Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits


Скачать книгу
se doel was om die Britte tuis se harte teen Kruger te verhard, maar toe die president later wel instem dat die Uitlanders ná vyf jaar se verblyf stemreg kan kry op voorwaarde dat Brittanje nie weer in die ZAR se sake inmeng nie, het Chamberlain niks skietgegee nie.72

      Op 8 September 1899 stuur Engeland 10 000 soldate na Natal. Chamberlain het gemeen die Boeremagte is net ’n “papiertier” en dat dié magsvertoon Kruger sou flous om terug te keer na die onderhandelingstafel. Volgens hom was dit onwaarskynlik dat oorlog sou uitbreek, maar indien dit gebeur, sou die Britse soldate reeds op hul pos wees.73

      Toe Kruger die volgende dag van die troepemag verneem, het hy aanvaar dat oorlog onvermydelik was. Jan Smuts, die 29-jarige prokureur-generaal van Transvaal, het met hom saamgestem. Later daardie maand berig die koerante dat nog 47 000 soldate uit Engeland gestuur word om die Transvaal op 28 September binne te val. Vinnig begin die Transvaal asook die Vrystaat, wat hom by sy natuurlike bondgenoot skaar, mobiliseer.74

      Op 9 Oktober stuur die ZAR ’n ultimatum aan Brittanje: Onttrek die soldate wat reeds hier is uit Suid-Afrika, dié wat onderweg is, mag nie aan wal kom nie, en laat daar arbitrasie wees. Brittanje word 48 uur gegun om daarop te reageer. Die Britse regering, gesteun deur die publiek wat verontwaardig is oor die ultimatum, wys dit van die hand.

      Emily sien ’n plakkaat van die ultimatum wat op Trafalgar-plein opgeplak is en besef dat die laaste hoop op vrede daarmee heen is: “It sounded the death knell of tens of thousands of people completely innocent of its cause and it bore within it seeds of things worse than death for England,” skryf sy oor dié oomblik op die plein.

      Daaragter sien sy die motief vir die aanstigting van die konflik: ’n “aptyt vir goud en grond”.75

      Die Anglo-Boereoorlog76 (ook die “Suid-Afrikaanse Oorlog” of “Tweede Vryheidsoorlog” genoem) breek op 11 Oktober 1899 uit.77 Die volgende dag vind die eerste skermutseling plaas toe ’n Boeremag van 800 man onder leiding van genl. Koos de la Rey by Kraaipan tussen Vryburg en Mafikeng ’n Britse garnisoen gevange neem nadat hulle ná ’n geveg van vyf uur oorgegee het.

      Drie weke nadat die oorlog uitgebreek het, word die South African Conciliation Committee in Engeland deur liberale Britte gestig wat teen die oorlog gekant is. Die president van die komitee is die 67-jarige Leonard Courtney, later lord Courtney van Penworth, ’n gesoute politikus en voormalige adjunkspeaker van die Laerhuis.78 Sy kiesafdeling is Liskeard in Cornwallis, naby St. Ive waar Emily grootgeword het. Sy vrou, Catherine (Kate), is ook dadelik aktief betrokke by die komitee. Die voorsitter van die komitee is Frederick Mackarness, wat voorheen ’n regter in die Kaap was en nou ’n Liberale LP is. Die ander prominente bestuurslid is die markies van Ripon, ’n politikus, en sy vrou, die markiesin van Ripon.

      Emily ken die Courtneys, want Kate (née Potter) is die suster van haar neef Henry Hobhouse V se vrou, Margaret. Sy is ook ’n suster van die beroemde Britse maatskaplike hervormer Beatrice Webb. Sy raak gou by die komitee betrokke, wat ten doel het om betroubare inligting oor die oorlog te versprei en voorspraak wil maak vir welwillendheid tussen die Afrikaners en Engelse. Hulle wil ’n vredevolle skikking hê en nie die “betreurenswaardige konflik” wat reeds begin het nie.79

      Emily werp haarself “heelhartig in die saak” in ’n land wat oorgeneem is deur “oorlogskoors”. Daar is verskeie vergaderings by lord en lady Hobhouse se huis in Brutonstraat 15, Mayfair in Londen. In hierdie stadium woon Emily nou al ’n paar maande in die woonstel Rossetti Garden Mansions 21 in Chelsea, Londen.80 Sy deel dit met ’n jong mediese student van Indië, Alice Sorabji. Dié familie is ou vriende van lord en lady Hobhouse. Die woonstel is baie naby aan die Courtneys se huis in Cheyne Walk waar ook talle komiteevergaderings gehou word.

