Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits


Скачать книгу
had not, as he says he has, made up his mind to back up the military in everything. He struck me as amiable and weak, clear-headed and narrow.”126

      Terwyl sy op ’n antwoord van Kitchener wag, versamel Emily getuienis van binnelanders uit die noorde wat daarin geslaag het om die Kaap te bereik. Sy ontmoet ook mense soos die kerkleier dr. Andrew Murray, lady en sir Henry de Villiers, die hoofregter, en sir William Bisset Berry, die Speaker.

      Op 17 Januarie ontvang Emily ’n brief127 van Milner dat Kitchener per telegram ingestem het dat sy na die Vrystaat kan reis, maar op sekere voorwaardes. Twee daarvan is dat die verste noord wat sy mag gaan, Bloemfontein is en dat sy verkieslik nie ’n “Dutch lady” saamneem nie. Dit is slegte nuus, want Emily het gehoop mev. Elizabeth Roos, ’n bekende gemeenskapsleier, kan saamreis as ’n tolk met die Boerevroue, asook om sekere dorpe en plekke te vind.128

      In Kitchener se telegram verwys hy na die “Dutch Refugee women kept out of their homes by the Boers”. In sy logika was dit alles baie eenvoudig: Sodra die laaste Boere oorgee, is die oorlog verby en kan almal huis toe gaan – ook die vroue en kinders. Gevolglik was die omgekeerde ook logies, hoewel hy dit nie openlik sou erken nie: As die Boere dan nie wil oorgee nie, moet hul vroue en kinders maar die spit afbyt.

      Emily het die telegram soos goud bewaar, nie hieroor nie, maar oor die toegang wat dit haar besorg het. Bo-aan het sy geskryf: “This was Kitchener’s telegram which I carried everywhere in the camps.”

      Sy besluit om Milner weer te spreek. Kan iets nie gedoen word nie sodat sy ook ander kampe verder noord kan besoek? wil sy weet.129

      Milner stem in om ’n treintrok beskikbaar te stel vir die goedere wat sy wil saamneem, maar meer kan hy nie doen nie; Kitchener het die laaste sê.

      Sy begin dadelik om kos, klere, komberse en ander benodigdhede te koop, maar die pryse is hoog en sy het net die £300 wat sy in Engeland ingesamel het. Aan Leonard skryf sy sy het ses ton klere en ses ton kos gekoop, maar dit gaan steeds nie genoeg wees nie. Sy hoop die Conciliation Committee kan nog geld stuur, want “dit sal vreeslik wees om met leë hande daar aan te kom wat binne weke die geval sal wees … ”130

      Op Maandag 21 Januarie pak Emily van vroegdag tot laataand die treintrok op Kaapstad se stasie, maar sy is hartseer toe dit skaars halfvol is met wat sy kon koop. Intussen het sy Charles Fichardt131 van Bloemfontein ontmoet wat nou in die Kaap “op parool” is (wat beteken dat hy onderneem het om na Bloemfontein terug te keer). Hy bied aan dat sy in Bloemfontein by sy ouerhuis kan tuisgaan wanneer sy daar is.

      Die aand daarna sien ’n groot klomp nuwe vriende Emily by die Kaapstadse stasie af. Hulle het ’n kosmandjie, ketel, konfyt en brood, asook vrugte, vir haar ingepak.

      Alleen durf sy die tog na die onbekende, ’n neerdrukkende wêreld van konflik en verwoesting, aan.

      Oor die afskeid op die stasie en die nagtelike treinrit skryf Emily: “It was a glorious night. Their kindness had been unceasing and I felt I had in them a solid background in case of need. But as the train moved off towards the strange, hot, war-stricken north with its accumulations of misery and bloodshed I must own that my heart sank a little and I faced the unknown with great trepidation, in spite of the feeling that the deep desire of months which had laid so urgent a call upon me, was indeed finding accomplishment.”132

      Sy is onderweg op ’n reis wat haar lewe dramaties sou verander.

      4

      Anderkant trane

      “Those truckloads of women and children unsheltered and unfed – bereft of home, bearing the vivid recollection of their possessions in the flames – and that mass of the ‘sweepings’ of a wide military ‘drive’ – flocks and herds of frightened animals bellowing and baaing for food and drink – tangled up with wagons and vehicles of all sorts and a dense crowd of human beings – combined to give a picture of war in all its destructiveness, cruelty, stupidity and nakedness such as not even the misery of the camps (with their external appearance of order) could do.”

      Emily Hobhouse, naby Warrenton, April 1901

      Emily is die enigste vrou op die trae troepetrein na Bloemfontein.

