Glipstroom. Anemari Jansen

Glipstroom - Anemari Jansen


Скачать книгу
gee my hoendervleis. Ek wil nie aan verlede jaar dink nie. Nie nou nie. Ek kreun en rol om op my sy, my hande tussen my bobene vasgeknyp.

      Sy woorde. “Blommekind. Jy sal daardie boswêreld soos ’n fokken steeks perd moet ry.”

      Afskeidswoorde. Die manier waarop hy my kon vaspen met sy donker oë. Ek wieg myself heen en weer op die bed. Herinneringe van die tye wat ek saam met hom deurgebring het, vryval deur my.

      Rol op my rug, lig my kop effens op en kyk na my maag. Dit lyk nog plat en ferm. Ek streel stadig daaroor. Ek het my sin vir rigting verloor. Dit en die vooruitsig op ’n rustige, ongekompliseerde lewe. Oor ’n paar weke kom ek weer hierheen, om te bly.

      Louis kom in nadat die kragopwekker stil geraak het. Hy ruik na rook. Ek lê doodstil, asof ek reeds slaap. Probeer my asemhaling egalig hou. Hy trek haastig uit en val met ’n sug op die ander enkelbed neer. Toe draai hy na my en vou sy arm oor my skouer.

      Ek knyp my oë toe en kruip later heeltemal onder die laken en grys kombers in om die muskiete te ontwyk. Hulle bly deurnag pla. Sonder krag is ons aangewese op Tabard-room en -spuitgoed. Die matrasse is hol in die middel en ek lê heeltyd skeef.

      Kom op my elmboog orent en leun oor na Louis, oorgestimuleer deur die dag se gebeure. Dalk is hy ook onrustig en in ’n bui vir gesels. Maar dis pure verniet. Wanneer sy oë snags toegaan, het ek al agtergekom, sak hy weg in die dryfsand van sy lyf. Sy gesig word onherkenbaar. Hoekig, met swart vlakke en skaduwees. Ek lê lank na hom en kyk.

      Soms gebeur dit ook bedags. Louis se oë wat wegskuif, ander dinge bedink, selfs wanneer hy met my praat. Asof sy brein geprogrammeer is om gelyktydig op verskeie dinge te fokus. Asof gesprekke met my laer af op sy prioriteitslys is. Ek draai my rug na hom toe. Krul in ’n bondel op. My verhemelte proe droog, soos motvlerke.

      Louis skud my vroeg wakker. Klaar aangetrek. “Kom ek gaan wys jou iets moois.” Hy stap venster toe. “Jammer ons kan nie eers koffie maak nie. Maar hierdie wêreld is op sy beste vroeg in die oggend. Trek jou stapskoene aan.” Hy kyk na die muskietbyt op my arm. “En jy moet jou deegliker met Tabard smeer.”

      “Oukei, ek wil net tande borsel. Wag vir my.” Ek swaai my slaaplyf van die bed af.

      Die sementvloer is koel onder my voete. Ek spoel my gesig af onder die kraan in die badkamer. Met die buk oor die wasbak voel ek naar. Kyk op na my gesig in die spieël. Bleek. Hoe lank gaan dit nog aanhou? Ek spoel my mond uit en borsel tande. In my badsakkie is ’n bottel Liviton. Ek neem ’n deeglike sluk en stap uit.

      Ons loop in die vroegoggendstilte oor die grasperk. Toe al langs ’n paadjie wat na die Okavangorivier toe lei. Dou op die gras teen my bene. Daar is duiwe en kiewiete op die grasperk. Ek ruik die oggendpap wat by nabygeleë huisies kook. Die pap word van mahangu gemaak, sê Louis, en word op die styfgetrapte oppervlak van ’n termietnes deur die vroue met houtstampers gemaal. Die oshifima wat hulle daarvan berei, het ’n grinterige tekstuur. Dieselfde mahangu word gebruik om die tradisionele ontaku- of oshikundubier te brou. Heeldag sit die manne kruisbeen by die cuca shops en drink.

      Die omaramba lê verder as wat ons gedink het. Ons is omring deur ’n see van grasveld en vlaktes.

      “Is ons al amper daar?”

      “Byna. Kyk, dis net daar voor by die riete.” Louis is stapfiks, gewoond aan hierdie wêreld en sy afstande.

      Hy gaan sit op sy hurke en trek met sy wysvinger oor die sand in die paadjie.

      “Wat maak jy?”

      “Ek het gedink ek sien ’n sitatunga se spoor. Ek soek al vandat ons hier aangekom het daarna, maar ek weet nie of hulle so ver wes sal voorkom nie.”

      “’n Sitatunga?”

