Glipstroom. Anemari Jansen
“Fiksie sny soms te na aan die been.” Lem strek sy lang lyf uit.
Ek wil hom nog nie vra om ’n skildery vir my en Louis te maak nie. Miskien hou ek nie eens van sy werk nie. Die man is vreemd. En dit help nie om op Colette se mening staat te maak nie.
“Kom ons stap deur studio toe. Gee my jou hand, dan trek ek jou op.”
Met die optrek, sy bruin arm om my middel, die ander wat my hand styf vashou, ruik ek hom. Iets smerigs, soos terpentyn en olywe. Dieselolie.
Hy pen my vas met sy oë. “Jy’s ’n steenbokkie,” sê hy sag by my oor.
Ek voel eerder soos ’n bok in karligte. Net so skielik laat hy my los. Toe is hy ’n paar treë voor my, byna by die studio.
Ek nies en struikel toe ek oor die ateljee se drumpel stap, gryp na die kosyn. Lem gesels met Colette. Ek kry die gewaarwording dat ek die plek ken. Die dansende stofdeeltjies, die reuk van olieverf en terpentyn, die grein van die houtdeur. Dit resoneer met ’n ou gevoel op die krop van my maag.
Maja, alewige deurmekaarkop. Dromer, dwaler. Die vrou met ’n vlek soos ’n steranys in haar nek. Iets vreemds en droogs kom sit in my keel.
Daar staan omtrent sewe groot doeke rond. En die studio is oorrompelend. ’n Ou skuur wat oorgepleister en geverf is met baie lig wat deur hoë vensters inval. Die lig laat my dink aan Johannes Vermeer se dakstudio soos dit in skilderboeke beskryf word. Diffuus. Tussenin lig wat mens allerlei dinge laat vermoed. Heilige lig.
Ek word bewus daarvan dat hulle met my praat. “Jammer, julle.” Vryf oor my oë en skuif nader aan Colette.
Lem hou ons stip dop. Die Heathcliff-oë het my van balans af. Ek wil wegkom van die plaas en die man wat my deurskynend laat voel.
Colette se hande beweeg onrustig. Sy stap vooruit na die plaashuis, woel haar hande deur haar hare. “Maters, dis rytyd. Ons sien jou darem volgende week by die kunsvereniging se vergadering?” vra sy in Lem se rigting. Sy kyk na haar horlosie en grawe haar sleutels uit haar handsakkie.
Ek verdwyn in die rigting van die badkamer. Toe ek terugkom, hoor ek flertse van ’n gesprek.
“… jou ma-hulle.” Lem, driftig.
“Komaan, man, moenie maak asof …”
“Ek het jou gesê, die verlede is ’n ander wêreld.”
Colette draai om toe sy my voetstappe op die plankvloer hoor. Haar oë is wyd oop.
Lem bly dadelik stil, toe draai hy weg.
Die middag se skadu’s lê in strepe oor die werf. Beesklokke in die verte en werfhoenders wat skrop in die gras. Tog maar ’n doodgewone plaas.
“Ek sien julle by die vergadering Woensdag.” ’n Vinnige glimlag. “En ry versigtig. Die pad is vol slaggate deesdae. Ek het nou die dag byna ’n wiel afgeskryf.”
Die labradors draf saam-saam in die tweespoorpad voor die kewer uit. Hulle lywe raak aan mekaar.
Lem loop met lang treë om die werf se draadhek toe te maak toe ons deur is.
Ons waai ’n laaste keer en kyk na die honde wat teen hom agter die hek bly staan.
Colette het ’n befoeterde frons. Sy ry dat die klippe spat.
Ek draai skuins in die sitplek. “Is jy oukei? Pasop vir die slaggate.”
Sy sug. “Min of meer, ja.” Sy vryf haar oë en mis ’n slaggat rakelings. Die Volksie wip oor die padskouer.
“Wil jy hê ek moet bestuur?”
Haar oë vernou. “Dis nie nodig nie.”
“Ek wonder al heelmiddag. Wat weet jy van hierdie Lem af? Hoe ken jy hom? Van universiteit af of iets?” Ek vryf donsies van my hemp in bolletjies tussen my vingers.
Sy draai haar lyf weg van my. “Daar is iets wat my pla van die skilderye. Hy is net té …” Sy skud haar kop en pers haar lippe op mekaar.
Kavango
“Right.” Louis tik-tik ongeduldig met sy pen op die lessenaar, skryf toe iets neer. “Yes. Maak so, Quintus. Sien julle netnou. Ja. Ek stuur vir Rian met die bakkie. Cheers. Ja, ek sal.”
