met sy swart Oog – so beskryf die boere sy blik – en Miss Paai beduie sag: “Sit, kind.” Sy beduie na die leë stoel teenoor die Mister.
Snaartjie plof op haar ma se hoëhakskoene nader, trek die stoel uit en ys toe sy die skuurgeluid oor die vloer hoor. Sy tel die stoel op, dis byna te groot vir haar, skuif dit, maak weer ’n geraas, bloos en vee oor haar gesig. Dan sit sy, maar dis skeef, en sy moet weer op om die stoel so te draai dat sy ordentlik vir die Mister kan sit en kyk.
Skielik kyk die Mister op. “Kan jy sing?”
Sy stem eggo oor die leë tafels. Freddie se vingerpunte op sy hand se rugkant word stil. Miss Paai se oë glip verras na Mister Eaglejohn toe.
“Ek is in die kerkkoor,” antwoord Snaartjie saggies. “Van die Wederdopergemeente Matjiesfontein. Sondae.”
Dis weer stil. Mister Eaglejohn vroetel met sy papiere. ’n Duifswerm kom met ’n vlerkgedruis laag oor die hotel verby, net buite die venster, oor die dak, en weg. Freddie snuif tevrede: dis sý swerm, die Gladdebek Racers; hy ken die fluit van hul