      Hy kom orent. “Dit is ’n uiters skaam boksoort. Met gewebde tone. Hulle hou tussen die riete en papirus hier naby die rivier. Voor ek uit Namibië uit is, wil ek een sien.”

      “Mooi naam vir ’n bok.”

      “Kom ons sit sommer hier voor op die riviersand.” Hy trek my langs hom neer.

      Drifwater wat opstoot tussen die riet, daar vasgevang bly. Louis sit sy arm om my skouers. Sy been met die growwe rooi haartjies skuur teen myne. Ek voel die gewig van sy arm. Ruik sy deodorant. Die Okavangorivier dreun hoorbaar. ’n Veilige, bekende arm.

      Hy kyk weg, maak keel skoon en draai weer na my. “Sien jy regtig kans hiervoor?”

      Ek huiwer, byt my lip vas en maak my oë toe. “Jis, Louis.”

      “Ek moet jou waarsku. Dit word bleddie warm en mens het eindelose frustrasies om dinge georganiseer te kry. Maar dit is belangrik dat jy saamkom. Ek gaan jou ondersteuning baie nodig hê. Uit die aard van die saak is dit nie ’n maklike kontrak nie.” Sy oë dwaal rivier toe. “En ons kan nie langer so ver uitmekaar bly nie. Vir ons verhouding is dit beter.”

      “Weet jy, ons moet regtig nog …”

      “Maar dinge sal reg wees wanneer jy hier aankom, jy sal sien. Ek sal sorg. Die huis sal klaar wees met ’n heining en als.” Hy stamp met sy skouer na my. “Komaan. Ontdekkingsreisigers.” Sy oë blink. “Sien dit só. ’n Nuwe begin. Ons kan hierdie hele plek ontdek. Botswana, Zambië, Zimbabwe. Alles is maklik binne bereik. Ek bedoel, hoeveel mense kry die kans om dit te doen?”

      “Ons moet nog praat, die een of ander …”

      “Daar is baie tyd om te praat in hierdie wêreld.” Hy skiet ’n klippie oor die rimpelvlak.

      “Wag nou eers.”

      “Dis tyd om te gaan. Ons kan nie laat wees vir ete nie.”

      ’n Ander man se woorde weerklink in my kop. Oor en oor, soos die refrein van ’n popliedjie wat nooit end kry nie: ’n Kind het ’n ma én ’n pa nodig.

      Alles wat belangrik is, bly ongesê. Ek wil nie hierdie padkamplewe hê nie. My hart is nog stukkend ná daardie gesprek van Desember. Agter my het die pad doodgeloop. My wêreld van verlede jaar het grys geword. Die dinge wat gebeur het, het die verloop van my hele lewe verander. Van óns lewe verander. En hiervan weet Louis nog niks. My oë traan toe die son op die rivierwater reflekteer.

      Ek kyk weer na Louis, wil nee sê, hom vertel wat aan die gebeur is, maar ek kan nie. Wat gebeur wanneer ’n vrou haar woorde insluk? Waarin los daardie woorde op of wat heg daaraan vas?

      ’n Sprong in die donker. Met ’n valskerm wat dalk nie sal oopmaak nie.

      Ons stap terug na die klooster. ’n Klok lui in die verte.

      “Ontbyt,” beduie Louis en rek sy treë.

      Die paadjie wat ons volg, swenk verby die kliniek. Dis ’n klein, plat geboutjie met ’n sinkdak. ’n Ry mense sit gebukkend in die son. Hulle is klein, skraal. Die vroue het lappe en doeke om hulle. Hulle gesels in sagte klanke.

      “Wat maak hulle daar?”

      Louis kyk om na my. “O, dit. Die kliniek maak netnou oop. Hier is baie malaria hierdie tyd van die jaar. Die DDT wat hulle om die hutte en teen die dakke spuit, help ook net tot op ’n punt. Hulle het gisteraand in die ry geslaap sodat hulle eerste kan wees wanneer die susters oopsluit.”

      “Wat is DDT nou weer?”

      “Dis ’n gifstof. Maar die gebruik daarvan het verreikende gevolge op die omgewing. Dis nie so straightforward nie.”

      “Wat kan gebeur?”

      “Man, dit beland naderhand in die water en dan word dit oor jare heen deur die visse ingeneem, dan deur die visarende en dan word hulle eiers sag. Wanneer die ouers per ongeluk daarop trap, breek die eiers. ’n Tragiese kringloop.”

      “Dis verskriklik.”

      “Malaria is net so verskriklik. Catch-22-situasie.”

      Ek kyk na die groepie mense toe ons nader kom. Verrinneweer en verwese onder die broeiende son. Daar is ou mense met krukke en mense wat ledemate verloor het en vroue met


Скачать книгу