Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits
ma, Caroline (geb. 1820), se pa was sir William Lewis Salusbury Trelawny, die agste baronet, en erfgenaam van die herehuis Harewood in Calstock, Cornwallis. Dié titel is deur Charles I aan die Trelawny-voorsate gegee. Toe hy in 1857 sterf, het hy ’n ruim erfporsie aan sy kinders en vrou, Patience Christian Carpenter, nagelaat. Caroline, Emily se ma, het £10 000 geërf – destyds ’n reusebedrag.6
Caroline, ’n aanvallige vrou met bruin hare en blou oë, was iemand van “distinguished bearing, combined with quick parts and a natural manner of extreme charm. She applied her unusual abilities to the education of her children, shewing herself an indulgent and devoted mother,” skryf Emily oor haar ma.7
Die Hobhouse-familie se geskiedenis kan sover teruggevoer word as 31 Augustus 1686 toe John Hobhouse ’n huis naby die Minehead-hawe aan die Bristol-kanaal in Somerset gehuur het. Hy was getroud met Anne Maddox en drie van hul seuns was Henry, Isaac en Benjamin. Die familie het lank in die area gewoon en in 1708 open Henry Hobhouse ’n skeepstimmerwerf in Minehead, en sy broer Isaac begin sake doen met handelaars in die Britse kolonie Virginië in Amerika. Die familie raak uit Bristol by die seevaart betrokke as skeepseienaars en handelaars en die mans word volwaardige burgers met stemreg.8
Die firma van Isaac Hobhouse, wat ook vir Henry Hobhouse I – ’n seun van Benjamin – in 1729 as vakleerling aanvaar het, open die familie se deure na welvaart. Hy dryf handel tussen Bristol, die weskus van Afrika, die Wes-Indiese Eilande en die “plantasie-kolonies” in Amerika.9 Isaac het ’n groot fortuin opgebou, klaarblyklik ook uit slawehandel. Die skip Greyhound, wat aan Isaac se maatskappy behoort het, het slawe uit Wes-Afrika na Virginië geneem, waarna dit volgelaai met goedere na Engeland teruggekeer het.10 In ’n brief aan Isaac word daar verwys na ’n skip wat “arrives well slaved, I hope shall make a pleasing acc of ’em”.11
Dié verbintenis met die slawehandel is nie vir die familie weggesteek nie – ook nie vir Emily nie. Die familielandgoed en huis, Hadspen, in Somerset naby die dorpie Bruton is in September 1785 deur Henry Hobhouse II, ’n Oxford-geskoolde prokureur, gekoop.
Emily se ander oupa, Henry Hobhouse III (1776-1854), ook ’n Oxford-student, en sy vrou, Harriet Turton (1780-1838), is albei voor haar geboorte oorlede. Henry III het ook aan Oxford in die regte studeer en was ’n prokureur vir die tesourie en ondersekretaris in die kantoor van binnelandse sake in Londen onder sir Robert Peel. Hy was ook ’n magistraat op die platteland.12 Teen dié tyd was die familie reeds vername mense.
Emily se pa, Reginald, was een van vier seuns wat ook vier susters gehad het. Die seuns het almal aan Eton en Oxford se Balliol College studeer. Die seuns Henry IV (erfgenaam van die landgoed en herehuis Hadspen), Edmund en Arthur het almal danksy goeie opvoeding sukses behaal.
Reginald – volgens Emily ’n droë, humorlose, konserwatiewe man – het ná sy studies danksy sir Robert Peel, die eerste minister vir wie sy pa gewerk het, op die dorpie St. Ive die predikant in diens van die Kerk van Engeland geword. (Nie te verwar met St. Ives [uitgespreek “eyeves”] aan die verre suidwestelike kus van Engeland nie.) Nadat hy sewe jaar lank alleen in ’n kothuis oorkant die 14de eeuse kerk gebly het, is hy met Caroline getroud. Hulle het ’n groot pastorie ’n honderd meter van die kerk af vir hulle laat bou.
Emily was die vyfde van ses oorlewende kinders en ook die jongste van die dogters. Die kinders was Caroline (“Carrie”, geb. 1854), Alfred (geb. 1856), Blanche (geb. 1857), Maud (geb. 1859), Emily (geb. 1860) en Leonard (geb. 1864).
Sy en haar susters is deur ’n goewernante tuis onderrig. Lady Hobhouse, haar oom Arthur, Lord Hobhouse, se vrou, het nie van die een goewernante gehou nie. Dié het Emily as straf op ’n stoel laat staan en toe lady Hobhouse daarvan hoor, was dit die einde van die goewernante.13
Emily skryf só oor haar vroegste herinnering uit daardie dae: “I do not know if the sense of having an ego of one’s own comes to others at a given moment, or grows imperceptibly, but it was when I was three or four years old that I learnt this. I was sent to see the time ... I suddenly realised the clock was not me and I was not it but outside it and different ... It was a curious revelation.”14
Die hulpprediker by die kerk in St. Ive, St. Aubyn Rogers (vir wie die kinders “Old Rodge” genoem het), het ’n sagte plekkie vir hulle gehad. Hy het vir elkeen ’n lappie grond op die terrein om die pastorie skoongemaak sodat elkeen sy eie groente kon plant. Hy het ook vir hulle tafels en stoele gemaak om buite te sit, pyle en boë om mee te skiet, en het saam met hulle wegkruipertjie gespeel. Hy eet ook saam met hulle en skiet broodballetjies tot binne-in Emily se mond.
