Die beste spookstories van C.J. Langenhoven. Danie Botha

Die beste spookstories van C.J. Langenhoven - Danie Botha


Скачать книгу
derde dag het ek met ’n kar gekom en mense om my te help en rieme om hom vas te bind en huis toe te ry. Hy het eers so gespook tot hy vas was, en toe so bitterlik aan die huil gegaan, dat ek hom maar weer losgemaak het. Daarná het ek beproef om hom te laat verhonger. Drie dae het hy hier gelê sonder kos of water, en hier sou hy van die honger doodgegaan het eerder as om sy pos te verlaat. Van toe af bring ek dag vir dag sy kos vir hom hierheen. Dis nou veertien maande dat hy sy baas se graf bewaak.”

      Wilhelmina het met my saamgery tot by haar huisie met die blomme daaróm, en die kanferfoelie daaroor, en die leegheid daarbinne, en ek het haar gegroet en verder gery met baie droefheid in my hart.

      Daarna het weer enige maande verloop, en toe kom ek een aand sterk skemerdonker by die veldgraf verby. Ek klim weer van my kar af en ek stap deur die bossies tot by die tralieheininkie. Jasper lê op sy ou plek, sy kop net buitekant die steenhuisie, sy kin rustende op sy voorpote, sy oë oop, wakker. Maar hierdie slag neem hy nie die minste notisie van my nie. Ek fluit, ek klap met my vingers, ek roep hom op sy naam – hy kyk nie eens na my nie.

      Meteens spits hy sy ore. Hy kyk langs hom na die graf, toe op, asof daar iemand op die graf staan. Skielik vlieg hy op en hy spring en gaan te kere met uitbundige gebare. Hy lek, waar daar ’n hand sou gewees het as iemand voor hom sou staan; hy staan op sy agterpote regop, met sy voorpote teen wat ’n bors sou gewees het; hy leun daarteen met sy kop en soos van ’n hand wat streel, word sy oor platgedruk.

      Aanstons bedaar hy; hy gaan weer lê, kin op die voorpote; sy stert swaai nog saggies soos ’n slinger wat besig is om tot stilstand te kom. Weldra lê hy weer stil, kin op die voorpote, oë oop, wakker.

      Toe merk ek eers dat daar aan die voetenent van die graf ’n klein steentjie opgerig is. Die opskrif is na buite sodat ek dit deur die tralies by die lig van ’n vuurhoutjie kan lees.

      JASPER

      WAT SY BAAS SE GRAF HIER

      VYFTIEN MAANDE

      OPGEPAS HET

      EN NOU

      HIER AAN SY VOETE

      BEGRAWE LÊ

      Oor ’n oomblikkie, toe ek weer kon sien ná die donker wat op die vuurhoutjie se lig gevolg het, kyk ek terug na die steenhuisie. Jasper lê op sy ou plek, kin op die voorpote, oë oop, wakker.

      Oom Dolf se verhaal

      Die twee verloofdes

      Ek was gerekommandeer om herberg te soek vir die volgende aand by oom Dolf en tant Gertruida – “die vreemdelingsvriende”.

      Toe ek daar kom, was ek voorgespring deur ander besoekers, nogal ’n bruidspaar wat hulle wittebroodsweke daar kom deurbring het as gaste van die ou mense, hulle oom en tante. Ek was toe skaam om ook nog daar in te dring, en ek wou verder ry.

      “Nee, wat bog, Neef. Ek het twee vrykamers en ek het nog kos ook. Buitendien, hierdie twee getroude kinders” – hulle sit daarby – “het die manier om kort-kort rusie te kry oor niks en dan haat hulle mekaar met ’n dodelike wrewel. Ek verwag hulle sal egskeiding soek en in alle geval hier padgee voor die eerste wittebroodsweek om is. Wag, Neef, ek sal jou vanaand die geskiedenis vertel hoe hulle hier, toe ek en die vrou bruilof gevier het – moenie skrik nie, Neef, dit was maar ons goue bruilof – hoe hierdie twee op dieselfde dag herverloof en herskei geraak het.”

      Die verhaal wat hier volg is dan soos oom Dolf hom aan my vertel het.

      ’n Groot, dik, vet ou man is hy, met die swaar uitdrukking van gelaat waar ’n mens niks van verwag nie, en dan loop jy jou vas. Fyn soos ’n skeermes, ’n menseliefhebber en ’n mensekenner, en daarby welbelese. Dit was my ’n voorreg om met die ou man kennis te maak. En sy is ’n allerliefste moederlike ou dame.

