Glipstroom. Anemari Jansen
is dit net Quintus wat verskyn. Toe nog ’n man. En net toe ek dink hulle gaan nou pakkies uitlaai, klim daar twee meisiekinders uit die bakkie. Opgeskote, lyk dit so van ver af. Ek wonder of dit van die jong outjies se meisies is wat kom kuier.
Maar die pakkies. Ek stap uit, onder die somergroen wildevy deur, uit by die draadhek, na die Single Quarters waar die bakkies staan. Misha, ons Duitse herdershond, draf saam.
Miskien het die Leonard Cohen-kasset waarvoor ek gevra het hierdie keer saamgekom. Die eerste album met die mooiste song op, die een wat hy geskryf het vir sy vriendin Suzanne, in die somer van 1965.
Sy stem neem my terug, elke keer. Suzanne wat hom betower, hom na ’n land van melk en riviere van heuning neem. Dit neem my terug na hoërskool en atletiekseisoen en vry op die paviljoene. Na my eerste French kiss van die seun wat my Leonard Cohen se musiek laat liefkry het. Toe ons dit daglank in sy skemer kamer geluister het, ek nog vreemd vir hom en vir die klank daarvan.
Met die aanvang van hoërskool ook die vermoede van groter dinge. ’n Wêreld buite ons grense. Soos die rivier in Cohen se lied, ’n reis stroomaf vir dié wat die water kan hoor. Ek wag al ’n maand vir die kasset, wil dit weer luister, oor en oor, om die kampstilte uit te sluit. Ek stap uit in die Namibiese son wat die veld vaal brand.
“Mam?” Hendrik, ’n kok van formaat.
Hy is gewoond daaraan om van site tot site te trek en elke keer van voor af kombuis in te rig. Hy ken elke man se voorliefde vir wat in sy skaftingboks moet kom. Wie ses snye brood soek. ’n Konfytbroodjie of ’n soetdingetjie vir Seun elke dag. Vir hierdie een ’n paar gekookte eiers, vir ’n ander van gisteraand se oorskietvleis en aartappel op sy brood. Saans kook Hendrik huiskos vir hulle, soos ’n plaasvervangervrou.
“Ja, Hendrik?”
“Eet jy ook vanaand by die Single Quarters?”
“Ja, ek dink so,” sê ek. “Het iemand die drank gereël?”
“Ja, Faan en Elias het. En daar is genoeg ys in die vrieskas.”
“Hoeveel mense?”
“Louis het gesê julle is vyf en twintig.”
“Oukei.” Ek skud die warm sand uit my sandale.
Louis het niks gesê nie maar dit werk altyd so wanneer daar mense aankom. Ons is altyd uitgehonger vir geselskap van buite.
Ek en Hendrik staan by die Single Quarters se agterdeur en gesels.
Die werfhaan beskou my wantrouig. Hy stap ’n draai om die agterdeur en beloer my van onder sy skuins kuif. Sy spore is uitgegroei. Hendrik gooi hom met ’n klip. Die haan skel en gee pad.
Op pad terug na ons huis rek my oë. Dis nie iets wat die manne elke dag op site sien nie. Die twee vliegtuigmeisies loop in G-strings en baie klein toppies, handdoek in die hand, en verken die wêreld. Lang, los bruin hare, die blondekop met ’n poniestert. Alle handewerk stop net daar. Wolwefluite. Hulle gesels ’n rukkie oor en weer met die ouens by die werkswinkel. Toe stap die tweetjies met die grondpad langs tot by die Single Quarters se swembad.
Die werfhaan bekruip die twee naby die swembadheining. Niemand het hulle dus oor die haan gewaarsku nie. Hy neem sy kans waar. Dis handdoeke, poniesterte, kaal bene en gilletjies die wêreld vol soos die twee bontstaan om die hans haan se skoppoot te vermy.
Later, toe ek gaan swem, lê die twee besoekers steeds by die swembad.
Hulle tan met toe oë.
“Hallo.”
“Howzit,” sê die blondekop lui en neem ’n trek van haar sigaret.
“Het julle al geswem?” vra ek om ’n geselsie te maak.
“Nah. Dalk later,” sê die donkerkop en hulle lag asof sy iets baie snaaks kwytgeraak het.
