In stede van die liefde. Etienne van Heerden
Edelweiss
Miss Edelweiss het ’n vaste roetine.
Soggens wikkel die vaalgrys Morrissie soos ’n liewenheersbesie oor die bult. Dis ’n tweespoorpaadjie waarmee sy van Hochschule na Matjiesfontein kom, al teen die treinspoor af. Die karretjie skarrel oor die klippers; sy ry hom al dertig jaar.
Jy kan jou horlosie stel wanneer daardie torretjie by die laaste turksvy verbywip, sê Freddie Gladdebek altyd. Teen daardie tyd van die môre het hy reeds stelling ingeneem by die Lord Milner se voordeur, reg vir die dag.
Hy is op sy pos, winter en somer, om ses-uur-dertig. Hy hoor alles wat buite en binne gesê word. Hy hoor wanneer eiers die pan tref; hy hoor wanneer ’n vleisbyl teen ’n karkas dawer, wanneer die blare van ’n geelwortel afgedraai word. Hy hoor die koekroller en deegflappe wat teen die tafelblad klap, en hy hoor die skinderstories van die skoonmakers en skottelgoedwassers en die ou ANC-vryheidsliedere wat die kok met die hoë wit hoed agter die stoof staan en sing. Die kok weet hoe om ’n AK-47 uitmekaar te haal en weer aanmekaar te sit. Maar hy’t nie ’n werk gekry in die nuwe regering nie; hy bak nou eiers en spek, vis, skaapboude in die oond en, op spesiale dae, Engelse broodpoeding met appelkooskonfyt.
“Dis hoekom ek my lewe gewaag het,” sê Jeremy Sizwe altyd, “om hier te kom deeg knie. En Thabo Mbeki kom eet nooit eers hier nie. Die hotel is nie larney genoeg vir daardie English gentleman met sy tweedbaadjie, pyp en poetry nie.
“Ek bid vir die dag dat Nelson Mandela en sy Mosambiekse koningin hier inloop.
“Maar dit sal seker eers ná die Wederkoms wees.
“Of na goeie reëns.”
Vies raak die pastoor vir Jeremy Sizwe, die assegaai van die nasie, se godslasterings.
“Hy is nou wel ’n held van die vryheidstryd,” sê die pastoor, “maar hy’s nie bokant God se koninkryk verhef nie.”
Freddie hoor ook die geldlaai by ontvangs en die steun van die kluisdeur wanneer Eaglejohn Fieldhouse, hotelbestuurder, dit oopswaai. Dis die steun van grootgeld, dink Freddie altyd, kyk weg en stel sy ore eerder in op die duifswerms wat verbykom: hoe die lywe fluit deur die lug.
Hy dink aan die David Rawdon-derby wat voorlê, of die Verneukpan-derby, of die grote: die Suiderkruis.
Hy dink aan die stereostel en Diana Bedroom Suite wat die wenduif se baas sal wen.
En wanneer die Morrissie soggens aankom, trek hy sy regterhandskoen uit, stap na binne, kry die brekfisklok met sy swaar bel, bring dit na buite en kondig ontbyt aan.
Die slaperige stedelinge kom die trap af. Hulle kom sit onder die eetkamer se hoë plafon wat aan die kamer die akoestiek van ’n konsertsaal verleen. Fluisterend en babelas sit hulle en gesels oor die borde spek en eiers en teug aan glasies geel lemoensap.
Terwyl die kelners als moet uithaal om die tafels tevrede te stel, hou die Morrissie om die draai stil, weg van die Lord Milner se voorkant met sy balkonne en vensters en besoekers wat in hierdie kaalte elke beweging gretig waarneem.
Miss Edelweiss klim uit en in haar pofmoubloese met die Beierse stikwerk voor en die ligte rokkie lyk sy van ver af jonger as wat sy is; tenger en fyn, asof sy deur die wind weggewaai kan word. Dis net wanneer jy naderkom dat jy die plooie sien en besef sy stap aan in jare, en jy skrik effe, want die oë lyk soos dié van ’n steenbokkie in ’n motor se kopligte. Die are oor die spierwit arms is blou, en sy lyk nie soos ’n vrou wat haar lewe in Afrika slyt nie. Sy’s te bleek, te broos; die oë helderblou met die lig van ’n milder wêreld daarin. Maar weer eens, as jy digby is, sien jy dat die angste van hierdie geweste oor die helderblou van die Duitse irisse kom lê het. Miss Edelweiss se oë het ’n glinsterlagie. Die wydoop kyk van aanhoudende skrik.
Iedere môre maak sy die Morrissie se agterdeur oop en tel die bossie veldblomme versigtig uit. Dis meestal maar vygies en kalkoentjies en geraniums, en sommer doringboombloeisels of ’n klompie blare as dit erg droog is, en in die lente peerboombloeisels uit haar tuin op Hochschule.
