Die beste spookstories van C.J. Langenhoven. Danie Botha
soete stralende gesig van ’n engel. Om besoekers te ontvang en vreemdelinge te herberg het sy ’n besondere huisie gebou, met sitkamer en vrykamer. In die groot huis woon sy self, stoksielsalig alleen. Niemand anders kom ooit daarin nie.
Rens van Rensburg se verhaal
Die tralies in die veld
Rens was in sy vroeër jare ’n bekende handelaar, algemeen geag en vertrou om sy vlekkelose eerlikheid. ’n Skraal, donker mannetjie met ’n intellektuele gesig en ’n paar gevoelvolle donker oë, wat jy eerder vir ’n leraar sou aangesien het as vir ’n besigheidsman. Hy het ook maar net by sy vak gebly tot hy in die vermoë was om hom daaraan te onttrek, en toe stil gaan woon op ’n Bolandse dorp, waar ek met hom kennis gemaak het. ’n Jammerhartige, vrygewende, saggeaarde man; elkeen had hom lief.
Toe hy verneem van my aankoms daar op die dorp waar hy nou woon, het hy my kom opsoek en hom aan my bekend gemaak, en my genooi om die aand by hom deur te bring.
Ná die ete het hulle vir hom ’n blikbord uit die kombuis gebring en daarin het hy kos geskep voordat die tafel afgedek word.
“Ek gee my ou Monro self kos,” sê hy. Hy neem ’n kers en ek gaan saam met hom uit. Die ou hond kon skaars meer sy kop optel.
“Ja, Oom; hy is so te sê stokblind en stokdoof, maar Oom sien, hy ken my nog. Kyk hoe kyk hy na my met daardie oë waar daar byna geen skyn meer in is nie. Die hond wat jou liefhet, kyk nie na jou soos ’n ander dier na jou kyk nie. Hy kyk na jou soos ’n mens na jou kyk. Ek sien Oom is ook lief vir ’n hond. Ná die huisgodsdiens vanaand sal ek Oom ’n geskiedenis van ’n hond vertel.”
En toe later het hy dit gedoen, en die geskiedenis volg hier. Maar vooraf sê hy: “Onthou Oom daardie versie van Langenhoven:
Maar is dit hy wat eerste gaan
Dan leg jy op sy graf,
En pas sy rusplaas op en wag
Vergeefs ’n weersiens af.
“Moet ’n mens nie agter daardie ‘vergeefs’ ’n vraagteken sit nie?”
En toe daar, die aand aan die eettafel, waar sy huisgesin by was, sy vrou en ’n groot dogter – die ander kinders was op skool – het Rens van Rensburg my die storie vertel wat hier volg. GHHK
Die plaas Blyrivier lê ’n myl of agt van die naaste dorp af. Die pad van die dorp na die plaas loop gedeeltelik langes ’n droë kloof op, met steil, hoë koppe aan weerskante. Wanneer jy byna bo is, gee die rante pad en jy ry oor ’n opdraande vlaktetjie. Dan kom jy op die hoogte uit, en hier, ná die onbewoonde bossiesveld wat jy agtergelaat het, lê voor jou oë uitgesprei ’n panorama van landerye, tuine, wingerde en bome, met ’n menigvuldigheid van wit huisies met swart rietdakke tussen die groen. Die plaas is aan kleine hoewes opgesny, want die grond is vrugbaar en die watervoorraad vas.
Ek was nou jare lank nie in daardie geweste nie; maar een tyd, toe ek nog my besigheid had, moes ek taamlik dikwels daardie pad ry, nie na die plaas toe nie, maar heen en weer daar verby, alle tye van die dag en nag.
Een aand kry ek met die verbygaan ’n teëspoedjie sodat ek nie maar kon aanhou deur die nag soos my plan was nie. Ek gaan by die naaste woning aanklop – ’n prentjie van ’n huisie, omring van blomme en byna oorgroei met kanferfoelie. Met gebruiklike Afrikaanse gasvryheid is my daar herberg en liefde verskaf.
Die man en vrou was, het ek getakseer, êrens tussen die veertig en vyftig, net hulle twee alleen – hulle huwelik was kinderloos. ’n Pragtige groot rooi hond, Jasper, met ’n wolharige jas, van geen erkende ras nie, het die plek, kon ’n mens byna sê, van ’n kind ingeneem. Hy word mee gesels nes ’n mens en hy antwoord met ’n paar sprekende oë waaruit menslike begrip straal. Ook hy het sommer met my vrinde gemaak: dit neem in my geval die vreemdste en knorrigste hond nooit lank nie – hulle weet vanself my gesindheid jeens hulle. Die man se naam was Hans Weimar, ’n bedaarde soort kêrel van weinig woorde, maar soet van uitdrukking. Hy was fris en groot van bou; sy vrou ’n tengerige dingetjie, opgeruimd en ’n mens sou byna sê kinderagtig. Ek kon sien die twee was innig geheg aan mekaar.