Ek stap by sy oop kantoordeur in. “Kan ek gou bel, seblief?”
Hy kyk oor sy bril na my en sit die pen neer. “Ja, natuurlik. Ek gaan uit site toe. Nie te lank nie, hoor; Quintus-hulle is op pad van Mpacha af.” Die kantoordeur klap agter hom toe.
Gruis spat toe hy wegtrek.
Ek gaan sit voor sy lessenaar. Die hele oppervlak is besaai met dokumente, kaarte en berekeninge. Hoe weet hy wat hier aangaan? Ek haal diep asem en skakel die bekende nommer.
“Hallo?”
“Fya? Fytjie, is dit jy?”
“Maja Jonker. Slaan my om met ’n pap snoek. Hoe gaan dit? Wag, ek roep eers gou vir Magda!” Ek hoor hoe sy die gehoorbuis toehou en gangaf skree.
“Ons luister sommer saam by die gehoorbuis. Vertel nou eers! Begin by die begin. Hoe lyk jou huis? Is dit lekker daar? Is daar leeus en olifante? Lyk dit soos die Kruger-wildtuin of iets?”
Ek sak terug teen die stoelleuning. “Stadig oor die klippe. Dis ’n ander wêreld hierdie. Totaal, onbeskryflik anders. Ons Shinyungwe-huis is klein. En die trok met ons goed het omgeslaan.”
“Wat?” skree Magda. “Nee. Dis afgryslik. Wat maak jy toe?”
“Ek het my eers morsdood getjank en toe gaan ek maar aan.”
“Ag. Vertel van jou huis.”
Ek lê skuins in die kantoorstoel en sit my voete op Louis se lessenaar, streel oor my maag. “Dis nie te sleg nie, so ’n honderd en twintig vierkante meter groot. Sitkamer, kombuis, badkamer, een klein slaapkamertjie en twee grotes. So julle kan kom kuier, hier is oorgenoeg slaapplek.”
“En die res van die plek?” Magda se stem.
“Die kamp? Wel, die hele plek, ons huis, die padkampgeboue, alles, is beige geverf. Beige! O ja, en ons het ’n toegeboude stoep. Van die sitkamer af tot onder die wildevy.” Ek maak my oë toe. “Die deur maak ’n kraakgeluid wanneer mens dit oopstoot, omtrent soos ’n geweerskoot of ’n waarskuwing. Maar nie dat ons eintlik kuiergaste kry nie.” Ek lag. “Ons sluit nooit die voordeur nie. En hier is miljoene muskiete. En mans net waar jy kyk.” Die lyn suis. “Dis eintlik mooi hier. Rooigrond en groen in die reënseisoen. Uitgestrekte pleine en mahangulanderye net waar jy kyk. Die Kavango-mense bly in sulke groepe hutte bymekaar. Om die hutte is takkrale en almal het hoenders en bokke wat los rondloop en baie kinders. Hulle sê dit word baie stowwerig in Augustus wanneer die wind begin waai.”
“Is jy bly jy het saamgegaan? Net mans? Dis al meer as drie maande van jy weg is.”
“Jissie, ek kan seker nie kla nie. Ons het die grootste huis en die grootste inkomste van die meeste mense in ’n radius van ten minste ’n honderd kilometer hier. Die Kavango-mense kry ontsettend swaar. Hulle is almal maer. Hier is nie geleenthede vir hulle nie. Maar dis net anders as enigiets waarvan ek ooit voorheen geweet het. Ek weet nie eintlik hoe om dit vir julle te beskryf nie. Die veld rondom mens is onmeetlik groot, maar terselfdertyd is die padkamp soos ’n tronk. Ek het nie ’n kar nie. En daar het ook …” My keel swel toe. Frustrasie spoel soos ’n golf oor my. Hulle sal tog nie kan verstaan nie. Sien in my gedagtes die lae koffietafel, gemaak van ’n ou skoollessenaar wat ek op ’n veiling raakgeloop het. Ons musiek, skilderye en boeke. My grootouers se rusbanke, helderrooi oorgetrek. Op die vloer ’n paar bont kelims. ’n Snoesige, gesellige nes, geveer met herinneringe en reste.
“Ag shame, man. Dit klink nie so lekker nie. Jy wat altyd so op jou eie rondgedwaal het in Louis Trichardt. Of is dit die lyn? Wat vang jy met jouself aan daar?”
Ek antwoord