Glipstroom. Anemari Jansen
rondneuk nie.”
Hy bad vinnig en smeer hom in met Tabard. Trek ’n ligte langbroek en T-hemp aan. Kyk skuins na my en grinnik. “Quintus sê ek doen ’n great job. En jy weet mos hy is nie ’n ou wat maklik komplimente uitdeel nie.”
Ek leun oor en gee hom ’n druk. “Mooi skoot. Jy sien, dit maak al die harde werk die moeite werd. En dis hoekom hulle jou gekies het vir hierdie job.”
Hy trek sy hand deur sy hare, gooi sy kop agteroor en sluk die laaste koeldrank.
Ek skakel die waaiers af en spuit nog ’n bietjie muskietweerder oor my kaal voete.
“Is jy reg?” Hy kyk skerper na my. “Sit daai hemp nie te styf nie? Jou boobs lyk groot.”
“Nee, wat bedoel jy.” Ek trek die toppie op en hou my hand oor my maag.
“Ek hou nie daarvan as jy te veel lyf wys met al die ouens hier nie.”
“Dis niks nie, man.”
“Hulle is jags verby. En jy het vir my bleek gelyk die laaste week of twee. Dis seker die trek en alles. Jy moet jou oppas. Ek het nie tyd om heelpad oor jou ook te worry nie.” Sy oë is streng.
“Ag, nee wat. Dit is net vrek warm. Moenie bekommer nie.” Ek soek rond na my handsak. Wat gebeur het, is verby. Die bloed is weg, die baba is begrawe.
“Gelukkig het net ’n paar van ons goed gebreek. Ek moet sê, jy en Phineas het nogal raakgevat met die kombuisrakke.”
“As dit nie vir die werkswinkel was nie …”
“Sven Dotchev is ook hier vanaand. Die ou van die raadgewers. Quintus het gesê ek moet hom onder my vlerk neem.”
“Dink jy ons moet aanhou Maloprim drink, Louis? Vir hierdie twee jaar, bedoel ek? Ek het iewers gelees dis nie goed vir mens nie.” Ek swaai die handsak oor my skouer.
“Ag, ja wat. Enigiets is beter as niks. Ons hou maar aan daarmee.”
“Ek het maar net gewonder oor die newe-effekte. Quintus-hulle wag seker al vir ons. En ek ken mos nog nie die Sven-ou nie.”
“Jy sal hom vanaand sien. Hy is ’n weird ou, die Bulgaar. Wil blykbaar een aand vir ons ghoelasj kook op site. Vat seblief ekstra Tabard in jou handsak saam.”
Hy skakel die buiteligte aan toe ons loop.
Die kuierplek by die Single Quarters gloei feestelik. Elke beskikbare lig is aangeskakel, al is dit nog lig buite. Die wildevy troon reusagtig bokant die braaiarea uit. Dit gaan jolig. Alanis Morissette sing kliphard en die stemme kuier selfs nog harder. Ons groet in die rondte toe ons ingaan. Ek dra ’n stywe denimbroek en my nuwe groen hempie. My hare is los en krullerig. Ek kyk rond. Miskien het ek te veel moeite gedoen. Ek is die enigste vrou met soveel klere aan.
Willem maak vir my plek by ’n kroegstoel.
“Kom sit, kom sit! Wat gooi ek vir jou?” Kareltjie is op kroegdiens en in ’n joviale bui. Hy wikkel agter die toonbank rond op maat van Alanis se ritme.
“Gin en tonic, seblief.”
Seun gee dit vir my met groot gebaar aan voordat nuwe bestellings instroom.
Louis drink twee Windhoek-biere vir die dors en stap na die vuur toe.
Op die oopgesnyde stam van die kiaat wat as kroegtoonbank dien, leun ek op my elmboë vorentoe en stut my voete teen die breë stam.
Ek voel skielik onbeholpe en uit plek, asof daar dinge in die lug hang waarvan ek nie deel is nie. Die eerste sluk van die gin en tonic is ekstra bitter. Leë Black Label- en Windhoek-blikkies staan orals rond en iemand het ’n toring begin bou. Die Red Heart-en-Coke vloei. Ek draai só in die stoel dat ek met Willem en Kareltjie kan gesels. Rian kom staan langs Kareltjie agter die kroegtoonbank, skink vir hom ’n whisky. Louis staan aan die oorkant, druk in gesprek met Quintus.