Ná daardie eerste kennismaking het die beloop van my sake dit meegebring dat ek ’n geruime tyd nie meer daardie pad gereis het nie. Dit kan ’n agtien maande gewees het voor ek weer, een namiddag, daar oor die vlaktetjie opry om aanstons op die hoogte uit te kom en die plaas in die gesig te kry. So in die ry sit ek en dink aan my nagverblyf daar die vorige maal, en aan die vriendelikheid wat ek daar geniet het, en ek besluit om by Hans en Wilhelmina aan te gaan om dag te sê, en miskien daar ’n uurtjie uit te span, al was die skoffie wat ek van die dorp af gekom het nog maar kort.
Terwyl ek so sit en dink, val my oog op ’n stuk handewerk wat nie vantevore daar was nie. Tussen die bossies lê ’n eensame graf, en bestem om eensaam te bly, of byna eensaam, want hy was in die vierkant omgetralie, plek latende vir nog een liggaam wat klaarblyklik bedoel was om, wanneer die tyd daar sou wees, neffens die eerste ’n rusplaas te vind.
Van die pad af kon ek nie mooi duidelik sien nie – dit was ’n vyf-en-twintig of dertig tree opsy en daar was gannas en kraalbossies voor. Maar so ’n afgesonderde plek om ’n verlore dierbare weg te lê was vir my so treffend dat ek my kar laat stilhou en soheentoe stap.
Toe ek daar kom, sien ek die graf is darem nie so eensaam nie. Langes die heuweltjie van grond, wat van rankgewassies al byna toegedek is, maar nog binne die tralies, staan ’n hokkie van stene gebou en met riet gedek, omtrent so groot soos ’n buite-bakoond. Ek hoor knor; ek loop óm om in die bek van die geboutjie in te kyk. Daar lê Jasper, binne-in, met sy kop by die opening, sy kin rustende op sy voorpote. Dit was nie eens nodig vir my om die opskrif op die grafsteen te lees nie:
JOHANNES
HILDEGAARD
WEIMAR
GEB. XXXX
OORLEDE XXXX
EGGENOOT VAN
WILHELMINA Maria
WAT HOM WELDRA
SAL VOLG
Jasper kyk op in my gesig en hy ken my dadelik. Hy gee so effentjies ’n paar swaaitjies met sy stert, net soos ’n hond maak wat in sware pyn is van verwonding of gif of siekte, wanneer sy baas naby hom kom. Maar Jasper lig nie eens sy kop op nie. Ek wou tot by hom gaan om hom te streel en my hartseer te betuig oor syne, maar ek sien die hekkie is toegesluit; en ek het nie gevoel of dit eerbiedig sou wees om oor die tralies te klim na binne toe nie.
Ek staan nog daar, toe sien ek Jasper lig sy kop op en hy kyk by my verby. Ek draai om; ’n entjie van my af kom Wilhelmina aan met ’n mandjie in haar hand. Sy is in diepe rou gekleed; daar is geen lewendigheid nou in haar bewegings nie; sy stap soos iemand wat ’n kruis dra. Haar hele houding is ’n stille openbaring van die ledigheid van haar hart.
Ek loop haar tegemoet. Haar oë vul met trane toe sy die deernis in myne sien. “Ja, my neef, nie lank nie nadat ons met jou kennis gemaak het en jy met ons, het Hans siek geword – die eerste siekte van sy lewe. Die derde dag moes ek hom afgee. Lank voor sy siekte al het ek en hy afgespreek dat ons eendag eensaam en afgesonderd by mekaar sou rus soos ons eensaam en afgesonderd geleef het. Daar langes hom sien jy wag my plekkie vir my.”
Met die praat was ons genader tot voor die hekkie. Wilhelmina sluit hom oop en gaan in. Ek wou net agter haar ingaan, toe vlieg Jasper op en half uit sy huisie uit, sy hare orént, sy tande wit. Wilhelmina praat met hom. “Nee, Jasper, nee, nee, my hondjie. – My neef, moet tog maar asseblief nie inkom nie. Ek sal nie vir Jasper kan keer nie.”
Ek tree agteruit en leun van buite oor die tralies. Jasper se woede bedaar net so skielik as wat dit ontvlam het. Wilhelmina haal sy kos uit die mandjie en sit dit voor hom neer. Hy kyk eers in haar gesig op, waai met sy stert, en lek haar hand. Toe vat hy eerste die been, knyp dit tussen sy voorpote vas, en begint te knaag.
Wilhelmina bly by hom staan en vervat haar gesprek met my. “My neef, toe die graf die dag hier toegegooi is, het Jasper hier gaan lê, teen die hoop rou grond. Die