In stede van die liefde. Etienne van Heerden
bedien haar verhaal met humor, dié Sheba. Vir my pas Sheba perfek by haar, in hierdie wêreld van kitsseks en soetgoed en meeue wat voor die venster hang en skaamteloos na binne kyk vir iets om te aas.
Thandi word my confidante, Christine, en ek vertel haar van my droom die vorige nag oor ’n okapi. Die volgende oggend gaan sy na die internetkafee hier af in Hoofweg en gaan soek ’n prentjie van ’n okapi op Google want sy’t nog nooit van dié boksoort gehoor nie. Sy kom triomfantlik terug met “Noem my Okapi” en ja, wragtig, ’n dag later is daar in die snuffels ’n advertensie waarin ene Okapi, die skaamste van die skames, haar liefde en lyf aanbied teen ’n billike tarief. Slegs, egter, aan uitvoerende bestuurders.
Sy wys my trots die advertensie en ek besef dat my mitologie met dié van Sheba/Okapi/Schatzi ensovoorts begin vervleg. Ek begin inburger hier in Seepunt, Christine, en soms speel ek met die gedagte om my permanent hier te vestig.
Maar ek weet dat dit die begin van die einde sal wees. Die soetgoed is nie goed vir die kardiovaskulêre sisteem nie. Dis ’n understatement. En sou ek rocks begin rook, sal daardie rush die bloeddruk in die buitenste ruim gaan blaas. Daarna is daar nie weer omkyk nie. Ek sal nie lank hou nie. Voor ek my kom kry, gaan ek met ’n paar geldnote oorstap na Okapi. Nee, nee, Christine; ek het jou ook te lief. Dis fantasieë van ontvlugting. Selfvernietigende hoëvlugte. Jy weet hoedat een deel van my om die baan beur en die ander deel swik.
Okapi sit oorkant my en drink lusteloos aan haar koffie. Die vorige nag het sy besoek ontvang van die man wat namens die Nigeriërs in beheer van haar is. Sy is regtig in die moeilikheid, want snags word kwêlavragte jongmeisies – “Kinders! Party van hulle!” roep sy uit – Groen- en Seepunt ingery en vroue soos sy is nie meer boaan die mans se verlanglyste nie.
Haar hanteerder pas druk toe. Die woonstel kos hulle baie en sommige weke verdien sy skaars genoeg om haar lus vir soetgoed te betaal. Sy moet kliniek toe en dis medisynes en dan moet daar nog maandeliks geld inbetaal word in haar dogtertjie (haar vel is amper so wit soos joune, vertel sy my) se rekening in Swaziland. Die kind gaan haar tienerjare binne en hulle dra mos net labels. Sy’s mos half-Duits en moet goed lyk.
Ek knik. Ja, ek het ook ’n dogtertjie, kom dit by my uit; ek kan tog nie vir Siebert hier opdis nie! En inderdaad, hulle is duur, en hul behoeftes groot. Portuurdruk, sê ek, maar sy ken die begrip nie en kla oor die gangsters (sy spreek dit Afrikaans uit, soos op die Vlakte) wat op die skoolmeisies toesak en God is haar getuie, haar kind gaan in ’n boetiek of bank werk en nie die lewe van haar moeder lei nie.
Watter soort werk dink sy doen jy? vra ek aan my vriendin. Ons sit gesellig saam. Soms is daar stiltes, maar dis nie ongemaklik nie. Ons is twee siele wat op die derde verdieping van die leuen woon. Die grond onder ons voete wieg asof op water. Ons het geen gordyne voor ons vensters nie en ons deure staan altyd oop vir boewery. Ons woonstelblok eggo met leë beloftes en kanse, liegstories en buie. Ons is in ’n hel van ons eie. Die Republiek van Soetgoed. Die Columbia van die gees.
Sy dink ek is ’n hairdresser, vertel Okapi, en gaan onmiddellik voort, asof sy ’n inspirasionele bevlieging kry. Ek kan jou hare doen! Nee, skud ek my kop, dis nie nodig nie. Ek sal! Sy gaan na haar woonstel, bring ’n plastiekskottel (hoeveel mans het nie hul gereedskap daarin afgewas nie, kom dit by my op) en tap dit vol lou water.
Ek moet oor die tafel buk en sy rangskik haar handdoeke met hul geur van wierook en goedkoop parfuum om my skouers. Buite wieg die seevoëls in die gleuf straat tussen geboue. Jy het ’n glimp van die see hiervandaan, skaars ’n meter breed tussen geboue deur.
Terwyl daardie ander gety onrustig wieg tot aan die einder, veeg Okapi teer hande deur my hare. Lou water drup teen my nek af. Die geklots van water, die seepskuim en die geur van warmte en sjampoe laat my my oë dankbaar sluit.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.