      Op 15 Januarie 1900 word die komitee se werksaamhede amptelik aangekondig. Die lede is pasifiste en geheel en al teen die oorlog gekant. In ’n kort tydjie kry hulle 400 briewe van steun.81 Emily is die ere-sekretaris van die komitee se vrouetak.

      “Die waarheid en rede (vir die konflik) word verduister ... Die opgewondenheid (oor die oorlog) word deur die pers en op kansels aangeblaas,” skryf Emily.82

      “We are glad if we are but a light burning on a rock in the midst of the flood of jingoism – feeling that ours is the side of justice and of wisdom,” skryf Kate Courtney aan Emily se broer Leonard.83 Die jingo’s waarteen hulle gekant is, is ’n deel van die Britse bevolking wat glo hul land is altyd reg en weet die beste. ’n Groot deel van die Britse pers was deel daarvan.

      Die kongres van die Liberale Party word in Februarie in Londen gehou en Emily woon dit by. Sy geniet elke oomblik daarvan – maar tog met ’n belangrike voorbehoud: “Liberales regs van ’n mens en liberales links van ’n mens … Daar is nêrens eens ’n koue Konserwatiewe windjie nie.” Sy is wel beswaard dat hulle louwarm is en dat hulle nie ’n enkele vrou uitgenooi het om hulle toe te spreek nie.

      “Dit is soos om jou sterkste arm af te sny, of hoe?” vra Emily, want dit is die vroue wat die Liberale Party steun en die harde werk doen, maar die minderwaardige poste beklee.84

      Sy besluit die vroue moet ’n meer prominente rol speel en ’n groot protesvergadering teen die oorlog hou. Kate Courtney stem met haar saam en daar word besluit dat ’n massavergadering in die Queen’s Hall gehou sal word. Emily se woonstel in Chelsea word die hoofkantoor van waar sy en ander vroue van 8 uur soggens tot 11 uur saans werk om ’n algemene verset teen die oorlog te probeer mobiliseer.85

      Teen 24 Mei 1900 word die Vrystaat en op 5 Junie die Transvaal deur Engeland geannekseer en kort daarna word krygswet afgekondig.86 Die Boeremagte het dié anneksasies nie as wettige verowerings beskou nie en het hulle tot guerilla-taktiek gewend om die stryd voort te sit.

      Lord Roberts, opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, waarsku in ’n afkondiging dat Boere wat aanhou veg, persoonlike verliese sal ly. Indien enige spoor- of telegraafverbindings beskadig of ontwrig word, sal die huise in die omgewing afgebrand word.

      Dit is op papier die begin van die verskroeide-aarde-beleid,87 hoewel huise al so vroeg as Maart 1900 op bevel van Roberts afgebrand is wanneer kommandolede die huise as skuiling gebruik het.88 Ingevolge dié beleid is plaashuise met hul inhoud, asook skure en buitegeboue, afgebrand. Lewende hawe soos skape, beeste, varke en hoenders is doodgemaak. Landerye en die veld is aan die brand gesteek, terwyl hele dorpe in sommige gevalle ook in die slag gebly het. Teen Januarie 1901 is dit voor die voet gedoen en honderde plase in die Vrystaat en Transvaal is onbewoonbaar agtergelaat.89

      Volgens Roberts was dit ’n strafmaatreël vir weerstand teen die nuwe Britse bewind.

      Duisende vroue van regoor Engeland woon die Conciliation Committee se massavergadering in Londen uit protes teen die oorlog by, onder hulle ook lede van die Women’s Liberal Federation. “Our protest was more largely due to our proud desire for England’s honour and our horror lest her rectitude be marred by an unjust act,” skryf Emily.90

      Die vroue aanvaar die aand in die Queen’s Hall vier voorstelle:

      1That this meeting of women brought together from all parts of the United Kingdom condemns the unhappy war now raging in South Africa as mainly due to the bad policy of the Government – a policy which has already cost in killed, wounded and missing over 20 000 of our bravest soldiers and the expenditure of millions of money drawn from the savings and toil of our people, while to the two small States with whom we are at war, it is bringing utter ruin and desolation.

      2That this meeting protests against the attempts to silence, by the disorder and violence, all freedom of speech, or criticism of Government policy.

      3That this meeting protests against any settlement which involves the extinction by force of two Republics whose inhabitants, allied to us by blood and religion, cling as passionately to their separate nationality and flag as we in this country do to ours.

      4That this meeting desires to express its sympathy with the women of the Transvaal and Orange Free State and begs them to remember that thousands of English women are filled with profound sorrow at the thought of their suffering, and with deep regret for the action of their own Government. God save the Queen. ”91

      Dis


Скачать книгу