      Sy en die twee heuningmaners, soos oom Dolf hulle by afwisseling genoem het – hy had nog baie ander benamings vir hulle – was teenwoordig die aand by die vertelling. Waar hy hulle hier en daar in die loop daarvan ’n raps gee, lag hulle maar, veral die ou vrou. Hy kon haar nie ’n groter plesier aandoen as om haar te terg nie. ’n Heerlike ou paar bymekaar. GHHK

      Die drade van die lewe, beide van die sigbare patroon daarbuite en van die onsigbare hierbinne, is so menigvuldig, en hulle knoop op sulke ingewikkelde maniere deurmekaar, dat daar gedurig maar oorsaak ontstaan vir misverstand en wantroue tussen bure, verwante, vriende, verloofdes en getroudes. Maar dan volg daar gewoonlik – anders sou sulke verhoudings nooit kon voortduur nie – ’n uitleg, ’n belydenis, ’n verdediging of verskoning; en met verstand en goeie wil aan weerskante klaar die skaduwees elke maal weer op, en dikwels skyn die liefde te helderder as hy weer deur die wolke breek.

      Maar nie altyd beskik albei kante oor die nodige wysheid nie – somtyds geeneen van die twee nie. En so was dit met hierdie twee, Meendert en Sofia. Meendert is my neef, ’n broerskind; Sofia, my vrou se niggie, ook ’n broerskind. Meendert is koppig, Sofia hoogmoedig.

      Skaars ’n maand was die twee verloof, toe raak dit skielik uit. Wat daar plaasgevind het om die rusie te veroorsaak, wis ons nie. Hy wou mý nie vertel nie, sy vir Gertruida nie. Hier sit hulle. Hulle sal dit nou nog nie sê nie. Dit sal maar ’n bogtery gewees het. Maar daar had jy dit nou – twee wat hulle hart uiteet oor mekaar, en die een te hardnekkig en die ander te trots om die eerste stap tot toenadering te neem.

      Ek en Gertruida – my vrou – wis dat die twee mekaar liefhad, en ons het dadelik planne gemaak om hulle weer bymekaar te bring. Ons sou in ons nuwe huis intrek en hom met ’n ontvangs inwy op die dag van ons goue bruilof. Toe maak ons van die geleentheid ’n voorwendsel om Meendert en Sofia te nooi, sonder dat die een van die ander weet, om ’n week of so by ons te kom kuier. Hulle het albei op ’n afstand gewoon, in verskillende rigtings.

      Ek noem dit ’n “nuwe” huis oor die vernuwings wat ek laat aanbring het. Eintlik was dit ’n taamlike ou huis en in ’n verwaarloosde, so te sê bouvallige toestand.

      Daar was ’n hele geskiedenis aan die huis verbonde. Vyftig jaar of so vantevore het daar op die naaste dorp gewoon ene Bart Kelwers, ’n messelaar en timmerman van ambag. Hy kry ’n onverwagte erfenis; hy koop die stuk plaas hier; en hy bou vir homself die huis, soos dit nou is, ’n groot, pragtige gebou met vlerke aan die vier hoeke van die middelste deel. Maar hy en sy vrou het nooit die huis bewoon nie.

      Toe die huis tot sy voltooiing nader – die dak was al op, maar die binneste bouwerk was nog nie klaar nie – verdwyn die vrou spoorloos. Daar was sterk suspisie, want hy had haar ’n hondelewe gelei. Die polisie het rondgevisenteer, steenhope omgegrawe en selfs vloere opgebreek, maar sonder uitslag. Maar die see is nie ver nie, en toe iemand ’n kappie van die verdwynde vrou aan die strand optel, het die agterdog van moord plek gemaak vir die vermoede van selfmoord, natuurlik sonder dat die afkerige gevoelens wat almal teen Bart Kelwers had, enige versagting ondergaan het.

      Toe die huis klaar was, het Bart een nag daarin geslaap, en daarvandaan nooit weer nie. In stede daarvan het hy weggetrek en die huis en plaas oorgegee aan ’n voormanbywoner; en dié, en sy opvolgers in die betrekking, het in een van die agtervlerke gewoon, by die kombuis se kant; en die res van die huis het ál die jare toe gestaan.

      Toe Bart dan dood is op ’n hoë ouderdom – baie hoër, sou ’n mens sê, as wat hy verdien het: maar wie van ons verdien een lewensjaar! – het die huis op vendusie gekom, en so is ek die eienaar geword. Van die fondament af tot by die vors, van binne en buite, het ek die plek laat regmaak; ’n nuwe dak opgesit, nuwe deure en vensters laat insit, op baie plekke nuwe vloere en solders, laat plak en pleister en skilder – ek het gedog ek had ’n goeie slag gemaak met die koop, maar vir die uitgaaf wat die herstel my kos, kon ek maar my eie huis gebou het.

      In alle geval, toe die reparasie klaar was en die meubels in, het ons dan ingetrek, ek en Gertruida – net ons twee alleen, want ons is ’n kinderlose paar – in hierdie ontsaglike paleis, ’n dag of wat voor die inwyding. Sofia het aangekom die oggend voor die vieringsdag. Soos die treine geloop het van die koers af wat Meendert moes kom, sou hy dieselfde aand hier wees. Intussen het ons vir Sofia nie ’n woord gesê van die nuwe inkuiergas wat nog sou kom


Скачать книгу