Op ’n dag speel hy twee uur lank pluimbal met Emily – tot haar pa se frustrasie omdat hulle onder sy studeerkamervenster raas. Sy tel hulle het die pluim 2 000 keer geslaan.15
Vir Emily is Rogers soos ’n pa; haar eie pa is vandat sy ses jaar oud was, sieklik. “Ou Rodge was alles vir ons, veral my toegewyde slaaf.” Hy is deel van die gelukkigste tye in haar lewe.16 In die somer hou hulle vakansie by die see of besoek die familietuiste Hadspen in Somerset.
Kleintyd al kry Emily die bynaam “The Missis”. Die oorsprong is vermoedelik ’n Valentynskaartjie, wat sy van die familie kry toe sy sewe jaar oud was, waarop gestaan het: “Wherever I am, I will always be the missis.”
Almal dink dit pas by haar, en “Missis” bly haar lewe lank ’n bynaam.17
Leonard is op agt jaar na die spogskool Eton, soos die res van die seuns uit die familie, terwyl die dogters minderwaardige tuisonderrig gekry het. Hoewel daar ’n ruim Victoriaanse tuis-biblioteek was waarin Emily haarself verdiep het, en sy geleer het om naaldwerk te doen, te sing en klavier te speel en selfs Frans te praat, was dit nie vir haar genoeg nie. Dié soort onderrig was die norm vir meisies van haar stand, maar sy wou meer hê. Haar begeerte is om ook te gaan studeer en haar soos haar broers vir ’n beroep te bekwaam.
Emily word 15 en staan op die drumpel van vrouword, maar sy verstaan dit nie. “Ek soek tevergeefs na iemand in my lewe met wie ek kan praat en dinge bespreek, en wat dinge kan verduidelik, maar niemand het tyd daarvoor nie. Die goewernantes is oppervlakkig en onbekwaam en ek is een van ‘die kleintjies’ en van geen belang nie.
“Ek is jaloers op die seuns en die spesiale leermeesters wat hulle het, mense wie se breine hulle mag tap. Ek het niemand wat my hiermee kan help nie. Die klasse verveel my, omdat dit (soos dit vir ons geleer word) oppervlakkig is. Hulle vertel my nooit wat ek wil weet nie. Wanneer ’n mens vrae vra, word gesê: ‘Klein dogtertjies moet nie vrae vra nie.’”18
Op 16 word Emily na ’n afrondingskool in Londen gestuur, waar Maud reeds is. Blanche was ook reeds daar, maar het baie siek geword. Die afrondingskool bied nie die onderrig waarna Emily smag nie. Sy wil leer, maar pleks daarvan kry sy perdrylesse en te min kos. Wat sy wel geleer word, is hoe om te onthaal en eendag ’n goeie vrou vir ’n man te wees. Dit maak Emily bitter. Haar gebrekkige onderwysopleiding is “die kernoorsaak van baie van die foute in my lewe”, skryf sy jare later.19
In die winter van 1876 neem die ouers drie van hul vier dogters – Blanche, Maud en Emily – na Menton in die suide van Frankryk kort nadat die oudste dogter, Caroline, getroud is. Die hoofrede vir die besoek was om Blanche, wat waarskynlik aan tuberkulose gely het, kans te gee om te herstel. Die gesin bly die hele winter daar en begin daarna stadig terugkeer huis toe. Blanche herstel egter nie en sterf op 19 jaar in Toulouse, Frankryk.20
Hierna was daar nie meer genoeg geld om Emily langer na die afrondingskool te stuur nie, hoe onvanpas dit ook al vir haar was. Sy moes maar tevrede wees met skilder- en vioollesse in die naburige Liskeard.21
Feitlik alles in Emily se lewe het nou verander. Haar suster Carrie, soos hulle haar genoem het, is getroud. Blanche is oorlede en haar ma “se gees is vermorsel”. Haar pa werk ál meer in die gemeente, weg van die huis af. Emily het geen uitlaatklep vir haar verstandelike vermoëns nie en sy leef haarself in drome en gedagtes uit.
“Ek het saam met helde in my verbeeldingswêreld geleef en dolverlief geraak op dié wonderlike wesens.”
Emily het ver ente in die omgewing gaan stap. Sy wil verre en wye wêrelde omhels en verken, baie mense ontmoet en sy droom van “’n universele