Glipstroom. Anemari Jansen
daardie dae terwyl ek in die nuwe huis gelê het met die smaak van bloed in my mond en aan my hande. Phineas die een was wat gekook en geluister en help geheime toesmeer het.
“Maja?”
“En daar by julle? By die skool?”
“Nee wat, jy weet mos. Dreigende donderwolke in die personeelkamer. Business as usual. En Botha het my gevang rook onder die tafel.”
“Jy speel!”
“Ja, dit was ’n lekker drama. Ek vat nog so ’n lang trek, toe is sy gesig langs my. Ek het my gat afgeskrik!”
“Ja, en daar was toe al die tyd al ’n paar brandgaatjies op die mat onder die tafel,” tjip Magda in.
Ek hoor die stemme van die koshuismeisies vaagweg in die agtergrond. “En Marlene? Sy al beter?”
“Nog nie heeltemal nie. Freda se dood het haar erg geruk,” kom dit van Magda. “Lyk my ’n ma kom nooit oor die dood van ’n kind nie.”
“Ai.” Ek sluk. “Nou verlang ek my mos morsdood na die tye saam met julle. Ons het geen worries gehad nie.”
“En Botha is van sy kop af.” Fya se stem. “Hy wil nou hê ek moet die hele mat vervang. Met watse geld nogal, vra ek jou!”
“Shame. O ja, het julle dalk iets van Lem de Swardt gehoor?” Ek hou op asemhaal.
“Hy was lank weg, Kaap toe of iets. En hy het blykbaar ’n girlfriend, of ’n vrou wat ook op die plaas bly, sê Hettie. Iemand het hom saam met ’n vreemde vrou gesien. Eintlik ’n páár vroue.” Fya haal hoorbaar asem. “Of dalk was dit sy suster of iets. Jy ken mos al die stories hier in ons dierbare ou dorp.”
“Never-ending stories,” lag Magda. “Hulle het skinderstories nodig soos suurstof, die hele ou spul.”
Ek asem stadig uit totdat my kop begin suis. “Julle moet kom kuier, asseblief. Ek sal julle volgende keer ’n geheim vertel.”
“Vertel, vertel!”
“Later.” Ek sit die gehoorstuk neer en kyk rond in die kantoor. ’n Dienlike houtlessenaar, staalkabinette wat al beter dae geken het. Pure mansplek vol kaarte en notas en stof.
Buite dreun trokke en waterkarre oor die site. Manstemme wat skreeu. Daar is nog ’n nommer op my handpalm gekrabbel. Ek trek my longe vol asem en skakel.
“Môre?”
“Peet, dis Maja. Hoe gaan dit daar?”
“My magtig, kleinsus. Dis nou ’n verrassing. Waar in die wêreld is julle nou?”
“Ons is mos nou in die Kavango. So halfpad tussen Rundu en Katima.”
“Hell’s bells. Hoe gaan dit met my boet? Ek ken nie daai oostelike deel van Namibië nie. Ons Koevoete was mos in Oshakati. Dié het ek goed geken. Die bleddie oorlog. Jissis, daai tyd … Skuus, kleinsus, my kop haak uit.”
“Julle kan kom kuier, Peet, enige tyd. Hier is oorgenoeg slaapplek. Maar ek bel eintlik om jou iets te vra.”
“Yes. Praat met my.”
“Dis nie dat ek wil kla nie. Maar Louis, ek is bekommerd oor hom. Hy vat baie stres met hierdie kontrak. Hy het so anders geword. En ek weet nie met wie anders ek oor hom kan praat nie, noudat julle ouers weg is en alles.”
“Sus. Ek weet nie, jong.” Kraakgeluide oor die lyn.
Ek druk my oor stywer teen die gehoorstuk.
“Die kontrakteurswêreld is hard en moeilik. En hy is die baas op site, as ek dit nie mis het nie.” Daar is ’n suising oor die lyn. “Jy kan sê wat jy wil, maar die oorlog het ons koppe opgefok. Veral as jy herinner word daaraan, as jy iets sien wat jou terugvat na daai tyd toe. Die setup in die padkamp, miskien trigger dit iets.”
Ek leun vorentoe. “Wat het julle ouens in elk geval gedoen? Wat beteken dit om terroriste te jag? En hoe het jy geweet wie is ’n terroris en wie nie?”
