Glipstroom. Anemari Jansen
aan die passasierskant van die bakkie. Op die bakkie se vloer rittel die leë koeldrankblikkies. Die geluid is vaagweg hoorbaar bo die geraas van wind wat by die oop vensters inblaas. Louis het sy arm agter verby my skouers. Sy aandag is by Seun. Hulle gesprek gaan oor die job, hoe die oprigting van die kamp en die werkerskamp vorder, wie al daar aangekom het en watse masjinerie op pad is. Tussen die twee mans huiwer ek op die rand van woorde. Kort-kort verskuif ek my bene. Spoeg stoot in my keel op.
Ons gaan teen Maart 1993 net meer as dertig mense in die padkamp wees. En in die werkersverblyf langsaan nog sowat vyftig arbeiders van Suid-Afrika. Die res van die werkers sal Kavango’s wees.
Die padkampinwoners gaan bestaan uit die verskillende voormanne, ’n opmeter of twee en masjienoperateurs. Ek vra uit, probeer verstaan. Watse masjiene? Gaan al die operateurs gelyktydig daar wees? Wat is die probleem met die gruisgate?
Daar is ook twee of drie gastekamers vir die grootbase en tydelike werkers, sê Louis. Die laaste padkampgeriewe moes so gou as moontlik opgerig word. Almal moet slaapplek hê. Hy draai sy gesig na die venster en maak keel skoon. Die projek moet binne ’n bepaalde tyd voltooi word. Hy praat vinnig, leun vooroor. In konstruksie is tyd geld. Sy elmboog druk in my sy. En sy spanning maak dat ek net hier in die bakkie wil opgooi.
Die bakkie ruik na diesel en ou stof, die vere protesteer op die sinkplaatpad.
Ek het weggedommel tussen die manslywe. Skrik eers wakker toe ons by die klooster op Nyangana stop.
“Wilkommen in Namibia,” groet ’n Kavango-man toe Louis die bakkiedeur oopmaak. Die man lyk netjies en trots in sy vaalgrys uniform.
Louis kyk na my. Sy oë uitdagend. “Kom. Wees versigtig wanneer jy uitklim. Die bakkie se kante is vol stof.”
Hy het klaar besluit dat ek van hierdie stuk aarde gaan hou. Ek sluk en vee my voorkop met die agterkant van my arm af. In die truspieël staan my hare droog soos gras om my kop gewaai en my gesigvel voel styf.
Vader Buchner verskyn aan die oorkant van die grasperk en stap stadig nader. Die kloostertuin blom oorvloedig. Kappertjies en malvas, rose, bone, wortels, knoffelblomme en pampoen wat lukraak langs mekaar voortplant. Alles om my is skakerings van groen; die verweerde kloostermuur, die lang, ruie gras. Selfs die lug het ’n groen skynsel. Ek haal my sonbril af. ’n Tuinier probeer met ’n enkele tuinslang die belangrikste plante in die tuin water gee.
“Welkom by ons huis,” sê die kloosterhoof ook en kyk my vas in die oë. Sy hand voel sag en benerig toe hy dit om myne vou. “Dit is goed om jou te ontmoet.” Hy draai na Louis. “Welkom terug. Jy sal jou vrou die kamer wys?”
Ons stap deur ’n suurlemoenboord na ons kamer in ’n lang gebou met ’n lae dak en rye kamers soos in ’n koshuis. Dit is waar die jong Duitse en Nederlandse nonne bly wat op die sendingplaas kom werk, vertel Louis. Vrywilligerswerk in Donker Afrika, die mistiek daarvan steeds onweerstaanbaar vir die Europeërs. Ons kamer is aan die punt van die gang. Twee grys kateltjies staan teen mekaar. ’n Houtkassie met ’n kers in ’n blaker en vuurhoutjies daarop staan langs die beddens. Teen die oorkantste muur is ’n houthangkas met ’n kakiehempsmou van Louis wat uitsteek. Daarnaas ’n kantoorstoel met ’n uitgeholde sitplek. Louis het ’n foto van ons twee op die vensterbank staangemaak. Ons lê in vlak branders en lyk sorgeloos. Dit was die seevakansie saam met my ouers, my suster Maryke en Louis, net voordat ons getroud is. Ek kyk weg, buitentoe. Die vensters met die bruin gordyne maak op die boord oop.
Die kragopwekker stotter skielik terwyl Louis die twee tasse teen die kas neerplak. Ek ruk van die skrik. Deur die boord sluip ’n donkergrys kat.
Louis draai sy gesig na sy kraag en maak keel skoon. “As jy nog wil hare was of bad, is dit nou die tyd. Gewoonlik is daar net tot negeuur krag. En ons kan nie laat wees vir aandete nie. Die Duitsers is nogal erg gesteld op reëls.” Hy sit sy aktetas op die lessenaartjie neer.
