Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux


Скачать книгу
sê Nicolette en hou haar linkerhand uit. “Is dit nie ’n besondere ring nie? Ek kan nie help om dit vir almal te wys nie, dis vir my so mooi.”

      Al die meisies kyk na die ring en maak bewonderende geluide. “Stille waters, diepe grond,” sê Louisa en bekyk Nicolette vir die eerste keer ordentlik. Haar oë gly stadig oor Nicolette se uitrusting, haar kort, ongeverfde naels, die dik hare wat oor haar voorkop val. “Baie geluk, julle twee.”

      As Nicolette gedink het dit gaan Louisa haar hande van Philip laat afhou, het sy dit mis. Met ’n verskonende “Wel, jy weet ek en Phil is ou vriende,” gaan sy voort om aan hom te hang. Nicolette sê vir haarself Louisa is net een van daardie soort mense wat hou van fisieke kontak as sy met iemand praat, maar Louisa doen dit nie met die ander nie. As sy met groot intensiteit met Philip gesels, hou sy sy hand vas, speel met sy vingers, vat selfs een keer aan sy wang waar ’n stukkie as vasgewaai het.

      “Sien ons julle môre weer?” vra sy toe Philip eindelik opstaan en aanstaltes maak om te groet. “Ek gaan stap altyd vroeg in die oggend. Wel, vroeg,” giggel sy. “So teen tienuur as ek wakker is. Julle gaan tog seker nie vroeg ry nie?”

      “Ons planne is onseker,” sê Nicolette. “Dit sal alles afhang van die weer.”

      Louisa stap ingehaak by Philip tot hulle in die pad kom wat na die rondawels lei. “Dit was wonderlik om jou weer te sien, Phil,” sê sy en soen hom op die mond. “En dit was baie lekker om jou te ontmoet, Nicoline.”

      “Nicolette,” sê sy deur stywe lippe.

      Sy wag nie vir hom nie, sy klou die leë skotteltjie in haar hand vas en stap so vinnig as wat die klipperige pad dit toelaat. Hy versnel sy pas tot hy langs haar is, maar sy loop net vinniger, haar kop hoog en haar oë glad nie op die ongelyk pad nie.

      “Oppas, Nicolette,” sê Philip en steek sy hand uit na haar. “Daar is dongas gespoel en dis donker. Jy gaan …”

      Dis te laat, haar voet trap skeef in ’n gat en sy val lankuit, die bakkie aan skerwe.

      “Ai, Nicolette,” sê Philip en help haar op. “Het jy seergekry?”

      “Nee.” Sy vee oor haar knieë om die modder af te kry. “Maar die bakkie is stukkend.”

      Hy vat haar baie beslis aan die elmboog vas en so kom hulle terug by die rondawel. Hy sit die skerwe op die toonbank neer en bekyk haar.

      “Jou mooi rok is vol modder,” sê hy. “En kyk hoe lyk jou hande. Kom, was dit sommer hier by die wasbak.”

      Sy is kwaad en haar knieë brand. “Los my uit, Phil.” Sy rol haar oë. “Phil!”

      “Ek kla nie omdat mense jou Nico of Nicky noem nie,” sê hy op sy stil manier. “Of pop.”

      Sy kyk vinnig na hom, vee oor haar oë, wat haar gesig vol modder smeer, en begin haar hande was. Hy staan by haar, maak die spons nat en hurk om haar knieë skoon te kry.

      “Jy moet die rok en trui maar uittrek,” sê hy. “Dis alles vol modder.” Hy klik sy tong. “En dit is so ’n mooi trui.”

      “Wat my darem bedek,” sê sy bitsig. “Ek dra nie klere wat oopgesny is tot by my naeltjie nie, ek dra truie om my warm te hou. Daardie swart truitjie is nie die naam trui werd nie; elke keer dat sy buk, val haar boesems op die tafel.”

      Hy gee ’n kuggie, druk sy hand teen sy lippe en hou sy kop geboë sodat sy nie sy gesig kan sien nie.

      “En soen!” sê sy verontwaardig. “Ek het nog nooit so ’n soenerige meisie gesien nie. Ek sou my skaam. Vra nie eers toestemming nie, soen net.”

      Hy kom regop, spoel die modderige spons onder die kraan uit. “Wie se toestemming moes sy gevra het?”

      “Myne. Ek is jou verloofde. Mens doen dit nie as die man se verloofde reg langs hom sit nie. Dis gewoon swak maniere.”