“Het jy die twee katjies al gesien?” vra Kareltjie en lek oor sy lippe. “Vanaand gaan dinge kook, pappa.” Hy sit die musiek sommer nog harder.
“Ek het vanmiddag saam met hulle geswem,” sê ek en skop-skop met my sandale teen die houtstam van die kroeg. “Hulle praat nie juis baie nie.”
“Wat my betref, hoef hulle nie ’n woord te sê nie,” lag Kareltjie.
Willem vryf ingedagte oor die hardebaard op sy ken. “Vanaand is hierdie jong laaities wilder as wildehonde in die wildtuin.”
Kareltjie lag hard en vat ’n trek van sy sigaret. “Elke man het ’n broek vol planne vanaand.” Hy loer skeef na my. “Skuus, ek vergeet partykeer jy is ook hier.”
“Dis oukei.”
Een van die jong ouens steek sy arm agter my verby om twee biere by hom aan te vat.
Rian grynslag en vat ’n sluk whisky. Hy is ’n opmeter, ses maande op Shinyungwe gestasioneer en ’n meer betroubare drafmaat smiddae as die flambojante Engelse vlieënier wat tweeweekliks op site opdaag met die base. “Môreoggend gaan ons langtand opstaan, as jy my vra. Die meeste ouens is klaar gesuip en dis nog nie eens agtuur nie.”
“Sal ons môremiddag gaan draf?” vra ek na Rian se kant toe. “Ek bedoel, sal jy kans sien ná alles vanaand? Of gaan jy laat kuier?”
“Natuurlik. Dit sal help om die gif uit my lyf te kry.”
“Gewone tyd,” sê ek en kyk rond.
Toe my drankie klaar is, stap ek na die braaivleisvuur. Ek het nog nie vir Quintus bedank dat hy die pakkie vir my saamgebring het nie. Hy is oorhoofs in beheer van padkontrakte in Namibië en Botswana. Weekliks van die huis af weg om die verskillende sites te besoek.
Daar is ’n hele paar manne om die vuur. Die senior ouens van die maatskappy en ’n paar van die raadgewende ingenieurs. Almal hang aan Quintus se lippe. Soos altyd word daar werk en padsake gepraat. Louis staan tussen die mans met sy hare wild om sy kop. Rooi wange en ’n bier in die hand.
Die man wat langs hom staan, sal Sven wees, hoof van die raadgewende span. Hy lyk anders as die res, lyk soos ’n Europeër. Hy suig aan ’n Black Label. Die gesprek is in Engels, maar al die aanmerkings en grappe is in Afrikaans. Sven kyk anderpad. Hy sukkel om met die Suid-Afrikaanse padmakers oor die weg te kom en Louis se span het nie ooghare vir hom nie. Sy verhouding met die plaaslike bevolking is nog slegter, veral omdat sy uitlandse Engels vir hulle onverstaanbaar is. ’n Moeilike donner, sê ’n paar van die ouens.
Die twee vroulike besoekers fladder rond. Knoop oral geselsies aan. Die manne se oë eet hongerig terwyl hulle op die gesprek met die grootbaas probeer fokus.
“Nie eens ’n pynappel in ’n rok is veilig by my vanaand nie,” lag Bill onderlangs en lek oor sy vlesige lippe.
Ek gril. Hande soek vatplek wanneer die twee meisies verby die mans beweeg. Toe ek wegdraai, hoor ek stukke van ’n gesprek.
“… daai blonde enetjie naai dat sy môre nie kan loop nie.”
“Nie ’n fokken kans nie, pappa.”
“… jy daai stywe klein tiete gesien?”
“Ek’s nou so jags, jy kan met my toor.”
Die twee meisies onder bespreking dra nie veel meer klere as vanmiddag nie.
Ek frons, gril weer en kry steeds nie die kloutjie by die oor nie.
“Dink jy die mense is reg om te eet?” vra Hendrik langs my skouer. “Louis lyk haastig. Hy wil nou opskep. Die manne drink te veel.”
Hendrik het ’n gemengde slaai, ’n wortel- en ’n aartappelslaai gereed gekry in die Single Quarters se kombuis. Die kos is keurig op die opdientafel gerangskik. Langs die slaai lê stapels wit borde en rye messe, vurke en servette.
“Ja, ek dink so. Dit lyk pragtig, Hendrik. Ons kan hulle laat nader staan.” Ek laat na om by te voeg dat hulle nie vanaand ’n aptyt vir vleis en slaai gaan hê nie.