Die helder dae. Danie Botha
>
Danie Botha
Die helder dae
Outobiografiese verhale, rubrieke en essays
Tafelberg
HEIL DIE LESER!
(Soos ons in die ou dae geskryf het)
Ek versamel hier outobiografiese tekste wat ek oor jare heen in koerante, tydskrifte, bloemlesings en op LitNet gepubliseer het. (Waar daar nie ’n bron vermeld word nie, is dit in die geheel nuut.) Ek het ook hersien en/of aangevul. Ek rangskik die artikels, essays, verhale en enkele gedigte chronologies volgens die inhoud en nie volgens datum van eerste verskyning nie. Sodoende ontstaan hopelik ’n beeld van my lewe tot dusver.
Gaandeweg kom ek agter hoe ’n invloed die NG Kerk nog al die jare op my gehad het. Reeds van my kinderjare af op die plaas met my ouers en ander volwassenes se lewensbeskouing. Daarna die jare van katkisasie gee (Sondagskool hou), saamwerk met die Gemeente Kaapstad (Groote Kerk) se Kerkjeugvereniging, later Kerkjeugaksie; periodes van diaken en ouderling wees in dieselfde gemeente.
Binne die kerklike lewe het ek meer geleer van God. Hy wat ek altyd aanspreek as “O Here God en Meester”. In en om die NG Kerk ontdek ek hoe ek dag en nag afhanklik van God is vir sy leiding, beskerming en ontferming. My ontsag vir Hom, my hele Godsbegrip het deurgewerk in my jare toe ek nog voltyds uitgewersredakteur was, nou as vryskut ná aftrede; as vryskuttoneelresensent; destyds toe ek skurke in radiosepies vertolk het en konings in kinderopvoerings was. Ek het nog altyd sy hulp gevra: wanneer ek ’n kultuurprogram gaan aanbied het by Fine Music Radio (elf jaar lank); of wanneer ek ’n boek met ’n leeskring moet bespreek. Daar is nie ’n tyd in of aspek van my lewe wat my nie in verbinding met God bring nie.Van probleme met tegniese apparate deur donker nagte in die kloustrofobiese waakeenheid ná ’n drie-aar-hartomleiding tot onvervuldheid in my liefdeslewe. Uit benoudheid beweeg ek dikwels na vreugde. Dit is soms nag vir my, maar dan volg daar ook die helder dae. Dink net: hoe heerlik is sulke dae nie!
Wonderlik dat ek in God kan glo.
Met die versamel van tekste wat in verskillende tye geskryf is, ontstaan herhalings. Sekere inhoude kom ter sprake in meer as een teks. Ek het dit tog probeer verminder.
Omdat ek soms heen en weer in die tyd beweeg met vertellings, gee ek hier ’n samevatting van my lewensloop ter oriëntering:
1947: Ek is gebore op 28 Februarie 1947 buite De Doorns. Bring my kinderjare deur op ’n plaas in die Brandtwachtvallei noord van Worcester. Gaan skool op dié dorp.
1962-64: Werk in die dorpsbiblioteek op Saterdae en in vakansies. Matrikuleer aan die Hoër Seunskool.
1965: Militêre diensplig op Oudtshoorn, Grahamstad en Beaufort-Wes.
1966 tot einde 1970: Werk as biblioteekassistent by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens in Kaapstad. Vanaf 1967 neem ek jaarliks studieverlof en behaal ’n BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch aan die einde van 1970. Was ’n inwoner van Helderberg-koshuis.
1971 tot Augustus 1972 is ek boekekeurder en ook redaksielid van Die Kaapse Bibliotekaris by die Biblioteekdiens.
Augustus 1972 tot April 2000: Boekeredakteur by Tafelberg-Uitgewers, hoofsaaklik in die afdeling fiksie vir volwassenes. Ná my uittrede in 2000 tot op hede: boekeredakteur as vryskut vir verskillende uitgewerye; meestal vir die groep NB-Uitgewers. Van 1970 was ek betrokke by amateurtoneel tot in die vroeë neëntigerjare; behaal ’n lisensiaat in voordrag en dramakuns aan die Akademie vir Dramakuns in Kaapstad in 1976. Vanaf die volgende jaar is ek betrokke by die radio as vryskut in dramaproduksies en medewerker in letterkundige en kunsprogramme. Vanaf 1986 skryf ek toneel- en boekresensies asook huldigings, hoofsaaklik vir Die Burger en die webruimte van die Masque-teater in Muizenberg.