Sy stap agter die hotel om na die kapel neffens die groot grasperk agter die koffiehuis. Die kapel sit op die rivier se wal, by klipplate en bloekomtakke wat laag hang; in stilte. Dis klein, met sitplek vir minder as twintig mense; dit maak om jou toe met ’n vertroude vertroosting. Daar is ’n klein orreltjie en ’n kateder uit swart hout. Voor die kerkie staan ’n standbeeld van ’n dogtertjie in ’n poel water, en neffens ’n peperboom hang ’n groot klok tussen wit pilare.
Miss Edelweiss gooi die vorige dag se blomme uit en tap nuwe water in die vaas wat sy self, jare terug, daar kom neersit het. Die vars blomme kom langs die besoekersboek by die ingang. Dis die soort kerk wat meestal deur reisigers besoek word, toeriste wat onbeholpe daar staan voor die houtkruis teen die muur. Of klein huwelike; meestal geskeides wat met ’n paar vriende hier weer kom probeer; of weduwees en wewenaars wat die laaste ent saam wil deur. Groot bruilofte vind nie hier plaas nie; dis te afgeleë, gewoon te klein; die atmosfeer hier is nie een vir bruising en viering nie. Jy kom hier sit as jy al geleef het.
Dan gaan sit sy. Niemand weet wat sy soggens daar in die kapel uitpraat nie, maar die konsensus is dis gewigtige sake. Vir die halfuur dat sy daar sit, keer die hotelpersoneel besoekers suutjies van die kapel af weg. “Daar’s privaat devosies aan die gang,” sê Miss Paai aan besoekers wat ná ontbyt soontoe wil dwaal. “Gee nog so ’n kwartiertjie.”
Waar hy op sy pos staan, kyk Freddie op sy goue horlosie (twintig jaar ononderbroke en getroue diens aan die Lord Milner, ook al weer lank terug) en verklaar: “Oor twintig minute is Gods huis oop.”
Aan die einde van haar devosies gaan Miss Edelweiss by die orreltjie sit. Sy vou haar hande met sulke bidpunte hier by haar neus saam, ruik aan die vingerpunte en sak dan oor die klawers.
Baie is af te lei uit die liedkeuse van die dag, en die hotelpersoneel spits ná al die jare steeds die ore om te hoor wat oor die grasperk aangesweef kom. In tye van nood – soos toe die Baviaansrivier soveel verlangse en nabye familie by Laingsburg weggespoel het – druk die stuk die gevoelens van Matjiesfontein se mense uit.
Die orrel praat vir ons, sê die mense graag; hy spreek ons droefnis en ons wense uit. So word Miss Edelweiss weervoorspeller en sterftebegeleier, aankondiger van geboortes en goeie reëns, waarskuwer oor sprinkaanplae en afdwaling van Gods weë.
En soms speel sy haar eie dinge uit, en niemand verstaan nie, maar hulle keer die besoekers weg en wag tot als bedaar het en jy weer die tortelduiwe in die bome kan hoor.
Wanneer sy klaar het, kom sy bleek en bewerig in die kapeldeur staan. As daar dan besoekers op die verste rand van die grasperk staan, bly sy eers in die kapel agter, vroetel met die blomme en die besoekersboek totdat Freddie bedagsaam kom en die mense met praatjies oor Lord Milner se porseleinhande weglok.
Dan glip sy weg, oor die klipplate in die rivierbedding, anderkant om, poskantoor toe.
Daar staan sy by die klerk, wat by Unisa ingeskryf is en die stil ure omstudeer. “Guten tag, Booichen,” sê sy aan Snaartjie se broer, Booitjie Windvogel. “Enige briewe van die eiland Sylt vandag, my seuntjie?”
Soos hy ses dae per week teenoor haar doen, maak Booitjie groot gebaar van kyk in die poshokkies agter hom. Hy draai na haar en verklaar plegtig: “Niks vandag van die eiland nie, Miss Edelweiss.”
*
En dis Miss Edelweiss se eerste instink om van die groepie verontwaardigdes voor die hotel weg te breek daar waar hulle staan en tol al om Snaartjie se verdwyning.
Sy wil om die hoek, oor The Mews se gras verby – sommer deur – die skrikkwikkies in die koel holte van die kapel in. Daar wil sy die flennie van die orrelklawers afhaal en haar deurmekaar by haar vingers laat uitvloei, totdat daar bedaring kom, totdat haar gemoed skoon is, en sy weer kan dink.
Maar nou is Eaglejohn Fieldhouse, die hotelbestuurder, daar. Vernaam en dramaties, ’n drama queen so uit die boek. Hy swaai sy manel (wat hy nie meer dra nie) en lig sy pluis (wat hy Freddie laat erf het) en streel oor sy hare (wat ook met die