Die helder dae. Danie Botha

Die helder dae - Danie Botha


Скачать книгу

      Sy is besig om vir elkeen ’n stuk papier te gee, sê hulle moet dit huis toe neem. Mamma het dit later ’n “vorm” genoem. Sy gee ook een vir Jako en wys terselfdertyd na sy brood en sê: “Draai toe.” Jako sukkel om die taaisagte brood met die stywe vorm toe te draai.

      Sy glimlag, draai die brood weer toe met die koeipapier en sit ’n ander vorm in Jako se koffer.

      Vir 1953 se span het die tante juffrou Theron geword.

      Middae is sy êrens in haar donker kantoor besig. Hulle plaaskinders speel in die sandput terwyl die kinders in die laer- en hoërskool nog klas het. Of ry op die ysterrondomtalie wat jou naar op die maag kan maak. Hulle moet agter die hek op die skoolterrein bly totdat oom Gawie de Kock se geelwit skoolbus langs die tingerige plataanboom stilhou. Dan eers mag hulle al met die wit strepe langs oor Tulbaghstraat loop. Die polisie-oom met die wit handskoene het al lankal die dorpkinders tot op die oorkantste sypaadjie gehelp; hy is nou huis toe.

      Aan die begin van die jaar het juffrou Theron self vir hom en Pieter-hulle gewys hoe om te maak. Kyk eers links, dan regs, dan weer links en as daar niks motors aankom nie, stap jy flink oor. Al met die wit blokke langs; nie sommer kruis en dwars en af van die blokke nie. Nog later het die twee Rosies wat middae die klaskamers aan die kant maak, ook soos juffrou Theron vir Jako-hulle aan die hand gevat en saam oorgestap.

      Vanmiddag is Pieter-hulle al weg toe Jako by die skoolhek uitdraf. Aan die oorkant van die straat, aan die einde van die blokke staan oom Gawie se bus. Iemand se motor staan op sy plek by die plataanboompie. Nou het oom Gawie stilgehou met die sitplekgedeelte reg oor die laaste blok.

      “Julle mag nie van die blokke af gaan nie,” het juffrou Theron gesê.

      Stadig begin Jako oorstap. Hy steek vas voor die sitplekgedeelte. Hy sak af en waar die wit blok onder die bus ingaan, kruip hy in. Sleep die koffertjie agter hom aan. Bo en om hom is geel stukke modder. Hoe dieper hy inskuif, hoe donkerder word dit onder pype en ysters. Dis of die bus op hom afsak. Dit druk hom vas. Hy kan nie vorentoe nie. Hy gaan nie hier deurkom nie.

      Hy móét omdraai. So vinnig as wat hy kan, skuif hy agteruit. Terug in die sonlig hardloop hy om die neus van die bus, by die deurtrappie in en gaan sit op die nou bankie.

      Sê nou juffrou Theron het hom gesien? Hy het van die blokke afgehardloop! Sy gaan die polisieman uitstuur plaas toe om hom te kom vang.

      Die hele middag wil Jako nie sy voete by die voordeur uitsit nie. Netnou kom die polisieman oor die stormwatersloot met sy motorfiets gery, sien vir hom en kan hy nie wegkom nie.

      Teen skemer sit Jako voor die kamervenster en kyk en kyk al met die dorpspad langs.

      Die volgende dag laat roep juffrou Theron hom ook nie. Toe het Jako ’n geheim.

      ’n Donderdagmiddag in April kom juffrou Theron skielik by die klaskamer ingestap. Sy kyk vir Jako-hulle met haar ouma-oë deur en vra: “Wie kom almal van die plaas af? Steek asseblief hande op.”

      Het sy dan al vergeet?

      “Kyk, julle plaasmense, ons het ’n bietjie mis nodig vir ons roosbome. As julle elkeen ’n kardoessak vol bring, sal ons al ver kom. Onthou nou, bring dit môre vir juffrou Snyders.”

      Vieruur, kort voor melktyd, gaan Jako af beeskraal toe. Juffrou sal seker droë koeke verkies. Hy gaan regtig vir haar help. Daarom maak hy twee kardoese vol.

      In die kamer pas hy dit versigtig in sy koffer in. Die sakke lê kant en wal. Bo-op sit hy sy leesboek.

      Die volgende oggend moet hy die worshond-kosblik maar in die hand bus toe dra.

      Die hele dag wag Jako met die mis in die koffer. Nie juffrou Snyders, nie juffrou Theron vra wie’t mis gebring nie. Nie een van die ander wat hande opgesteek het, haal kardoese uit nie.

      Jako neem die mis in sy koffer maar terug huis toe.

