Glipstroom. Anemari Jansen
plaas. Ons gesels oor die week se oefenprogram en die afstande wat ons gaan draf. Daar is ’n tydtoets Maandagaand by die atletiekklub. Colette wil haar tyd verbeter. Ons het by die klub ontmoet. In haar kort atletiekbroekie het sy vir my soos ’n langbeenreier gelyk. Ek het my verkyk aan haar bene en prominente skouerknoppe. Haar hande was ook vir my mooi. Skraal met puntige vingers. En die groen oë.
Ons ry teen die Soutpansberg uit en draai by die Witvlagpad in, daar waar die oudste bloekombome bleek en toiingrig groei. Die plaas se ingang is ’n ent verder aan die linkerkant. Colette bestuur haar stokou Volkswagen-kewer versigtig oor die grondpad. Ek kyk skuins na haar toe ons die laaste afdraai neem. Daar is skielik iets wat anders is aan haar. Sy praat al hoe vinniger soos ons nader aan die plaashek kom. Haar hande bly rusteloos vat-vat. Dan aan die truspieël, dan aan ’n stoffie op haar broek. Ons kruie aan oor die laaste honderd meter. Dit verg vaardigheid van haar om nie die geel karretjie in een van die slote af te skryf nie. Sy trap rem.
Dit lyk soos ’n outydse plaashuis. ’n Sinkdak, die mure afgewit. Die massiewe, halfmas stoepmuur krul rondom die huis. ’n Land Rover staan voor ’n skuur en twee labradors bestorm die kar.
“Dis nou Lem se plaas,” sê Colette en haar katoë rek. “Jy weet mos dat hy ook verkies is tot die kunskomitee? Hettie se idee gewees. Ons het mos nou darem ’n celebrity in die dorp.”
Ek los die deurhandvatsel en draai na haar. “Ek het met niemand gepraat nie.”
“Lekker, nè?” lag sy en slaan die motordeur toe. “Ons hoef nie hier te sluit nie, hoor. Dis doodveilig.”
“Ek wou jou nog vra hoe ken jy …” begin ek.
Maar Colette swaai haar handsak oor haar skouer en dartel stoep toe.
Lem wag ons by die houtvoordeur in. Swart oë.
Colette vryf haar hand deur haar hare, stel ons aan mekaar voor.
“Maja,” sê hy stadig. “Ma-ja. ’n Naam vol melancholie.” In sy mond word my naam ’n inkantasie.
My gesig voel warm.
Colette frons en hang aan sy arm. “En my naam dan?”
“Ek wag al heeldag vir julle twee om hier op te daag,” sê hy in ’n lui, diep stem. “En nou is dit byna donker.”
“Wel, die pad is nou regtig sleg,” sê Colette. “Julle beter iets daaraan doen.”
Hy lag en gee haar ’n broederlike druk.
Ons bekyk eers die huis van binne, die staalplafonne en houtdeure wat sorgsaam gerestoureer is.
“Jou werk?” Ek streel oor die geelbruin hout en die koperdeurknoppe.
“Ja. Alles self gedoen.” Hy hou sy hande na my toe uit; bruingebrande hande oortrek met donkerbruin haartjies. “Jy kan mos sien dis hande wat in die sweet van hulle aanskyn hulle brood verdien.” Hy glimlag effentjies in my rigting.
Hy hou my dop terwyl ek by die boekrakke hurk en oor ’n Nguni-vel streel. “Die vrou aan ’t dwale in Bloubaard se kasteel,” grinnik hy.
Ek kyk verras op na hom toe. “Ek lees dit juis nou. Sprokies …”
“… is oorgelewer uit die oerbewussyn van die mens,” voltooi hy die sin vir my. “Die magiese en mitiese wat ons vandag nog fassineer.”
Ek kyk af en voel onseker. “Ja, so iets. Maar mens lees sprokies nou anders. Al voel ek steeds partymaal soos een van die karakters.”
Colette verdwyn kombuis toe en skakel die ketel aan. “Koffie of tee vir julle?” Sy steek haar kop by die deur uit. “Of is dit al tyd vir ’n wyntjie?”
Dit lyk asof sy baie tuis is in die kunstenaarhuis. Dit lyk asof enigiemand gou sal tuis voel in hierdie huis.
Lem gee ’n tree nader. “Ek sê jou wat.”
Ek verskuif op my hurke.
