In stede van die liefde. Etienne van Heerden
hete somersoggend onder lui sproeiers lê.
Hy hoop nie hy loop hom vas in die skoolhoof of een van die onderwysers nie. Siebert is nie ’n baie gewilde leerder nie, en die onderwysers het altyd vraagtekens in die oë wanneer Christian in hulle vasloop. Hy benader die pawiljoen van agter. Jy moet hier af met trappe en dan weer op om by die sitplekke uit te kom. Onder die pawiljoen is die reuk van sweet, kaal voete, ontsmettingsmiddels en urine sterk by die waskamerdeure. Bo Christian dreun die pawiljoene. ’n Hand vat oor sy bors en keel. Hy gaan staan ’n oomblik stil, alleen hier in die kelder. Miskien is dit die opgedamde benoudheid hier onder die beton. Dalk die herinnering aan sy onlangse gesprek met Siebert, toe die seun oor Christian en Christine gesê het: “Wat soek julle by mekaar? Julle fight deesdae onophoudelik.” En Siebert gee dit op as rede vir sy eie nukkerigheid en sy nagte op die www.
“Jy help nie juis om dinge makliker te maak nie. Partykeer dink ek jy rol aspris ’n handgranaat tussen ons in sodra dit begin beter gaan,” kap Christian terug en Siebert het sy kop by sy skouers ingetrek, bitter en kwaad. Die klop-klop van die skaatsplank snags – dis die klank van die afgelope somersnagte op Stellenbosch. Die eggo van geïrriteerde, gefrustreerde wieletjies, en Siebert se kuite wat die stil nagstraat werk.
“Ek wens hy kry nou ’n meisie. ’n Warm vry sal al die gif uit hom trek,” het Christian ’n keer aan Christine gesê.
Bo Christian dawer dit. Hakskene klapper op beton, hande klap, stemme gil, lywe wieg. Sy hart dawer saam. Hy skud sy kop en kyk na die sementtrappies voor hom. Roomysstokkies lê daar gestrooi, kougom in variasies van ligpienk tot vaalgetrap, en sigaretstompies ’n dag of wat tevore in die hoek ingevee deur ’n werker wat nooit kom klaarmaak het nie. ’n Groen hoedjie; ’n roset. Hy begin trappe klim en kyk op. ’n Gleuf blou lug, en die swaaiende, blink jurk van ’n spandirigent met opgehewe rooi wange. Elke matriekklas het sy entertainer; sy jolly boy. Beleef waarskynlik sy lewenshoogtepunt hier met gekke liedjies met militaristiese ondertone. Gaan waarskynlik vind dat die lewe toenemend anderpad kyk.
Christian klim by sy gedagtes verby en stoot sy kop die gedruis in. Die skool is in kleurespanne verdeel. Baniere wapper in die wind. Honderde kele is gesper na atlete wat ooplê op die tartanbaan. Christian sien gladde vel en blink knieë. Op die veld staan die baanbeamptes wat soos roomysverkopers lyk, en agter die agterste ooppawiljoen, op B-veld, staan die reuse tent met die wapperende ANC-vlae.
Die regerende party hou in hierdie dae ’n dinkskrum op Coetzenburg. Afrika val die Boland binne. ’n Week gelede het die dorpskoerant, Eikestadnuus, inwoners gevra om vriendelik te wees met die mense wat van heinde en verre Stellenbosch gaan binnestroom.
Behandel hulle net so vriendelik soos wat u toeriste of enige ander besoeker sal verwelkom. Die burgemeester se woorde.
Christian baan sy weg opwaarts en gaan sit heel agter, agter die groen span. Besef ná ’n rukkie hy’t ’n fout gemaak en moet weer af en óm, om agter Siebert se blou span te gaan sit. Hy hoop nie Siebert het die vergissing gesien nie. Klein lontjies laat die opslagplek ontplof.
Miskien sal hy minder sigbaar wees as hy ’n blou papierhoedjie opsit. Voor hom wieg die see sonbruin skouers. Hy tel ’n weggegooide hoedjie op en trek dit oor sy kop. Hy kyk na die vredige velde van Coetzenburg agter die gek linte en tierlantyntjies waarmee die spanne hulself uitrus.
Weet hierdie bedorwe kinders – oorstelp met besittings, geld en hul eie talente – wat op hulle wag? So wonder Christian, die kampioen van ’n vergete gister.
*
1972. Skolekampioen, vierhonderd.
Die meisies merk hom op. Woensdagmiddae as die koshuisseuns die dorp mag invaar, sit hy in die Wimpy Bar in Pleinstraat met ’n bord slaptjips en ’n Fanta.
John Lennon se “Imagine” speel oor die luidsprekers. Die SAUK mag dit nie oor die radio speel nie, maar die Wimpy se bestuurder draai die 7 single hier vir die dorp se koshuiskinders. Ook Percy Sledge, die swart sanger (“Come softly to me”). En Neil Diamond met die lang hare (“Red, red wine”).