      Ek onthou vir Ouma Möller

      Dit was die winter van 1954 toe Ouma Möller dood is, en sy in De Doorns se kerkhof begrawe is en Mamma glo “sneeu-op-die-berg” op haar graf geplant het. Jare later het Oupa, Ma se ousus, tant Hendrina, en haar man, oom Andries, sover gekom om haar graf “te laat opmaak” – net ’n vierkant gruis en ’n stukkie marmergladheid met Hendrina Christina Möller daarop. Was dit uit armoede dat daar so min van my ouma gemaak is?

      Dit was al sterk donker toe Pa aan die bokant van die bloekombos by die dam driftig aangeloop kom. Oom Pietie-hulle, ons bure, het hom laat kom. Iemand het gebel. Ons het nie ’n telefoon in die huis gehad nie. Het hulle altyd net die boodskap oorgedra? Of het oom Pietie of tannie Lily teruggebel namens Pa of Ma? Nee, Ma het darem seker geweet hoe ’n telefoon werk; uit haar dae by die Skool vir Blindes se Nasorg op die dorp. Eenkeer het ons op Wolwekop naby Touwsrivier gekuier; toe is Pa bang die telefoon lui terwyl die huismense weg is. Ons het die hele middag ver van die huis in ’n droë sloot langs ’n doringboom gesit.

      Dié aand in Julie het Pa die boodskap gaan kry. Seker tant Hendrina, wat van Oupa-hulle af op Orchard gebel het.

      Pa loop verby die klein sementdam langs Ouma Botha se hoenderhok en ons skoppelmaaie aan die bloemkombome.

      Deur my en Koos se slaapkamervenster hoor ek hoe praat hy langsaan met Oupa-hulle oor die Groothuis se agterdeur. Eers vloek hy, sê dan baie hard: “Ma Möller is dood!”

      Hierna ’n gemaal in die skemer in ons huis. Ma kom by ons kamer in waar die groot klerekas staan met die koperappelbome bo die deure. Stompie kers in die hand kom haal sy klere uit.

      Mamma het net ’n onderrok aan. Dis die eerste keer dat sy so voor ons verskyn. Nooit, nooit vantevore nie. En Mamma kerm en Mamma huil terwyl sy in die kas krap.

      Sy swaer Kosie Malan leen sy bakkie vir Pa sodat hulle dieselfde nag nog kan deurry. Ons kinders bly by Oupa en Ouma Botha.

      Tant Hendrina en nefie Andri het vir die naweek by Ouma-hulle gaan kuier.

      Waar was Oupa dan? Hoekom was hy nie by die huis nie?

      Nee. Ek moenie te veel daarin lees nie. Hy was seker nog by sy werk by die Diceys se pakskuur. Dit was Vrydagmiddag. Moes seker betaalwerk doen. Tant Hendrina en Andri het bes moontlik halfvyf met oom Lawrence se taxi van Worcester af voor die lang huis stilgehou.

      Ouma het in die kombuis gestaan. Die kombuis met die sementvloer. Jy het met twee treetjies afgetrap van die eetkamer … Nee, dis oom Piet le Roux se kombuis op Hartbeesrivier waar Pa Vrydagaande almal laat lag het met sy stories.

      Nee, Ouma Möller se kombuis het tog plankvloer gehad. Grysbruin plankvloer.

      Dis op hierdie grysheid dat sy neergeval het voor tant Hendrina.

      Hier in die kombuis het sy eenkeer ’n mannetjie uit ’n pampoenskil gesny. Net vir my. Sy het gaatjies met ’n vurk gedruk en korente vir sy oë, neusgate en mond daar ingepak. Nee, nonsies. Sy’t net gaatjies gemaak.

      Ek onthou so min.

      In my voorskoolse tyd moes my bene saans gespalk word omdat my knieë te veel na binne gestaan het. Die skroefies, leer en plankies het my seergemaak. Ek het gehuil en teen die kamermuur geskop sodat die gate so sit. Teen die tyd dat ek vir die eerste keer skool toe moes gaan, het die dokters … die spesialiste … spesiale skoene gegee wat ek net saans mag uittrek. Die dag toe die skoene sou kom, het ek in die bloekomboom aan die onderste end van die bos geklim. Die een langs die graansnyer wat jou aan ’n sprinkaan laat dink as die wit kapsparre nie aan is nie. Ek het lank die pad dorp toe dopgehou. En toe die bruines later gelate aangetrek. En dit het nie eens baie snaaks en anders gelyk nie!

      Ouma het eendag oor my bene met my gepraat in haar kombuis.

      Ouma het aandag aan my gegee.

      Sy het met ’n glimlag begin praat. Onder haar voorskoot het sy haar rok met die wit-en-swart blokkies aangehad. Sy het dit dalk gedra


Скачать книгу