      Wanneer die trein onderweg stilhou, sien sy op die stasies nie ’n enkele ander vrou nie. Sy moet haar pad tussen die soldate oopbeur om van die stasie-maaltye in die hande te kry.

      Meestal kry sy niks te ete tussen die honderde malende soldate nie; die kosmandjie van die Kaapse vriende is haar redding: Brood, appelkooskonfyt en kakao. Sy sou later vir weke lank van dié soort kos leef sodat sy later nie ’n appelkoos “meer kan aanskou nie, wat nog te sê eet”.133

      Die landskap is vir haar vreemd, met die onbekende plantegroei, die hitte, stof en ongewone rotsformasies; die alleenheid van die veld; die gebrek aan bome en skadu, en die buitengewone stilte.134

      “Dit was wonderlik om die ganse nuwe wêreld wat my met sonsopkoms begroet het te sien en hoe die son oor die stil Karoo opkom … Op die tweede dag was daar aaklige stofstorms afgewissel deur donderstorms. Die sand het deur die toe vensters en deure gedring, in my oë en ore gekom en my hare rooi verkleur – dit het soos ’n tafeldoek oor alles gaan lê …

      “Van Colesberg af was dit doods. Die landskap het dood en stil gelyk, heeltemal sonder lewe sover die oog kon sien – net karkasse van perde, muile en beeste met ’n stom smart in die verbleikte bene.”135

      Toe Emily op 24 Januarie in Bloemfontein aankom, val dit haar dadelik op dat die hele stad deur die Britse militêre owerhede beheer word.136 Almal se bewegings word dopgehou en daar is orals soldate. Niemand kan iets doen sonder die Engelse se toestemming nie.

      Sy slaap die aand in ’n klein hotelletjie nadat sy haar treintrok met die noodvoorrade gevind en gereël het dat dit afgelaai word. Die volgende dag stuur Caroline Fichardt, ma van Charles wat sy in die Kaap ontmoet het, haar rytuig vir Emily.

      Caroline laat weet hulle word reeds ingevolge krygswet dopgehou en Emily kan net by hulle tuisgaan indien genl.maj. George Pretyman, militêre goewerneur van Bloemfontein, skriftelik toestemming gee. Caroline is bekommerd indien sy skeef trap, sal haar twee dogters en Charles gestraf word. Emily gaan sien Pretyman dadelik.137

      Hy kom byna iets oor toe hy hoor sy wil by Caroline, wie se man ses maande gelede oorlede is, tuisgaan omdat sy glo “’n bitter vrou” is, maar Emily het dadelik ’n gerusstelling gereed: “My besoek sal dalk ’n versagtende uitwerking op haar hê.”138 Pretyman gee teësinnig toestemming dat sy by die Fichardts in hul pragtige woning, Kaya Lami, kan tuisgaan.

      Emily gebruik die kans om Pretyman vir ’n permit te vra om die kampe suid van Bloemfontein te besoek. Sy laat hom goed verstaan sy is nie daar om die militêre owerhede se werk vir hulle te doen nie, maar om raad te gee en die vroue en kinders se omstandighede in die kampe te ondersoek en hulp te verleen waar sy kan. Oral kom sy agter dat plase voor die voet afgebrand word en dat nog konsentrasiekampe in die Vrystaat en Transvaal opgerig word.

      Ook uit sy opmerkings is dit duidelik dat Kitchener die Boere minag. Oor die vroue sê hy: “Die vroue het die mans oortref in hul verbittering en toewyding tot die stryd en daar was net een manier om hulle tot hul sinne te bring – die ‘swakste klas’ moet in die kampe aangehou word.”139 Wat hom betref, is die vroue “barbare met ’n dun lagie vernis oor”.140

      Dit is maar net Emily se tweede dag in Bloemfontein en sy is reeds ontgogel deur die offisiere wat geen plan het hoe om aan die vroue klere te verskaf nie. Sy draai nie doekies om nie: “Crass male ignorance, stupidity, helplessness and muddling. I rub as much salt into the sore places of their minds as I possibly can, because it is so good for them; but I can’t help melting a little when they are very humble and confess that the whole thing is a grievous and gigantic blunder and presents an almost insoluble problem, and they don’t know how to face it.”141

      Die konsentrasiekamp by Bloemfontein is sowat 3 km van die dorpskern, teen die suidelike hang van ’n koppie in die dorre veld sonder ’n enkele boom. Daar is 2 000 vroue, 900 kinders en ’n paar mans – die “hands-up men” (hensoppers) – in die kamp. Dit is mans wat


Скачать книгу