Christian sit lekker in sy lyf daar. Sy hande is kort-kort oor sy bobene. Die lang, harde spiere troos hom. Oorkant in die hoek sit ’n tafel Bloemhof-meisies. Die twee tafels ignoreer mekaar. Verskillende planete, maar die swaartekrag van hormone hou hulle in gespanne ewewig.
Gerugte sypel deur – en een van Christian se maats sit hom dit nou weer en vertel – dat daar op Pniel, die sendingdorpie anderkant die Helshoogtepas op pad na Franschhoek, ’n matriekseun is wat glo saam met sy atletiekonderwyser beter tye oor die vierhonderd aan die opstel is as Christian.
“Ag, kak,” sê Christian en klop sy voet op ritme van “Jeremiah was a bullfrog” teen die tafelpoot. “Op ’n grondbaan!”
Dis tye van segregasie. In Pniel woon net bruin mense. Soggens bring die bus hulle oor die berg om in Stellenbosch te kom werk; in wonings as huishulpe, in winkels as skoonmakers; in tuine as tuinwerkers. Swart en wit speel sport op aparte bane. Word apart kampioene. Christian en die bruin atleet sal nooit op die baan ontmoet nie.
“ ’n Kleurlingoutjie! Kak.” Christian lag.
Sy pa het ook in die weeklikse brief uit Grahamstad aan hom geskryf: “Die Kleurlinge het wind. Hul voorgeslagte kon dae deur draf agter ’n gekweste bok aan. Maar hulle’t nie spoed nie. Hy sal jou dalk klop in die duisend-vyfhonderd. Maar jy’t die bene vir die vierhonderd. Vergeet nou van hom en fokus op die kampioenskap.”
Christian vryf oor sy bobene. Wanneer hy die strooitjie hou en sy gesig na sy Fanta bring, ruik sy hand na Deep Heat en draadtrek en tamatiesous. Sy maats weet dit nie, maar hy bekommer hom, en lê saans en kyk na die atletiekbekers by sy koshuisbed.
Sy afrigter vertel hom meer. Hy’t die bruin onderwyser van Pniel toevallig ontmoet by die petrolpompe. Die man het na hom gekom en gesê: “U is mos Paul Roos se afrigter?” En hom vertel. Die mannetjie is wêreldklas. Die Sendingkerk probeer nou vir hom ’n sportbeurs kry Amerika toe.
“Daai Boesmantjie hol glo soos die wind,” sê meneer Van Rooyen, wat graag oor antieke Rome en gladiatore praat.
Christian krom sy bolyf. Hy’t sy eerste brief aan Christine geskryf, en daarin gevra: “Hou jy van Percy Sledge? Hier by die skool is ons nou net klaar met Macbeth. Ek het nogal gehou van die storie. Ons skool gaan dit by Maynardville kyk. Gaan julle ook? Skryf terug.”
Hy sak agter sy skouers in. Hy kyk op. Voor lê die eerste draai.
*
Een middag trap hy met sy fiets die Helshoogtepas op. Dis ’n helder, oop dag, en sy bene kry ’n tydsame, afgemete ritme teen die pas uit. Christian het pas gehoor van endorfiene, wat die brein met ritmiese oefening afskei. Hy is verslaaf aan beweging, besluit hy, geboë oor die stang van sy fiets. Die stadige, verbete verbybeweeg van bloekomboomstamme links en Botmaskop wat stelselmatig uit sig skuif.
Soms toeter ’n motor aanmoediging, maar meestal is hy alleen, met die skril sonbesies en sy eie sweetgeur. Hy is sewentien, en verlief op homself. Hierdie seun van Pniel staan in die weg van Christian se verhouding met sy eie lyf. Dit kan nie.
Hy hoef hom nie oor gevaar op die eensaam bergpas te bekommer nie; dis drie dekades voordat Bolandse koerante berigte sal dra oor fietsryers wat hier of by Stellenbosch se swart woonbuurt, Kayamandi, van hul fietse en selfone beroof word en soms ’n messteek op die koop toe kry. Uitry in bondels van drie ryers of meer sou eers later nodig word, so vinnig moontlik verby daardie met kindertekeninge versierde townshipmuur waaragter die kapers skuil.
Christian trap met ’n bors wat diep teue trek. Uiteindelik breek hy bo uit, met bene wat pyn en hart wat hoog skop. Voor hom, glimmend in die son, lê Simonsberg. Wingerde strek teen die hange uit. Die vallei gee mee voor hom, tot in die newels van mistige afstand, en die teerpad gly singend onder sy wiele in. Die wind glip oor sy rug en deur sy hare. “Joeiii!” gil Christian afdraand en wanneer hy onder by Kylemore deur die leegte is en weer vars voel, is hy tevrede dat sy herstelvermoë goed is. Dis die toets vir fiksheid.
Hy bons oor die nou paadjie Pniel toe,