Ek bedank graag vir Engela Reinke wat baie van die tekste oorgetik het. Sy het só gunstig daarop gereageer dat ek die vrymoedigheid gehad het om dit voor te lê aan NB-Uitgewers. Dankie, Veronica Scholtz, vir jou aanmoediging. Ook Linda Rode, Engela van Rooyen en Johann de Lange. Daarna was ek verder bevoorreg om Etienne Bloemhof as uitgewer te kry, George Louw as redakteur, Susan Bloemhof as ontwerper, Theunis Engelbrecht as proefleser en Willem Louw om die teks elektronies te versorg. Karen Jorgensen van die biblioteek op Worcester en Madaleine du Plessis het inligting oor die biblioteekwese verskaf. Nola Doré van NALN, Francois Verster vanMedia24 se argief, Marsha Conning by NG Kerk in Suid-Afrika-argief en Sonja-Marié Brand van Kerkbode – julle het my gehelp om tekste en bronverwysings te bekom. Alzette Prins het ingestem dat ons haar humoristiese skets mag gebruik; dit het voorheen in rooi rose verskyn by een van die sketse waarmee verhaleredakteur Corlia Fourie skryfleiding gegee het. Ek is julle almal baie dankbaar.
Daar is nog heelwat ander mense wat hierdie versameling moontlik gemaak het: bloemlesers, redakteurs van boeke, koerante en tydskrifte, uitgewerskollegas en skrywers. Naas hulle is daar nog die talle mense waaroor ek hier skryf. Dankie vir die herinneringe.
En nou bly net oor dat ek u nooi om die boek te lees. Daarvoor haal ek Harry Kalmer aan wat in ’n resensie omskryf het hoe leesgenot werk: “’n Groot deel van leesgenot lê in wat lesers self na ’n boek bring: die herken van dinge in hul eie lewe; die formulering van insigte wat hulle altyd in hul agterkop gehad het; die bevestiging van vrese, vermoedens en verwagtings.” (Resensie van Riette Rust:’n Lyf onthou, Die Burger, 14 Mei 2012.) Ek hoop dit is wat u gaan ervaar.
Danie Botha
I
“Om jonkheids blye môre”
(Jan F.E. Celliers)
“Om dae lank verby”
(Jan F.E. Celliers)
Wanneer skuiframe rittel aan toue
in Ouma se voorhuis
dreun met die noordwester
vergange grappe en klagtes
argumente en leuens
maar nie iets van liefde nie.
Ook deur geelbruin ysterhouttoppe
met hul klokkiesade sewejaartjie-bros,
vroegoggend by die drif gepluk,
skeef in ’n konfytfles gesteek,
bly die wind nog storm
na die veraf
van jare en berge.
“Boekeblad”, Die Burger, 1 Maart 2010.
“Doen alles wat sy vir jou sê”
Daardie Januarie-oggend is die Voorbereidende Skool op Worcester baie besig. Dis die inskryfoggend van 1953 se sub A’s. Dinge is anders en nuut vir ’n man. Jy’s nog vyf jaar oud, maar word al ses op 28 Februarie.
“Doen alles wat sy vir jou sê.” Mamma wys na ’n tante in die middel van die groot kamer. Sy lyk half na Ouma Botha. Sy het grys hare en ’n geel rok met swart koringare daarop.
En die volgende oomblik is Pappa en Mamma weg. Jako1 sien ’n klomp ander kinders wat bymekaar op hulle hurke of kruisbeen sit. Hy kniel by hulle. Hy hou sy koffertjie styf vas. Binne-in is ’n pakkie toebroodjies. Mamma het dit in die gladde papier-vir-die-botter toegedraai. Die papier het ’n prentjie van ’n koei op.
Om hulle is baie grootmense met kinders aan die hand. Dis warm en die pratery dreun en dreun, met skerp huilklanke tussendeur.
Nou sien Jako die kas langs die muur. Dit het deure met glasvensters. Hy skuifel nader, sleep die koffertjie saam. Daar’s skilpadjies in! Nie lewendes nie. Groen en geel en oranje. Hy weet nie waarvan hulle gemaak is nie. En daar’s poppies. Húlle is van blare en skulpe. Hy kyk en kyk maar daarna.
Toe dinge begin bedaar, maak van die ander hul koffers oop en haal goeters uit. Jako ook: die toebroodjies. Die snytjies met die perskekonfyt wil uitskuif by die