“Kyk, ons het nie eintlik ’n sê gehad nie. Die regering het die besluite geneem. En ’n terr? Ons het spoor gevolg. Jy sien net bos. En in die kontak gooi jy alles wat jy het na hulle kant toe. R5’s, die .50 Browning. Jy maak jou magasyn leeg op die bosse. Voor hulle ’n heatstrim deur jou Casspir kan probeer jaag.”
“Is jy spyt jy was daar? Op Oshakati?”
“Nee. Ons het gevolunteer; ons wou aksie sien.” Hy snork. “En toe het ons die oorlog vir alle praktiese doeleindes verloor. Jy kan seker sê ons is deur die oorlog gescar, maar vir wat? Vir die regering en die Nasionale Party se glory? Wat in any case nie bestaan nie.” Sy stem word driftig. “En ons het net aangefok en probeer kills kry. Jissis, ons het net ons werk gedoen. En gesuip en baklei.”
“Kyk, ek ken nie die agtergrond nie.” Ek kan myself hoor asemhaal.
“Jy sal maar met hom moet praat, sus. Hoor maar wat byt hom so.”
“Oukei, ek het maar net gewonder. Wel, bye, groete by die huis.” Want wat weet ek regtig van Louis se vorige lewe?
“Hy het ná skool by die polisie aangesluit omdat ek daar was. Hy het eers later besluit om te gaan leer.”
“Ek weet dit, maar hy wil nie met my daaroor praat nie. Of altans, ons dink nooit daaraan om daaroor te praat nie.”
Hy maak keel skoon. “Louis is direk van die polisiekollege af afgedeel na die onluste-eenheid toe by Dunnottar. Hulle is later Eenheid 6 genoem. Dit was die ouens wat die vuil werk moes doen, skarebeheer, daai dinge. Baie van hulle is op agtien, negentien net so in die townships in ná hulle basiese opleiding. Daar was ’n volskaalse oorlog aan die gang, veral rondom die hostelle. Jy moet onthou, die land het gebrand in die tagtigerjare. Kleefmyne, bomontploffings by die Wimpy, motorbomme.”
My rug word styf. “Eenheid 6?”
“Kolonel Hein Kilian was in bevel daar. ’n Goeie ou. En laat ek jou vertel, hy moes hare op sy tande hê met daardie jong laaities. Louis het lelike dinge gesien, my kleinsus. Hulle het byna elke dag lyke opgetel. Daar is baie stories wat nog nooit vertel is nie. Dis hy. Vra my, boeta.” Hy sug. “Dit was bloedige tye daai, vir albei kante, mind you. Die townshipinwoners – daai arme mense se lewe was haglik. Between a rock and a hard place. Te veel armoede, geweld en swaarkry. Ek hoop nie ek het jou nou ontstel nie.”
Ek bly lank met die gehoorstuk in my hand sit.
Maak die kantoordeur agter my toe en stap met die stowwerige voetpad terug na ons huis. Die vliegtuig is op pad.
Soos klokslag elke tweede week is die grootbase van die maatskappy op site. Hulle vlieg in met ’n sessitplek-Cessna. Om bestekopname van die padkontrak te doen. Te inspekteer en vergaderings te hou met die raadgewende ingenieurs en die kliënt, naamlik die Namibiese regering. Hulle land sommer op die halfvoltooide pad, want die naaste vliegveld is in Rundu.
Ek wag vandag in die kombuis vir die twee wit Toyota-bakkies om in te draai by die hoofhek. Van my agterdeur af kan ek baie dinge sien.
Die adrenalien skop in, my hartklop word dieper. Vir ’n oomblik is gedagtes aan Louis uit my kop. Die koms van die vliegtuig beteken my tweeweeklikse pakkie van Suid-Afrika af is hier. En dit is my reddingstou. Dit is ’n baken en bevestiging van die bestaan van beskawing. Meestal is daar briewe in, van Pa en Ma en soms van Maryke. Foto’s van dinge wat gebeur het, ’n eetdingetjie. En programme wat hulle opgeneem het of boeke wat ek bestel het. Die programme kyk ons oor en oor op video totdat die bande heeltemal verslyt. My tone roer in my sandale.
Louis stap met lang treë van die kantore af nader. Hy glimlag, skoongeskeer. Hy stap kortpad agterom ons huis na waar die bakkies by die Single Quarters stilhou. Natuurlik om grootbaas Quintus Myburgh te verwelkom. Quintus en Louis is nog albei van die ou skool, hou van militêre netheid, dissipline en kortgeknipte hare op site. Quintus is lank en aantreklik en gewoond daaraan om sy sin te kry. Sy mond het ’n eiesinnige plooi.
Gewoonlik is