Glipstroom. Anemari Jansen
Te bewus van die feit dat hulle maande laas by die huis was. Die Klippies en Red Heart vloei soos Okavangowater. Die klank van die manstemme trek vanaand sweerlik tot in Angola.
Teen elfuur is die ouens stormsterk en sonder brieke. Daar word in die Single Quarters se sitkamer reggemaak vir ’n stripshow en skootdanse.
Ek brand om te bly. Nog nooit so iets gesien nie. Ek wil sien wat hierdie meisies doen dat die mans om hulle draai soos bye om ’n koeldrankblikkie. Maar Louis wil nie, dis nie sy soort ding nie.
“Kom. Dis slaaptyd. Ek wil gaan inkruip. Môre moet ons skouers sny en wie weet wat nog alles. Ek gaan weer niks met hierdie klomp hooligans uitgerig kry nie. Help nie eens ons het ’n meeting môreoggend nie.” Kyk my fronsend aan van onder sy rooi wenkbroue en begin aanstryk.
“Kan ons nie net …?”
“Jy hoort nie hier nie. Komaan.”
Sy bene loop te vinnig en te ferm vir teëpratery.
“Ag, oukei dan.” Ek sluk my nuuskierigheid en verdwyn saam met hom in die donker agter die swembad op pad na ons huisie.
“Gaan jy Milo maak?”
“Ek sal vir jou gaan maak. Wil jy weer bad of iets?”
“Nee wat. Ek is reg vir die bed.”
“Ek gaan gou bad. Alles ruik na rook, tot my hare.”
“Maak gou. En on second thoughts, los die Milo. Ek’s lus vir ander dinge vanaand.”
“Wil jy nie eers tande borsel voor ek intap nie?”
Hy fluit wysieloos deur sy tande.
Ek stap badkamer toe, maak die deur toe en gaan sit op die toilet. Ek is nie lus om ’n lyf te wees vanaand nie. Ek is nie lus om hier te wees vanaand nie. Die gedagte vang my onkant. Hoe leef mens dan só – tevrede maar terselfdertyd vol verlange?
Ek bad en gaan kamer toe, na Louis toe.
Die res van gisteraand se gebeure ontvou eers vir my nadat die laaste sitevergadering verby is en die vliegtuig met die base en die poppe op die padstrook opstyg en suid draai na Johannesburg. Ek en Rian ontmoet sesuur by die groot hek. Ons draf elke middag vier kilometer op die grootpad buite die kamp.
Ek wag al van vieruur af. Ongeduldig vir Rian se bakkie om voor die Single Quarters stil te hou. Wanneer hy moet werk en ek alleen met Misha gaan draf, gesels ek met denkbeeldige vriende in my kop. Sommer hardop, nes ek verlede jaar met een van my drafvriendinne sou gesels. Maar saam met Rian is die draf lekker. Anders, ander tipe gesprekke, ’n vinniger pas. Die vlieënier het die eerste maand of wat saamgedraf wanneer hy hier is. Maar sy hare is heeltemal te netjies gekam en sy houding te glad. My Engels laat my in die steek wanneer hy sy mond oopmaak. Hy het ’n perfekte lyf en ’n James Dean-gesig en skeer sy beenhare omdat hy fietsry. Dit alles het dit vir my onmoontlik gemaak om te draf. Ek kan nie draf en terselfdertyd onrustig voel oor selluliet wat wapper of rolle wat uitsteek nie. Nie in sy perfekte teenwoordigheid nie, in elk geval.
Rian is plat op die aarde. En hy weet van mansdinge in die kamp waarvan ek nie van weet nie. Hy gee nie om om dit met my te deel nie.
Dit is ’n moeilike situasie. Ek en Louis is nie net geografies van die res van die padmakers geskei deurdat ons huisie alleen in die middel van die kamp staan nie. Ook sosiaal is ons anders, bly Louis die baas. Dit is ’n afstandskepper. Ek is ’n dubbele buitestander, as vrou en daarby as die baas se vrou. So voel dit vir my wanneer ons in die aande by die Single Quarters saam met die manne kuier en party van hulle my soos ’n toevallige gas hanteer.
Maar met Rian kan ek praat. Gedurende die hoogsomermiddae op stowwerige paaie het hy my vriend geword.
“Nou wil ek alles hoor van die stripshow. Moenie enige details uitlos nie. Asseblief, man. Ek is al so nuuskierig. Jy ken my.”