Ek gaan lê met my regterarm ingevou onder my kop, half in die skadu van ’n verdrietige wildevy. Die sonbesies skree die wêreld witwarm. Die werfhaan patrolleer die swembadheining. Ek loer tussen my ooglede deur na die twee, maar hulle lê bewegingloos, kom net af en toe regop om te rook. Perfek gevormde borste, styf en regop. Ek kyk ongemerk af na my eie, nog steeds gevoelig, wat sag in my swemtop wegsak.
Ek staan op en swem ’n paar lengtes in die louwarm water. Daar dryf goggas en blare op die oppervlak wat ek met die hand wegvee. Die blou swembadbodem voel sag soos modder onder mens se tone. Ek skud die water uit my hare, draai ’n handdoek om my lyf.
“Bly julle in die Single Quarters vanaand?” Ek gaan staan naby hulle lêplek.
“Yeah,” sê die poniestert en maak haar oë op ’n skrefie oop.
“Net ’n vakansie of gaan julle verder hier rond toer?”
Hulle giggel weer. “Jy kan seker so sê. Maar eintlik is ons hier vir die paartie vanaand.” Hulle roer albei hulle skouers in dansbewegings. “Yeah. En jy?”
“Ons woon hier. Ons …” Ek voel skielik onseker. “Dis eintlik nie so erg hier nie. Ons is net vir ’n jaar of twee hier. Tot hierdie gedeelte van die pad geteer is.”
“Julle woon hier? Maar dis ’n shithole!” sê die donkerkop.
“Bloody hell,” sê die poniestert. “Ek sal mal word.”
“Heita!” Seun en Fred leun oor die heining, hulle oë vasgegom op die tweetjies se bates.
“Hi daar, guys,” sê die donkerkop pruilerig en gaan lê op haar maag met haar cleavage na die manne gedraai.
Seun sluk hoorbaar. “Kan ons saam met julle kom swem?”
“Waarvoor wag julle?” lag die poniestert en spring op. Haar top se bandjies glip los en vir ’n oomblik is alles sigbaar. Sy lag skril.
“Hond se doilie,” sê Fred en laat nie op hom wag nie. Soos blits is hy oor die heining en maak ’n duikbom.
Die meisies gee hoë gilletjies en spring op toe die water hulle sopnat spat.
“Sien julle later!”
Hulle waai halfhartig met die sigarethande in my rigting.
Toe tel Seun een van hulle onder elke arm op. “Een, twee, drie …”
“Neeee!”
Hulle beland met ’n groot geplas in die water. Die sigarette dryf op die wateroppervlak.
Ek slof met my nat voete in plakkies deur die rooi stowwerige kamp tot by ons huis. Toe ek die voordeur agter my toestoot, hoor ek hulle steeds lag.
Ek dink weer aan die meisies by die swembad terwyl ek die bad vol rooibruin rivierwater tap. Dit word direk uit die Okavangorivier gepomp. Die kragopwekker doef-doef agter in sy huisie van riet, so twintig meter van die venster af. “Dance me to the end of love” speel kliphard en ek neurie saam.
In die louwarm water spoel ek af en was hare. Sit op die badrand om beenhare en bikinihare te skeer. Ek wonder oor die twee vroumense. Is hulle nie dalk nuwe jong sekretaresses wat vir byvoordele met ’n Afrika-trip beloon word nie? Iets is nie pluis nie.
Ek trek in die kamer onder die dakwaaier aan. Die hele huis is deurtrek van die soet reuk van muskietweerder en die groen coils wat elke nag brand. Die kenmerkende reuk het al goed in die gestoffeerde meubels en gordyne ingetrek. Buite begin die skaduwees lang strepe oor die grondpad trek.
By die werkswinkel langsaan is daar ’n kabaal. Trokke, laaigrawe, skroppe en skopgrawe staan tou. Die drywers wil diesel ingooi voor toemaaktyd.
Seweuur is Louis terug van die site af. Hy is moeg gewerk en natgesweet. Maar besoeke van hoofkantoor lei tot vrolikheid.
“Is jy al reg om te gaan braai?” wil hy weet en gee my ’n skrams soen. Sy oë flits van die venster na die yskas. “Dit klink my Hendrik gaan weer uithang vanaand.”
“Beslis.” Ek maak die yskas oop en skink vir ons elkeen