In stede van die liefde. Etienne van Heerden
in die son, in die middel van die baan. Later begin hy strekoefeninge doen. Hy dink: ek het die baan nie vooraf getoets nie. Hy sal ’n voordeel hê. Ek moet oppas vir die boonste draai. Daar kon ek sy voete hoor gly – die sand is los daar. Nie neerslaat nie. Die kuite nou voorberei vir die vreemde oppervlak. Goed instel op die ongelykte. Jy kan hier ’n spier rek. Binnebaan probeer kry wanneer Syster kom. Nee, vat eerder buitebaan; dis die moeilikste. Klop hom só dat wen waarlik wen is.
Hy gaan sit en wag. Die bedompige grasreuk laat hom aan Christine dink. Hy’t haar by Maynardville gesien. Paul Roos, onstuimig ná die uur se busrit Kaapstad toe, het in ’n blok gesit, en toe die blok langsaan deur ’n Kaapse meisieskool gevul word, stelselmatig ry vir ry, met skaam meisies wat voor die maroen vierkant seuns moet verbytou, het hy regop gesit. Dáár!
Sy’t sy oog gevang, gebloos. ’n Ligte kopknikkie. “Jammer vir die soenery,” het een van sy briewe gelui. “Ek was opgewerk vir my item. Ek raak so voor ek moet hardloop. Ek verloor kop. Jammer. Vergewe jy my?”
Pouse het hy haar bygeloop nog voor sy behoorlik uit haar sitplek was. Onder die bome van die opelugteater-tuine het hulle gaan stap, tyd was min.
“Kan ek vir jou kom kuier? Ek kan met die trein kom?”
“Nee!” Sy was byna verskrik.
“Maar hoe dan?”
Sy’t haar weggehaas tussen die mense deur: tantes met kniekombersies onder die arm, duur juwele; mans in tweedbaadjies en hande agter die rug, soos prins Philip. Oral word die stuk bespreek. Christian soek haar tussen die mense, op en af vleg hy deur die paadjies en oor grasperke, en toe hy sit, net toe die ligte uitdoof, en omkyk, is haar sitplek leeg.
Hy wil opspring, maar die “Christian!” van meneer Van Rooyen druk hom terug in sy sitplek. ’n Akteur is reeds op die verhoog, en Christian sit binnensmonds en swets. Hy kan haar ook nie bel nie; hy weet niks van haar nie. Net briewe laat sy toe. Al wat hy reeds weet, is hoe haar roomysmond proe. Dis al.
Hy droom: hy plaas haar in Bloemhof se koshuis, net ’n entjie van Paul Roos s’n. Hulle gaan saam fliek op ’n Saterdagmiddag. Haar skouer skuur liggies teen syne. Daar is egter, selfs in die gedroomde toneel, iets wat bly ontwyk. Hulle stap deur die dorp, selfbewus in skoolbaadjies. In die Wimpy buig hulle oor ’n Coke en ’n Fanta, en eet tjips uit dieselfde bord. Sy lag vir die manier waarop hy sy skaars sente op die tafel uittel en sy gulsigheid as hy sy tjips in tamatiesous doop. Haar hand skuur teen syne.
Dis net ’n droom. “Hoekom hardloop jy?” vra sy in een van haar kort, skaam briewe. “Omdat jy ’n wenpaal is wat bly geepad,” skryf hy terug en hoor vir drie weke niks van haar nie. Hy besluit dat hy meer takties sal moet hardloop in dié wedloop.
Haar vraag oor waarom hy hardloop, pla hom. Die baan, besluit hy, is die een onveranderlike.
“Ek is verslaaf daaraan,” skryf hy later aan haar. “Dis al.”
Hy’s daar. Stanley Syster. Christian se hart gaan aan die spaander soos ’n vlakhaas op vaart. Hy staan op uit die gras. Stanley swaai om. Van naby is sy wenkbroue ruig, sy oë git. Hy skrik. Die wit seun, hier waar wit mense nooit kom nie.
“Ek is van Paul Roos.” ’n Verklaring van rykdom. ’n Lewenswyse anderkant die draad. As Stanley hom bly aankyk: “Die wit seunskool op Stellenbosch.”
Daar is nog geen reaksie nie. Stanley se oë gly oor Christian: die maroen frokkie; die bene van ’n hardloper. Christian staan nader, en voel die gruisklippertjies van die baan onder sy skoene. Plek-plek sak hy in waar die grond sag is. Miskien sal kaalvoet ’n voordeel wees. Maar hy weet: sy voete is te sag. Hier’s dalk duwweltjies . . .
“Wat soek jy?”
