Glipstroom. Anemari Jansen
stap ek uit. Hou die panty saggies teen my lyf vas. By die deur kyk ek om; dit lyk soos ’n slagpale. Bloed op die vloer en teen die toilet. Word naar, vlug, vlug.
Phineas vat my aan die arm. “Toe nou, toe nou. Hierso. Drink die teetjies. Ek sal skoonmaak.”
Ek brand my lip teen die blikbeker, mors. Eina. “Jammer.”
“Ek gaan iemand stuur om vir Louis te gaan haal. Dat hy hierso kan wees by jou.”
Ek skrik, kyk op, mors weer tee. “Nee! Nee, asseblief nie, Phineas. Hy …”
“Hy weet nog nie.” ’n Stelling.
“Ja. Hy weet nog nie, ek het hom nog nie vertel nie.” Kyk af. “Ek wil nie hê hy moet weet nie,” smeek ek. “Moenie hom vertel nie, Phineas, asseblief, moenie. Louis het al klaar te veel worries. Hy mag nie weet nie; dis beter so. Hy hoef nie te weet nie, nooit nie.” Hoopvol. “Dis ons geheim.”
“Ek sal nie praat nie. Maar ek verstaan nie hoekom jy nie vir hom die dinge vertel nie. ’n Man moet weet.”
Ek kyk af. “Phineas, jy sal my moet help. Ek moet die babatjie … Ons moet hom iewers gaan begrawe. En ek voel nie lekker nie. Die bloed kom heeltyd uit my uit. Asseblief, help my.”
Hy staan op. “Ek gaan gou die badkamer skoonmaak. Jy sal moet klere aankry. Sit hierdie ander handdoek onder jou. Louis gaan nou-nou hier aankom. Bêre die babatjie; ons sal hom môre begrawe.”
Ek vou die panty oop en proe bloed in my mond. Dit kan nie wees nie. Hoekom het my lyf dit gedoen?
Vlerke klap in my bors. Motte bons teen my ribbekas. Iets soos ’n feniks styg op en ontsnap deur my mond. Ek hoor die plofgeluid van my asem. My kop sak terug teen die rusbank en my oë gaan toe.
Soutpansberg
Die lewe in ’n plattelandse dorp is plesierig. Veilig. Voorspelbaar soos mis oor die Soutpansberg of naguiltjies wat in die nanag roep.
Sesuur en ek sit in die bed met my koffie op my knie gebalanseer. “Colette het my van ’n kunstenaar vertel, ’n ou wat sy ken. Hy werk grafies en doen vreeslike mooi goed van die vertrekke in mens se huis. Of die huis of gebou se aansig. Hy bly op ’n plaas iewers en sy wil hê ons moet uitry soontoe.”
Louis luister nie. Hy kyk nie na my nie, trek aan vir werk. Kakiebroek en hemp, stapstewels en dik kouse. Sy kop reeds by die dag se uitdagings. Sy kouse raak dun. En die stewels is vol bitumenkolle. Ek wikkel tot ek gemakliker teen die kussings is en haal diep asem.
Louis kom sit langs my op die bed se rand om sy stewels se veters stewig vas te trek. Hy ruik na deodorant en tandepasta. “Het jy onthou om die versekering te bel oor die kar?”
“Ek het dit lankal gedoen.”
“Wanneer laat hulle ons weet?” Hy voel-voel oor die stoppels op sy ken.
“Man, ek weet nie. Maar wat dink jy van die kunstenaaridee?”
“Ons gaan vanmiddag fietsry. Opdraandes. Dis te sê as die weer hou. Ek sal laterig by die huis kom, oukei? Ek gaan sommer my fiets op die bakkie laai.”
“O ja. Hoe is jou nuwe fiets?”
Hy staan op. “Billik. Ek raak dit nog gewoond.”
Ek sit regop. “Luister eers. Ek gaan daardie kunstenaar vra om iets te maak van ons berghuis. Iets wat ons aan hierdie plek kan herinner. Maak nie saak of dit van binne of buite is nie. En ek sal eers hoor wat sy fooi is. Wat dink jy? As dit nie te duur is nie.”
Weer op, badkamer toe, venster toe. Dit lyk glad nie of hy my hoor nie. Sy kasdeure lê oop en die pajamas is van die badkamer af oor die vloer gestrooi.
“Ag, ek weet nie. Klink vir my soos geldmors. Hy is waarskynlik ’n fly-by-night as hy hier bly.” Ná ’n soen op my voorkop is hy by die kamer uit.
“Ek kan net so wel met die man in die maan praat,” mompel ek en skuif onder die lakens in.
