Glipstroom. Anemari Jansen

Glipstroom - Anemari Jansen


Скачать книгу
p>

      Glipstroom

      Anemari Jansen

      Human & Rousseau

      Vir Chris

      Kavango

      “Goeie bliksem!” Seun ruk die stuurwiel wild na regs.

      My hart vlieg in my keel en ek gryp na Louis se been. ’n Dragtige teef van onsekere herkoms het reg voor die bakkie ingehardloop. Sy bly staan in die middel van die pad en kyk ons agterna. Seun ry stadig verder.

      “Ek moes sommer bo-oor haar gery het. Hierdie rondloperhonde teel aan soos hase.” Hy loer weer in die truspieëltjie na die teef.

      “Is jy mal?” Ek kyk na sy ken wat vorentoe beur. “Nee, man. Mens kan hulle liewer steriliseer of iets.”

      Louis lag. “Dis flippen onmoontlik, want hier is presies een veearts op Rundu. En die gebied wat hy moet bedien, is enorm. Die lot van weggooihonde sal die laaste ding op sy brein wees.”

      “Maar is hier dan nie ’n DBV nie? Of iemand wat omgee nie?” Ek kyk agtertoe. Sy staan steeds daar, ’n maer bont hond met tepels wat op die grond sleep. “Ag nee, tog.”

      “In hierdie wêreld is daar nie plek vir jammerte nie. Die swakkes en luies val uit of vrek.” Louis teug stadiger aan sy tweede gemmerbier.

      “Survival of the fittest,” lag Seun.

      Ek kyk terug. Sy het gaan lê.

      Air Namibia se Beechcraft 1900 vibreer soos ’n swerm Afrikabye toe die vlieënier die wiele laat sak. Die vliegtuig swaai en stamp op die gelapte aanloopbaan.

      “Hier is ons,” brom Louis. Die vliegtuig gee ’n laaste ruk.

      Ek kyk op met seer ore en borste wat pyn. Ek is gatvol gevlieg en my maag kramp. Teen hierdie tyd gooi ek al ’n volle halfuur op, my hande en derms in ’n spasma geknoop.

      “Ek sukkel nooit met die vlieëry nie.” Louis kyk na my en frons. “Maar party mense suffer. Willem is ook so. Vir die geringste ding kots hy wanneer ons vlieg. Wag, vee net eers jou mond af. Vat my sakdoek.”

      Ek vee my gesig af en trek my hand deur my hare. Louis hys hom op toe die vliegtuig tot stilstand kom en haal ons drasakke uit die oorhoofse rak.

      Ek kom regop en leun met my elmboog op die rugleuning van ons sitplekke. Die ander passasiers ruik na sweet en tamheid.

      “Wag vir my. Vat my sak aan.” Ek slaan my arms om my lyf toe ons tussen die bondel mense uitklim. Vreemd en onveilig, onvas op my voete.

      Ons stap oor die grof geteerde aanloopbaan na ’n lang ry grys geboue. Militêre styl. Daar is nie sprake van tuin nie. Die lughawegebied lyk verwaarloos, vergete.

      “My hemp plak al aan my rug vas van al die sweet.” Ek klou aan my handsak en slapbandboek en drafstap agter Louis se bene aan.

      Binne is die lug louwarm. Die lughawepersoneel verjaag die vlieë wat op hulle koffiebekers se rande kom saampak. Louis raak ongeduldig en piets met sy hand teen sy been. Sweet slaan op my bolip uit. ’n Man kom verby met ’n trollie en stamp teen my bene. Ek tree vorentoe en vou my hande oor my maag.

      Louis kyk hom fronsend agterna. “Ongeskikte vark.”

      “Jissie, maar dis warm. Anders warm as by die huis.”

      “Jy weet dan. Januarie en Februarie is die warmste maande hier. Mens sterf byna uit. Kom, ons moet hierso deur.” Louis laai ons tasse op ’n trollie.

      “Besef jy dat hierdie hele trip, van Jan Smuts-lughawe tot op Windhoek, toe na Eros-lughawe en toe die vlug tot hier op Rundu, al langer as nege uur duur?”

      Hy knik. “Ek weet. Dis moer ver. En ons is nog nie eens daar nie.”

      “Dis nogal iets om aan gewoond te raak.”

      ’n Harige jong man in werksklere en met oë diep onder sy pet kom aangestap. “Môre, Louis, hallo …”

      “Ja, Seun. Dis Maja, my vrou. Maja, Seun is die site se blougat. Dit beteken hy is die nuutste op die job en nou moet hy al die vuilwerk doen, soos om ons te kom haal en so aan.” Louis glimlag vir hom en gee hom ’n lomp klop op die skouer.

      Ek stap agter die mans aan.