      “Ek het vergeet,” sê hy. “Jy’t mos vroeër gesê jy laat nie toe dat enigeen jou soen nie.”

      “Ek sou so dink!”

      “Ek is jammer,” sê hy. “Ek het nie besef jy het die aand so onplesierig gevind nie.”

      Dit bring haar tot haar sinne. Sy kyk af na haar hande wat rooierig geskraap is, maar nie stukkend nie omdat die modder te glad was. “Nee, dis ek wat om verskoning moet vra. Jy het die volste reg om ’n aand te geniet saam met ou vriende. Veral na alles wat jy die naweek moes deurgaan. Vergeet wat ek gesê het. Jy kan maar môre saam met haar gaan stap. Ek sal net nie saamkom nie. Dit sit my van my kos af as ek sien hoe sy aan jou klou.”

      Hy draai sy kop skeef sodat die lig op sy brillense sy oë verskans. “Hoekom?” vra hy.

      “Hoekom wat?”

      “Hoekom hinder dit jou so?”

      “Sommer,” sê sy nukkerig. “Dis slegte maniere.”

      “Het Jack jou nie die naweek gesoen nie?”

      Sy ruk haar kop regop. “Nee!” Sy kyk af na haar besmeerde klere en sug. “Nou het ek regtig niks meer om te dra nie. Dit was my laaste droë trui.”

      “Ek sal vir jou een van myne leen,” troos hy. “Nou moet jy in die bad klim, dink ek.”

      Haar gedagtes is baie deurmekaar toe sy badkamer toe loop. Dit moet die taai vleis wees. Sy hou nie daarvan om laat in die aand vleis te eet nie. Dit laat haar ongemaklik voel. En die rou aartappels. Geen wonder sy voel so ongedurig nie.

      Hoofstuk 10

      Dinsdagoggend sit Nicolette skaars in haar kantoor toe ’n bode klop en ingesteier kom met die grootste bos rooi rose wat sy nog gesien het. Dis eintlik ’n goeie ding dat Herman nog in ’n vergadering is, want die rose staan die hele kamer vol. Sy haal die kaartjie uit.

      “Kan jy my ooit vergeef, liefste pop?” staan daar. “Ek het jou afgeskeep; ek het jou laat swaarkry. Vergewe my. Liefde, Jack.”

      Sy lees dit ’n hele paar keer oor voor sy die kaartjie in haar laai gooi en begin plek maak vir die blomme. Eintlik is sy lus om dit vir die ontvangsdame te gaan gee, dit sal fraai lyk by die ingang. Maar Jack sal dit daar sien en kan afgehaal voel. Sy het die rangskikking ook net in ’n hoek voor die venster ingewig toe Herman inkom.

      “Wel, wel, wel,” sê hy. “So ’n verloofde moet ’n meisie hou.”

      “Dis van Jack,” sê sy.

      Hy snuif aan die rose wat na niks ruik nie. “Is daar ’n tweespalt in ons emosies of wat?”

      “Ag, hou op,” sê sy. “Jy weet Jack stuur altyd blomme.”

      “Maar nie, sover ek weet, aan verloofde meisies nie.”

      Sy haal net haar skouers op. Die vorige aand toe sy haar wedervaringe van die naweek vir Elizma vertel het, is sy daar ook met skeptisisme begroet.

      “Ek het jou gesê jou plan gaan lol,” was Elizma se uitspraak. “Onder Jack se vleuel is jy miserabel en onder Philip s’n verloop alles glad en geniet jy die naweek. Wat gaan nou vir wat?”

      “Dit was net ’n slegte sameloop van omstandighede,” het sy verdedig. “Die weer en alles.”

      “Jy sê dan jy was nog nooit so bly om Philip te sien nie? Hy was soos ’n engel uit die hemel, was jou presiese woorde.”

      “Natuurlik was hy. Jy weet mos watse soort mens hy is. Bedagsaam en ingestel op ander mense se gerief. Dit beteken nie ek het Jack afgeskryf nie.”

      “As Heinz my deur soveel ellende gesit het, het ek dit ernstig oorweeg om hom af te skryf. Nie dat hy dit natuurlik sal doen nie. Jack is nie bekend vir sy onselfsugtigheid nie. Jammer om hom te moet kritiseer, maar dis waar.”

      Nicolette het liewer begin uitvra na Elizma se naweek. Sy het ook nie vir haar vriendin vertel van Louisa nie, hoofsaaklik


Скачать книгу