Louis loer weer om die hoek. “Kan seker nie kwaad doen om te gaan kyk nie. Moet net nie wild en wakker koop nie. Ons sal ’n ander wasmasjien móét koop. Ek kry nie meer hierdie een gefix nie.” Hy glip uit. “Tarra, ons praat later.”
Deur die venster sien ek hom haastig in die bakkie klim met ’n toebroodjie en ’n paar nartjies in die hand. Die fiets is reeds agterop gelaai. Altyd haastig. Louis dra sy werk in hom rond soos ’n ekstra persoonlikheid.
Ek sug en draai die duvet weer om my lyf. Louis spook in my gedagtes. Grootgeword tussen mense van edele inbors. Die derde kind in ’n gesin van vier broers. Pa Koos Jonker was ’n man met weerbarstige wenkbroue en ’n swaar hand. Soos ’n stamvader. Louis moes van jongs af in sy spoor trap. Op ’n stadium het hulle daagliks pak gekry, vertel hy, vir die wis en die onwis, net ingeval hulle onnutsig is. Louis het sy pa se hand geskud wanneer hulle groet.
Sy ma, Elma, was klein en blond. Hoe sy met daardie seningrige lyf vier seuns gebaar het, is vir my nou nog raaiselagtig.
“Onafhanklik en sensitief,” het sy my van Louis vertel. “My mees sensitiewe kind. Ek het my bekommer toe hy by die polisie aangesluit het, oor die dinge wat hy sou sien en hoor. Hulle het die jong rekrute verskriklik verskree. Maar as daai kind eers ’n idee in sy kop gekry het, is dit verby. Mooipraat help nie.”
“En was hy oukei?” het ek gevra.
Haar oë het donker geword. “Hy het niks gepraat nie. Niks. Maar iets in hom het gebreek.”
“En die ander drie?”
“Almal verskillend. Peet is die ander een met ’n sagte hart. Maar Louis is my alleenkind, die gevoelsmens.”
Die seuns het vroeg al self kosgekook en huis skoongemaak. Elma het Koos verafgod. Ná sy dood vier jaar gelede het sy hom binne maande gevolg.
In die wind by die graf het Louis ná die teraardebestelling na my gedraai, die blou oë nes sy ma s’n: “My engel, nou is jy al wat ek het. Nou is ons twee die familie.”
Ek het hom styf vasgehou. “Dis reg, alles reg, dis oukei. Maar wat van Peet en Pieter en Johan?”
Hy het sy gesig in my nek gedruk. “Man, ons klomp broers … Wel, ons was nog nooit eintlik close nie. Ons het nog nooit veel vir mekaar te sê gehad nie. Miskien net ek en Peet. Nou gaan dit seker erger wees. En ek dink ek is gelukkiger by jou.”
Ek swaai my voete van die bed en stap badkamer toe.
Louis was vir my ’n uitdaging. Ouer as ek, het later begin swot. Was eers in die polisie vir ’n paar jaar. Die slim, stugge man, in homself gekeer. Eiesinnig en gekompliseerd. Ek het verlief geraak op die idee van sy lenige lyf, die gemmerkleurige hare, sy ingehoue manier. En toe hy my vertrou, die heerlikheid van in ’n verhouding wees.
Maar van wanneer af kan hy nie stilsit nie? Op en af in die huis. Dan bergin vir ’n staptog, dan uit op die fiets, dan terug site toe om te gaan seker maak alles loop reg. Hy bly in beheer. Die kwaai luitenant met die ouens op site. En nou het die humeurigheid oorgespoel na ons huis toe. Selfs ek moet op aandag staan.
Ek maak die badkamerkassie oop, haal my dagroom uit. Trek ’n borsel deur my hare wat hardkoppig krul.
Ek verlang na die studentedae toe ons kon laat slaap, ’n rugsak pak en gaan piekniek hou in die Magaliesberg. Staptyd, geselstyd. Kuieraande met kerslig. Dit verg energie om iemand lief te hê wanneer saaklikheid en stres kop uitsteek. Ek het laas in Pietersburg, sy grootworddorp, saam met hom fietsgery. Vandat hulle oefen vir volgende jaar se Argus is die ouens op site sy fietsrymaats.
Ek stap kombuis toe en skakel die ketel aan. Die papkrummels, koffie en suiker lê oral rond soos Louis gebrekfis het. Ek ruim op en gaan sit by die kombuistafel.
Hy strooi klere, kos, sleutels en sy beursie rond waar hy ook al ’n plek kry. Maar sy werk en lewe beheer hy met ’n ysterhand. Hy verwag van my om ook so te wees. ’n Geliasseerde lewe te lei. Fisiek en emosioneel onafhanklik. Swem of sink,