      Ons vertrek in ’n wit Toyota-enkelkajuitbakkie en hou eers vir koeldrank in die dorp stil. Dit wemel van vier-by-vier-voertuie by die garage oorkant die straat. Daar is ’n hele paar Boesmans ook, waarvan Louis al vertel het. Die meeste het met die beëindiging van die Bosoorlog hulle werk as soldate, en die gepaardgaande inkomste, verloor. Hulle hang met pap skouers by die garage rond. Verkwansel miniatuurpyle en -boë. Ek voel jammer vir hulle. Dit voel vir my asof ek ook soos hulle lyk, uit plek, en ek koop deur die venster drie stelletjies by hulle.

      Louis kom met ’n armvol koeldrankblikkies uit die supermark aangeloop.

      Ek skuif op toe hy inklim.

      “Op hierdie paaie ry mens nie sonder proviand nie.” Stof warrel van die bakkie af toe hy die deur toeslaan. Hy gee vir my ’n Tab aan en drink sy Stoney-gemmerbier met twee of drie lang slukke leeg.

      Seun lag hard. “Dit kan jy weer sê.” Hy vat ’n blikkie Coke by Louis aan, knak dit met een hand oop.

      Toe ry ons, rigting oos.

      Die stuk pad wat gebou word, se beginpunt lê honderd en dertig kilometer van Rundu af in die rigting van Katima Mulilo. So beduie Louis.

      Ek verkyk my aan die grensdorp terwyl hy kommentaar lewer. Die huise hurk diep en bewegingloos in die erwe. Nêrens roer ’n siel nie.

      “En wat is die storie met die Boesmans?” Ek skud my koeldrankblikkie en vat ’n laaste sluk. “Hulle het vir my regtig sleg gelyk daar by die garage. Verwaarloos.” Met my ander hand frommel ek ’n wolletjie tussen my wysvinger en middelvinger.

      “Eks- Suid-Afrikaanse Weermaglede van 201 Bataljon. Hulle is mos briljante spoorsnyers. Die Vasekela-Boesmans is uit Angola en die Barangwena van die Kavango. Hulle uithouvermoë op die spoor, hulle stamina, was legendaries. Maar nou is daar niks oor nie en baie van hulle suip net. Die plaaslike ouens en die Boesmans is nie dik pelle nie. Ek weet nie. Hulle omstandighede is haglik.”

      “En niemand gee om nie,” sug ek en kyk rond. Agter in die verlate dorpserwe is tekens van die bomskuilings van sand en sement, net soos by die vulstasie. Ek leun effens vorentoe. “Waarvoor word dit nou gebruik? Dit lyk vir my nes miershope. Of reusebrode van modder. Speelgoedhuise.”

      “Dis destyds deur die weermag vir die inwoners opgerig. Waarvoor dit nou goed is? As ’n stoorplek of ’n bakoond of ’n goeie skuilplek vir wegkruipertjie speel? Ek het nog nooit daaroor gewonder nie.” Louis fluit wysieloos deur sy tande.

      Die tuine is sanderig, slordig en sonder gras. Hier en daar groei bosse malvas of vetplante.

      “Die dorp lyk moedeloos.”

      “Ai, net jy wat so sal redeneer.” Louis lag effens en fluit verder. “Of miskien het ek al gewoond geraak hieraan.”

      Net die eerste twintig kilometer van die Caprivi-pad is geteer. Ek voel vroliker toe ons die grondpad slaan. Ons skud heen en weer in die bakkie. Dit is tog ’n avontuur. ’n Ekspedisie in die wildernis. Iets waaroor mens ’n gedig of ’n storie kan maak; die romantiek van die uitgestrekte vloedvlaktes langs die Okavangorivier. Daar móét iets aan die plek wees wat my sal bekoor. Want die onbekendheid van die jaar wat kom, lê soos ’n beneuktheid oor my. Dit versmoor my, wil nie skietgee nie.

      Middel 1992 is Louis deur sy konstruksiemaatskappy na die Caprivi verplaas om honderd en dertig kilometer van die nuwe Trans-Caprivi-hoofweg tussen Rundu en Katima Mulilo te herbou. Die ou Goue Hoofweg, of B8. Praat van ’n uithoek van die aarde. Ek moes dit gaan opsoek, die welluidende, vreemde name: Shinyungwe, Bagani, die Popa-watervalle, Katima. Wilde wêreld. Bosoorlogplek. Sonder kaart en transport vir my, as ’t ware. Tydelike reisigers in ’n padkamp, dit sou ons wees, het ek uit Louis se vertellings verstaan. ’n Stippeltjie op die grondpadslagaar waaruit die gebied opgegradeer sal word sodat besoekers aan die oostelike wildernis gemaklik kan


Скачать книгу