Rian buk eers in die middel van die grondpad om sy skoenveters behoorlik vas te trek. Hy kyk op na my. Lag dat plooitjies om sy oë vou. “Pleks dat julle gebly het,” begin hy met smaak vertel toe hy regop kom. “Jy moes dit gesien het. Ek het my geskeur. Ou Bill het behoorlik vlam gevat, getroud of te not. Ek het nie gedink die ou bok het dit nog in hom nie. Dans naderhand met net sy wit onderbroek aan. Ek kon sweer daar was gaatjies in. En die jong laaities natuurlik ook, jy kan dink. Uitgehonger is nie die woord nie.”
“H’m. Aan die brand.”
“Maar op ’n manier het dit later begin vervelig word. Want daar’s twee van hulle en twintig van ons. Dit was eintlik mal. Net een of twee van die ouens het later saam met die girls verdwyn.”
Ons draf teen driekwartpas die laaste steil helling uit voordat ons die kamp ver onder ons weer kan sien. My asem jaag; ons sessie was ekstra vinnig vandag.
Ek gaan staan teen die hoogte langs die pad, draai na Rian. “Wat bedoel jy, ‘vervelig geraak’?”
Rian lag. Net met sy mond. “Daai meisies is nou nie juis die brightste peanuts in die pakkie nie. En hulle is mos ook nie regte strippers nie, net girls wat ’n paar moves ken. So ná ’n rukkie, met dieselfde moves net op ander musiek, oor en oor, jy weet, tieties en boude net waar jy kyk. Wel, dis wat ek bedoel.”
Ek bly weer ’n oomblik stil. “Het jy …?”
Rian lag so hard dat hy moet stilstaan om asem te skep. Hy buk met sy hande op sy knieë. Sug toe hy regop kom. Sy nekvel en regterarm is rooigebrand. Padmakertan.
“Nee wat, man.” Hy lag half hulpeloos. “Seker maar mooi om na te kyk, maar dis waar dit stop. Malligheid. Hoe sal ek sê. Die spyskaart is nice, maar vroulief wag mos by die huis einde van die maand.” Hy lag weer en knipoog. “Ek eet liewers by die huis, jy weet. ’n Lekker sappige boeresteak.”
In my kop sien ek Charmaine hande op die heupe waar sy Rian voor hulle dubbelverdiepinghuisie in ’n Durbanse voorstad inwag. Die tweeling in die sandput en ousus op laerskool. Op ’n manier stel sy antwoord my gerus.
“’n Lekker steak,” herhaal ek en lag hardop.
“H’m. Ek sal dit nóú vat, sonder tjips of mushrooms of sous of enigiets.”
“Dink jy daai girls sal weer hiernatoe kom?”
“Nee. Ek dink hulle is verbruikersgoedere, soos ons op skool sou sê.”
“Nou hoe ken mans die verskil tussen gewone meisies en verbruikersgoedere?”
“Dis nie eintlik iets wat jy kan sê nie. Dis maar net iets wat ’n man wéét, jy weet?”
“Ek dink nie ek weet heeltemal nie.”
“Ons weet.”
Soutpansberg
Toe die handdoek grond toe sak, sien ek in die halflengtespieël die gulheid van ons Nel-vroue se kurwes. ’n Bietjie selluliet op die bobene, nes my ma en my sus. ’n Helder, droë vel en oë die kleur van natgereënde blare. Bruingebrand van buite leef in die subtropiese klimaat. Ek leun nader. My wange is besonder rooi vanaand. Asof die gevoel in my lyf my laat gloei.
“Kos is reg.” Louis het ’n groenslaai en gebraaide skaaptjops saam met vars brood op die buitetafel gedek.
Ek snuif die braaivleisreuk in toe ek op die stoep kom. “Jis. Ek is nou flippen honger. Hoor hier, dis rêrig lekker as jy ’n slag vroeg by die huis is. Jou kos proe anders as myne.” Ek trek ’n stoel uit en gaan sit met ’n sug.
Sy glas is leeg. Hy skink weer wyn en antwoord nie.
“Het jy die boek van Kerouac op my bedtafel gesien?”
“Ek het. Hy was ’n tydgenoot van Ginsberg en Dylan. Waar het jy dit raakgeloop?”
Ek is beïndruk. “Dis die boek wat ek by die kunstenaar present gekry het. Ek het nie gedink jy sal dit ken nie.”
“Dis mos ons musiek gewees daai.”
Ons skep in, sit aan met die