“Oukei, moenie worry nie, ek sal gou maak.” Ek loer na die horlosie aan my pols. My lyf voel soos een groot blou kol. Ek stap met ’n handdoek na die gemeenskaplike badkamer verder in die gang af.
Stiptelik om halfagt kondig die kloosterklok aan dat aandete voorgesit gaan word. Ons stap agter twee van die susters aan die eetsaal binne. Uit die skemerte stuif die klam grondreuk van natgeleide gras.
Die vertrek is asketies gemeubileer. Aan die langwerpige tafel is sewe plekke voorberei. Vader Buchner neem eerste plaas, aan die koppenent van die tafel. Daarna gaan sit die res van ons. Suster Inge, suster Heike en nog twee ander wie se name ek nie mooi hoor nie. Die jonger non, Heike, loer onderlangs in Louis se rigting toe ons plaasneem. ’n Fladdering onder die blonde wimpers. Louis kyk vinnig op. Ek voel die glimlag om my mond trek. Die goddelike drang van begeerte ontsien niemand nie.
Twee Kavango-mans, geklee in skoongestrykte, lospassende wit klere, bedien ons in Duits. Dinsdagaand. Dus is daar frikkadelle in ’n soetsuursous, rys en groente uit die tuin. ’n Vaste spyskaart en ’n goeie kok, het Louis verlede jaar al oor die telefoon vertel.
“Jy sal mal wees oor die suurlemoenstroop,” fluister hy. “Vars uit daardie boord langs ons kamer.”
“Ons moet die resep kry,” glimlag ek en skink my glas vol.
Ons kry elkeen ’n taai broodjie op ons kleinbordjies. Dit word daagliks gebak. Die ete is eenvoudig en smaaklik. In die stilte wat volg nadat die klank van opskeplepels teen skottelrande bedaar het, kan ek my tafelgenote tydsaam hoor kou en sluk.
Ek is honger maar kan nie veel inkry nie. Daarvoor is die omstandighede te vreemd. Ek sit tussen mense maar is uit pas met hulle ritme. Dit voel op ’n manier na ’n vakansie, ’n avontuurkamp, so met die kragopwekker wat netnou afgeskakel word. Koloniale beskaafdheid hier binne. Buite is die onbeperkte, uitgestrekte vlaktes van Moeder Afrika. ’n Herverkenning van die oerkontinent. Ek moet fokus op die feite, die harde werklikheid, die ware rede vir ons besoek.
Die sap bring lafenis teen die hitte wat nog broei. Om die tafel is dit eers stil maar ná die maal begin die vroue geleidelik gesels.
“My suster skryf vir my …”
“Die kliniek moet môre vroeër oop …”
“Het jy gehoor van die Hollander-gesin wat met hulle vier kinders op pad hierheen is?”
Ons stoele skraap oor die sementvloer toe ons opstaan.
Die massiewe, handgekerfde houtbak by die deur bevat sewe Granny Smith-appels. Die vrank sap laat my wange saamtrek toe ek deur die skil byt. ’n Rilling trek teen my ruggraat af. Ons hoor die paddas en krieke buite. Ek asem diep in en ruik ’n vreemde land.
“Louis,” roep Vader Buchner sag agterna. “Bly gerus vir koffie en ’n kuiertjie saam met my. Ek wil die kontrak met jou bespreek.”
Louis draai na my. “Sal jy solank kamer toe gaan?”
Hy moes nog ’n paar finansiële sake met Vader Buchner bespreek, het hy vroeër in die bakkie vertel. Louis moes hom help om die Nyangana-oprit te skraap en die kliniek te vergroot.
“Natuurlik.” Ek stap vinnig deur die skemer tuin na ons kamer.
Oral om my is die sagte stemme van mense by hulle woonplekke. Daar is nou twee katte in die boord. Dit lyk asof hulle iets bekruip. Die haartjies op my arms staan regop.
Dit ruik na stof en kookvure en veld. Die wêreld is groener as wat ek my dit voorgestel het. Die res van Namibië is semiwoestyn. Maar hier op die vloedvlaktes van die Okavango groei die veldgras en lae struike geiler, is die bome teenaan die rivier hóóg. Eindelose vlaktes. En tussendeur die groepe hutte van bestaansboere, werwe netjies gevee. Takkrale vir beeste en bokke. By elke groep hutte is daar ’n badhuis – die afskorting ooghoogte en ’n opening bedek deur lap of ’n takdeur – waar die wasrituele plaasvind. Die hoofman van die familie woon apart in sy eie takomheining. Beesskedels word aan die takheinings vasgemaak, het Louis vertel. Hoe meer skedels, hoe ryker en vrygewiger is die familie.
Motte fladder teen die buitelig toe ek die kamerdeur oopstoot. Ook pouoogmotte, net soos dié in die Soutpansberg. Ek hou die agterkant van my hand