Hulle staan ’n rukkie so. Christian sou dikwels aan hierdie oomblik terugdink. Dit sal hom herinner aan daardie eerste oomblikke met Christine. Hier ook: Skaakstukke wat in gespanne posisies stol en ’n spel wat vries, soos op ’n foto.
Hy trek sy asem diep in. “Ek wil teen jou hardloop.”
Stanley Syster se asem plof hoorbaar by sy lippe uit. Hy buk en begin strekoefeninge doen. Hier is geen behoorlike afrigter nie, registreer dit weer by Christian. “Ek hoor jy’s goed,” sê hy aan Stanley.
Skielik swaai Stanley om en stap na die witgeverfde klip. Met sy toon trek hy ’n dwarsstreep op die grond. Dis ’n uitdaging. Iets van die vuisgeveg op die speelgrond, die tradisionele streep in die sand, die uitlokking om jou voet daaroor te durf sit.
Later jare sou Christian onthou: die sening wat die toon aan die voet bind; die nukkerige bol van die kuit. Die een, hardegat beweging.
En skielik die boegoereuk van sweet; hul albei s’n.
Hulle tree aan.
Alle klank verdwyn. Die wind het gaan lê. Christian het die buitebaan. Sy sole sak weg hier in los sand en uitgeskopte gate.
“Go!” skree Stanley Syster en die wind suis om Christian se ore.
*
Christian veeg oor sy oë. Die aankondiging vir die vierhonderd vir seuns onder veertien word gemaak. Siebert is nêrens te siene nie.
Christian wil eers opspring en rondkyk, maar onthou sy blapse vroeër die oggend.
As die atlete by die wegspringblokke hul sweetpakbroeke begin uittrek en die laaste strekoefeninge doen, vlie hy op. Hy kyk oor die deinende see kleurlinte en papierhoedjies.
Hy baan sy weg na benede. Oor elmboë wat ingehaak is, verby songladde velle en blink oë wat met “Sorry, oom” opdraai na hom; oor wiegende lywe wat nou die Meksikaanse golf doen. ’n Gety Coke-suigende kinders.
In die voorste ry, voor die dirigent met die pluiskeil se gekke sprongetjies, skreeu Christian in ’n klasmaat van Siebert se oor. Die seun se sweet ruik na dié van ’n man, maar sy asem is die ene kougom en Coke. Onder, áf, beduie hy. En moet weer skreeu sodat Christian kan hoor: “Ek het hom laas onder die pawiljoen gesien.”
By die wegspringblokke is die atlete nou almal sonder sweetpakke. Hulle bons op elastiese kuite en skud hul hande lossies om hul skouers te ontspan. Die vierhonderd is Paul Roos se prestige-item, al jare lank. “En die rekord,” hoor Christian vaagweg bo die gedruis, “word nog gehou deur . . .”
Hy hardloop onder die pawiljoen in. “Meer as dertig jaar gelede . . .” dryf die luidspreker hom as hy in die koel sleurstroom van wind beland wat hier onder deur die tonnel kom en die reuk van Jeyes Fluid en koue beton dra.
“. . . opgemerk vandag hier saam met sy seun, Siebert van die Bloues . . .”
Die stem doof uit wanneer Christian die doolhof binnegaan. Kleedkamers met hopies afgestroopte frokkies en sweetpakke. ’n Paar duur Nikes, in ’n hoek gesmyt. Rugsakke. ’n Motorfietshelm en ’n yo-yo. Reukweerderkannetjies en waterbottels. Niemand hier nie. Die toilette. ’n Seun skud af by die krip, verras oor die uitasem man met die poniestert, en glip weg. ’n Toe deur. Christian op sy knieë, loer deur die gleuf onder die deur.
’n Beeld kom by hom op. Hy is op sy knieë in sy koshuiskamer, in sy sweetpak. Hy is besig om die bekers weg te pak, onder in sy kas, heel agter. Agter die ou duikbril en paddavoete, agter die stukkende radio en die ou skoene.
Hy’t pas oor Helshoogtepas teruggetrap Stellenbosch toe, terug koshuis toe. Langs die baan in Pniel het Stanley Syster in die lang gras bly sit. Agter die ou drafskoene, ágter die sweetpakbroeke in, skuif Christian die bekers met sy naam voelbaar onder sy vingerpunte ingegraveer op die koue silwer. Liegbekers.
Die nuwe bekers wat laat in sy matriekjaar bygekom het, is ook terstond kas toe. Agter die truie en die hemde. Ver agter, weg.
*
“Siebert. Siebert. Kom uit.”
Hy kyk na die splinternuwe paar Adidasse, die mooi bene van sy seun. Dis stil. ’n Kraan drup en veraf druis die Meksikaanse golf.
Dan klap die skoot, en Christian weet hulle lê oop