“Kies vir jou ’n boek. Enigiets. Om die waarheid te sê, ek gaan dit sommer ’n reël maak. Elke nuwe besoeker kan ’n boek kies om huis toe te neem.”
“Is jy ernstig? Gaan dit nie vir jou sleg wees as jou geliefkoosde boeke gekies word nie? Ek sal dit haat om my boeke te laat gaan.”
“Hier is nie ’n enkele boek in hierdie huis wat ek nog nie gelees het nie. Die woorde is al deel van my.” Hy draai kombuis toe waar Colette ongeduldig met ons bestellings wag.
Ons sit op die voorstoep met bekers koffie in die hand. Die stoepvloer is ’n outydse rooi kleur geverf en voel koel onder my bene.
Lem is aan die gesels. Ja, hy boer ook met beeste op die lap grond. ’n Piesangboord en makadamiabome. Maar sy eintlike liefde is die reusedoeke wat hy op ’n tipe seilmateriaal wat oor ’n raam gespan is, verf. Sy huis is vol aardse elemente. Nguni-velle op die hout- en sementvloere, klippe uit die Richtersveld, die perfekte, songebleikte skedel van ’n krokodil. Tyd wat sluimer en sleep.
“Behoort die plaas aan jou?” Ek leun terug teen die stoepmuur met een van die labradors teen my been. Vryf oor die sagte pels. In my ander hand is die slapbandboek wat ek pas uit die boekrak geneem het.
“Ja. Maar grond is net tydelik ons s’n, nè.”
Colette frons en kyk op. “Hoekom sê jy nou so? Is jy van plan om weg te gaan? Jy het dan nou net hier ingetrek.”
Lem se oë vernou. “Dis meer as dit. Die aarde is tydloos. Ek voel die geskiedenis onder my vingers wanneer ek spit en ploeg of met die diere werk.”
“Jy bedoel ons het net tydelike besitterskap van enige stuk grond, Lem?”
Colette sit haar beker neer en staan op. “Nou raak dit te heavy vir my. Ek wil eers na jou skilderye gaan kyk.” Haar bene lank en bruin in die denimkortbroek. Sy neem die beker wat Lem vir haar aangee en draai na my. “Komaan. Ek is nou al baie nuuskierig. En dis mos hoekom ons eintlik hier is. Ag toe, man, julle kan later gesels.”
“H’m.” Ek teug aan die laaste koffie. Die stilsit maak my lomerig.
“Ek sal haar nou kom wys, Colette,” antwoord Lem namens my. “Jy weet mos waar. Die agterste studio; stap jy solank deur.” Sy oë dwaal na haar bene.
Ek kom regop. Dit maak my senuagtig dat hy namens my sinne voltooi en besluite neem. Colette kyk teleurgesteld na hom, draai om en verdwyn in die rigting van die kombuis.
“Ja,” hervat Lem. “Dié dat ek geboue en huise en plekke skilder. Om dit op te teken met verf. En ek het ’n probleem met die woord ‘besit’.”
“H’m, ek hoor wat jy sê.” Ek versit, vou my bene onder my in. “Maar ek en Louis het al baie rondgetrek. Met sy werk en so aan. Hy is ’n siviele ingenieur. En die ding wat my altyd opval, is dat ’n huis eers lewe kry wanneer mens asem daarin blaas. Soos die huurhuise waarin ons altyd bly, jy weet? Dit word joune wanneer jy daarin bly.”
Hy glimlag en kyk na die boomtoppe waar die son begin water trek. “Watter boek het jy toe gekies?”
Ek voel weer onseker. “On the road. Kerouac. Dit het soort van my oog gevang en toe kon ek nie anders nie.”
“’n Interessante keuse. Wat weet jy van die skrywer?”
“Ek het nog nooit van hom gehoor nie,” antwoord ek eerlik.
“Mooi.” Hy sug tevrede. “Dis tyd dat jy jou leeswêreld uitbrei.”
My wange brand. “Dis nie waar nie. Ek lees baie, hoor. Ek én Louis. Omtrent alles wat nuut is.”
“Juis.” Hy glimlag lui. “Julle mis baie.”
“Dit is seker so. Ag, ek weet nie. Ek vrek oor stories. Louis lees meestal ander goed. Koerante en goed oor die natuur. Diere, geologie, enigiets.”
“Lees julle soms dieselfde boeke?”
Een van die labradors kom verby, lek aan my hand. “Baie